Wednesday 13 May 2020

Grimering en waterslides

So ry ek na ‘n vriendin toe om vinnig ‘n belangrike dokument af te laai en laat weet haar sommer per WhatsApp ek’s amper daar. Voor in haar driveway staan ‘n vreemde ou.
“Middag meneer!” Seg ek. “Is Karen hier?”
Ek kry ‘n kyk. Dis ‘n vreemde kyk. Dis ‘n vuil kyk.
Dis Karen. Sonder make-up. Oeps. 





Ja nè. Nou kom vroue se ware kleure uit. Letterlik en figuurlik. Ons mans lyk maar soos ons lyk. Soos wat ek vandag lyk is die beste wat ek ooit weer in my lewe gaan lyk. Vroue cheat egter. Hulle gebruik roompies en make-up en kleursels en geursels om hul voorkoms te verbeter. Ek weet nie hoe dit gebeur het dat vroue Polyfilla begin gebruik het nie? Ek weet nie of julle al opgelet het nie, maar mans en vroue lyk nie dieselfde nie. Glad nie. In vergelyking met meeste ander diere soos honde en katte en perde wat mannetjies en wyfies alles presies dieselfde lyk, behalwe in hulle bikini area. As jy kaal langs jou vrou staan en julle lyk presies dieselfde het jy baie vreemde keuses in jou lewe gemaak. 

Ek verstaan nie hoekom hou vroue nou eintlik van mans nie. Mans hou van vroue want hulle hou van ons. En hulle het parte waarvan (meeste) mans hou. Nie dat ek ‘n vrou wil wees nie. Nee, wat julle kan maar die makeup met liefde dra. Arme vroue kry so elke 28 dae ‘n besoek van die rooi muis in die rooi kar met die rooi mus op. En dit moet aaklig wees. (Ek is vreeslik jammer daaroor, maar dis nie ons skuld nie – kan julle asseblief ophou om op ons te gil?) As mans elke paar dae gebloei het, so die hele wêreld elke paar dae tot stilstand gekom het! En dan is dit nog vroue se verantwoordelikheid om kinders te baar. Dit is ook nogal ‘n minder ideale situasie. En om dit erger te maak kom die baba nog by (meeste) mans se gunsteling plek uit. Dink julle dis lekker vir mans om daai plek te visualiseer met ‘n skreeuende kop wat daar uit-pop soos iets uit ‘n Alien movie!? 

En ek is redelik seker vroue het nie dieselfde fassinasie met mans se bikini area nie. Die ding wat soos ‘n neus hang, twee uitpeul googly oë wat netjies verpak is in ‘n sakkie met lappe krulhare hier en daar. Dit lyk letterlik soos ‘n waansinnige karakter uit ‘n Muppets movie! Ek dink nie vroue sou lekker ge-operate het as hulle ook ‘n sak affêre gehad het nie. Dis soos om ‘n klein handsakkie te hê wat nie saam met een van jou outfits pas nie...



En dis vir ons net so grillerige besigheid. Veral in publieke aantrekkamers. Gelukkig kom ek nie baie in daai plekke nie. In Februarie het ek egter weer in een beland toe ons uShaka toe is vir die dag. Vroue het net geen idee wat daar in die mans se aantrekkamers gebeur nie. En hulle is almal dieselfde! Buiten vir die reuke is daar altyd ou omies. I kid you not. (As ek nie klere aanhet nie, en nugter is, dan beweeg ek soos blits. Daar is seker geen groter gevoel van kwesbaarheid as om kaal in die publiek te wees nie...)  In enige aantrekkamer kan jy instap en daar sal altyd een of meer ou omie wees wat so sonder skaamte op en af stap. Of net staan. Nie op pad stort toe of iets nie. Nee, hulle paradeer net op en af. Hang daar rond. Met ‘n boepie wat oor die storie hang. Moontlik om as waarskuwing vir die jonger gardes te wees.
“Kyk seuna! Kyk na my 80-jarige verrimpelde lyf! Een van die dae gaan jy ook só lyk! Kyk en sidder!!”

En as jy dink vroue het ‘n probleem met hulle boobs wat sak met ouderdom saam, dan wil jy nie weet wat hang rondom ‘n 80-jarige oom se knieë nie. En jy gaan sit nie op een van daai bankies in ‘n aantrekkamer nie. Nie net oor higiëniese redes nie, maar ook dat dit apparently ‘n uitnodiging aan die omies is om met jou te kom chit-chat. Hulle wil altyd so ‘n geselsie kom maak. En wat hang  dan hier oog-hoogte met jou gesig? Hang net daar soos ‘n pap helium ballon 3 dae na die partytjie.

Ek geniet uShaka egter baie. Ek raak mos soos ‘n kind by enige plek waar daar rides is. Alhoewel my se lyf nou nie meer die van ‘n kind is nie. Na so ‘n dag van slides gly en op en af hardloop voel die logge lyf asof ek Karate Kid my gebliksem het omdat ek vir hom gesê het sy ma se miaau-miaau. Blou kolle, gerekte spiere, gefokte rug, die works.
My eerste het ek natuurlik dadelik die hoogste slide gaan aandurf. Hulle noem hom “The Drop Zone”. Die leidraad is eintlik in die naam, maar ek het gedink dis maar net ydel dreigemente... Eers loop ek om en om die toring opsoek na die hysbak. Totdat ek die ander mense sien opgaan met ‘n stel trappe en besef daar is net een manier om daar my te kom. My bliksem. Ek betaal R300 om daar in te kom. Teen daai prys moet elkeen ‘n persoonlik assistent hê wat jou abba tot bo. Nee, nee. Ek moet in my Speedo kaalvoet tot bo waggel. Ek, Riaan Palmer, wat uitasem raak as ek moet opstaan om die TV se remote control kry... En die ding is maar moer hoog. Ek doen nie hoog nie... Julle dink ek oordryf? Ek is seker halfpad op is ek verby Heidi en Peter en ‘n trop berg bokke. Ek het dit uiteindelik tot bo gemaak - dankbaar vir al die kinders wat my oor die eindstreep gehelp het. Nou hulle het die verwaandheid om die storie ‘n “waterslide” oftewel ‘n waterglybaan te noem. Nee, nee. Ek het al gegly in my lewe. As jy gly, dan is jou boude op ‘n gladde oppervlak en jy “woohoo” tot onder. Hierdie is nie wat gebeur het nie. Op geen stadium het my agterkant aan ‘n oppervlakte geraak nie. Daai noem ons sommer “val”. En die ergste is jy reis twee dae en twee nagte te perd tot bo om te kan afgly (en ek gebruik “gly” in die breedste moontlike terme) en dan is jy in minder as ‘n sekonde weer onder. Hardly worth the effort. En ewe skielik is my Speedo sommer ‘n g-string. Hy kruip daar in tot waar geen son ooit sal skyn nie. Ek dag toe my mangels is ook ewe skielik weer terug. Tot ek agterkom my sakkie is leeg en dit nou eintlik my eierstokke was misplaas was.

Die slide reg langs dit is weer ‘n slide wat jy op ‘n tjoepie sit en by die glybaan afgaan. Niks belaglik nie. Heel prettig. Behalwe net as jou tjoepie die water teen ‘n seker hoek tref dan stop hy nie. So gaan ek heel onskuldig daar af. “Woohoo!” Tref ek toe nou die swembad teen daai spesiale hoek. Nou dis nie ‘n vreeslike groot swembad om mee te begin nie. En ek sien ek gaan nie gestop kry voor die swembad opraak nie. Ek weet nie of jy al op ‘n tjoepie gery het nie, maar hy het nie brieke nie. As iets skeef loop sit en wag jy maar net om te kyk wat die skade gaan wees. Gelukkig, of ongelukkig swem daar so ‘n pokkel seun voor my in. Ek tref hom op die rug en raak airborne. Julle het al daai fliek, “Free Willy” gekyk, nè? Met die bekende toneel waar die walvis oor die kind spring. Nou picture daai prentjie, maar met my op ‘n tjoepie as die walvis. Ek is reg bo-oor nie net 1 kind nie, maar sommer 4. Eventually vat ek weer grond. Dis nou hier waar fisika interessante dinge doen. Wrywing veroorsaak dat my tjoepie net daar op die pavement vassteek. Momentum veroorsaak dat ek aanhou beweeg, nog so 3 meter verder. As jy ooit in uShaka is en verby sulke parallel slote loop dan weet jy dis die stukkie grond wat ek gekoop het. Jy sal dit erken aan die twee kniekop-vormige rondings en velle wat seker nou nog daar sit. Nou as so iets gebeur met jou, dan kan jy maar net opstaan voor jou kyk en wegloop. Verdwyn in die skare verdwaasde mense. Met die roepe van angsbevange ma’s wat roep “Waar’s my kind!? Waar’s my kind!?” wat weergalm in jou ore. Asof ek daai soort stres op my vakansie nodig het. 



© Riaan Palmer

Share:

Monday 16 March 2020

Nog Corona - Want mense weet nie wat is satire nie


Sug. Asem in (maar nie te diep nie, want julle weet – Corona) en asem uit. Kyk moeilikheid is mos nou vir my niks nuut nie, want dis mos nou maar wat gebeur as jy heeldag en aldag daarvoor loop en soek. Maar hierdie keer begin dit nou bietjie op my linker tietspier werk. So laat ek nou maar die ammoniak druppels uithaal vir die wat hiperventileer oor wat ek kwytgeraak het oor die Corona virus.

Maar voor ek by die stok-in-die-hol-verwyderings-proses begin, is daar eers ‘n ander saak wat ek vinnig moet aanraak. Weer. Net om dit uit my stelsel uit te kry. Ek skryf nie vir geld nie. Dit wat ek hier op my verlate vlakte van die internets plaas doen ek vir die lekkerte, en dis vir my heerlik as mense saam lag en gesels oor die goete en dinge. Maar nou kry jy daardie stinkneus otterdrol aasvoëls wat dit wat ek geskryf te copy en te paste en net my naam uit te haal. Kan iemand asseblief vir my verduidelik hoekom? Want ek verstaan nie. Is dit mense wat geen kreatiwiteit het nie en nou kreatief voel omdat hulle iets wat iemand anders geskryf het post?
Dankie vir elkeen wat vir my ‘n boodskap gestuur het om my te laat weet van die stinkgoggasnot-vreters wat plagiaat pleeg. Ek het net die beste ondersteuners op die internets! Maar wat my skoon laat opswel van trots (op onnoembare plekke) is as julle sien iemand steel my goed en hulle aanvat daaroor. Sê hulle! Vertel hulle wat ons dink van sulke gedrag – dis amper so erg soos om ‘n Gupta broer te wees!

Reg, terug by die virus. Ek het tot vervelens toe boodskappies gekry wat my vertel dat ek weet nie waarvan ek praat nie, dat van lekker lag kom lekker huil en dat daar regstappe teen my geneem gaan word as mense begin doodgaan. (Ek belowe julle!) Want Riaan is totaal clueless en versprei leuens en lag vir mense wat doodgaan. Ek trek my skouers op. Die laaste strooi was egter so ‘n poppie wat dié vir my stuur:
“Jy praat kak man! wag tot dit jou of jou ouers tref wat reeds siek is dan gaan jy n' ander storie spin. Word groot man en besef die is nie n' joke nie idiot.”
Ek bekyk haar kiekie so en jy kan sommer sien sy’s so oppervlakkig soos ‘n piering melk. Dit verduidelik hoekom sy dit regkry om [‘n] verkeerd te spel... Maar sy’s nog nie klaar nie en kry ‘n tweede wind.
“die kan jy wees of jou ma of jou pa!!!!! Mense sterf reg oor die wêreld en jy kom met jou kak jokes .... jy pos my Sommer net af! Jy spot so, as j dit kry sterkte ek wonder in watter staats hospitaal jy gaan lê en dink jy gaan oorleef....”
Nou ja toe. Vertel sy nou mooi.
Hulle sê mos jy weet jy’t dit gemaak as jy begin “hate mail” kry. Dankie vir al die ondersteuners wat al jare saam lees en lag en deel. “I’ve finally made it.”



Ek gaan nou vir ‘n oomblik ernstig raak, en dan gaan ons more maak asof dit nie gebeur het nie. Soos die sekretaresse by die jaareindfunksie. Selle storie.

Vir ‘n begin het ek baie duidelik aan die einde van die “Corona Virus” skrywe geskryf: “Vrywaring want apparently sukkel party mense om parody en sarkasme raak te sien: As jy ‘n swak immuniteit stelsel het, wees versigtig en paranoïes!”
En selfs na ek dit gesê het en dieselfde mense wat histeries raak oor Corona natuurlik histeries geraak oor wat ek kwytgeraak het. Huiswerk: Gaan soek die definisie van satire op.

Oor die simpel virus:
Nee, Corona is nie glorified griep nie. Dis meer soos glorified verkoue. Die virus is tegnies gesproke nader aan die “gewone verkoue virus” (wat tot longontsteking kan lei). Onthou die spesifieke virus is "Severe acute respiratory syndrome coronavirus 2" - alhoewel ons almal sommer maar net verwys daarna as die Corona Virus. Dit is eintlik 'n subspesie van Coronaviridae 'n virus familie wat al in die 1960s identifiseer is en is waarskynlik duisende jare oud is. "Coronaviruses cause diseases in mammals and birds. In humans, the viruses cause respiratory infections, including the common cold." Die COVID-19 is 'n baie naby familie van die SARS-CoV wat in 2003 'n pandemie was, asook MERS wat in 2015 'n pandemie was. Die virus se oorsprong is waarskynlik vlermuise.



Dit is geen verrassing dat daar weereens ‘n nuwe Corona subspesie is nie. Onthou, virusse muteer gedurig. Dit is hoekom jy elke jaar ‘n “griep inspuiting” moet kry – omdat die gewone griep virus (Orthomyxoviridae) elke seisoen muteer en jou immuunstelsel gereed gemaak word teen die nuwe mutasie.
Die sterfte syfer van die COVID-19 Is baie laer (+/-4%) as byvoorbeeld die SARS virus (9%) en die MERS virus (30%).
‘n Pandemie is glad nie nuut nie. Neem nou maar net die H1N1 virus (ook bekend as die “Spaanse griep” of “Vark griep”) wat tussen 1918-20 100 miljoen sterftes veroorsaak het. ‘n Mutasie van dieselfde virus het in 2009 ‘n vyfde van die wêreld aangesteek en ongeveer 600 000 sterftes veroorsaak. In die afgelope jaar het ‘n mutasie van dieselfde virus (nog steeds H1N1) ‘n geraamde 1.2 miljoen sterftes veroorsaak (Sien Wikipedia). Hoe vergelyk dit met die 6,000 sterftes van die COVID-19? Mense noem graag dat mense dood is aan Corona. Maar hulle noem nie dat 75,000+ mense al ten volle herstel het nie. Die Corona virus is nie ‘n doodsvonnis nie. Ja, dit kan baie gevaarlik wees vir mense met ‘n swak immuniteit stelsel. Maar dieselfde mense loop net soveel gevaar om blootgestel te word aan die verkoue virus of die griepvirus of duisende ander kieme en goggas wat so te sê skadeloos is vir gesonde mense.

Nee. Daar is geen bewyse dat die Corona “airborne” is nie. Ja, iemand met Corona kan nies en vir ‘n paar oomblikke kan ‘n stukkie snot meters ver trek en jou in die oog tref en dan is jy siek. Jou gesigmasker gaan jou nog steeds nie help nie. Dit maak sin dat die ou wat siek is ‘n maskertjie dra, maar ons sou verkies dat hulle eerder in hulle kamers bly. Wat die Corona gevaarliker maak as baie ander virusse, is die feit dat dit so lank buite die liggaam kan oorleef – veral op metaal oppervlaktes. Dis hoekom jy jou hande gedurig moet was. Maar jy moes in elk geval jou hande was want mense druk hulle vingers in hulle neuse en jy druk jou vinger in jou mond.

Kan ons gou na die groter prentjie kyk?
Teen 2018 was 7.7 miljoen HIV positief. Die bevolking is 57 miljoen. Dit is meer as 10% van die bevolking! En ons het geen idee hoeveel mense is besmet die virus wat nog nie gediagnoseer is nie. Dieselfde jaar is 71 000 mense dood aan VIGS-verwante siektes. Hoekom raak niemand histeries oor hierdie skrikwekkende syfers nie? Hoekom word die winkels se kondome nie opgekoop nie?!

Nuutste statistieke (StatsSA) wys daarop dat +/-55% van jaarlike sterftes is as gevolg van nie-oordraagbare siektes in SA. (Diabetes, hartprobleme, beroertes, ens. maar nee, vreet nog KFC en drink nog ‘n Coke! Niemand raak histeries daaroor nie?)
+/- 31% van alle sterftes in SA is as gevolg van oordraagbare siektes (TB, HIV, verkoue/griep/longontsteking). As jy gaan doodgaan het jy ‘n 1 uit 3 kans dat dit as gevolg van ‘n aansteeklike siekte is. Dink nou mooi daaroor. Corona verander niks omtrent ons lot nie. Jou kans is nog heeltyd baie goed dat iemand jou gaan aansteek met een of ander kiem en jy die tydelike verwissel met die ewige. Met daai gedagte in jou kop, hoekom loop jy nie nog altyd met ‘n maskertjie op jou gevreet en met rubberhandskoene in die winkels rond nie? Want ewe skielik begin mense bewus word dat daar bestaan goed soos “virusse”. Dankie media.



Die feit bly staan dit is niks anders as massa-histerie nie. En dit is waarmee die spot gedryf word. Niemand spot met siek mense nie. Niemand spot met mense wat hulle lewens verloor het nie. Ons spot met die oorreaksie. Wat moet ons doen anders as lag? Huil? Moet ek nou heeltyd sit en ernstige goed skryf dat almal meer depressed kan raak? Wat gaan dit enige iemand help? Fokof man. Haal die stok uit jou agterstewe uit. Ek besef daai gesiggie is so styf gespuit van die Botox dat jy nie meer kan smile nie, maar moenie jou frustrasies hier kom uithaal oordat jy seksueel gefrustreerd is nie. Dis pappie se probleem, nie myne nie. Die volgende ou wat vir my kom aanvat oor wat ek tong-in-die-kies oor Corona gesê het gaan ek lughawe toe vat dat hy van daar af self in sy moer in kan vlieg.
Kan ons nóú maar aan beweeg met ons lewens?
© Riaan Palmer (Maar dit help ook nie ek skryf my naam hier nie want een of ander tosser gaan dit in elk geval delete. Ja, ek kyk vir jóú! Tosser.)
Share:

Tuesday 10 March 2020

Hoe om Corona te oorleef (Of: Stoppit met julle nonsens!)

Maar my donnor. Sal julle nou bietjie relax?! Ontspan die tiete. Hakuna jou tatas. Ontknop die hol spiere. Want as ek nou weer een keer “Corona Virus” hoor gaan ek sowaar as waaragtig daai persoon met ‘n kaktus in die keel steek. Kom sit hier om die oom dat ek julle nou mooi kan vertel:

1.       Daai gesig-maskertjies wat jy so koop en in Menlyn mee rondloop beteken niks nie. Die Corona Virus is nie “airborne” nie. Dit beteken hy kan nie vlieg nie. Hy’t nie vlerkies nie, hy’t nie ‘n helikoptertjie nie, hy’t nie ‘n valskerm nie, niks. So tensy Corona begin Red Bull drink om vlerkies te kry, beteken daai masker vir jou niks nie. Moenie jou geld mors nie. Moenie in Menlyn rondloop en jou verbeel jy’s Darth Vader nie. Die sekuriteit gaan jou moontlik aansien vir ‘n terroris en jou uithaal.



2.       As jy mooi oplet dan sal jy agterkom die slim dokters met die eier koppe vertel jou jy moet jou hande was. Regtig? Is hande was regtig ‘n nuwe konsep vir mense? Dink net vir ‘n oomblik waar ander mense se hande al orals was vandag... Dink net bietjie waar jou eie hande al vandag was. (Sies. Ek kan nie glo jy druk jou hand daar in nie!?) En nou wil jy aan ander mense se hande vat en net-nou KFC vreet en jou vingers aflek? Dan skryf jy more weer ‘n woedende brief omdat so-en-so se KFC jou half dood gemaak het, maar eintlik is dit oorlat jy nie jou hande was nie!
As daar net een rede is om jou hande te was, is dit die feit dat daar mense is wat 1-ply toiletpapier gebruik. Weet jy hoe maklik skeur 1-ply toiletpapier? En dan wil daai selfde mense jou hand skud. Eew.
Moenie aan geld vat nie. As jy dink “boob geld” is die ergste, dan het ek baie slegte nuus vir jou.

Jy moet jou hande vir ten minste 30 sekondes was. Met ordentlike seep. Heeltyd. Want kieme sit aan sit aan alles vas. ALLES. As jy nie weet hoe lank 30 sekondes is nie, sing 2 keer Never gonna give you up se versie terwyl jy was. Of om veilig te wees, sing die hele Bohemian Rhapsody.

3.       Toiletpapier? Regtig? Die Australiërs raak angsbevange en slaan vuis oor toiletpapier? Tensy jy deur jou hol hoes is daar geen rede om paniekbevange te raak oor toiletpapier nie. Of is dit nou die feit dat elke keer dat iemand hoes, dan bekak al die ander mense hulleself?

4.       Gepraat van hoes. “Hou jou hand voor jou mond, sê die kat vir die hond.” Dis nie so moeilik konsep nie. Moet ek ‘n prentjie teken? En om nog veiliger te wees hou jou elmboog voor jou bek as jy hoes of nies. Daar is niks so erg soos om in Checkers se queue te staan en die een agter jou nies en dit voel of jy deur ‘n ligte Kaapse reën stap nie.

As jy ‘n kugge-kugge aan jou het, en jy is bang hulle sit jou in kwarantyn, drink twee eetlepels kasterolie. Jy sal te bang wees om te hoes. Net so goed soos kwarantyn.



5.       Hou op aan ander mense vat. Moenie hulle hande skud nie. As jy iemand ontmoet, buig voor hulle. Dit is vir honderde jare al goed genoeg vir die koninklikes, hoekom is dit nie goed genoeg vir jou nie?
Moenie mense soen of druk nie. As jy dink mense se hande is vuil, dan wil ek jou nie eers begin vertel waar mense se monde al orals was nie... (Hierdie is in elk geval nie ‘n probleem vir enige iemand wat al langer as 5 jaar getroud is nie.)

6.       Moenie lelike wees met mense met skrefies oë nie. Jy gaan nie dood neerslaan as jy verby iemand van Asiatiese afkoms stap of as hulle vir jou kyk nie. Jy gaan nie Corona vang as jy beef Chow Mein eet nie.

7.       Hou op jou ore uitleen aan die media en sosiale media. As jy iemand post dat “Ons gaan almal vrek!” dan blok jy hulle sommer op Facebook. Jy’t nie daai soort negatiwiteit in jou lewe nodig nie. Ja, Magriet. Ons gaan almal vrek. Maar nie van die Corona virus nie. Jy bly in Suid-Afrika. Die Corona virus is redelik ver onder aan die lys van goed wat jou vandag wil doodmaak. Taxi’s, Malema, kraanwater, malaria, Oscar Pistorius en jou vrou is baie hoër op in die lys.

8.       Drink baie alkohol of rook aaptwak. Dit gaan nie die virus doodmaak nie, maar ten minste gaan jy minder gestres wees oor goed waaroor jy nie beheer het nie. (Moet nou net nie die volgende dag jou babbelas verwar met Corona simptome nie.)

9.       Kan ons gou bietjie ‘n reality check doen? Sal almal wat al dood is van SARS, Ebola, Polony, vark griep, voël griep of die millennium-bug hulle hande opsteek, asseblief. Kyk om jou rond. Niemand nie. Sien! Die Corona Virus is niks anders as ‘n glorified verkoue nie. As jy hoor iemand wat jy ken het Corona, dan gaan kuier jy by hulle en gee hulle ‘n lekker vet soen sodat jy dit kan opdoen en oor en verby kry. Jy gaan ‘n week lank bietjie kugge-kugge en dan is dit ook verby. For Pete’s sake. (En by the way, as jy kinders het is jou kaartjie in elk geval klaar geboek.)



Kan ons almal nou maar aangaan met ons lewens sonder om histeries te wees? Asseblief en dankie.

©Riaan Palmer

(Vrywaring want apparently sukkel party mense om parody en sarkasme raak te sien: As jy ‘n swak immuniteit stelsel het, wees versigtig en paranoïes!) 

#Corona #CoronaVirus #Afrikaans #Oorlewing #Humor

Share:

Wednesday 4 March 2020

Dinge wat is en wat was

OK, OK. Ek moet seker om verskoning vra dat ek so lank stil was. Julle sal onthou ek was op vakansie en so en dit. Ek was laas week vir ‘n dag of wat in die Kaap en ek was vreeslik geïnspireer om te skryf, maar dink julle ek het opvangs gehad? Uhm, nee. Ek kan nie verstaan hoe ek nie eers 1 strepie opvangs in die beskawing kan kry nie, maar die fokken Taliban kan ‘n HD video oplaai uit ‘n grot in Afghanistan!?

But anyway. So, Die Ander Een is besig om met groot opgewondenheid my verjaardagpartytjie te reël wat eers soos oor 3 maande is. Dit is glo een of ander mylpaal ouderdom. Ek kan ongelukkig nie daardie opgewondenheid deel nie, want ek leef nog heerlik in ‘n fantasie wêreld dat ek jonk en jeukerig is, en ‘n partytjie is net hopeloos te “in your face”. Vir ‘n begin verstaan ek nie hoekom ons nou eintlik ‘n verjaardag moet vier nie? Dis nie asof ék iets gedoen het nie – ek het nou nie veel sê in die saak gehad nie. Toe ek weer sien kruip ek by ‘n plek uit wat jy nie in ordentlike geselskap noem nie, en die eerste ding wat die dokter doen is hy gee my pakslae...
Die hele partytjie affêre is net doodeenvoudig weird.
“Hier is vir jou koek!”
“Jippie!”
“Maar ons gaan eers die koek aan die brand steek en dan moet jy dit doodblaas voordat jy daarvan kan eet.”
“Wait what?!”
En het julle enige idee watse mission dit gaan wees om 40 kersies dood te blaas met hierdie rokerslonge? Ek gaan moet begin cardio doen net om my verjaardagkoek te kan eet!




Alhoewel ek veel eerder die dag in my kamer sou wou lê en huil, gaan ek nou maar die beste maak van die situasie. Dit is darem ‘n partytjie after all, en daar gaan mense wees wat ek kan tolerate en een of twee waarvan ek actually hou. En drank. (Aan Die Ander Een: Daar beter drank wees, anders gaan ek nie die partytjie kan maak nie!)
Ek klink soos ‘n alkoholis, nè? Wel ek is nie. Alkoholiste gaan na AA meetings toe en praat oor hulle drank probleem. Ek doen nie daai nie.



Ek moet darem sê dat ek nie meer drink soos toe ek jonger was nie. Die feit dat ek enige iets kan onthou is van my studentelewe is op sigself noemenswaardig. Daardie jare het ek het altyd soos ‘n speurder gevoel na ‘n aand uit: Die raaisel van “waar is ek en hoe het ek hier beland en wat is my naam”. Die geval van die leë beursie en die knieg wat om een of ander rede bloei. En hoekom het ek nie meer ‘n onderbroek nie en net een kous? Dis half te verwagte om uit te gaan met geld in jou beursie en dan wakker te word met geen geld in jou beursie nie. Geen misterie daar. Maar om wakker te word met meer geld as waarmee ek die vorige aand uitgegaan het, het altyd my verstand te bowe gegaan. Op een of ander manier het ek geld gemaak gedurende my eskapades. Het ek iets verkoop? Het ek gunsies of dienste verrig in ruil vir betaling? En ek is redelik seker dat ek dit nie verdien het deur karre op te pas nie... Ek kan maar net dankbaar wees dat dit was voor die tyd van selfone met kameras en geen Facebook nie – want my ongure verlede sou beslis my kanse om ooit president te word verder gepootjie het... En dan gaan ons nie eers praat van die feit dat as ek gedrink was ek skielik in ‘n nudis verander het nie... (Ek wil weereens om verskoning vra vir almal wat my in enige iets minder as ‘n onderbroek gesien het in Hatfield in die jare 1999 tot 2001. Ek twyfel darem of julle my gesig sal onthou. Net my onskuld. En net vir duidelikheid dit is koud daai tyd van die oggend!)
Ek het besef ek moet dinge dalk rustiger vat toe die oproepe te veel begin raak het. Apparently het ek nie omgegee om telefoonnommer uit te deel nie. Aan enige iemand nie. Meisies, ouens, tannies, ooms... Kyk as ‘n lammervanger (dis nou daai tannies van 50 wat al 4 keer getroud was en opsoek is na ‘n onskuldige student in Hatfield se strate) jou bel na ‘n bedryfsekonomie toets (wat nie te goed verloop het nie) en jou nooi vir “koffie” dan begin jy nogal jou lewenskeuses bevraagteken.



Nou dat ek mooi daaroor dink verduidelik dit hoekom ek eerstejaars Rek oor ‘n tydperk van 3 jaar gedoen het. Die tweede keer is altyd makliker. Die derde keer sit hulle jou maar deur omdat hulle jou jammer kry.
Maar soos ek sê, ek drink lankal nie meer so nie. “Ander mense” sal sê: Jy’t nie drank nodig om jouself te geniet nie... (Jy’t ook nie tekkies nodig om te draf nie, maar dit help tog.) Dit daar gelaat.

Dit verander nie die feit dat die tekens van oud word nou oral begin kop uitsteek nie. Ek gaan slaap en dan is ek 100% perdfris en gesond, maar as ek opstaan het ek ewe skielik ‘n verstuite enkel? What even? My haarlyn het geskuif van net bo my wenkbroue tot duskant my kroontjie vir watter bisarre rede ook al. Of moet ek eerder sê: Die hare wat eens op ‘n tyd iewers tussen my wenkbroue en my kroontjie was, sit nou op ander plekke. Soos binne in my ore. I mean really?! Wat kan moontlik die doel wees van hare in jou ore?! Waar gaan ek dit ooit nodig kry? Maar ek gaan dit nie uitpluk nie, want teen hierdie tempo kan ek hulle dalk gebruik om oor die komende bles te kam. En dan is daar nog die feit dat die bietjie hare wat oor is besluit grys is die nuwe muis-bruin-vaal-blond. Wie het hulle gevra?! Wie’t gesê hulle mag grys word? (Bygesê, meeste van daai grys hare is die gevolg van ‘n enkele persoon – en moenie maak asof jy nie weet wie jy is nie!) Tot groot verleentheid het ek ook agtergekom dat ek deesdae maar moet knyp as ek hoes of nies. Niks wat aandag trek soos ‘n onverwagte windjie terwyl jy wag in Clicks se ry nie. En kan ons vir ‘n oomblik stilstaan by die feit dat ek ewe skielik 3,023,389 keer in die aand moet opstaan oordat my blaas vol is? Ek het al gedink dit gaan minder moeite wees om maar eerder op die toilet te slaap en 2 of 3 keer op te staan om bietjie in my bed te gaan lê.

So loop ek en Die Ander Een deur die mall. Doodonskuldig soos ek nou maar is, keer hierdie meisietjie voor Edgars my voor. “Hallo Oom. Ons het hierdie nuwe produk van Estee Lauder vir daardie plooitjies langs oom se oë...”
Die aanrandingsaak kom later hierdie maand voor, hou maar vir my duim vas vir versagtende omstandighede...

©Riaan Palmer

Share: