Tuesday 20 August 2019

As die Zombies kom



Ek giggel heerlik as ek daaroor dink: Sekere mense wat dink hulle gaan oorleef as die kak die fan strike... Regtig Frikkie? Gaan jy gereed wees vir die Zombies en hulle “asses kick”? Kom ons dink gou wat jou reaksie was die vorige keer toe vroulief jou geroep het oor daar ‘n spinnekop in die kamer was... Jy’t giggelend getrippel soos ‘n 3-jarige meisietjie, en met die langste besem in die huis die spinnekop probeer “Sjoe! Sjoe!” uit die huis uit... Nee Frikkie, jy’s nie gereed vir die Zombie Apocalypse nie. Party mense gaan oorleef omdat hulle vegters is, maar nie jy nie Frikkie. Lekker proe vir die Zombies, is al wat Frikkie gaan doen.



 Nie dat ek gaan beter vaar nie, nè? Ek stap ‘n stel trappe op dan is ek uitasem, wat nog te sê weghardloop vir ‘n trop zombies? (Ons moet maar net hoop die Zombie Apocalypse begin nie in Kenia nie, want ons gaan nooit vir daai fokkers kan weghardloop nie!)
Ek sukkel om ‘n braaivleisvuur aan die gang te kry met Charka, twee pakke firelighters, 7 koerante en ‘n liter petrol... Nou verwag jy ek moet ‘n vuur aan die gang kry deur twee stokke teen mekaar te vryf? Not going to happen.

Ek kyk so nou en dan daai storie met Bear Grylls. Discovery Channel stuur hom mos die bosse in met ‘n kamera, en hy wys ons hoe om te oorleef in die wildernis deur alles wat lank genoeg stil staan te eet. In die een episode eet hy sommer ‘n vlermuis. ‘n Vlermuis!? Ek trek my neus op vir ‘n Eskort vienna (I don’t compromise, I Enterprise!), en hy wil hê ek moet ‘n vlermuis eet?
Eintlik is dit nie so moeilik nie. Stap een is: Vang ‘n vlermuis.
Vang ‘n vlermuis!? Dit vat my ‘n 2 ure om ‘n muskiet in my kamer dood te kry - gewapen met ‘n kussing en ‘n blik Doom – en dan kom hulle nog meeste van die tyd weg... Maar Bear Grylls wil hê ek moet blindelings in ‘n donker, grieselrige grot instap en ‘n vlermuis met my kaal hande vang? Dis wat hy gedoen het! Hy stap ‘n grot in, en woerts, gryp ‘n vlermuis aan die poot of hoef (of wat ook al ‘n vlermuis het). Dan slaan hy die arme ding dood teen ‘n rots, want hy wil darem sy peuselhappie lekker tenderised hê! Uh-huh...

Ek gaan verseker doodgaan van die honger as daai dag kom! 

 As jy nou dink hoe dit gaan as daar loadshedding is: Die hele buurt kom tot stilstand omdat daar nie krag is nie. Die hele “Eks van die Ooste” Facebook groep gaan aan die huil elke keer wat die skelms die kabels steel en daar vir ‘n enkele dag nie krag is nie. Nou wat de donner gaan hulle doen as daar NOOIT weer gaan krag wees nie?
 En jou selfoon? Hoe reageer jy as jy agterkom jou selfoon is weg? Jy gaan in ‘n histerie in en begin koorsagtig soek. Of jy nou besig is om die baba se doek om te ruil of in die middel van breinchirurgie, jy los alles net so totdat jy jou foon opspoor... Slegte nuus, as dáái dag kom gaan jou foon niks meer as ‘n duur paperweight wees nie. En wat de moer gaan ons sonder die Internets doen? As jy vandag iets wil weet - Hoe werk dit? Wat is daai? – dan is dit maklik, jy vra gou vir Tannie Google. En as Google nie meer daar is nie? Dan gaan jy actually na die biblioteek toe moet stap en dit gaan opsoek. Weet julle ooit hoe werk biblioteke se indekskaarte? Weet julle ooit waar is die naaste biblioteek?

Die realiteit is, meeste van ons gaan opeindig as Zombies. In dáái scenario. En dis seker oraait, want ek meen daar moet darem zombies wees, anders het “die ander” niks om voor weg te hardloop nie...


Ek kan julle sommer nou waarsku: As die paw-paw die fan strike, dan deps ek Parkview se Woollies. Dis my enigste kans op oorlewing. En moenie daar aankom en kom hulp vra nie – daar’s net-net genoeg wyn in daai shop vir my (vir een maand). Tensy jy ‘n oulike persoonlikheid het of my gaan probeer omkoop met sigarette – dan kan jy maar jou luck kom try. (Nee, regtig. As jy twakkies het, kom gerus. Marlboro Blue Ice asseblief en dankie.)

© Riaan Palmer 
Share:

Monday 12 August 2019

Die gemeenskaplike vyand: Oggend mense



 Ek sweer daar moet ‘n makliker manier wees om die dag te begin as om wakker te word in die oggend. Kyk ek hou nou maar net nie van daai “morning people” (oggend mense?) nie. (Ek hou ook nie van oggende nie en ook nie van mense nie, maar dis nie nuus daai nie.) Ons ken almal daai mense. Hulle spring soos 4 uur die oggend uit die bed uit met ‘n lied in die hart en ‘n glimlag op hulle bakkies. Dan huppel hulle so deur die huis en fluit die verdomde Oukraalliedjie, so al asof die dag onbeperkte geleenthede inhou. Mens sou sweer hulle leef in een of ander Disney musical waar almal enige oomblik gaan begin sing en dans. Dis om van naar te word.

Niemand van ons hou van daai mense nie, tog gaan hulle onverpoos voort met hulle happy-go-lucky houdings. Hoorie. As jy ‘n oggend mens is, wil ek net vir jou sê: Op een of ander stadium in jou vroeë-oggend-ure-lewe het iemand dit al sterk oorweeg om jou te vermoor... En nie net vinnig daaroor gedink nie, hulle het al beplan hoe om dit soos ‘n ongeluk te laat lyk of hoe hulle van jou lyk gaan ontslae raak. Feite! “Goeie more Magriet? Nou wat de moer is so goed aan die more? Toe, Magriet, uit daarmee!”



Die mense by my werk weet al jy loop draaie om my totdat ek my eerste koffie gehad het. Dan mag jy my groet. So teen 11 uur kan jy my maklike vrae begin vra. Dis eers 10 uur die aand wat ek uiteindelike op spoed is, maar dan is almal weer terug huis toe. Ek kan nie verstaan hoe ons toegelaat het dat oggend mense die wêreld se skedule gereël het nie? Ek meen, wie’s die drolknipper van ‘n vark nek wat besluit het dinge moet al 7 uur die oggend begin? Wat is nou eintlik fout daarmee om eers 10-uur die oggend te begin werk? Nee, terwyl die res van ons nog gelê en slaap en poep ruik, toe het die klomp oggend mense bymekaar gekom en besluite geneem. En nou sit ons met die gebakte pere...

Ek gaan slaap eers soos 1-uur, 2-uur in die aand. Glad nie ‘n onredelike tyd nie (en daai tyd van die aand is die beste movies in elke geval op die TV. Wink-wink. Nudge-nudge.). Die dag gebeur dinge egter so dat ek vroeg in die bed beland en per ongeluk aan die slaap raak – seker so by 11 uur die aand. Bisar, ek weet. Skrik ek 4-uur die oggend wakker. Ek dog by my eie self, “Fok dit!” en ek draai op die ander sy om verder te slaap, maar my brein is soos “Uhm. Nee. Ons het nou klaar geslaap.” Sug. My hele dag geruïneer. Besluit ek maar, OK, ons maak maar die beste van ‘n slegte saak, en ek staan op. Ek gaan vir een keer in my lewe een van daai die-lewe-is-‘n-lied donkie drolle wees – ‘n oggend mens. Dis mos eintlik ‘n goeie ding. Bietjie kwaliteit tyd vir myself, ekstra tyd om allerhande dingetjies te doen want ek moan mos elke dag dat daar te min ure in die dag is.


Ek spring op uit die bed uit. Eerste fout. Ek het reeds die ouderdom bereik waar ek nêrens heen kan spring nie. Definitief nie uit die bed uit nie. Ek trek ‘n hammy (‘n hamstring vir die dokters tussen ons). Nou gaan ek vir die res van die week mank loop.
Ek vaar die kombuis in en begin vir myself ‘n breakfast maak wat Sun City Hotel sal laat skaamkry. (OK, fine. Dit was net toast en ‘n gebakte eier. Maar dit was ‘n lekker gebakte eier, so...) En ek dag by my eie self, “Jis, dis nou lekker! Ek kan nie eers onthou wanneer laas het ek ‘n lekker breakfast gebou nie!”

Toe kry ek nog ‘n bakker plan. Ek dog toe laat ek gaan draf... I know, right!? Ek het nooit gedink ek sal een van daai mense wees nie! Ek was reg. Ek het gelukkig ‘n hamstring besering gehad, so ek kon toe nou nie gaan draf nie. Ek besluit toe maar op sit-ups voor die TV. Julle gaan my nou nie glo nie, maar daar is nuus daai tyd van die oggend. Regte, egte nuuslesers met stoele en kameras en shit wat sit en nuus lees! Stom. Geslaan. Ek het nie eers geweet daar gebeur nuuswaardige goed so vroeg in die oggend nie.

But anyway. Na sit-up nommer 7 toe voel ek wat moontlik die begin van ‘n six-pack kon wees (of ek het ‘n maagspier getrek. Nie heeltemal seker nie.) en ek besluit toe maar om dit nie te oordoen nie. Toe raak ek bietjie verveeld en dag toe, ek het my eerste breakfast nou opgebruik met al die geoefenry, dis weer tyd vir breakfast. Al wat ek die tweede keer bymekaar kon skraap was ‘n Weet-bix. Maar ek het hom ook perfek gaargemaak, so ons kan breakfast nommer 2 ook ‘n reuse sukses noem.

Toe is dit darem nou al ses uur en ek is so verveeld ek kon die mure uitklim. Ek gaan sit toe maar op die stoep en ‘n twakkie rook (sien my longe was mooi skoon van al die geoefenry). Nou op daai stadium toe is al wat ‘n voël is aan die tjirp. Die duiwe koer, die kwêvoëls kwê en die hadidas hadi. Maar laat ek julle nou vertel: Daai storie van “the early bird catches the worm” is ‘n stront storie. Ek het nie een enkele voël sien ‘n wurm vang nie. Maar dalk is dit oorlat ek in ‘n Afrikaanse buurt bly? Die vroeë voël vang nie die wurm in Afrikaanse buurte nie. Nee, nee. Die oggendstond het goud in die mond. Wat. De. Fok? Daai’s mos nou nie ‘n regte sin nie? Wat op dees aarde is dit veronderstel om te beteken!?

Moving on. So breek breakfast nommer 3 (Fruitloops – tot perfeksie gaargemaak) aan en eventually half-agt; tyd om te gaan werk. Gedog ek gaan die hele dag met ‘n lied in my hart rondloop? Uhm. Nee. Teen 12-uur is ek so moeg en geïrriteerd almal begin weer draaie om my loop. Ek besluit toe om vinnig ‘n uiltjie te gaan knip. Weet jy hoe lank kan jy in die badkamer slaap by die werk voordat mense jou begin soek? Die antwoord is 43 minute.

Die les wat ons leer: Ek kan ook ‘n oggend mens wees. As oggende eers 3-uur die middag begin het.

© Riaan Palmer
Share:

Tuesday 6 August 2019

As Die Donker weer kom

Ek skryf hierdie want dit draai nou al lank in my kop en dit moet uit.
Dis nie ‘n kortverhaal of ‘n storie nie. Dis nie snaaks nie. Dis nie vrolik of opgewek nie. (As ek weer skryf sal dit wees, maar nie hierdie keer nie.) Ek skryf dit want dit móét uit, so dis net vir my. Dalk vir iemand anders? Maar definitief vir my.

* * *

Jy bou ‘n huisie van kaarte. Elke kaart ‘n hoop. ‘n Droom. ‘n Wens. ‘n Aspirasie. ‘n Verlange. ‘n Begeerte.

Jy werk hard. Jy glo. Hierdie gaan ‘n pragtige huisie wees. Dit is jou hele lewe. Jou hele menswees.

Skielik kom daar ‘n warrelwind – dalk net ‘n ligte briesie en jou hele huisie tuimel in duie. Jou harde werk, hoop, drome, trots: verwoes. Jy sak inmekaar van die terugslag, net soos die huisie tuimel jy – plat op die grond. Moedeloos. Maar jy haal diep asem en jy begin weer bou. Jy blaas die kooltjie van hoop weer aan. Stadig maar seker kry jy opgestaan. Jy pak weer jou kaarte – drome, wense, familie, liefde, jou hart – en stadigaan groei die huisie weer. Uiteindelik staan jy weer regop, trots, by jou skepping. Jy glimlag breed en wys vir ander mense jou huisie – jou hele menswees. Jou siel. Jou vriende en familie bewonder dit. Behandel dit teer en met respek.

‘n Vreemdeling kom verbygestap en bekyk jou huisie van kaarte.
Nee.” Sê die vreemdeling sonder verduideliking. Gevoelloos. Sonder empatie trek die vreemdeling een van die kaarte uit. Dit is ‘n kaart wat die fondasie van jou huisie vorm. Die huisie stort weer ineen. Die vreemdeling stap tevrede weg. Hulle verwoestende werk is gedoen. Onaangeraak deur die verwoesting, teleurstelling en hartseer wat hulle in hulle pad los. Dalk is dit nie eers ‘n vreemdeling nie. Dalk is dit iemand wat jy gedog het jy kan vertrou.

Oorweldig deur die terugslag gaan lê jy plat op die grond. Hopeloos. Gebreek. Om jou lê die kaarte gestrooi. Jou handewerk, wat nou ‘n hoop rommel is, word nat van jou trane.
Jy kan nie meer nie.
Jy wil nie meer nie.
Die Donker kom sit langs jou. Die Donker vat met sy hand aan jou arm.
Laat my in.” Sê Die Donker.
Die Donker sit sy arm om jou.
Ek sal vir jou sorg.
Jy weet dis leuens. Die Donker sorg vir niemand en niks. Maar jy is te moeg, te seer om terug te baklei. Jy voel Die Donker heeltemal om jou. In jou.

Mense loop verby jou, daar waar jy sonder hoop lê.
Vriende. Familie. Hulle sien nie dat jy plat op die aarde lê nie. Hulle sien nie hoe Die Donker oor jou kruip, deur jou vloei, jou verder wegvat nie.
Die mense vra jou vriendelik “Hoe gaan dit?”
Jy lig jou kop op en glimlag breed. “Goed dankie!” Jy wil eintlik jou hand uitsteek en uitroep “Help my!”.
Maar Die Donker maak jou stil. “Ek is joune. En jy is myne. Dis net ons. Niemand anders nie.” En dit word nog bietjie donkerder.
Jy weet jy moet hier uit. Maar daar is nie meer krag nie. Nie meer hoop nie. Nie meer drome nie.
Jy het genoeg gehad. Wil nie. Kan nie. Sal nie.

Hoeveel keer moet jy die huisie weer probeer bou? Die kaarte van hoop en drome en geluk en liefde is so gebuig, verinneweer, dat dit nooit weer ‘n sterk fondasie sal wees nie.

Soos jy lê en wag, vir Die Donker om sy werk te doen, sien jy ánder mense om jou wat groter, mooier huisies gehad het. Hulle huisies het ook in duie gestort en nou lê hulle met gewonde siele op die grond. By elke gebreekte mens sit daar Die Donker.
Een vrou het haar kind verloor. Haar Donker is Hartseer. Sy kan geen lig verby haar Donker sien nie, dit oorweldig haar totaal en al. Haar Donker is dood stil. Hy hoef niks te sê nie.
‘n Ander man het alles verloor. Sy Donker is Drank. “Nog net een keer. Hierdie slukkie sal anders wees. Dis die laaste keer.” Sê sy Donker vir hom.
Jy weet Die Donker lieg.

Jy sien al die ander mense om jou wat ook deur Die Donker gevat is. Elkeen se Donker kom van 'n ander plek - Egskeiding. Dood. Gebroke liefde. Verslawing. Werk. Teleurstelling. Mishandeling. Siekte. - maar die eindbestemming is dieselfde. Die Donker. Jy verstaan hulle. Hulle verstaan jou. Jy weet jy kan niks vir hulle doen nie. Hulle weet hulle kan niks vir jou doen nie. Party se Donker is baie donkerder as joune. Maar hulle Donker is húlle Donker. Jou Donker is jóú Donker.

Die Donker is wreed. Genadeloos.
Daar is geen koors nie, geen wonde, geen bloed,
geen toetse om mense te laat weet iets is fout nie.
Net die stadige erosie van die self, so verraderlik soos kanker.
En soos kanker, is dit in wese 'n eensame ervaring;
'n kamer in die Hel met net jou naam op die deur.


Jy sien ‘n man gaan staan stil langs ‘n gevallene. “Staan op man!” Sê hy vir die gevallene. “Dis nie so erg nie. Moenie so sissie wees nie. Ruk jou reg.” Die gevallene probeer opbeur, maar Die Donker is te groot. Te swaar. Jy wil uitroep “Los hom uit! Wat weet jy van Die Donker af?”. Maar jy’t nie ‘n stem nie.

Langs jou kom kniel iemand. ‘n Vreemdeling. Sy glimlag vir jou en gee vir jou ‘n splinternuwe kaart. Sy draai woordeloos om en loop.
Jy draai die kaart om en om in jou vingers. Dis maar ‘n vaal, onbenullige kaart, maar in jou oë is dit ‘n besondere mooi kaart.
Die Donker haal sy knieg van jou bors af.
Die kaart sal ‘n sterk fondasie maak.
Die Donker gee ‘n tree agteruit.
Jy is spesiaal. Jy is belangrik vir ons.” Staan die woorde op die kaart.
Jy is niemand. Jy is niks.” Probeer Die Donker vasklou.


Nog. Net. Een. Keer.

Jy sit die blink nuwe kaart regop en balanseer een van jou ou, geskeurde vuil kaarte teen dit. Jy kan net-net die woord op die verwaarloosde kaart uitmaak: HOOP. Die twee kaarte teen mekaar staan wankelrig regop. Die begin van ‘n kaartehuisie.

Moenie huil as die son nie meer skyn nie. Jy gaan nie die sterre deur jou trane kan sien nie.

Nog. Net. Een. Keer.

* * *

Ek dra hierdie op aan almal wat sukkel met depressie, seerkry, swaarkry. Almal wat Die Donker ken. Ek het nie woorde van wysheid wat jou gaan laat beter voel nie.
Net dit: Nog. Net. Een. Keer.
Nog net een tree.
Nog net een dag.
As jy verdwaal het in die woud, neem dit jou soms 'n rukkie om te besef dat jy verlore is. Vir ‘n rukkie probeer jy jouself oortuig dat jy net so bietjie van die paadjie afgestap het en dat jy enige oomblik weer die voetpad sal kry. Dan word dit nag en weer en weer, en jy weet nog steeds nie waar jy is nie. Dan is dit tyd om te erken dat jy so ver van die pad afgedwaal het, dat jy nie eers meer weet watter rigting die son opkom nie. Maar soek die lig. Dis wanneer dit die donkerste is, wat jy lig die maklikste kan raaksien. En gaan daarnatoe. Dit voel of jy nie krag het nie. Maar jy hét. Soek die lig. Laat die lig toe.

* * *

MAAR nóg belangriker dra ek die op aan die mense wat NIE nou op hulle knieë staan met Die Donker langs hulle nie: Deel asseblief ‘kaarte’ uit. Oral waar jy gaan. Jy het géén idee hoe groot verskil die mees onbenulligste kompliment of tikkie vriendelikheid aan iemand se lewe/dag kan maak nie.
As jy wegstap by iemand, wat los jy daar? Verwoesting? Of hoop? Lewe jy jou lewe so dat, as jy vertrek, die mense wat agter bly, blý is, of jammer is dat jy moet gaan? Dit is so eenvoudig. Daar is mense om ons wat lewens verwoes, en daar is mense om ons wat lewens red. Jou keuse.


#Depressie #SteekJouHandUit

©Riaan Palmer
Share:

Friday 2 August 2019

Papaja en die Morkels

Ouma sê die Morkels se moeilikheid het begin by daai hond, Papaja. Volgens Ouma het Louw Morkel die hond gesteel by ‘n sigeuner karavaan. (Daai karavane wat oornag in ‘n oop stuk veld verskyn, met ‘n plakkaat wat aanbied om jou palm te lees. Volgende week is hulle net so skielik weg. Niemand sien hulle kom nie en niemand sien hulle gaan nie. Daar’s ook nie eers ‘n motorkar wat die ding kan sleep nie.) Die ou sigeuner vrou wou nie die hond aan Louw verkoop nie, toe gaan steel hy hom dieselfde aand nog. Hy wou vreeslik graag die vreemde hond hê want die brak was geel. Nie geel soos ‘n Labrador kammakastig geel is nie. Nee, geel soos in met ryp piesang geel. (Ook dan nou hoekom die hond se naam Papaja was. Dit sou seker meer sin gemaak het om die hond Piesang te noem, maar Louw het altyd gesê jy noem nie ‘n dier na ‘n vrug nie.) Ouma reken die sigeuners het ‘n vloek op Louw Morkel gesit oor dié hond wat hy sommer so gesteel het. Eintlik seker maar Louw se verdiende loon, maar Ouma weet darem nie of ‘n hond al daai pyn en lyding regverdig nie...



Die Morkel gesin het aanvanklik eers uit 9 mense bestaan. Louw, sy vrou Magriet en die 7 kinders. (Ouma sê dis nie dat óf Louw óf Magriet vreeslik mooi was, wat so baie kinders veroorsaak het nie. Dis net dat Magriet vreeslik vrugbaar was – seker maar oordat sy so baie met die kompos in die lande gewerk het. Louw het net sy onderbroek oor die deur gehang, of Magriet het net wind-af van Louw gestaan, dan is die vrou weer verwagtend.) Die 9 van hulle het almal op ‘n halwe hektaar plaas buite Rustenburg gebly, in ‘n 2 slaapkamer huisie. Louw wou vreeslik graag laat aanbou om plek te maak vir die spulletjie, maar hoe meer hy gespaar het, hoe meer kinders het sy vrou gebaar, en die aanbou het net nooit gebeur nie. Louw en sy vrou het natuurlik in die een slaapkamer geslaap, die 6 meisie-kinders in die ander kamer en die seun buite in ‘n tent saam met Papaja.

Die noodlot het eerste vir Magriet loop haal. Ouma sê as dit nie so tragies was nie, was dit dalk snaaks. Magriet het kaasstokkies vir die jongste se verjaardag gemaak. Dis nou daai blokkies kaas wat deur ‘n tandestokkie, saam ‘n gherkin of ‘n suur uitjie, gesteek word. Jy kry hulle by enige Afrikaner partytjie – kômmen of nie. Magriet loop so met die skinkbord kaasstokkies, wat in onderstebo halwe lemoene gesteek is, toe Papaja voor haar inhardloop en Magriet neerslet. Reg bo-op die dosyne stokkies. Dit reën kaas, gherkins en suur uitjies in die Morkels se huis, en Papaja is net te bly. Weke daarna haal hulle nog kaas en gherkins van die gordynkappe af. Gelukkig – of eerder ongelukkig – het Magriet die val oorleef. Die verjaardag partytjie moes maar afgestel word, want die kinders moes die res van die dag sit en tandestokkies uit Magriet trek. Die probleem is dat Magriet toe nou vol dosyne en dosyne klein gaatjies was. In haar gesig, in haar keel, in haar bors, in haar derms – orals! Elke keer as sy water of iets drink, dan spuit die vloeistof by al wat ‘n gaatjie was uit – Magriet het glo nes ‘n gieter of ‘n stort gelyk as sy ‘n glas water drink. Uiteindelik is Magriet dood van die dors, want sy kon geen vloeistof inhou nie. Op haar einde was sy droëer as ‘n Ouma-beskuit (die wat jy in die winkel koop, nie my Ouma s’n nie). Louw het vir Magriet ‘n drukkie probeer gee, toe verkrummel Magriet in ‘n duisend stofdeeltjies en waai by die venster uit. Maar nie voordat die jongste kind, Allettaa, wat aan asma gely het, ‘n teug van Magriet se stof inkry nie. Allettaa se bors slaan bot toe, en die kind slaan 5 minute later ook dood neer. 



Die tweede jongste kind het hulle Ma se dood seker die moeilikste gevat. Alleta. (Ouma praat my deurmekaar en ek vra haar, is Aletta nie dan nou net dood nie? Ouma verduidelik toe, nee, dit was Allettaa, hierdie is Alleta. Na die derde meisiekind, toe besluit Louw en Magriet om maar al die meisies ‘n variasie van Aletta sal noem, want so hoef sy net een keer te roep, dan sal amper almal kom. En dan hoef hulle, as ouers, nie so baie name te onthou nie.) Alleta, gebreek deur haar ma se dood, was skaars ‘n bloedjie van 2, toe het sy haar aan paraffien oorgegee. Op drie het sy gom en hoesstroop gesnuif. Op vier het sy by ‘n kers sit en teken - hoog op DDT – toe Papaja teen die tafel stamp, die kers omval teen Alleta en Alleta met ‘n kortstondige, helder bol vlamme verdwyn tot ‘n hopie as. Al die paraffien waarin sy haar brood gedoop het, het haar hoogs vlambaar gemaak. Ten minste het sy nie soos haar Ma by die venster uitgewaai toe sy klaar is nie.

Die derde jongste, Aleetta, was tragies deur ‘n haai opgeëet. Sien, dit was die tyd van Die Groot Droogte langs die kus. Die see het begin opdroog en ver teruggetrek. Al die seevis het maar, om te oorleef, met die riviere langs die binneland in geswem. Al wat ‘n haai was is ook die binneland in, natuurlik agter hulle kos aan. (Ouma sê jy kon vir jare na die droogte nog snoek vang in Hartbeespoortdam.) Aleetta was, met Papaja agter haar aan, op pad kafee toe om vir Louw twak te gaan koop. Papaja gewaar toe so waar as wragtie ‘n dolfyn daar in die Hexrivier. Die hond is opgewonde die water in, en Aleetta méér opgewonde agterna, want sy’t al gehoor die ryk mense swem so saam die dolfyne in Mosambiek. Dit was op die ou einde nie ‘n dolfyn nie, maar ‘n witdoodhaai. ‘n Honger een. Hulle het net Aleetta se Crocs gekry na die tyd.

Die vierde een, Aleta, is doodeenvoudig deur ‘n haas dood gepik. Dalk nie, só eenvoudig nie. Aleta was doodonskuldig besig om wasgoed op die draad te hang, toe Papaja aan die blaf gaan, so ent die veld in. Oordat daar so ‘n plaag van seeslange was besluit Aleta om maar eerder te gaan kyk, want net-nou is dit ‘n seeslang wat vir Papaja wil pik. Toe sy egter daar aankom, toe sien sy dis ‘n hasie.
“Los die arme hasie, jou ou simpel hond!” Was Aleta se laaste woorde.
So ent weg was ‘n seeslang. Die seeslang het die hasie oomblikke vroeër gepik. Wat meeste mense nie weet nie, is dat seeslange die gevaarlikste gif in die hele wêreld het, maar omdat hulle in die see bly, en mense nié, is niemand nog ooit deur ‘n seeslang gepik nie. Die arme hasie was egter vol seeslang gif. In sy bloed, in sy brein, in sy spoeg – hy was basies ‘n gifhasie. Toe Aleta buk om die hasie op te tel, toe byt hy vir Aleta. Uit selfverdediging, natuurlik. Aleta het dit darem terug gemaak tot by die huis en was ordentlik genoeg om eers die wasgoed klaar op te hang, voordat sy morsdood omgekap het. 


Net ‘n week daarna, toe Louw besig was om die lande te ploeg, toe hardloop Papaja voor die trekker in. Louw het uitgeswaai vir die geel gevaarte, van die trekker afgeval en homself basies met die trekker die lande ingeploeg. Die lande was vir jare daarna baie vrugbaar op daardie plek, want Louw het baie bemesting gemaak toe hy sien die ploeg gaan oor hom loop...

Toe was daar net 3 Morkels oor. Tegnies gesproke. Aletta (wat weens omstandighede toe die jongste was) het die patroon begin raaksien, haar koffertjie gepak, en een aand die nag in verdwyn sonder om eers koebaai of niks te sê vir niemand nie. Veral nie vir Papaja nie. Met die dat sy ‘n gesonde 16 jaar oud was, het sy nie te lank duimgegooi voordat ‘n trok-bestuurder haar opgelaai het nie. Niemand weet wat verder van haar geword het nie. (Magriet Junior – die oudste van die Morkels – het jare later ‘n poskaart van Charlize Theron gekry. Charlize wou net weet wie leef nog. En spesifiek of leef Papaja nog. Dit was vir Magriet Junior bietjie vreemd, maar nie die vreemdste ding wat sy al op die plaas gesien het nie.)
Louw Junior, die enigste seun tussen die kinders, se gedagtes was elders. Louw Junior het homself al op 12-jarige ouderdom ontdek. Hy’t ook baie van die volk se seuns en sy skoolvriende wat kom oorslaap het oor die jare, ontdek. In sy tent. As die ligte af was. Na sy Pa se dood toe het hy uiteindelik die vrymoedigheid gehad om uit die kas te klim. (Nie dat die tent ‘n kas gehad het nie, so kom ons sê maar hy het die vrymoedigheid gehad om uit die tent te klim.) Hy was 18 en lus vir leef en om die wêreld te ontdek – nie net homself en sy geskokte maatjies in sy tent nie. Louw Junior het nes Aletta in die middel van die nag verdwyn. Hy het darem vir Magriet Junior ‘n briefie gelos: “Ek is lus, Ousus, so ek moet gaan. Pasop vir Papaja. Lief vir jou. L.J.”
Meneer de Beer wat L.O. vir die matriek seuns gegee het, het dieselfde nag verdwyn, maar sonder om ‘n briefie vir sy vrou te los.

Toe was Magriet Junior alleen op die plaas. Die 2-slaapkamer plaashuisie het vir haar massief gevoel. Leeg. Eensaam. Net sy. En Papaja.
Sy’t een middag die haelgeweer uit die kluis gehaal en die veld ingestap. Papaja aan haar sy. Sy’t gestap tot by die 6 grafte, ‘n handvol veldblomme gepluk en ‘n blommetjie op elke grafsteen gesit.
“Sien jy wat het jy gedoen, Papaja? Daar lê hulle. Louw Morkel. Magriet Morkel. Allettaa Morkel. Alleta Morkel. Aleetta Morkel. Aleta Morkel. Morsdood. Party van hulle lê nie eers hier nie. Hulle is stof en as in die wind. Of haaikak.”
Papaja het net sy stert gewaai.
“Is dit wat jy wou gehad het? Nét oordat my Pa jou by daai vrou gevat het? Is dit nou my beurt? Gaan jy my nou doodmaak?”
Magriet Junior het diep in die hond se geel oë gekyk. Opsoek na iets. Redes.
“Nee.”
Magriet Junior skrik so groot sy trek per ongeluk die haelgeweer se sneller, en skiet ‘n tarentaal dood wat doodonskuldig in die stof loop en wei het.
“Papaja? Kan... kan jy praat...?” Vra sy geskok.
“Nee.” Die Dood stap tot by Papaja en vryf die geel hond se ore. Papaja waai sy stert opgewonde. “Magriet Junior Morkel.” Die Dood se stem was diep en vreesaanjaend en mooi. “Papaja het niemand doodgemaak nie. Hy is dalk die lompste hond en die grootste ongeluksvoël op die planeet aarde, maar hy het niemand doodgemaak nie.”
Magriet Junior het moedeloos in die gras gaan sit. “Maar...” Sy’t gesukkel om te verstaan.
“Magriet Junior Morkel. Mense gaan dood. Party kry kanker. Party word so oud dat hulle móét doodgaan. Ander mense verdor tot stof en waai weg in die wind. Maar dit beteken nie die res moet ophou leef nie. Jy sê ‘A-nee-a Ma, klim af van die tafel af, ons moet hier eet!’ en jy vee die stof van die tafel af. Jy loop nie die veld in met ‘n haelgeweer nie. Jy staan op en jy leef. Nou. Dis al wat jy het.” Die Dood het met ‘n teerheid gepraat, al was sy woorde kwaai.
“Dit is al wat ek het.” Antwoord Magriet Junior saggies.
“Is jy hier vir my?” Vra sy na ‘n lang stilte.
“Nee. Ek is hier vir Papaja. En om so bietjie met jou te klets.” Antwoord die Dood.
“Kan Papaja asseblief nog bietjie by my bly? Ons het hom almal so gehaat oor al die dood... Hy’t nooit liefde geken het nie.”
Die Dood krap Papaja se maag. Papaja se agterbeen begin spring dat dit lyk of hy ‘n onsigbare fietsie ry.
“Papaja kan bly vir nog so bietjie. As dit beteken dat jy die haelgeweer gaan bêre, kan hy met die grootste liefde bly.” Sê die Dood in sy esoteriese dreuning van ‘n stem.
“Met die grootste liefde.” Beaam Magriet Junior Morkel.

* * *
Ouma wys opgewonde na die TV. “Kyk!”
Op die kassie is nog ‘n episode van kykNET se Megaboere. ‘n Formidabele boerevrou stap deur rye mielies wat lyk of dit vir altyd aanhou tot verby die horison. Die vrou verduidelik aan die aanbieder hoe sy ‘n halwe hektaar plaas so vrugbaar geboer het, dat dit nou ‘n 5,000 hektaar plaas is. Langs haar hardloop ‘n geel hond. Nie geel soos ‘n Labrador kammakastig geel is nie. Nee, geel soos ‘n ryp papaja.

©Riaan Palmer
Share: