Friday 20 December 2019

Kersfees. Rumpumpumpum.

Voel julle dit ook? Dis Kersfees! Die klank van slee klokkies, kinders wat vrolik lag, Kersvader wat “ho ho ho”, takbokke wat tak en Mariah Carey wat keel-roggel geluide maak wat klink soos “All I want for Christmas...”?
As jy soos ek is, het jy ook nou so bietjie in jou mond gekots.
Dis nie dat ek nie van Kersfees hou nie, dis net...




Hier in die eerste week van Oktober stap jy doodonskuldig die winkels in terwyl jy rustig die Macarena fluit. En ewe skielik bevind jy jouself in ‘n Kersfees “Winter Wonderland”. Warrefok? Jy was net gister daar toe was dit nog ‘n gewone winkel, maar blykbaar het Tinkerbell deur die nag die hele winkel bekots met glitter en rooi Kersfees decoration. En dis asof die winkels elke jaar net vroeër en vroeër begin. Julle sal my nie glo nie, maar laas jaar stap ek op 27 Desember deur die winkels en hulle het klaar kersversierings opgehad! I mean really? Dis bietjie ridiculous. Die ding is vir bykans 3 maande van die jaar – oftewel ‘n kwart van die jaar (vir die wat hou van wiskunde) – word Kersfees in ons gesig gegooi. So hier teen einde Oktober is ons al versadig aan Kersfees. Middel van November wil jy iemand met ‘n kaktus in die gesig bliksem as jy nog een keer Boney M hoor “Rumpumpumpum” (en nou gaan daai liedjie die res van die dag in jou kop wees. Sorry daaroor.). Ons raak totaal apaties (of soos die Engelse sê “numb”) teenoor Kersfees want vir 3 maande is dit al wat ons sien en hoor.     
Maar wat kan ons doen? By Woolworths aankom en ‘n “Can I spiek wif de manager” gooi en dan afgaan oordat daar Christmas decorations op is? “Yes sir. Whatever you say Scrooge McGrinch.”
Wie het in elk geval 3 maande nodig om hulle kers-inkopies te doen? Ek het op die MEESTE ‘n paar uur nodig (as dit ‘n goeie bonus jaar was). En as jy slim is hoef jy nie eers die winkels in te vaar nie. Jy draai net iets toe wat reeds in die huis is. (Alhoewel Die Ander Een het tot diep in die Nuwejaar nie met my gepraat nie oor ek gedink het ‘n halwe bottel mayonnaise is ‘n aanvaarbare geskenk. Ek het gesê ek’s jammer. En dit was ‘n slegte bonus jaar. Kan ons nie maar oor dit kom nie?)

En van liedjies gepraat, kan enige iemand vir my verduidelik hoekom “Last Christmas” van Wham! vir die afgelope 35 jaar net oor Kersfees gespeel word? Wag laat ek raai: Want daar is “Christmas” in die titel? Gaan luister na die lirieke. Kan dit enigsins minder Christmassy wees? “You bastard! You broke my heart! Merry f’ing Christmas!”




Maar ons het mos geen verbeelding nie. As Amerika mos iets doen dan moet ons hulle mos na-aap. Neem nou maar die kersboom as ‘n voorbeeld. Wie de donner het gedink dis ‘n blink plan om iets wat nogal hou daarvan om buite te wees die huis in te sleep? Dit klink mos soos iets wat ‘n dronkgat sal doen? Ek sê julle nou: Een dag lank gelede het ‘n man na ‘n eindjaarfunksie in sy dronkenskap ‘n boom by die huis ingesleep. Die volgende oggend het vroulief die sitkamer ingestap: “Liefie... Hoekom de fok is daar ‘n denneboom in die sitkamer?”
“Want... uhm... dis vir... uhm... Kersfees? Ons kan dit versier met... blink goete en balle, jy weet mos, om die geboorte van Jesus die vier! En... en... ons kan ons sokkies bo die kaggel hang... en ek gaan ‘n paar blare aan die dak hang om mense te forseer om my te soen want dis ook al manier wat ek aksie in hierdie huis gaan sien...” Hoe is dit nie die gedrag van ‘n dronkie nie!?
Ek is so dankbaar daai tradisie om mistel (mistletoe – fokus Afrikaners!) te hang en as verskoning vir soentjies te gebruik, het nie hier posgevat nie. Is dit nie bietjie seksuele teistering nie?

En dit geld vir die res van die Kersfees tradisies wat per boot van Amerika en Europa af hier uitgespoel het... Nou as jy al ooit ‘n Kersfees in Afrika spandeer het, dan weet jy dis nou nie spesifiek koel nie. Jy oorleef net-net in ‘n helpmysterklyk-hempie. Nou verwag hulle ons moet dink Oom Klaus gaan in sy lang mou rooi gewaad met haas-fluff orals hier kom geskenke uitdeel? I don’t think so. Hulle gaan hom duskant Phalaborwa optel morsdood van hitte-uitputting. En die takbokke in ‘n jagter se vrieskas 5 kilometer verder. Meeste Suid-Afrikaners het nog nooit en gaan ook nooit sneeu sien nie. Maar die vet weet, die winkels koop 1 Oktober Johnson & Johnson se hele voorraad watte op en pak dit die winkels vol om ons te oortuig dis nou ‘n “white christmas”. Nee. Net nee.
Die ‘Merikaners het nog regte denneboompies wat hulle die huis insleep, maar ons het nou nie daai nie, so ons bou sulke groen tinsel goete uit China, wat verwoed probeer om soos ‘n boom te lyk. But why? En die nuutste is mos om jou hele huis soos ‘n kersboom te versier. Pappa se hele bonus word geblaas op liggies om oor die huis te drapeer. Sy hele Saterdag is ook moer toe om dit op te sit – as hy nou nie van die dak afval nie. My fok ouens. Moenie nou kyk nie, maar ons het bietjie van ‘n elektrisiteitskrisis... Ek dink ‘n paar Mammas was bietjie dikbek dat hulle met groot opgewondenheid in die donker moes sit so vlak in Desember. #EskomSoSorryNotSorry

Dan is daar mos nou ewe skielik ‘n kartondosie by elke liewe betaalpunt waar jy kom. Met ‘n Post-it note waarop daar geskribbel is “Merry Christmas Christmasbox”. En daai een agter die till is die vriendelikheid haarself. “Good morning Sir. We love you Sir. Merry Christmas Sir.” En dis nou juis sy wat ‘n week terug nie eers die lewenslus gehad het om jou te groet nie of op te kyk van haar foon nie... Dan word daai boksie baie opsigtelik so geskuif as jou kleingeld oorhandig word. Ek wou dit ook doen. ‘n Boksie hier in my kantoor sit sodat elkeen wat hier voor my staan vir my ‘n ou ietsie-ietsie ingooi. Vir Kersfees. Want dis mos “the season of giving”. Toe onthou ek, ek kry mos ‘n “salaris” (for lack of better word) om my werk te doen. Niemand skuld my niks. Ons kan mos nie elkeen ‘n boksie hê in ons werksplek nie!? Seriously.

Kyk ek is geseën met so een of twee gawes. Maar die kuns om geskenke toe te draai is nie een van hulle nie. Dit is seker die deel wat ek meeste verpes. Óf ek sny te klein blokkie papier uit (al meet en pas ek met ‘n liniaal) wat beteken die helfte van die prezzie steek nog uit wat ‘n tweede en partykeer derde laag geskenkpapier beteken... Wat ek dan doen, om dit te vermy, is om te veel papier te gebruik, dan lyk die geskenk weer soos ‘n graad eentjie op sy eerste dag wat vir die volgende 5 jaar dieselfde 9 sizes te groot skoolbaadjie moet dra. En moet nie eers met my begin oor Sellotape nie. Maak nie saak hoe hard jy probeer om die punt gereed te hou nie, as jy jou rug draai dan is daai punt weg, en partykeer kry jy hom nóóit weer nie! (Wat natuurlik beteken dat vele presente is al toegedraai met behulp van Prestik en staples.)



Maar wat ek eintlik wou sê is, as ek nie weer met julle praat voor Kersfees nie, dan moet julle ‘n vreeslike geseënde Kersfees hê. Wees vrolik. Vreet jou trommeldik. Wees nice met jou familie-mense. Drink, maar moenie ‘n Frikkie wees nie. Op die einde van die dag is dit ons eie verantwoordelikheid om Kersfees te vier vir die regte redes en op die regte manier, ongeag van wat die winkels in ons kele probeer afdruk.

PS. Magriet, ek sê sommer nou al vir jou: Ek wil nie in Januarie hoor jy het dik geword oor die feesgety se gevretery nie. Jy was nog altyd dik. Maak vrede daarmee.

Stout wees en pas julleself op!

Riaan Palmer
Share: