Friday 7 December 2018

Loadshedding. Hoe dan nou anders?


Kom ons kry dit sommer uit die staanspoor uit die weg want ons weet almal ek moet dit sê... (Ma en ander Sensitiewe lesers: druk gou julle oë toe.) Fok Eskom. En fok sommer vir Jan van Riebeeck ook want obviously is dit eintlik sy skuld. Stupid Hollander, hoe durf hy? 
(OK, sensitiewe lesers julle kan maar weer julle oë oopmaak, dis verby.)


Ek kan sekerlik nie iets sê oor load shedding wat iemand nog nie gesê of gedink het nie. Dis kak (askies daai het uitgeglip voor ek julle kon waarsku). Eskom besluit Black Friday is so gewild hulle gee sommer vir ons elke dag bietjie Blackness. Hoe bedagsaam van hulle. En probeer nou beplan vir die load shedding...? Good luck with that shit.
Ek: “So watse fase load shedding het ons vandag?
Eskom: “Uhm... wat van 1, nee wag 3! Of wat van 7...? Kom ons sê so: Niemand weet nou eintlik nie, ons gaan net die krag lukraak begin afskakel.
Ek: “...”
Ek: “Wat beteken ‘fase 2’ dan nou eintlik?
Eskom: “Jy kan enige iets van 1 tot 5 ure sonder krag sit.
Ek: “Nou hoe weet ek wanneer gaan my krag af wees?
Eskom: “Gaan kyk op die skedule.
Ek (nadat ek ‘n halfuur lank ‘n moerse tabel met nommers en kleure en goete bestudeer het):  So Moreleta Park is in groep 23.3784b en dis ‘n Vrydag en dis die sewentiende dag vandat ‘n hoender ‘n eier gelê het op Nkandla en dis donkermaan, so ons gaan... van kwart oor 3 tot 75 minute na 42 af wees?
Eskom: “Eish... Maybe...
Ek: “...



En so gaan dit maar. Your guess is as good as mine. Of jy kan die App download. “Eskom se Push”, maar ek voel bietjie vuil om dit op my foon te hê. Tensy die naam maar net baie toevallig is en ek net vuil gedagtes het.

Dis fine, ons kan seker vir 2 ure sonder krag sit as jy by die huis is. (Alhoewel hier in die Ooste  sit ons meer sonder krag as met krag, of wat sê ek Garsfontein & Faerie Glen?) Solank jy net jou Load Shedding essentials het: ‘n Kers, ‘n pakkie matches en ‘n boek of ‘n ge-charge-de foon. As jy ‘n man of vrou het kan julle altyd met mekaar praat en verras wees oor hoe aangenaam hulle eintlik is. Maar dis onbewoordbaar (daai is nou sopas ‘n woord – neem kennis HAT-mense!) om in die verkeer gevang te word. Dis aanvanklik nie te erg nie want jy’t air con en ‘n draadloos in die kar – die probleem is dat ewe skielik kan niemand meer bestuur nie.
‘n Verkeerslig wat af is, is nou ‘n 4-rigting stop? Wat bedoel jy? 4. Rigting. Stop. Nog nooit daarvan gehoor nie! Nee, nee. Ons ry sommer net wanneer ons voel in ons linker-tiet dis nou ons beurt...
Teen die tyd wat ek by die huis stop sit ek 10 sentimeter hoër as wat ek eintlik lank is – soos wat ek in my broek gebollie het oor mense se onvermoë om te kan bestuur... (Dis darem een goeie ding van Eskom – nie een enkele Suid-Afrikaner sit meer met hardlywigheid nie.)

Gaan ons iets sê oor die feit dat ons almal ons salarisse gaan blaas het by Santa’s Warehouse op nuwe krismis liggies net om nou in donkerte te sit? Miskien is dit juis die probleem? Dalk kan Eskom nie byhou met al die krismis liggies wat die Ooste van Pretoria opsit nie? Ek meen, julle ouens daar in Lawley straat, Brooklyn het ‘n kern kragstasie nodig net vir julle se liggies alleen.
Eskom is seker ook die enigste “besigheid” in die hele wêreld wat hulle kliënte vra om nie hulle produk te gebruik nie?!



Maar wat kan ons doen? Weier om ons krag te betaal? Kan ook nie dit doen nie, want dan sny hulle jou krag! ... Ek is net nie heeltemal seker hoe dit anders is as wat in elk geval nou aangaan nie?
Ten minste het onse mense darem ‘n sin vir humor... Lag met ‘n traan of is dit nou huil met ‘n glimlag? Die Eskom grappies trek ons darem deur die moeilike tye... Ons sal dit ook oorleef. Ons is eintlik ‘n klomp tuwwe koekies, so deur die ge-moanery deur.

Hoe survive jy load shedding?
      1. Pak ‘n Load Shedding Survival Pack: ‘n Boek. ‘n Kers. ‘n BIC lighter. ‘n Skoon onderbroek of pantie. (Maak nie saak hoe jy jouself sielkundig voorberei nie, jy gaan in jou broek bollie as die krag afgaan.) Voorbehoedmiddels. (Jy weet nooit wie wanneer in ‘n goeie bui gaan wees nie. Ons soek nie ‘n generasie “Annetjie Diekragwasaf van der Merwes” nie!)
      2. Wees altyd gereed. Dit is onmoontlik om te weet wanneer jou krag gaan af wees. Dit gaan dalk af wees of nie. Dalk vir 5 minute. Dalk vir 5 dae. Ons hou mos van 'n surprise. Hou maar net jou survival pack altyd by jou.
         3. Hou jou foon altyd ge-charge. Hierdie oomblik kan dalk die laaste oomblik wees wat jy vir ure of selfs dae gaan krag sien.
.       4. Braaihout. Baie braaihout. Kry resepte om vir ontbyt, brunch, lunch, ligte snacks, Sondagete en midnightsnack te kan braai. Daar gaan 'n punt kom dat ons so goed kan braai dat ons 'n gebakte eier op 'n rooster sal kan braai.
      5. Lees die K53 pad reëls. Probeer dit onthou want dit bly verdompwil presies dieselfde of daar nou krag is of nie.
6. Kry vir jou ‘n kontak wat Valium verkoop. (Laat weet my asseblief ek soek ook.) Alhoewel bobbejaan-twak is mos nou “wettig” so daar is ‘n alternatief. (Is dit nie baie toevallig dat dagga nou wettig is, en Eskom nou weer probleme het nie?) Net iets om jou te help ontspan want die f^#$ weet...

Sug. 

Ons troos ons darem daarin dat die Eskom base ook nie op Desember vakansie mag gaan nie – of so is hulle georder deur Gordhan. Lekker, julle bliksems! 


Share:

Thursday 29 November 2018

"Bad bomme"


Die afgelope week was woes sê ek vir julle! Daar was die hele Black Friday affêre. Alhoewel ek nie die binnekant van ‘n shop gesien het nie, was net die gedagte daaraan genoeg om my uit te put.

Julle het seker al die Black Friday video’s gesien? Daai wat wys wat geneur as Game hulle deure oopswaai (of probeer oopswaai) en daai skare mense die winkel instorm... Die deure word sommer van hulle skarniere af gehol. Jy moet jou storie ken hoor. As jy neerslet daar is dit neusie verby... Die skoonmakers gaan jou later met die mop kom opvee – daai nat kolletjie wat oor is van jou. Dis soos ‘n episode van ‘The Hunger Games’. Al verskil is die laaste survivor wat bly staan kry die TV teen 5% afslag. Really people? As ‘n TV R10 000 gekos het, en hy kos nou R 8 000 het jy nie R 2 000 gespaar nie – jy het R 8 000 uitgegee...




 En dan sien jy daai trollies met die berg toiletpapier in, en jy wonder watse soort kak het die mens in hulle lewe? Of het jy gaan Krismis presente koop? Het daai presente nou meer betekenis met die wete dat jy ‘n vuisgeveg met ‘n Fortuner Tannie gehad het en jy as die oorwinnaar weggestap het, en sy ‘n nuwe neus moet gaan shop?

Ek moet egter bieg: Ek het ietsie by Takelot geshop. Ek besit nou ‘n high-pressure hose. Ek weet nie wat ek met hom gaan doen nie, maar ek het nou een. Laat weet maar as jy hom wil leen.
Saterdag weer was die verkeer nog steeds hectic... Luister nou mooi – ek gaan dit net een keer sê: As jy ‘n rooi ‘L’ in jou agterruit het, dan bly jy verdompwil by die huis op ‘n Saterdag. Julle gee die res van ons hart palpitasies! Saterdae is net bedoel vir ekspert bestuurders!
(En ek wil so graag weet wat het Saterdagaand in Rubenstein gebeur... ‘n Bakkie het aan die verkeerde kant van die pad in ‘n ander kar vasgery... Hoe getrek moet jy wees om in ‘n 60 sone aan die verkeerde kant van die pad in iemand vas te ry.)

Sondag moes ek noodgedwonge Afrikaans is Groot gaan kyk. Dis was stresvol want ek het ek het verwag ons gaan een na die ander ““Bokkie, meisie, baby jou asem laat my hart vinniger tjoklits pomp as die seile span” liedjie gesing deur die populiste, hoor. Ek was darem net halfpad reg. Daar was darem ‘n paar kunstenaars wat die saak gered het. Soos Elvis Blue... Ek LOVE Elvis Blue. Hy het soveel persoonlikheid en hy sing awesome. Ek wil hom optel, veilig in my sak sit en net uithaal by spesiale geleenthede.

Teen Maandag is ek so op die edge gewees dat ek amper weer ‘n dommetjie by die werk getref-en-trap het. Ek dag toe nee ek sal iets moet doen. Ek is te mooi om tronk toe te gaan vir moord, ek sal dit nooit oorleef nie. Oeps, nee wag die woord wat ek soek is “afhanklik van luxuries” - nie “mooi” nie.
Daar is egter nie tyd of geld vir ‘n spa dag nie (sien Black Friday & Takelot bo vir redes) en besluit die naaste wat ek daaraan gaan kom is ‘n bubble bath. Ek stop na werk by “The Body Shop” en verduidelik vir die meisietjie ek soek goete vir ‘n relax. Sy pak my mandjie vol olies en roompies en scrubs. My kredietkaart word so wit in die gesig. Op ‘n stadium laai die meisie sulke balle in my mandjie.
“What is this? What must I do with balls? Must I play with balls to relax?”
“No sir. They are bath bombs. You put them in the bath and it releases relaxing salts and fragrances. It’s perfect for relaxing in a bath.” Verduidelik sy. Ek’s bietjie skepties want ek kan nie sien hoe ‘n “bom” enige iets kan ontspan nie, maar sy weet seker waarvan sy praat. Ek swipe my kaart en hou daai BAIE lang sekondes my asem op wagtend of die transaksie gaan deur gaan. Help ook nie veel vir die stres nie, maar nou ja... Approved... Sug! Yay!
 
Jaag huis toe, tap ‘n bad water in, steek al wat ‘n load shedding kers is aan en verduidelik vir Die Ander Een in geen onduidelike terme dat ek onder geen omstandighede gesteur mag word nie. Bad vol water (ek sal more dubbel water spaar) staan en kyk ek my sak vol Body Shop ‘goodies’. Waar begin mens? Verseker die “bath bomb”! Die storie moet ek sien...


Ek bekyk die bal en sien geen aanwysings of iets nie. Net voor ek hom in die bad sit, bedink ek myself... As dit ‘n bom is gaan daar mos een of ander soort ontploffing wees, nie? Gaan hurk (sommer so in my Adams gewaad) agter die wasbak en gooi die “bath bomb” in die bad se rigting. (Ek is mos nou nie vreeslik sportief nie en kon eers na die derde probeerslag die bal in die bad kry.) Toe die bad bom uiteindelik in die water plons, loer ek verby die wasbak in afwagting, maar niks gebeur nie. Ek kruip versigtig handeviervoet nader. Dalk het die ding ‘n timer wat afloop voordat daar iets gebeur? Ek loer oor die bad se rand. Die bath bomb dobber net heen en weer. Niks gebeur nie. Wat ‘n antiklimaks! Dalk doen ek iets verkeerd... Ek roep Die Ander Een.
“Koe-ie! Weet jy hoe die ‘bad bom’ goete werk? Ek dink myne is stukkend.” Die Ander Een kom met ‘n sug die badkamer ingeloop en loer in die bad. Daar word verwoed oë gerol.
“Jy moet die plastic wrapper eers afhaal.” Sê Die Ander Een en skep die bal uit die water uit en trek ‘n deurskynende pampier van die bal af en gooi die bal weer in die water. Ek loer koes-koes oor die bad se rand. Daar is steeds geen ontploffing nie, maar nou fizz die ball verwoed – lyk of daar Enos aangemaak word.
“Nog iets?” Vra Die Ander Een duidelik dik van die lag.
“Het ek nie gesê ek wil nie gepla word nie?! Gaan net weg!” 



Ek wag dat Die Ander Een al giggelend uit is voor ek die sakkie ontspan goete weer oop pluk en nog bestanddele in die water gooi. ‘n Bottel Peppermint Candy Cane Bath Foam, ‘n spuit Vanilla Marshmallow Shimmer Mist, ‘n Moringa Fragranced Bath Bubble, ‘n bottel Almond Milk & Honey Calming & Caring Bath Milk  en so ook ‘n bottel French Lavender Massage Oil... ‘n Hele bottel olie? Fout. Ek klim in die bad (glas rooiwyn in die hand) – een oomblik staan ek nog, die volgende oomblik is ek plat op my rug; gly op en af in die bad soos ‘n slippery slide. My skok beentjie moer toe gestamp. Na wat voel soos ure kom ek uiteindelik tot stilstand. My elmboog is lam. Ek praat in tale. Ek probeer regop sit maar kry nêrens vasklou plek nie en gaan weer vir minute lank aan die gly. Nog ‘n dosyn blou kolle. So lê ek maar  en dobber in die bad, so bewegingloos moontlik, en bedink my lot. As ek weer beweeg stamp ek dalk nog my kop en verdrink hier in my eie badkamer in 10 duim water. Ek kyk hartseer hoe die rooiwyn sulke mooi patrone maak soos dit met die eksotiese olies meng. Ek weet nie wat van die glas geword nie. Ek hoop nie daai ongemaklike gevoel is wat ek dink dit is nie. 



Sug. Daar is net een uitweg as ek die gaan oorleef... Ek roep Die Ander Een. Eers saggies met die hoop dat my hulpkreet nie gehoor sal word nie. Maar ek besef dit gaan nie die probleem oplos nie en roep harder. Die Ander Een kom eventually ingestap.
“Wat nou weer? Moet ek jou help om ‘n proppie van ‘n bottel af te draai?”
“Ek weet nie of is jou sarkasme nodig nie...” Ek wil eers bitsig wees maar besef dis ‘n kwessie van lewe en dood en gaan my trots moet sluk. “Help my asseblief. Ek sit vas...”
Die Ander Een bekyk die situasie, die hoop leë bottels olies langs die bad en toe daar tot besef kom, volg die genadelose lag. Die Ander Een sak inmekaar van die lag. Ek bly maar stil en wag dat dit oorgaan. Teen die tyd is die water al yskoud, alles is klein en seer en my ego het waarskynlik iewers op die vloer beland. Maar ek bly stil, wat soos julle weet nogal ‘n uitdaging vir my is.
Toe die histerie uiteindelik verby is word daar ‘n handdoek se punt vir my gegooi en ek word (met moeite) soos ‘n vis uit die bad getrek. EK is so van die olie dat toe ek op die badkamer vloerteëls beland ek weer ‘n paar meter verder, sommer so op my maag en ander dele, gly en wat weer tot hernude histerie lei. 

“Is jy nou ontspanne?” Vra Die Ander Een deur die trane van al die lag.
“Ek het gesê ek wil nie gepla word nie. Voert net weg...” Sê ek saggies terwyl ek kyk hoe die laaste van my trots saam die olies in die drein verdwyn.

Riaan Palmer
Share:

Sunday 25 November 2018

Opwindende Nuuse - Engele en so en dit

Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar. Ek gaan nooit ‘n Nobelprys vir Letterkunde wen nie. Ek skryf nou maar net nie fancy genoeg vir die tannies met die bollas en die brille op die punte van hulle neuse nie. Hulle boudspiere is hopeloos te gespanne om my ‘stories’ te gaan wil kies vir een of ander prys. Buiten vir die feit dat ek per ongeluk (aspris) nou en dan die f-woord laat val en die ingilsman se taal vrylik gebruik, maak ek ook sommer woorde op as ek nie aan ‘n woord kan dink wat ek nodig het nie. Apparently is dit teen die reëls. (Laat ons nou maar niks sê oor die feit dat meester Coenie de Villiers maar woorde kan opmaak soos ‘kelkiewynkaros’ en ‘opslagsomer’ nie. Jy sing dit heerlik saam, maar weet jy ooit wat dit is? Toemaar ek ook nie.)

Partykeer is daar net nie ‘n woord wat lekker werk in ‘n sin nie en dan moet mens maar noodgedwonge iets uitdink wat klink of dit ‘n regte woord kan wees. (Glo dit of nie, maar partykeer werk selfs ‘fok’ nie as plaasvervanger nie.) Ander kere is my brein net bietjie van ‘n marshmallow van te hard dink, en woorde ontgaan my. Ander dag kon ek nie aan die woord “fakkel” dink nie. Ek het letterlik “word for fire on a stick” moes gaan Google en uiteindelik “torch” vertaal. Dan is daar is dae wat jou woordeskat jou net totaal in die steek laat. Soos as jy aan die Afrikaans vir ‘reindeer’ probeer dink, en jou brein antwoord “Kersfees kamele”. Well done! Net as jy dink jy’s nie te dom nie, dan dink jy sulke goed.

Maar ongeag my tekortkominge en foute het iemand dit goed gedink om een van my kort verhale in ‘n bundel te sit saam met ander kortverhale. EK moet bieg en sê ek vloek nie in die storie nie. Dis ook nie besonders snaaks nie. Soos in met glad nie. Maar dis ‘n mooi storie (OK, OK ek is dalk bietjie bevooroordeeld - julle moet maar self besluit). Dis wel 'n nuwe storie wat julle nog nooit gelees het nie.




Die bundel is ‘n versameling stories oor engele. Goed voel stories. Ideaal vir sênoumaar sou daar binnekort ‘n Kersfees wees of so. Aanvanklik gaan die boek net per bestelling beskikbaar wees (vanaf 12 Desember 2018) daarna sal jy dit aanlyn kan bestel. En cheap cheap daarby ook. Dalk is ek die dag in ‘n goeie bui en gee nog een verniet weg ook vir een van my gereelde lesers. Ek sal hom teken ook. (“Arrogant! Vir wat staan en griffel jy nou in my boek?! Wat is fout met jou man!?")
As jy sou belang stel en jy's in Pretoriadorp, laat weet my dan bestel ek sommer saam met myne. Of jy kan direk by Bets Koen bestel - bets.adminco@gmail.com.

Daar is dit nou. “Vlerke” - 'n Versameling kortverhale.

Yay! 

Share:

Wednesday 21 November 2018

Stilte in die hitte


Hierdie was ‘n besondere uneventful week, die dat ek so stil is. Behalwe natuurlik vir die feit dat dit warm was. Nee, nee. Moer warm. Ek het besef dis nou regtig warm toe twee Hobbits by my kantoor inhardloop en ‘n ring daar neergooi. (Komaan. Iemand moet daai verwysing verstaan?!) 




Anyway. Dis moer warm so ons almal sit maar eerder doodstil en doen so min moontlik. Jy’s te lam om iets te doen of te bang die son kry jou alleen en brand jou dood. Dit raak in elk geval ook nou daai tyd van die maand wat jy maar eerder niks doen nie uit vrees dat dit jou gaan geld kos – wat jy nie het nie. Want – sug – my kredietkaart het mos ‘n target, nie ‘n limiet nie. Ek het mos al geleer – ek spandeer die begin van die maand vinnig al my geld, want daar’s nooit ‘n sent oor hier aan die einde van die maand nie. (En my Pick ’n Pay kaartjie kort nog 3 stickers voor hy vol is. Sug.) Nou is dit nog ‘Black Friday’ ook. So voor payday. Wat help dit nou in elk geval vir wie?

Nou moet ek maar op die naat van my rug lê en terugverlang na opwindender tye... Die hitte laat my terugdink aan die droogte jare op my Ouma-hulle se plaas daar in die Waterberge. Hulle het met koeie en mielies geboer. 

Soos dit warmer en droër geword het, het die arme melkkoeie ook maar swaar getrek. Eers het hulle karringmelk gegee, en later net poeiermelk. As die Oubaas van die kraal af kom is hy so van die wit poeier dat dit meer lyk asof hy koek gaan bak het, as wat hy gaan koeie melk het... 



Die mielies het ook maar net-net beter gevaar, maar ook maar net omdat al wat ‘n vloeistof is na die lande toe herlei is. As jy ‘n nommer 1 soort nood het, dan moet jy lande toe stap (wat ook beteken het jy moes maar vooruit beplan wanneer jou blaas gaan vol wees). Daar was op ‘n stadium net genoeg mielies om gelyk te breek, maar toe kom daai hittegolf... Een oomblik is daar mielies, volgende oomblik lê die lande wit van die popcorn. Ons moes toe nou maar al wat ‘n hol ding is gryp en begin skep. Dit was eintlik ‘n bedekte seën gewees, want die popcorn was teen ‘n baie beter prys aan Sterkinekor en Numetro verkoop word. (Sommer op daai tema... Hoe herken jy ‘n krimineel by Sterkinekor? As iemand ‘n koeldrank EN ‘n popcorn EN sweets koop. Ek meen, watter gewone ou het daai soort geld? Iemand met daai soort geld moet sweerlik ‘n drug dealer of iets wees...)

Nietemin was die vakansies op die plaas net die beste. Kaalgat swem in die spruit in die kloof. Trekker ry saam die Oubaas as hy die lande ploeg. Vars botter, plaasbotter, vars gebakte soetkoekies, vars gebakte brood... vars alles. Mis ek darem nou my Ouma en die plaas... 

Die Oubaas het natuurlik perske of druiwe mampoer gestook – skelm – in die kloof. Die Waterberge se polisiekonstabels was gedurig daar om te kom kyk of die Oubaas nie weer onwettig stook nie. Hulle is altyd daar weg met ‘n bottel deurskynende vloeistof onder die arm, tevrede dat die Oubaas nie besig is met onwettighede nie. Ek was nog kind in daai jare, en kan nie vir jou regtig sê hoekom die Oubaas se mampoer so beroemd (of berug?) in die distrik was nie. Die Oubaas het my eenkeer ‘n proppie vol gegee om te proe. Ek kan nie veel van die aangeleentheid onthou nie. Ek weet net, voor die proe het ek aan asma gelei, is gepla deur aambeie en het vratjies op my hande gehad. Die volgende dag kom ek agter dat ek vir die eerste keer ordentlik kon asemhaal en die vratjies het soos grondboontjie doppe tussen die lakens gelê toe ek wakker word. Kan nie sê dat mampoer iets vir aambeie doen nie. Jy’s net nie soveel gepla dat jy hulle het nie.


En van aarbeie gepraat – die Oubaas het so ‘n droë sin vir humor gehad. Die dag ry die plaaswerker met die trekker en die sleepwa vol beesmis die grondpad af en die Oubaas wys vir hom hy moet stop.
“Waar gaan jy met al die mis?” Vra die Oubaas toe die trekker tot stilstand kom.
“Nei Oubas. Ons gat hom daar by die strawberries gooi.”
“Siestog.” Sê die Oubaas ewe droog. “Julle kan maar een dag hier by ons kom strawberries eet. Ons sit icecream op ons s’n.”
Share:

Monday 12 November 2018

Kinders maak my bang


Ek het ‘n natuurlike vrees vir kinders. (Of is dit nou eintlik ‘n onnatuurlike vrees?) Dit is moontlik omdat die monstertjies agaskiesekbedoel mensies so onvoorspelbaar is. Met volwassenes weet ek gewoonlik wat in ‘n situasie gaan gebeur – hulle is redelik voorspelbaar. 
Maar kinners? Nope. Hulle kan enige oomblik enige iets sê of doen. En dit maak my senuweeagtig, want ek wil in beheer wees van ‘n situasie. Kinners maak dit onmoontlik om in beheer te wees.




Ek is weer daaraan herinner die naweek toe ek en Die Ander Een doodonskuldig ‘n lunch by ‘n restaurant geniet. Steek ‘n blondekop seuntjie sy neus oor ons tafel:
Is jy tannie Linda?” Vra hy. Ek’s ‘n bykans twee meter lange vent wat ‘n week laas geskeer het – ek kan onmoontlik nie soos ‘n tannie lyk nie.
Ek het jou gesê dis tyd dat jy jou hare sny.” Sê Die Ander Een.
Lyk ek soos tannie Linda?” Vra ek vir die grootoog kind.
Nee.” Antwoord die seuntjie. “Ek hou ook van spaghetti.” Gaan hy aan en kyk aandagtig na my kos. Dis salm in my bord.
Ek rol my oë. “Waar’s jou Ma?
Hy beduie in ‘n rigting en voeg by. “Sy drink wyn.
Wel dit verklaar baie. 
Neem jy haar kwalik?” Vra ek en kry ‘n skop teen die maermerrie.

***

As ek mooi daaroor dink het my vrees ontwikkel toe ek ‘n finale jaar student was. ‘n Pêl het my gevra om hom te kom help verf. Nou ek is nie vreeslik groot op fisiese handearbeid nie. Ek hou nie van iets dra of optel of neersit of was of verf nie. (Die enigste rede hoekom dit so is – waaraan ek kan dink – is dat ek koninklike bloed in my moet hê. Dis tog net koninklikes wat daar fout mee staan met hulle hande. Of my ‘lui klier’ is ooraktief.) Nietemin belowe my vriend – kom ons noem hom Rupert - my dat daar gaan drank wees. En kos. Maar meer belangrik drank. As student is jou prioriteite mos maar bietjie anders en ek stem toe in met die vooruitsig dat ek gaan verniet kan wyn vir die dag.




Nou my vriend, Rupert, sukkel nogals om van sy vrou af te klim, en die gevolg is dat hy 4 kinders het. 4 meisietjies om presies te wees met ‘n effense variasie in ouderdomme. Sy vrou het hard probeer om ‘n goeie ouer te wees. Die 5 girls het Rupert egter gou gebreek, wat veroorsaak het dat sy ouerskapstyl tot “Gods water oor Gods akker” ontaard het. 

So kom ek vroeg die afgesproke Saterdagoggend daar aan. Dit alleen was alreeds pynlik vir my, want as student is ‘7 uur die oggend’ iets wat met ander mense gebeur, nie met my nie. In die kombuis is die vrou besig om die nagevolge van ontbyt te probeer skoon kry. Soos dit vir my lyk was daar of ‘n slagting tussen eiers en toast óf ‘n dragtige hoender en ‘n brood is geoffer. 

Dadelik raak die 6-jarige en 4-jarige lus vir chit-chat toe ek daar aankom. Soos gewoonlik word daar oor totale lukrake onderwerpe gepraat.
Ek het my eerste tand gewissel.” Spog die 6-jarige. “Ek het dit vir die tandmuis gegee, toe bring hy vir my geld. Maar eers die tweede aand. Hy’t die eerste aand vergeet.
Vriend Rupert vermy my kyk.
O. En hoeveel het jy gekry?” Vra ek nuuskierig.
Nie genoeg nie.” Kom die antwoord, net om Rupert te herinner dat hy vir die volgende - ten minste - 21 jaar min of meer platsak gaan wees danksy die 5 vroumense in sy huis. Maar ek het nie simpatie nie. Hy moes nie met so mooi vrou getrou het nie.
Is dit more my verjaarsdag?” Wil die 4-jarige weet. Ek kyk vir Rupert en hy antwoord sommer “Nee.” Sy vra dit glo elke dag. Selfs op die dag van haar verjaardag.
Ek dog julle sou teen die tyd al aangetrek gewees het?” Vra hy sommer om hulle rigting te laat kry.
Ek dog Pappa sou teen die tyd al beter geweet het.” Antwoord die 6-jarige snip.
Die Ma kyk op en sonder ‘n woord verder verdwyn die hele lot van hulle.

Ons raak aan die verf en dis ook nie lank nie wat ons besluit die eerste vliegtuig is al oor; dis tyd vir bier. Rupert verduidelik dat sy vrou hom toegelaat het hom die kleure verf te kies. Dit het min of meer so gegaan:
Sy’t met daai kleurkaarte voor hom gestaan.
Hy: “Daai kleur.
Sy: “Nee.
Hy: “Daai een.
Sy: “Nee.
Hy: “Daai een.
Sy: “Nee.
Hy: “Daai een.
Sy: “Goeie keuse! Jy’t ‘n oog vir kleur!
Baie gaaf van haar.

Op ‘n stadium is daar ‘n geskreeuery in die ander vertrek.
Gaan jy nie kyk wat aangaan nie?” Vra ek.
Dit help nie. As jy daar kom weet niemand iets van niks af nie. Dis soos ‘fight club’. Hulle praat nie oor wat gebeur nie.” En hy trek sy skouers op.
Ook nie lank nie en een van die girls raak aan die huil. Rupert laat sak sy kop, sug en loop dan met gesakte skouers om ondersoek in te stel. Minute later kom hy kopskuddend terug.
En?” Vra ek nuuskierig.
Hulle baklei oor wie volgende die 'imaginary' dolfyn mag ry...


Later weer moet die vrou ry om nog verf en Pizzas vir lunch te gaan koop.
Was hulle soet terwyl ek weg was?” Vra sy toe sy terug is.
Awesome.” Antwoord Rupert.
Jy besef hulle het saam met my gery?” Sê sy.
Ek wou sê hulle is besonders stil...

So verloop die dag en een na die ander vertrek kry ‘n nuwe laag verf. Ek leer ook die een na die ander les oor kinders. Ek leer byvoorbeeld dat ‘n kind sal ‘n droë ertjie wat al ‘n maand onder die yskas lê eet, maar nie ‘n wortel nie. Ek leer dat as jy “We will rock you” vanuit die badkamer hoor, dan vra jy nie watter mylpaal vandag behaal is nie. ‘n Tweejarige sal suiker wat op die vloer gemors het oplek. Ten minste het hulle nie ‘n mier probleem nie.

Uiteindelik is ons klaar, maar omdat daar omtrent dieselfde hoeveelheid drank as verf gevloei het besluit ons ek kan nie terug huis toe bestuur nie. Ek sal op die bank kamp vir die aand. 

Ek kry ‘n kussing en een van dáái komberse. Jy ken hulle. Hulle is van wol gemaak. Dit het so ‘n sagte satyn rand reg rondom – maar dis net om jou onder ‘n valse hoop te plaas dat dit ‘n aangename kombers ervaring gaan wees. Leuens! Dit sal minder krapperig wees om onder ‘n hoop skuurpapier te slaap... Anyway, met genoeg alkohol gee jy nie om nie. Jy slaap daar waar jy beland.


Dit gebeur so 1 uur die oggend. Nou, as jy, soos ek, genoeg horror movies gekyk het, dan weet jy al ‘n kind wat alleen in die nag rondloop is bad news. Die monster gaan enige oomblik op jou toesak.
Ek word wakker van iets – daai sesde sintuig. Van bo af bekyk een van daai horror movie kinders my woordeloos. Chucky? Daai een van Poltergeist? Daai een van The Exorcist? Haar demoniese oë verraai dat sy oomblikke daarvan is om my gesig te verslind. (Altans, dis wat deur my kop gaan.) 
Ek gil verskrik, spring op en gee haar ‘n flying kick - ala Jean Claude van Damme - vol in die gesig. Oftewel dit was die plan, maar in my toestand kry ek dit net reg om van die bank af te val. Die Chucky-meisie staan steeds bo my en kyk amusant af waar ek paniekbevange op die grond lê. Dan hou sy haar wysvinger reg voor my neus. Ek begin by my sinne kom. Dis die 4-jarige. Vir wat druk sy haar vinger hier reg voor my neus?

Ek dink nie mooi nie, en ek byt haar vinger. Nie byt-byt nie. Net saggies, speel-speel byt.
Sy trek haar hand terug en kyk met groot oë na haar vinger. Haar lip begin bewe. Dan kom die trane. Ek het duidelik nie gedink nie.
Ek is jammer!” Sê ek verskrik. “Ek het nie bedoel om jou seer te maak nie!” Ek vat haar handjie en soen saggies die vinger. “Toemaar. Kyk daar’s nie eers bloed of ‘n merkie of iets nie!” Paniek stoot in my op. Wat de moer gaan ek vir haar Pa sê? ‘Nee, daar is niks fout nie. Ek het net jou 4-jarige se vinger amper afgebyt in die middel van die nag...’
Uiteindelik kry sy woorde uit tussen die snikke... “Nee... snik... dis nie... snik... seer nie... Jy’t my... snik... snot geëet wat ek vir jou gewys het... snik...
Share:

Wednesday 31 October 2018

Die Spiderman meisie is my hero


Iemand skryf dat hulle Spiderman-klere vir hulle dogtertjie moet koop in die seuntjie afdeling  want die dogtertjie afdeling bestaan net uit pienk frilletjies, strikkies, valletjies en Anna en Elsa. Wat ‘n cool meisie! Watse cool ouers! Hulle laat hulle nie in ‘n boksie sit nie. Well done!

Nou waaroor gaan ek nou weer tekere? Oor blerrie maatskappye wat vir my besluit wat is manlik (en wat is vroulik). Gaan loop daar deur die kosmetiese rakke in Pick n Pay. Daar is 15 rakke van sjampoes, sepe, olies, roompies en ander goete wat ek geen idee het waar om dit aan te smeer nie (want sekerlik verwag hulle nie dat ek dit dáár aansmeer nie)? Is, jy ‘n man, kom jy agter dat slegs sowat 0.012374% van die rak spasie is aan mans produkte gewy. Skeerroom. Deodorant met reuke soos “jagters passie”, “ruiter op pad na sy nooi” of “duiwelsdrek”. Beweeg aan na die sjampoe - basies twee keuses: Vir alle haar tipes of olierige, droë hare met skilfers. En dit ruik soos Omo. Dan het ons die seep. Op die botteltjie is ‘n prentjie van ‘n ou wat berg klim. Of ‘n bergfiets ry. En dan is dit nie net shower gel nie. Nee, nee. Dit is ‘n kombinasie shower-gel-shampoo-car-polish-paintstripper-tile-cleaner in een. En dit ruik soos bergamotolie en kakiebos.

Kan ons dit gou vergelyk met wat in die vroue se afdeling aangaan? Laventel sjampoe met melk van 7 maagdelike Himalaja boerbokke, Oos-Europese maanskyn skoenlapper olie, 39 soorte vitamienes en 29 ander bestanddele wat geheim gehou word deur ‘n 95-jarige Boeddhiste Monnik in ‘n grot in Katmandu. Glo vir “frizzy hair”. Dan is daar 136 ander soorte vir elke moontlik soort hare. Maak dit sommer dubbeld as dit kom by die sepe.


Kyk hier. Ek is ‘n uitgegroeide man. Ek kies self watse klere ek in die oggend aantrek. Ek maak self my veters vas. (Partykeer trek ek per ongeluk my skoene aan voor ek my broek aantrek, maar dis nie nou ter sprake nie.) As ek soos geheime vanilla kakaobotter soene wil ruik, dan sal ek. Julle sal my nie fokken sê nie.

(Voor ek aan beweeg – kan enige iemand vir my verduidelik hoekom daar nog instruksies op sjampoe is? Is jy regtig intelligent genoeg om die hele stort storie alleen aan te pak? Kry eerder vir jou iemand van wie jy nogal baie hou en nooi hulle om saam met jou te stort en jou te wys hoe om sjampoe te gebruik. Moet tog net nie voortplant nie – die “gene pool” is duidelik te vlak soos dit is.)


So gaan dit orals waar mans probeer shop. Skoene? Jou keuses is swart of bruin leerskoene. Jy’t darem ook ‘n keuse of dit ‘n gewone punt moet hê of so ‘n skerp punt asof dit eintlik ‘n boemerang wou wees. Hoe dit nog mode is, is my pot se deksel. Dan is daar ‘n keuse tussen 9,384 verskillende Nike, Adidas of Reebok tekkies, wat almal eintlik presies dieselfde lyk as jy jou kop net effens skuins draai. Vroue het enige variasie skoen waarmee die verbeelding kan opkom. Skoene met oop tone, toe tone, hoë polvye, lae ontwerpers goete en dit is net die inleiding. Nee, ek stel nie belang in oop toon skoene nie. My tone is nie vir publieke konsumpsie bedoel nie. Wat ek soek is daai boots met die fur wat hulle in die winter dra. “Fur!?” Vra jy verbaas. Ja fur (faux fur natuurlik). Weet julle mans hoe lekker warm is fur? Nee. Want fur is mos net bedoel vir vroue klere en eskimo’s. Want manlike mans kry nie koud nie? Mans mag nie gemaklik en snoesig wees nie? ‘Tsek.

Hier en daar is daar ‘n plekkie wat saamstem dat mans beter verdien as dit. Soos Buffelsfontein baard-olie. “Bederf jouself jou rowwe bliksem.” Hulle probeer baie hard om die fyn lyn te loop tussen “manlikheid” en “fancy roompies”. Hulle is snaaks en verskaf goeie en interessante produkte. Ongelukkig sit hulle die pot mis met die laaste 1 sekonde van hulle advertensies: “Buffelsfontein baard-olie, nie vir mannetjies wat sit en piepie en gesigroompies dra nie.” Is julle nou ernstig? Julle verkoop letterlik “gesigroompies” (jou baard is op jou gesig, nie?) maar dis nie vir mans wat gesigroompies opsit nie? Make up your mind. (En wat jy in die badkamer doen is jou saak, niemand anders s’n nie. Ek kan net sê van sit en staan is lê die lekkerste.)


Dit beteken nie as jy goeie higiëne het en mooi na jouself kyk dat dit van jou ‘n moffie, sissie of ‘n vrou maak nie. Gaan mevrou stywer teen jou lê as jy ruik soos trekker binneband en sweet of as jy lekker ruik?

Die dubbel standaarde is vir my baie vreemd en ek wens ek het geweet wie de moer het dit uitgedink. Ek sal graag met die ou ‘n gesprek wil hê. Ek wil net vir hom vra: “Nou wie de donner dink jy is jy?

Luister ouens. Dis die 21ste eeu. Jy mag maar jou sagter kant wys ook, nou en dan. Nie akoestiese-kitaar-vanilla-kers sag nie, maar jou "Ja, my vel voel so goed as wat dit lyk en ruik" kant. Jy kan 'n rowwe man wees en goed lyk en ruik. Dis OK. Jy gaan ook nie teen die tyd wat jy 75 is soos 'n uitgedroogde Shar pei lyk nie. Die ander omies in die ouetehuis gaan groen wees van jaloesie omdat al die tannies van die aftree oord om jou gaan koek (letterlik, nie figuurlik nie. OK, dalk figuurlik ook). En as iemand jou 'n moffie noem, dan verduidelik jy vir hom die donker eeue is al verby en hy kan maar onder die klip uit kruip waar hy bly. ‘n Goedversorgde man wys net dat jy klas en styl het. Dit het boggerôl uit te waai met jou manlikheid. 

En fur boots. Asseblief?

En hou op instruksies op ons sjampoe sit. Mans volg in elk geval nooit instruksies nie.

Riaan Palmer

Share:

Monday 29 October 2018

Die vrou en die skerwe



Sy sit sommer so plat op die grond. Haar hart lê in skerwe so om haar. Haar gesig verraai geen emosie nie. Geen trane. Ek vermoed die trane is klaar. Elke druppel wat kon val, het geval. Daar is waarskynlik al twee diep spore oor haar wange – onsigbaar - wat deur die erosie van trane uitgekerf is. 

Een vir een tel sy ‘n skerf op om haar kosbaarste besitting weer aanmekaar te probeer kry. Soos ‘n tienduisend-stuk legkaart probeer sy die stukke bymekaar pas. Al verskil is, sy het geen prentjie van hoe die eindproduk moet lyk nie. Sy moet die legkaart uit geheue probeer bou. Elke brose skerf het ‘n begeleidende herinnering wat herroep moet word om sy plek te kry; om uiteindelik weer die pynlike fyn hart aanmekaar te las. 

Ek kyk in stilte hoe sy nog ‘n skerf optel. Sy vertel van die skerf. Dit was die geboorte van hulle eerste kind. Sy vertel van die hospitaal. Die dae wat selfone nog nie bestaan het nie, en daar verwoed agter hom aangebel is om hom in die hande te kry. Hy moes kom. Sy eersteling was op pad. Sy is nie seker waar en hoe hulle hom uiteindelik opgespoor het nie, maar hy was daar. Hy was saam met haar trots. Saam was hulle bly oor die nuwe lewe. ‘n Simbool van hulle liefde. Die vlymskerp punt van die skerf sny haar, en sy probeer om nie die pyn te wys nie. 

So tel sy die een na die ander skerf op en vertel elke skerf se verhaal. Sy vertel egter nie net van die skerwe nie, sy vertel ook van die krake. Soos wat elke skerf deel van haar hart is, en ‘n storie het, so het elke kraak ‘n storie. Maar dis nie mooi of lekker stories nie, want dit is die krake wat gelei het tot hierdie punt. ‘n Mooi, gesonde hart kan ‘n stamp oorleef. Of selfs as dit laat val word. Maar ‘n hart vol krake... Sy draai die skerf om en om tussen haar vingers. Ek weet nie of is dit omdat sy nie seker is waar dit pas nie, en of sy die skerf se storie in haar gedagtes herleef nie. Dit is ‘n besondere mooi skerf. Die kleure dans pragtig oor die delikate oppervlakte soos wat die lig elke faset vang terwyl sy dit om en om draai.

Uiteindelik vertel sy die skerf se storie, soos al die ander.
Kyk. Dis my tweede kind. Die verassings kind.” Daar kom ‘n skaduwee oor haar gesig. “Sien - daar waar dit gebreek het kan jy nog sien hoe het ek dit met gom probeer plak het. ‘n Week voor die geboorte het ek hulle die eerste keer saam gesien. Sommer so in die publiek. Ek het ‘dis nie soos wat dit lyk nie’ gom opgesit. Hy het ‘ons is net vriende’ gom aangesmeer. Dit het gehelp dat my hart nie breek nie. Maar ek het eintlik geweet dis net ‘n tydelike oplossing. Dalk moes ek maar toegelaat het dat my hart destyds gebreek het, dan het ek vandag nie met soveel skerwe gesit nie.

Sy bly lank stil voor sy verder praat.
Hoe langer jy ‘n kraak los met net ‘patch en solution’ op, hoe swakker maak dit die res van die hart. ‘n Kraak moet ordentlik herstel word, anders kom hy terug en... byt jou aan die boud.
Sy tel die skerwe op. Baie skerwe sny haar, maar sy stop nie. Ek weet sy moet haar hart weer heel kry. Ek wil haar graag help, maar ek is te bang om met my lomp vingers aan die fyn stukkies te vat. Ek kan haar ook nie probeer lei deur te praat nie, want ek weet nie hoe pas die duisende stukkies aanmekaar nie. Niemand weet nie. Net sy. Ek kyk om my rond. Almal sit en kyk hoe sy die skerwe optel en luister met soveel hartseer en omgee na elke skerf en kraak se storie. Almal het soveel respek en agting vir elke skerf. Elkeen teenwoordig besef hoe kosbaar elke stukkie is.

 Ek voel uit plek uit. Dit voel nie of ek waardig genoeg is om daar te wees nie. In die mees private oomblik waar ‘n vrou haar gebroke hart probeer red, is ek eintlik te betekenisloos, klein en niemand om teenwoordig te wees.
Maar sy laat my toe om daar te wees en ek aanvaar die woordelose toestemming. Ek leer uit die proses. Dalk gaan ek dit self eendag moet doen? Ek hou elke nou en dan my eie hart versigtig in my hande vas. Ek draai dit al in die rondte. Bekyk elke kraak, kepie en die plekke waar stukke al weg gesplinter het. Ek smeer politoer aan en maak seker dat die gom nog hou. Ek het dit ook vir iemand gegee om na te kyk. Gaan my hart ook eendag op die vloer beland in ‘n duisend stukke. Weggegooi asof dit niks beteken nie? Die probleem is, ‘n mens kan nie alleen na ‘n hart kyk nie. Jy moet dit met iemand deel, want ‘n alleen hart word koud en gaan naderhand dood. ‘n Hart wat gedeel word, groei. Ou krake word heel. 

Ek kyk ook na die hart wat aan my gegee, toevertrou, is. Hoeveel van die krakies en kepies het ek veroorsaak? Daar waar dit so hard en effe dof is? Was dit my skuld? Gaan ek eendag hierdie hart wat met soveel oorgawe aan my toevertrou is ook stukkend gooi en iemand anders los om die skerwe op te tel? Ek kyk na die vrou voor my wat met soveel deernis en omgee die skerwe en splinters optel. Hoe kan iemand dit aan iemand anders doen? Jy hanteer ‘n hart wat aan jou gegee is mos met soveel versigtigheid as wat jy kan. En as jy besluit jy wil dit nie meer hê nie, dan gee jy dit terug met soveel teerheid as wat jy kan bemeester. Jy gooi dit nie stukkend op die vloer nie.

Ek wonder vir ‘n oomblik waarmee sy die skerwe plak. Asof sy my gedagtes lees, sê sy “Ek weet nie wat Sy plan is nie, maar ek weet Hy is hier.” Ek verstaan: Haar gom is geloof. Hoop. Die sterkste moontlike gom vir oomblikke soos hierdie. 

Skielik merk ek op dat daar mense buite staan en deur die venster loer. Hulle druk hulle neuse plat teen die ruit en bekyk die vrou wat weerloos op die grond sit met die skerwe om haar. Nou en dan fluister die een iets vir die ander een agter ‘n hand en dan word daar kop geskud. Maar die vrou steur haar nie aan die mense nie. Ek merk nou eers op hoe haar spiere bult elke keer wat sy nog ‘n skerf plak. Ek besef hoe sterk sy.
Hy’t nie die waarheid vir hulle vertel nie. Hy sal nooit nie. Dis mos makliker om vir hulle te vertel dis my skuld.” Sê sy sonder om op te kyk.
Maar hoekom vertel jy nie vir hulle nie? Hulle moet weet. Hulle verdien om te weet wie en wat hy is!” Sê ek, half kwaad. “Dit sal jou vry maak. Dan kan jy mos jou kop omhoog hou.
Nee.” Antwoord sy. “Die gemeente kan nie weet nie. Ek hou in elk geval my kop omhoog want ek weet die waarheid. En julle wat saam met my hier is ken die waarheid. Dis al wat saak maak.

Sy tel nog ‘n splinter versigtig op. Dit los ‘n diep sny aan haar hand.

=========================== ===========================
Ek dra die op aan die verpletterde vroue. Die vroue wat probeer heel maak en heel word. Die vroue wat probeer verstaan “Hoekom?”. Ek het nie woorde wat die seer en stukkendheid gaan reg maak nie. Maar kyk om jou rond. Daar is baie mense wat by jou sal sit terwyl jy die skerwe optel. Ons sal in stilte sit, en jy kan vertel van elke skerf en kraak. As jy wil, kan jy ons vra om ‘n skerf vir jou aan te gee, of om net te help vashou terwyl die gom droog word.
Mans, kyk mooi na jou vrou se hart. Dit is nie ‘n leë blikkie bier wat jy net kan neergooi en aanstap nie. Dit is die mees kosbaarste besitting in die wêreld.

Share: