Friday 28 September 2018

My Ma sê ek mag nie meer vloek nie

My Ma sê ek mag nie meer vloek as ek iets skryf nie, anders gaan sy nie my posts like nie. Skoonma het my ook al daaroor aangespreek...
Dis nou ‘n penarie want partykeer is al woord wat in ‘n sin werk “fok”. Dit weerspieël net presies die gevoel wat ek wil uitdruk. “Oepsie poepsie” of “alla mapstieks” het mos nou nie dieselfde betekenis as “ag fok” nie.

Gertruida stamp haar maermerrie teen die skottelgoedwasser wat alweer oopstaan. “Gedoriewaar dit is seer!” roep sy uit. Sy buk af om die skottelgoedwasser toe te maak en stamp haar kop teen die rak. “Eina fok!” roep sy...
Nou sê jy vir my watter een van daai twee was die seerste?

Maar Moeder en Skoonma is seker reg, want ek sien ons Dominee het ook al een of twee van my posts ge-like. En ander mense van die gemeente ook! Nou moet ek Sondag daar in die kerk gaan sit met my se vuil bek, tussen die gemeentelede wat voor hulle heilige siele weet wat ek alles kwytraak... En dan gaan onse Dominee daar voor staan om vir my die Woord oor te dra, ook met die wete wat ek alles al kwytgeraak het. Gelukkig is sy nie soos daai ou, Afrikaner-oom dominees wat in sulke lettergrepe preek nie. Beklemtoon mos hier en daar ‘n woord met sulke ongemaklike pouses terwyl hy vir ‘n spesifieke gemeentelid kyk: “En JY... BROERs... en susters...mag nie JOU... buurman se VROU... begeer nie...” Dan kyk hy in jou rigting soos hy ‘n JY beklemtoon, maar nou’s jy ook nie seker of kyk hy vir jou of die ou agter jou nie. So ewe skielik kom jy agter hoe vuil jou skoene is, en die ou wat hier agter jou sit het ewe skielik daai droë kugge-kugge wat jy net in die kerk kry.
Dankbaar dat ons kerk se ons dominees darem nie so preek nie. Ek vermoed tog dat sy eendag uit Efesiërs 4 gaan lees... “vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie en dan met ‘n laaaang pouse stip vir my gaan kyk. Ek bloos sommer al klaar. Kugge-kugge.



Maar ek wil nie praat oor die kerk of vloek nie. Ek wil praat oor my se Ma. Sy is telkemale die slagoffer van my skrywe. Mense wat haar nie ken nie, sien seker ‘n prentjie van so ‘n kwaai boertannie wat my sommer moer met dit wat sy op daai oomblik in haar hand het as ek kak aanjaag (ek bedoel “kwaad doen”) - al is dit nou ‘n besem of ‘n broodmes. Dis nie waar nie. Sy is sag en teer – binne en buite, al het sy maar ‘n moeilike lewe gehad. En met “moeilike lewe” bedoel ek sy moes ons drie hooligan kinders grootmaak en die ou toppie ook gelukkig hou.
 
My ouer broer? Picture een van daai ISIS terroriste en maal dit met Rambo en tel Chuck Norris by en dan maal jy dit met Chuckie en Problem Child en sprinkel so bietjie van daai “The Omen” kind by. Dit was basies my broer op ‘n goeie dag. Hy was op kleuterskool toe hardloop die buurt se Rottweilers al vir hom weg, as hy die straat af stap. Hy was op laerskool toe was die hele buurt se kinders al verbied om by ons te kom speel. Teen die tyd wat hy ‘n tiener was, is daar briewe aan die Katolieke Kerk gestuur om navraag te doen oor wat Exorcisms nou eintlik behels. Ek is nie heeltemal seker of was dit ‘n sukses nie, maar ouboet het in sy twintigs darem normaal geword. (Normaal is natuurlik relatief.) Ek weet net Moeder het dit nie maklik gehad nie, maar wonder bo wonder het sy hom groot gekry sonder dat hy tronk toe is. Hy het actually ‘n baie suksesvolle loopbaan, so eintlik het die Ma ‘n goeie taak verrig. Ons sal seker nooit weet hoeveel senuwee-ineenstortings dit gekos het nie. Daai dae was sielkundiges en pienk pilletjies nog nie die antwoord gewees nie; Ma’s moes maar sterk staan en hulleself snags aan die slaap huil.


My jonger suster weer is ‘n yster vrou. Sy was ‘n dag oud toe het sy al ‘n opinie en wil van haar eie. Sterk persoonlikheid en staan vir niks en niemand terug nie. Sê jy “Nee”, sal sy vir jou wys jy het eintlik bedoel “Ja, sekerlik!”. Moeder moes gedurig ‘n muur wees tussen sus en oorle Pa, want Pa was ook maar ‘n moeilike ou toppie gewees. Een dag is my suster en Pa soos tyre en tube, en die volgende dag was hulle olie en water, dan moes die Ma skild wees en vredemaker speel. Seker baie letsels om te wys, maar sy hou dit vir haarself...

Ek was natuurlik ‘n engel kind gewees. Middel kind, so niemand het eers geweet ek bestaan nie. Was totaal onafhanklik van dag een af. Sommer my eie melk in die tietiebottels gegooi en my eie doeke omgeruil. (Ek versoek vriendelik dat julle nie navraag doen oor hierdie feite nie. Wie gaan julle in elk geval glo – vir my, eerlikheid homself, of die ou tannie wat bekend daarvoor is dat sy my met die besem gemoer het?) Tensy jy ‘n middel kind is, sal jy nie verstaan nie... Dit is eers toe my broer vir my gevra het hoeveel sakgeld ek kry, dat ek besef het daar word sakgeld uitgedeel. My skool trofees was net gebruik om suster se sertifikate regop te hou. Sekuriteit by Checkers ken al jou Ma se nommer uit hulle kop uit, so baie vergeet sy jou daar; jy’t gedink die fliek “Home Alone” is ‘n  dokumentêr. Jy weet 12 Augustus is “Internasionale Middel Kind Dag”, maar jy is al een wat dit weet. Die eerste keer wat jy nuwe klere gekry het, en nie hand-me-downs nie, was toe jy met jou eerste salaristjek Edgars ingevaar het. In my geval was die ergste waarskynlik as jy vir die eerste keer by ‘n Juffrou klas kry wat voorheen vir jou broer skool gegee het: Die oomblik as sy hoor jy’s ‘n Palmer kry sy ‘n twitch in haar linkeroog en word jy summier verplaas na die voorste ry banke toe...



So moes my se Ma die drie mees uiteenlopendste brats in die wêreld groot kry. Ons drie se verskillende persoonlikhede en groot verskil in ouderdomme was ‘n natuurlike kruitvat vir konflik. Sy het ons groot geskree, geslaan, geskel, gesoebat en sonder twyfel gebid. Maar sy het dit reggekry. Ons het altyd kos gehad om te eet (en nog, want daar is kinders iewers in Afrika wat nie kos het nie. Ek verstaan steeds nie hoe die feit dat ek my Brussels sprouts moes afwurg die honger kinders gehelp het nie?). Ek het altyd skoene en klere gehad, al was dit nie ‘n brand name nie. Ek het nooit koud gekry in die winter nie. Ons het ten minste een keer ‘n jaar gaan “vakansie” gehou. (Ons het gekamp. Party mense sal dit dalk vakansie noem, maar ek noem dit “vakansie” want waar in jou lewe is kamp vakansie hou? Ek het al genoem ek hou nie van kamp nie, nie waar nie?)



Vandag, as ek terug dink kry ek skaam as ek dink wat sy alles gedoen het. Sy was ‘n “huisvrou”. Sy’t ook vir ‘n tuisnywerheid gebak vir ekstra inkomste. Teen sesuur wat ek uiteindelik opgestaan het, het sy al ontbyt gemaak, ‘n baksel ystervarkies opgetower, die beskuite verpak, skottelgoed gewas en ‘n paar goedjies gestryk. Vanmiddag as ek by die huis kom, is die huis silwerskoon, daar is middagete, 10 vla koeke staan gereed verpak vir aflewering en is die honde reeds versorg. Meanwhile kyk ek net TV of speel in my kamer. Vanaand kry ons 'n bord gekookte kos, word die beskuite in die oond gepak om te droog, bitch en moan ek as die Ma my vra om asseblief die wasgoed af te haal. Dan neul ek “Ek moet ook alles doen!” en is dikbek tot more. Jy loop en vertel vir almal hoe oulik en fluks jy is as jy een keer die skottelgoed gewas het.  

Die vrou was vier ander mense se persoonlike slaaf. Sy kon nie eers siek word nie want die hele huis sou net daar inmekaar gestort het. Wat ‘n skande. Sy behoort eintlik vereer te word met ‘n standbeeld van haar in Kerkplein. Dit is die vroue – al julle Mammas - wat die wêreld aan die gang hou. As hulle eendag hulle hande sou moet vou en ophou werk, sal die moderne samelewing straks in duie stort. Daar sal oorloë wees. Hongersnood. Peste en plae. ‘n Geween en ‘n gekners van tande.



My se Ma kan trots wees op wat sy verrig het met die bitter min hulpbronne wat sy gehad het. Nie een van haar kinders is ‘n dronkie nie (ek is ook trots op haar dat sy haar nie tot alkohol gewend het nie). Nie een van ons was in die tronk nie. (Waarvan sy weet nie.) Ons staan op 'n paar sterk skouers. Gekneus en vol letsels, maar sterk. Ouboet is ‘n leier in sy vakgebied, het ‘n plaas en nou terroriste van sy eie wat hom grys hare gee (of is dit nou bles maak?). My suster, ‘n pragtige mens, sag op die oog, Miss Popularity haarself. 

En ek? 
Ek sê so nou en dan “Fok”. Maar dis oraait. Dis met gevoel. En ek’s die middel kind, so niemand kom in elk geval agter nie.

Riaan Palmer
Share:

Thursday 27 September 2018

Die Fortuner Tannie post veroorsaak 'n baba otter

En daar gaan my gebabbel oor die Fortuner tannies "groot". Posts word ge-share en daar word ge-comment. DANKIE! Aan elkeen wat share en comment en saam praat!!!
Dis awesome
Niks lekkerder as jy sien hoe dit die wêreld ingestuur word en almal lag, comment en deel saam stories nie. Honderde shares op Facebook, meer comments en likes as wat ek kan tel en meer as 10,000 views hier op die blog. My foon het skoon hoofpyn van al die harde werk om my te vertel van die notifications. Het ek al genoem dis awesome? Wel, dit is. 




Ek weet, ek weet – ek klink bietjie soos ‘n tiener meisie wat opgewonde raak oor sy 10 Facebook likes gekry het op haar nuutste selfie...
“Word bietjie groot, Riaan.”
Not likely. 
My stories is soos my kinders wat ek die wêreld instuur. Jy is trots op hulle en hoop hulle doen goed. Skryf ‘n liedjieskrywer liedjies wat niemand moet luister nie? Verf ‘n kunstenaar ‘n painting wat niemand mag sien nie? Nee, dis daar vir almal om te geniet. Al verskil is, myne kos niemand ‘n enkele sent nie.Ek is nie mooi of vinnig of sterk of het 'n mooi stem nie - dis al wat ek het...

Ek is ook absoluut stomgeslaan oor hoe lekker al die Fortuner eienaars saam lag en spot. Julle rock!
(Behalwe een suur gat Oom Martin wat meen “Klink vir my maar na 'n baie verveelde huisvrou(man) se geweeklaag oor die lewe hul so stief behandel” en voel ek moet bietjie lag vir ‘n slag. Ja, practice what you preach, Oom, en haal die suurlemoen uit jou se mond – as dit is waar hy sit...)


En ek dink ek het tannie Louise se gevoelense seergemaak... "Klink vir my na jaloesie Ag siestog!"


MAAR...
(Natuurlik is daar ‘n maar – het jy nou regtig gedink daar gaan nie vandag ge-moan word nie?)

Dit is bietjie langer as ‘n week terug wat ek my gemoedsbekakking gehad het oor mense wat my goete steel. Ek skryf ure lank aan ‘n stukkie, deel dit en een of ander horrelrug, boktietsuiger kom verby, copy en paste my ou skrywe na ‘n ander bladsy toe en maak asof hulle dit geskryf het. Ek verstaan nie hoe mense dink dis OK nie? 

Sê nou maar jy doen ‘n finansiële jaarverslag by die werk - jy is baie chuffed met jou harde werk en jy wys dit Dikgat Gert in die cubicle langsaan. Terwyl jy gou badkamer toe hol, Tipex Dikgat Gert jou naam van die verslag af, skryf sy eie naam daarop en vat dit vir die baas. 
Die baas sê “Wel gedaan Dikgat Gert! Goeie werk! Vat die res van die middag af!” 
Hoe gaan jy voel? Huh? Toe? Nou hoe is dit anders as om my werk te copy en paste en te maak asof jy dit geskryf het? En soos ek gesê het, kry ek nie ‘n dooie sent uit my blog of Facebook posts nie. Al wat ek daaruit kry is die satisfaksie om mense se reaksies te sien. 
(En ek sal eendag ‘n ‘n boekie of twee wil laat druk, so dit sal so ou klein bietjie help as mense my naam ken.) 
Dis al wat ek wil hê.

Maar, nee. Hulle steur hulle nie eers aan my dreigement dat ek gaan begin videos maak terwyl ek in my kar sit nie...

So laat weet iemand my, my post is ge-copy en paste na ‘n ander groep toe. (Dankie aan die loyal fans! Julle is my favouriteste!) 
Kraam ek toe mos nou ‘n baba otter. (Die pragtigste dingetjie, maar wie de moer moet hom nou grootmaak?) 
Fok dit. 
Ek stuur vir die tannie ‘n Facebook boodskap – vreeslik apologeties, so asof dit my fout was – en vra of sy nie net my ou naampie bo-aan skryf nie. Sy’s vreeslik jammer en maak dadelik so. No mess, no fuss. Ek het toe nou eintlik verniet ‘n ottertjie gebaar. 

Uit nuuskierigheid (OK, OK – seker verwaandheid) doen ek toe ‘n Facebook search om te sien of is my se post nog elders. Sowaar. Nog iemand wat dit op ‘n ander groep gaan copy en paste het. 
Nee, ek weet mos nou hoe om dit te hanteer en stuur weer ‘n apologetiese boodskappie aan hom en vra of hy nie die post bietjie wil edit nie. Uhuh – die keer word daar teëgestribbel. Hy het mos ‘n link ingesit na my blog toe... 
Sug. 



Nietemin, edit hy die post en skrywe my se naam in groot letters bo-aan sy post met sulke rooi uitroeptekens en vraagtekens. Passive aggressive much? Los dit daar, maar sy laaste boodskap aan my, is my pot se deksel... “In die toekoms maak net seker jy skryf dit self indien jy so iets post op Facebook.
Stomgeslaan... Duidelik is die ironie totaal verlore op die een. Ek sê maar net, ja, ek skryf my eie goed, en beweeg kopskuttend aan met my lewe.


Iets anders wat vir my nogal weird is, is al die Friend Requests... Elke keer as een van my skrywe gewild is en die land ingestuur word, dan word ek oorval met die friend requests op Facebook. Oor die jare heen het ek al die friend requests opgegaar – dink dis nou al ‘n duisend of wat. Te bang om te kyk... Het julle Ma’s julle nie geleer jy praat nie met vreemde mense nie? Dis in ons ingedril as kind! Jy praat nie met vreemde ooms nie. Jy vat ook nie sweets by hulle nie. Jy klim ook nie in hulle shady bakkies nie. (Apparently was dit OK om met vreemde tannies te praat?)


Ja, jy is doodreg. My kop vat mos nou nie lekker nie. Twee paragrawe terug bitch en moan ek dat my naam moet orals staan, soos ‘n dom-astrant, kammakastige Hollywood ster. (Wat 'n narsis!) En nou wil ek nie hê mense moet Facebook maatjies met my wees nie...? Defok?
Ja... ek gaan seker my strategie moet bedink. Die probleem is net, hoe weet ek een van die Friend Requests is nie van ‘n Fortuner Tannie wat wil uitfigure waar ek bly nie? Wag sy dalk more voor my hek in haar ‘tuna met haar gym buddies? Nee, fok dit. My privaat lewe en die mense wat na my is, moet maar privaat bly. Ek gaan myself mos nooit vergewe as een van my familielede moet deurloop onder ‘n Yoga-move van ‘n Fortuner tannie nie... 

Riaan Palmer
Share:

Wednesday 26 September 2018

Fortuner Tannies


Dis nog nie eers ‘n week sedert my mees onlangse senuwee-ineenstorting nie... Ek het alweer hartkloppings. Hierdie keer is dit ‘n tannie in ‘n Fortuner. Praat op die foon en sit maskara aan die wimpers. Ry so dat my lewe verby my oë flits. Twee keer. (Moontlik het ek hartkloppings oor wat ek in die terugflitse gesien het?)



Weet julle van die Fortuner tannies? As sy nie op die foon is nie, staan sy so reg in die middel van ‘n vier-rigting kruising met haar big-ass Fortuner - so dat ek nie kan verby sien in my plat karretjie nie. Dan sit en pik-pik ek mos so by die robot en wonder of is dit nou veilig om oor te gaan of nie. Noem dit sommer Robot Russian Roulette. Intussen lê die taxi-bestuurder hier agter my so op sy toeter laat die ding skoon hees word en ‘n oktaaf hoër begin toet. Ek beduie maar in die spieëltjie so met die een vinger (die middelvinger) dat ek nie verby die Fortuner kan sien of dit veilig is om oor te ry nie. 

Tannie, dis nie my skuld jou man kon nie die ekstras bekostig en vir jou Bluetooth in die Fortuner kon sit nie. Jy dink jy kan goed bestuur so met die foon teen die oor, maar hier van agter af sien ek alles mooi en ek kan jou verseker jy bestuur soos ‘n drol. Dalk bietjie slegter. 

My vraag is: Wie is hierdie tannies? Ek ken baie mense, maar ek ken nie een so tannie in ‘n Fortuner nie. Maar tog is hulle orals om ons! (Kyk bietjie om jou rond as jy daar op Atterbury in die verkeer staan: Ek wed jou een of meer mense om jou is ‘n Fortuner tannie.) Wie is hierdie mense? Ken een van julle so ‘n tannie in ‘n Fortuner? ‘n Naam? Waar sy vandaan kom? Waarheen sy op pad is? Of is hulle dalk aliens wat hier tussen ons bly, en ons dink almal: Nee, dis iemand anders se vrou... Weet julle van wie ek praat? Het julle hulle al gesien?

Ek sien hulle in die oggende as ek verby die laerskool ry. Die Fortuners is in so ‘n laer getrek in die parkeer areas voor die skool. Hulle het almal gym klere aan – nee, nie sweetpakke nie. Sulke stywe ski-pants goeters, met matching brands van die skoene tot bo by die toppie. Gewoonlik Reebok maar blykbaar is Adidas ook aanvaarbaar. Geen normale boere tannie lyk so nie. Nee, nee. Hierdie girls is almal rietskraal en het waarskynlik jare laas ‘n hamburger en chips gesien... Anyway, gym klere aan en ge-make-up. Moet ons nou dink julle is op pad gym toe of kom van die gym af? Met ‘n ge-make-up-de (my oud-Afrikaans juffrou moet daai woord sien - ek sweer sy gee my 'n plathand teen die oor!) gesig wat jy straks in ‘n Vogue magazine gaan sien. En moenie die string goue bangles vergeet nie – hou ook die Suid-Afrikaanse myn industrie aan die gang op hulle eie. Klink ook sommer soos 'n wind-charm soos sy met die arms beduie. Staan hulle in sulke groepies en chat, elkeen met ‘n waterbottel in die hand. Hulle flous egter niemand nie. Ons weet almal dis Vodka. Waaroor chat hulle, wonder ek? Is dit regte mammas? Het iemand al gesien of hulle actually kinders uit die Fortuners laai? 
 Ek het al regte mammas gesien. Dis daai wat nog die slippers aan het, en moes kies tussen hare kam of betyds by die skool uitkom... Ja, ek sien julle, regte mammas, wat uit die Getz uit spring terwyl die kar nog half beweeg, ‘n tas uit die boot ruk, ‘n laaste tandepasta merk met ‘n nat vinger van ‘n kind se wang af vee, koebaai waai en weer om die draai verdwyn...

Het jy al in ‘n restaurant gesit – minding your own business – dan hoor jy daai stywe stem hier agter jou...? 
Can I speak wiff de manager pleese”? 
As jy omkyk kan ek jou guarantee dit is ‘n Fortuner tannie wat garnish op haar bord gekry het, nadat sy uitdruklik gesê het “No garnish”... 
Gewone tannies moan nie oor garnish nie, want hulle is net te dankbaar dat hulle vir 10 minute op hulle agterwêreld kan sit en nie hoef kos te maak nie.

Ek het al agter die Fortuner tannies gestap in Menlyn; hulle hoor chit-chat...
Nee,” seg die een. “Ek geniet ‘n bietjie wyn in die middag, net om af te sluit.
Die ander twee knik instemmend.
Moet jy regtig? ‘n Bottel wyn? Om af te sluit van wat? Of dalk, Annetjie, dalk is jy net ‘n alkoholis? Het jy al daaraan gedink?
Ek het geen pyn met wyn nie. Ek het vele wynplase al gered van totale bankrotskap so op my eins. Maar ten minste is ek nie in denial daaroor nie. Gewone tannies drink ook wyn. Op Maandae sommer so uit die hip flask uit tussen bondels wasgoed.

Ken julle nou daai Fortuner tannies...? Weet julle van wie ek praat? 
(OK, ek sê tannies, maar hulle is waarskynlik jonk genoeg om nie te weet wat ‘n “Baas en Mossie” is nie…) 
Waarnatoe ry hulle in hulle Fortuners? Op pad Dakar toe? Wie is hulle? Is hulle iemand se vroue? Het julle al een van hulle ontmoet? Of is hulle dalk regtig aliens wat hier tussen ons kom en gaan en niemand kom dit agter nie? 

** Vrywaring: Hierdie is tong-in-die-kies sosiale kommentaar. Ek het twee vriendinne wat Fortuners ry, en hulle is pragtige mense. As hulle nie besig is om te bestuur nie.
Moet my asseblief nie kom bliksem nie. Ek kan skaars my onderklere aantrek sonder om om te moer, nou wil jy my kom slaan...?

Riaan Palmer
Share:

Tuesday 25 September 2018

Die monster onder die bed


Mamma!!! Maaaaaaa!

Fok. 

Sug.

Ja!?”
Hy’s terug!!!

Sug.

Ek gooi vies die hemp neer en maak my oë toe. Ek maak my oë oop net om in die berg ongestrykte wasgoed vas te kyk. Vanaand is die aand... Vanaand gaan die bloed vloei! Ek loop met ‘n mission die gang af en stamp die kamer se half-toe deur oop. Ek kyk die kamer op en af maar in die flou lig wat van die gang af kom, kan ek nie veel sien nie en sit die lig hardhandig aan. In die middel van die bed sit my 8-jarige dogtertjie in ‘n bondeltjie. Dis net haar oë – so groot soos pierings – en die blonde ponytail wat by die prinses Elsa duvet uitsteek. My oë soek deur die kamer met sy pienk mure, versier met prente van unicorns, Olaf, vele prinses Elsas en ‘n Tangled poster maar ek sien nie waarna ek soek nie.

Waar’s hy?” My stem is so hard en woedend ek skrik sommer self.

Onder die bed.” Antwoord my meisiekind in a piepstemmetjie wat duidelik na aan trane is.

Ek sak op my knieë neer (tot my spyt, want ek gaan eventually hier moet opkom op ‘n manier) en lig die val van die bed op. Dis pik donker onder die bed, maar soos my oë gewoond raak aan die donkerte begin ek vorms raaksien. ‘n Barbie pop se kop. Ek wonder waar die arme vrou se lyf is en wat sy nou weer gedoen het om onthoof te word. Die hel waardeur die arme vrou ook moet deurgaan in miljoene huishoudings... Verder is daar ook vele los Legos, ‘n leë Steri stumpi botteltjie, ‘n pakkie Niknaks, vele Barbie uitrustings wat seker daar beland het omdat dit nie meer in die mode is nie, ‘n verlore kind van ‘n Koala Sylvanian familie en ‘n een-oog teddiebeer wat eendag lank gelede die liefde van ‘n kind geken het. 

Kyk hoe lyk dit hier onder! G’n wonder die ding kom elke keer terug nie, dit lyk dan soos ‘n nes!
Net stilte antwoord my van bo die bed af.

 Image result for monster cute gross under bed

Ek vroetel in my sakke totdat ek my selfoon opspoor en sit die flits liggie aan. My frons word ‘n halwe sentimeter dieper soos wat ek nog dinge onder die bed sien wat my ‘n pyn gee. Die lyke van lang-vergete dustbunnies, ‘n kots-groen vetkryt, ‘n hele kolonie gebruikte tissues en iets wat moontlik op ‘n stadium ‘n toebie was, maar nou ‘n broei stasie is vir 39 bekende en 45 onbekende spesies muf. 

Uiteindelik vang my oog ‘n skurwe hakskeen soos wat hy agter die leë strawberry Steri Stumpi botteltjie probeer inkruip.
Het jou, jou diklip vark nek!
Ek gryp die voet en begin trek.
Nee! Asseblief! Nee! Ek sal nie weer nie...! Heeeeeelp!” Ek steur my nie aan sy gille nie. Ek weet al die bliksem is ‘n drama-queen.  

Ek sleep hom tot by die voetenent van die bed, en los hom toe hy ophou spartel. Die oomblik wat ek hom los begin hy dadelik weer kruip in die rigting van die kas wat oopbek staan.
Sit stil, fokker!” Roep ek en hou my hand dreigend in die lug as teken dat ek gaan begin klappe uitdeel. Hy knyp koes-koes sy swart ogies toe en sy dik onderlip begin liggies bewe.
Asseblief moenie...” Sê hy smekend, maar ek laat sak nie my hand nie.
Mamma! Jy’t die f-woord gesê!” Kom ‘n beskuldigende stem van bo-op die bed. Ek het vergeet ek het ‘n audience en laat sak verleë my hand. 

Kom!” Sê ek en gryp hom aan sy grillerige arm sonder om eers te wag vir ‘n reaksie. Ek kom kreunend orent en verwens weer die konsep van gravitasie voordat ek deur toe stap terwyl ek Meneer half sleep half dra. Ek stop by die oop deur en sit die lig af.
Slapies nou maar my liefies kind. Alles is onder beheer.” Sê ek in ‘n soetsappige stem, en voeg by “Sê nag!” en lig my voet met ‘n skop dreigement in die rigting van die karakter wat ek steeds styf aan die arm beet het.
Nag. Lekker slaap.” Sê hy saggies terwyl hy met groot – waarskynlik smekende – oë na die jong meisietjie kyk wat besig is om weer haar lê kry.
Ek wag totdat sy gemaklik lyk en trek die deur op ‘n skrefie agter ons toe. 

In die gang laat los ek sy arm, want ek gril tot in my tone vir die harde haartjies op sy skurwe arm.
Toe. Stap.” Sê ek met gevoude arms. “Kombuis toe.” Antwoord ek op sy vraende kyk.
In die kombuis beduie ek na ‘n stoel by die tafel toe.
Maar ek...” Wil hy met sy stories begin.
Sit.” Sê ek sonder die uitroepteken, maar in geen onduidelike terme nie.
Hy klouter by die stoel op en bekyk die kombuis op en af en heen en weer in ‘n poging om my nie in die oë te kyk nie.
Hoeveel keer nog? Hoeveel keer moet ons nog deur dieselfde roetine gaan? Het ek nie nou al vir jou mooi verduidelik nie?” Vra ek en wag vir ‘n antwoord.
Dis my werk. Wat verwag jy van my? Jy’t gesien hoe lyk dit onder daai bed! Dis soos catnip vir my. Ek kan nie anders nie!” Sy stemtoon is hopeloos te uitdagend na my sin.

Ek beur vorentoe sodat my gesig reg voor syne is. Ek is onmiddellik spyt want daai vrot asem sal die braafste Rambo se oë laat traan. Maar ek hou my pose.
Wat de fok is fout met jou man? Jy is ‘n verdomde pervert, man! Kruip rond onder klein dogtertjies se beddens... Jy is siek in jou kop, man. Jy’t hulp nodig.
Dis my werk... Ek...” Hy wil teë praat maar bedink hom as hy die woede in my oë sien.
Ek het nie tyd of krag vir hierdie kak nie. Seriously. Kan daar nie net 5 minute verbygaan dat daar nie ‘n krisis is nie? Net een dag wat ek nie ‘n skooltaak op nommer 99 hoef te bou nie? Net een dag wat ek nie moet jaag van hokkie oefening na kitaar oefening toe nie? Net een fokken dag wat ons kan betyds wees sonder dat ek soos ‘n goedkoop stadshoer hoef te skreeu nie? Net een aand wat ek nie jou skurwe hol uit haar kamer hoef te gooi nie. Een dag wat iemand my nie vra ‘Wat is vir ete’ nie. Net een dag – een enkele dag - wat die dronk gat pa net sy deel sal doen in stede daarvan om soos ‘n mak moer op die bank uit te paas nie. Een dag wat ek nie blou kolle hoef...” My stem raak onverklaarbaar weg. “Net 5 fokken minute vir myself. Dis al wat ek vra. Die naaste wat ek aan ‘n spa kom is as ek die skottelgoedwasser oopmaak en die stoom in my gesig blaas... Dis nie ‘n fokken grap nie wat lag jy jou klein tosser...?!
Ek laat sak moedeloos my gesig in my hande. Ek’s nie seker of ek actually huil en dit net voel of ek wil huil nie. 

Ek voel sy skurwe handjie met die lang naels oor my arm vryf. Dit voel soos skuurpapier, maar ek gee nie om nie. Vir daai oomblik voel ek die frustrasie, die seer, die alleenheid uit my spoel soos ‘n stroom oor ‘n droë rivier oewer in die Karoo. ‘n Oomblik wat iemand omgee. ‘n Oomblik wat die waansin ligjare weg is. En net so skielik hou die aanraking op. Ek kyk nie op nie. Ek hoor sy stoel skuif. Die kaal voetjies oor die vloer loop. Die ketel wat aangaan. ‘n Koppie wat neergesit word en ‘n teelepel wat doenig raak met iets. Ek sit steeds koponderstebo, gesig in my hande. Ek voel die nattigheid en besef dat ek wel regtig gehuil het. Uiteindelik hoor ek hy sit die koppie voor my neer en begin hy troostend my rug vryf. 

Ek kyk op in sy horribale gesiggie. Dis vol vratte. Skewe tande steek hier en daar verby die dik lippe. Die groot swart oë kyk met teerheid en vol verstaan diep in my siel.
5 minute. Net vir jou. Sien jou more aand.
En dan is hy weg.

Share:

Wednesday 19 September 2018

Alles behalwe dagga. (Jy pleeg plagiaat jou dief!)


Jy dink ek wil praat oor dagga, maar jy’s verkeerd. (Meeste mense is dom genoeg sonder spook-rook, nou wil hulle daai laaste twee breinselle verder briek? Right. Ek het mos nou ‘n saak.)

Ek het net weereens besef dat mense is baie weird. So laat weet iemand my van ‘n post op ‘n ander Facebook groep: Iemand wat een van my gebabbelrye gepost het asof hulle dit self geskryf het. Die blerrie vermetelheid.

Ek skryf nie vir geld nie. As jy gaan soek wat ek het van jare se geskrywery sal jy dalk op ‘n gebreekte bierbottel en ‘n 5 sent muntstuk afkom... Ek skryf vir die lekkerte daarvan. Dit is vir my so lekker as mense sê hoe hulle my storietjies geniet. En wat nog lekkerder is, is as dit ‘n gesprek aanwakker. Ek wil glad nie hê dat ek moet praat en almal moet luister nie. Glad nie. Nee, as ek iets skryf en mense aan die praat kry, dan was dit ‘n sukses. Al wat ek kry uit my skrywery, is die lekkerkry van mense wat dit geniet en deel met ander. Ek meen dis nie asof ek enigsins famous is of iets nie (maar dan moet ek noem dat Beeld onlangs ‘n onderhoud met my gevoer het oor my skrywery... Maar meer daaroor op ‘n ander dag.). Gun my daai bietjie lekkerkry deur net erkenning te gee. Maar nee, jou satansdingesses, copy en paste my goete en maak asof jy dit geskryf het? Jy lieg mos jou kommen dief. Miskien moet ek ook maar soos die res van die Internet in my kar sit en 'n video van myself maak terwyl ek sit en praat, dan kan jy mos nie maak asof dit jy is nie... Net jammer ek's nou nie iets vir die oog nie, anders het ek.
Maar ek sê maar niks. Net-nou dink mense ek is verwaand. Dit is tog mense en hulle vreemde gedrag waaroor ek die lekkerste kan skryf. Het jy al lank genoeg stilgesit en mense net dopgehou? Geluister wat hulle nou eintlik kwytraak? Mense doen en sê heeltyd net vreemde goed.

Kan iemand byvoorbeeld vir my “Almond Milk” (amandelmelk) verduidelik? Die liewe Vader gee vir ons 8 verskillende soorte melk wat min of meer drinkbaar is, en een of ander mens besluit: “Nee, nee. Hier is ‘n ander plan. Kom ons melk ‘n neut.” Regtig? But why?
Image result for udder cartoon
En van melk gepraat, hoe het dit gebeur dat ons koeie (diere) melk? Vir al wat ons weet was ‘n beesboer eendag besig met ‘n koei se spene, toe stap mevrou boer daar by die skuur in... Dalk was dit die enigste verskoning wat hy op daai oomblik kon uitdink? “Nee, dit is nie soos wat dit lyk nie, my vrou... Ek trek hier aan die spene, want ek wil... uhm... dit drink?
Mens wonder baie oor dinge wat die eerste keer gebeur het. Hoe het ons begin eiers eet? Het daar regtig eenkeer iemand ‘n hen staan en bekyk, en gesê: “Haai... kyk daai ding wat by die hoender se hol uitgekom het... Kom ons eet dit!” Really? 

Wat van die eerste drukkie? Het ‘n ou sy meisie skielik styf vasgehou? Haar eerste reaksie was sekerlik “Wat de fok doen jy, los my uit man!
En hy fluister in haar oor.: “Nee ek wil jou NET vashou. Vertrou my...
Riiiiight...

Dis eintlik jammer dat daar so min "eerstes” oor is om te doen. Dit moes baie opwindende tye gewees het “in die begin” om alles eerste te probeer. Dis seker in ‘n mate ‘n goeie ding. Ons leer mos uit ander se foute. (En party van ons is mos “ander”. Soveel foute.) Deesdae as jy iets wil weet, dan vra jy mos net vir Oom Google (Ander ding – hoe het die ouens wat Google uitgedink het hulle eie vrae geantwoord?). 
As jy 30 jaar terug wou weet hoe om Crème brûlée te maak moes jy in die buurt rondstap en vra:
Hoe maak mens Crème brûlée? Pietertjie? Ta’ Saartjie? Nig Appeloor? David? Kramer? (Dis twee verskillende mense.)” En as niemand geweet het nie, was dit dit. Jy’t nie geweet hoe om Crème brûlée te maak nie… Maar in vandag se tyd loer jy sommer gou op Google: Crème brûlée was uitgedink in 1915 deur Mevrou Brûlée in Frankryk blablabla. Easy peasy.


Image result for creme brulee

Het dit het dalk te maklik geword? Is ons nou al so gekondisioneer soos Pavlov se honde dat ons nie eers self dink of probeer nie? (Vir die wat nie weet nie: Pavlov het honde gekondisioneer dat elke keer wat hy ‘n klokkie gelui het, dan maak hulle ‘n Pavlova – nie dat dit baie suksesvol was nie, want honde het nie duime nie. Regtig gaan lees dit maar op.) 
Ons het nou al so afhanklik geword van die Internet en ons Smartphones dat ons eintlik nie daarsonder kan klaarkom nie. Wat het die mense toentertyd gedoen as hulle kar gaan staan het? ‘n Tiekieboks loop soek? In die Karoo? I don’t know. Ek kan nie ‘n wêreld sonder selfone voorstel nie...

Uitdaging vir jou: “Do something every day that scares you.” Doen iets nuuts, elke dag – iets opwindend. Probeer die “nat verf” oomblikke in die lewe sien. (Jy weet mos: As daar ‘n kennisgewing iewers geplak is wat waarsku dat die verf nat is, dan moet jy mos daaraan gaan voel. Sit jy met ‘n vinger vol verf, maar ten minste kan jy bevestig dat die waarskuwing waar is.) Al het iemand anders iets al vir die eerste keer gedoen, het jy dit al gedoen?
Hoekom nie?
Ons lewens is so kort en vaal – dag in en dag uit dieselfde. Lek jou vinger nat en druk dit in iemand so oor. Wat gaan gebeur? Kom ons kyk! (Sorg net dat jy fiks is of dit probeer met iemand wat stadiger lyk as wat jy is.)
Voor jy iets Google, vra bietjie die mense om jou. Hulle het al daai fout gemaak. Kan ons leer van hulle?

Nou copy en paste nou weer my goete, jou slaksnot-eter...
Share:

Monday 10 September 2018

Ek is sorry, OK. (Ek bitch en moan oor in 'n ry staan met 'n monster)

Wie ek ook al die moer in gemaak het en my verwens het: Sorry. 

OK. Ek weet nie wat ek gedoen het nie, maar ek is blerrie sorry. Blykbaar word ek nou swaar gestraf daarvoor. Kan jy nie maar net volgende keer wens ek kry ‘n pyn onder my lae rug nie?

So doen ek toe mos nou aansoek vir die hernuwing van my bestuurslisensie. Ons is mos nou in die 21ste eeu. Jy boek en reël alles aanlyn en die dag van jou afspraak gaan jy net, stap jy verby die hele ry mense van alle kleure, geure en afkomste en wys jou pampier vir die sekuriteitswag by die deur: Hy sal jou help
.
So gesê, so gedaan. Eerste week in Junie ry ek al die pad Bronkhorstspruit toe en begin soos ‘n Boeing om die gebou draai met my karretjie opsoek na parkering.
Hier is die geheim: Ry 9 keer kloksgewys om die blok, en dan 7 keer antikloksgewys om die blok, en dan besef jy dat dit gaan nie gebeur nie, en klim met jou lae hatchback motortjie skuur-skuur op ‘n pavement. Want de hel met dit.



Dan stap ek die halfmarathon terug na die lisensie kantoor toe. Die ry mense peul by die straat af. Ek nader iemand wat soos ‘n sekuriteitswag lyk, groet vriendelik en wys die pampiere vir haar. Sy kyk vir ‘n sekonde ongeïnteresseerd na die pampiere en beduie iets met die hand. My gebare taal is non-existent so ek aanvaar maar sy bedoel ek moet instap. Soos ek verby die string mense stap wat al van donker af daar in die koue staan, voel ek die haat en “Wat de hel doen jy?” kyke op my val. Sonder om links of regs te kyk stap ek die deure in. Daar is mense. Baie mense. Dit maal en praat en beduie. Uiteindelik sien ek iemand wat agter ‘n tafel sit en half offisieel lyk. Ek groet en wys vir haar my pampiere. Sy beduie dat ek eenkant moet staan en wag dis amper my beurt. Driekwart uur na my afspraak tyd beduie sy ek moet na die ander beampte toe gaan vir my kiekie en vingerafdrukke. Dit neem sekondes dan word daar nog pampiere in my hand gestop en ek moet stap na die betaal kantoor toe. Hier maak dit nie saak of jy ‘n afspraak gehad het of nie. Almal is hier weer gelyk en jy moet saam die gespuis wat nie ‘n afspraak gehad het nie in ‘n ry skuif-skuif wag om te betaal. Nog so ‘n halfuur later. (En drie keer wat die toonbank toegemaak het – blykbaar vir twee tea breaks en ‘n bathroom break. Ek dag by myself as daar minder van die een was sou daar minder van die ander gewees het. Maar ek sê niks. Geduld is mos my middelnaam.)

Uiteindelik het ek my geldjie oorhandig en word my stapel papiere aanmekaar ge-staple en ek kry ‘n kwitansie. Yay! Die beste van alles is, as jy genoeg geld betaal (aanlyn) dan bring hulle jou lisensie vir jou as hy gaar is. Yay! Die plek sien my nie weer vir 5 jaar nie.

Of nie.

Na maand 3 van nog nie ‘n lisensie kry nie, begin ek navraag doen.
“Ag ouens, kan ek nie maar asseblief my lisensie kry nie?”

“Sorry. Hulle moes jou gebel het. Jou aansoek is ‘n Kode 3. Daar is iets fout. Jy moet weer ingaan.”
Ek voel hoe die trane vlak in my oë lê. Wat doen jy? Jy is magteloos!

Maar Riaan, dis mos nie so erg nie. 

Jammer vir jou, maar dit is. Dis baie erg. Ek hou nie van mission nie. Hulle kan ‘n satelliet op ‘n komeet land, maar ek moet terug Bronkhorstspruit toe mission vir ‘n verdomde plastiek kaartjie?

Buiten vir mission hou ek ook nie daarvan om in ‘n queue te staan en wag nie. 
 By die bank beland ek altyd langs iemand se ouma wat hou van praat. O, en natuurlik vir jou foto’s van haar kleinkinders wil wys. Dan moet jy mos ordentlik wees en geduldig sit en kyk hoe sy op haar Nokia 3310 soek na die galery vir ‘n halfuur lank. En as sy eers die galery gekry het dan moet jy elkeen van die 70 foto’s se “back story” hoor. Tannie, jy is dierbaar, en ek is seker jy beteken die wêreld vir jou kleinkinders. Maar ek gee regtig nie om of Tanja se vriendin eenkeer vir Bobby by jou Pick’n Pay gesien het nie. "I don't care!" (Wil ek gil. Maar ek bly nice met die antie want geduld is mos my middelnaam en die queue is nog lank. Ek kan nie nou vyande maak nie.)

By die lisensie kantoor beland ek altyd tussen iemand vir wie die konsepte van seep, water en elke dag so onbekend is soos breinchirurgie. Ander kant sit daar natuurlik altyd so ‘n dik oom in ‘n kortbroek (al is dit hoog winter... wat is fout met jou man!?) met daai dik gebreide wol sokkies opgetrek tot onder die knieg en moan oor daar alweer ‘n tea break agter die counter is. (Wie is so onmenslik om te moan oor tea breaks? Ek sal dit byvoorbeeld nooit doen nie. Have a little heart.)

Maar niks – NIKS – is so erg soos wag in ‘n dokter se spreekkamer nie. Buiten vir die feit dat dit die ideale plek is om ‘n eksotiese Kongolese aambei virus of Chinese bakteriële ingroei nael op te tel, is daar die gewag met die vernederende koppietjies... Jy weet... Daai plastiek koppietjies. Want of jy nou hoofpyn het en of jy nou skurwe vel het, die dokter vra mos altyd vir ‘n urine monster... (Of is dit net ek?) Vir ‘n start is badkamer sake vir my baie privaat, en nou moet jy met jou badkamer sake daar tussen al die mense staan? Ons lyk kompleet soos ‘n klomp mense by ‘n Oktoberfest of ‘n Craft Beer konvensie met ons plastiek glasies geel monsters...



As jy so tussen ander mense is dan beloer jy hulle mos so... Hoe die een met haar kinders praat. Jy sien sommer die kind gaan jare later terapie nodig hê. En daai een wat kliphard op sy selfoon praat want ons almal wil mos hoor wat in sy lewe aangaan. As jy so hard hier tussen ons op jou selfoon gaan praat, sit die ding ten minste op speaker phone dat ons altwee kante van die saak kan hoor.

Die mense en hulle dingetjies... Gee jou genoeg om oor te dink. Nou een ding waaroor ek al BAIE gedink het, en tog te dankbaar is: Van al die mens se liggaamlike funksies is ek BAIE dankbaar dat GAAP die een ding is wat “aansteeklik” is, en nie een van die ander wat dit kon wees nie...

Sug. En soos ‘n mens ouer word, moet jy mos al hoe meer dokter toe gaan. As kind moer jy uit die boom uit; skraap jou dat jou vel soos ‘n lemoenskil aan die boom se bas agterbly, maar jy skud dit af en speel verder. Deesdae staan ek verkeerd op, lê te lank op my een sy of nies te hard dan moet ek ‘n dokter gaan sien oor al die pyne en gerekte spiere... Ons vier mos nie meer verjaarsdae om ons geboortedag te herdenk nie, maar die feit dat ons wonder bo wonder nog steeds lewend is ‘n jaar later.

‘Skies. Ek’s bietjie van die onderwerp af. Waaroor praat ek nou weer? O ja. Ek wil net seker maak ek vra vir almal sorry hier ook oor alles wat ek aan julle gedoen het. Sallieweernie. Hou asseblief op om my te verwens.

As jy more dalk toevallig in Bronkhorstspruit se lisensie kantoor sit langs ‘n ou wat skuins bemoerd lyk... Sorry daaroor ook.


Share: