Tuesday 25 June 2019

Gaan vlieg man - Deel 2

Ek lê nou al ‘n maand lank en “toss and turn” elke aand. (Sies man, tannie, waar is jou gedagtes? Ek bedoel ek kan nie slaap nie!) Sien ek vlieg mos nou die einde van die maand Duitsland toe. (Ja Duitsers, sluit julle deure en vensters ek’s op pad!) En dis nou juis mos die gevliegery wat my so wakker hou. Ek het mos nou al my oë hier rooi gehuil oor vlieg. Maar daai’s binnelandse vlieg. Dis fokkol.



Die nie dat ek bang is vir vlieg nie. Glad nie. Nee, hierdie is ‘n 11 uur vlug. Dan nog ‘n uur se vlieg... 12 ure van torture!

Maar terwyl ek nou op die tema is van vliegtuie wat val: Het julle al agtergekom wanneer hulle jou vertel wat alles kan skeefloop met ‘n vliegtuig? Definitief nie wanneer jy die kaartjie koop nie. Nee, daar staan boggerôl op die kaartjie dat die vliegtuig dalk in ‘n vlammeseë aarde toe kan stort nie. Nee, hulle wag tot jy daar binne in die vliegtuig is, die deure toegesluit en jy vasge-strap is in jou seat. Dan eers begin daai antie vir jou alles vertel wat skeef kan loop! En sy vertel jou dit nogal met ‘n glimlag ook nog. (Sy noem dit mos ‘n “noodlanding”. Noodlanding se ma, man! Die vliegtuig crash! As ek beheer oor my kar verloor en teen ‘n boom bots vertel ek nie vir almal ek het ‘n “noodparkering” gedoen nie. Ek het mos ge-crash! As ‘n 100 ton stuk metaal uit die lug uit val, dan crash hy – hy land g’n!)



Dan beduie sy kammakastig mos waar die uitgange is en sê jy moet half ordentlik die vliegtuig verlaat... Antie, die mense kan nie eers op ‘n ordelike wyse die vliegtuig verlaat as ons net plein weg geland het nie, wat dink jy gaan hulle doen as ons crash? En jy hoef in elk geval nie vir ons sê wat ons moet doen nie. Ons gaan definitief nie as die vliegtuig ge-crash het (en ons dit oorleef het) daar bly sit en wonder wat moet nou moet gebeur nie. Ons gaan mos vanself daar probeer uitkom!




Dan vertel sy ook mos nou as daar ‘n “loss of cabin pressure” is (sy bedoel daar’s iewers ‘n moerse gat in die vliegtuig) gaan daai geel Craft margarien bakkies uit die dak uit val om ons met suurstof te voorsien. Hoe gaaf van hulle.
“En dan sit jy dit so oor jou mond en haal normaal asem...”
Regtig tannie? Ons is oulik genoeg om ons eie skoenveters vas te maak, jy hoef nou regtig nie vir ons te verduidelik hoe werk ‘n suurstof masker nie. Ek gaan nie die ding oor my hol probeer sit nie! (Ek dink in elk geval nie daar kom regtig suurstof uit daai bakkie uit nie. Ek dink dis maar net ‘n masker om oor jou neus te sit sodat jy nie die reuk kan ruik van 400 mense wat in hulle broeke gebollie het omdat die vliegtuig val nie...)

Dan gaan die antie aan om ons te vertel wat gebeur in geval van ‘n “water landing”. Weereens sluk ek maar swaar aan die teorie dat ‘n 100 ton stuk metaal gaan dryf. Nu-uh. Sy vertel jou daar is ‘n “flotation device” onder jou sitplek. Het jy al ooit gekyk of is daar ‘n flotation device onder jou seat? As ons op die water gaan crash en jy kom agter jy’t nie een nie gaan jy nie die knoppie kan druk om by die lugwaardin te kla nie... Jy’s gefok. Just saying. En dan het daai "flotation device" mos nou kamma-kastig ‘n fluitjie aan. Vir watter verspotte rede is daar ‘n fluitjie aan? Jy’s in die middel van die Indiese Oseaan en jy moet nou die fluitjie blaas met die hoop dat iemand jou gaan hoor en jou kom haal? Riiiight. Nee, ek sê jou daai fluitjie is maar net dat jy jouself kan vermaak totdat die haaie jou hier aan die been kom pik. Daai “emergency procedures” prentjies wys mos die mense wat so op die vlerk van die vliegtuig sit asof hulle op die beach lê en tan. Wat daai prentjies nie wys nie is die dosyne witdoodshaaie wat om die vliegtuig draai en al die bloed en derms nie...

But anyway. Soos ek gesê het: Ek is glad nie bang dat die vliegtuig gaan val nie – ek het nie eers daaroor gaan dink nie.



Daai internasionale vlugte het mos “first class”, en die sadiste laat ons mos deur eerste klas loop as jy op die airie klim. So al asof hulle ons neuse daarin wil smeer: “Kyk julle cheapskate losers! Dit is wat julle mis! Been spasie vir myle. Die heerlikste sagste stoele en sulke persoonlike 50 inch TV skerm met Dolby surround sound. Suckers!” Nou wat ek doen, as ek daar deur eerste klas stap, is bietjie “gas besproeiing”. Chemiese oorlogvoering. (Ek poep – vir die wat sukkel om tussen die lyne te lees. Silent and violent.) Net om hulle te spite – dat hulle ‘n smakie kan kry van die reuke en geure daar agter in die economy class waarmee ons moet saamleef... (Ek weet. Jaloesie is ‘n vreeslike ding. Maar fok hulle.)



Nou ons vlieg half nege die aand. Wat beteken dat na daai ongelooflike heerlike sewegang maaltyd wat hulle bedien (sarkasme as jy wonder) verwag hulle jy moet slaap. Ek kan nie verstaan hoe mense so kan slaap nie!? Ek kan nie eers gemaklik daar sít nie, wat praat jy nog van slaap? Yeah, no. Ek kry skaars op my bed wat so sag soos wolkies is met die fancy-ste gemaksones geslaap, nou verwag hulle ek moet kiertsregop in daai ongemaklike storie slaap? Not going to happen. En dis ook nie regtig dat ek wíl slaap nie. Ek weet nie van ander mense nie, maar ek self verloor totaal beheer oor my liggaam en al my funksies as ek aan die slaap raak... Ek gaan basies in ‘n koma in. Dan praat ek nie net van die gesnork, kwyl wat by my mond uitborrel en gesprekke wat ek in my slaap het nie... Nee, ek praat van alles wat ontspan. En as jy slaap is daar mos geen klep-beheer dat jy dit saggies-saggies kan doen nie...

Nee, as ek aan die slaap moet raak gaan die hele economy class (ook) de moer in wees vir my. So slaap is uit.

Ironies genoeg lê ek nou wakker in die aand oor wat vir my voorlê... Dalk is ek so uitgeput teen Sondag dat ek in any case gaan uitpaas van die moegheid? Nou dat ek daaroor dink – dis in elk geval net ‘n klomp vreemde mense op die vliegtuig. As ek aan die slaap raak, dan moet hulle nou maar de moer in wees vir my. Ek’s ook maar net mens. Solank hulle my nie in hegtenis neem vir terrorisme nie...

(As jy deel een gemis het, Kliek HIER)

Riaan Palmer
Share: