Wednesday 31 October 2018

Die Spiderman meisie is my hero


Iemand skryf dat hulle Spiderman-klere vir hulle dogtertjie moet koop in die seuntjie afdeling  want die dogtertjie afdeling bestaan net uit pienk frilletjies, strikkies, valletjies en Anna en Elsa. Wat ‘n cool meisie! Watse cool ouers! Hulle laat hulle nie in ‘n boksie sit nie. Well done!

Nou waaroor gaan ek nou weer tekere? Oor blerrie maatskappye wat vir my besluit wat is manlik (en wat is vroulik). Gaan loop daar deur die kosmetiese rakke in Pick n Pay. Daar is 15 rakke van sjampoes, sepe, olies, roompies en ander goete wat ek geen idee het waar om dit aan te smeer nie (want sekerlik verwag hulle nie dat ek dit dáár aansmeer nie)? Is, jy ‘n man, kom jy agter dat slegs sowat 0.012374% van die rak spasie is aan mans produkte gewy. Skeerroom. Deodorant met reuke soos “jagters passie”, “ruiter op pad na sy nooi” of “duiwelsdrek”. Beweeg aan na die sjampoe - basies twee keuses: Vir alle haar tipes of olierige, droë hare met skilfers. En dit ruik soos Omo. Dan het ons die seep. Op die botteltjie is ‘n prentjie van ‘n ou wat berg klim. Of ‘n bergfiets ry. En dan is dit nie net shower gel nie. Nee, nee. Dit is ‘n kombinasie shower-gel-shampoo-car-polish-paintstripper-tile-cleaner in een. En dit ruik soos bergamotolie en kakiebos.

Kan ons dit gou vergelyk met wat in die vroue se afdeling aangaan? Laventel sjampoe met melk van 7 maagdelike Himalaja boerbokke, Oos-Europese maanskyn skoenlapper olie, 39 soorte vitamienes en 29 ander bestanddele wat geheim gehou word deur ‘n 95-jarige Boeddhiste Monnik in ‘n grot in Katmandu. Glo vir “frizzy hair”. Dan is daar 136 ander soorte vir elke moontlik soort hare. Maak dit sommer dubbeld as dit kom by die sepe.


Kyk hier. Ek is ‘n uitgegroeide man. Ek kies self watse klere ek in die oggend aantrek. Ek maak self my veters vas. (Partykeer trek ek per ongeluk my skoene aan voor ek my broek aantrek, maar dis nie nou ter sprake nie.) As ek soos geheime vanilla kakaobotter soene wil ruik, dan sal ek. Julle sal my nie fokken sê nie.

(Voor ek aan beweeg – kan enige iemand vir my verduidelik hoekom daar nog instruksies op sjampoe is? Is jy regtig intelligent genoeg om die hele stort storie alleen aan te pak? Kry eerder vir jou iemand van wie jy nogal baie hou en nooi hulle om saam met jou te stort en jou te wys hoe om sjampoe te gebruik. Moet tog net nie voortplant nie – die “gene pool” is duidelik te vlak soos dit is.)


So gaan dit orals waar mans probeer shop. Skoene? Jou keuses is swart of bruin leerskoene. Jy’t darem ook ‘n keuse of dit ‘n gewone punt moet hê of so ‘n skerp punt asof dit eintlik ‘n boemerang wou wees. Hoe dit nog mode is, is my pot se deksel. Dan is daar ‘n keuse tussen 9,384 verskillende Nike, Adidas of Reebok tekkies, wat almal eintlik presies dieselfde lyk as jy jou kop net effens skuins draai. Vroue het enige variasie skoen waarmee die verbeelding kan opkom. Skoene met oop tone, toe tone, hoë polvye, lae ontwerpers goete en dit is net die inleiding. Nee, ek stel nie belang in oop toon skoene nie. My tone is nie vir publieke konsumpsie bedoel nie. Wat ek soek is daai boots met die fur wat hulle in die winter dra. “Fur!?” Vra jy verbaas. Ja fur (faux fur natuurlik). Weet julle mans hoe lekker warm is fur? Nee. Want fur is mos net bedoel vir vroue klere en eskimo’s. Want manlike mans kry nie koud nie? Mans mag nie gemaklik en snoesig wees nie? ‘Tsek.

Hier en daar is daar ‘n plekkie wat saamstem dat mans beter verdien as dit. Soos Buffelsfontein baard-olie. “Bederf jouself jou rowwe bliksem.” Hulle probeer baie hard om die fyn lyn te loop tussen “manlikheid” en “fancy roompies”. Hulle is snaaks en verskaf goeie en interessante produkte. Ongelukkig sit hulle die pot mis met die laaste 1 sekonde van hulle advertensies: “Buffelsfontein baard-olie, nie vir mannetjies wat sit en piepie en gesigroompies dra nie.” Is julle nou ernstig? Julle verkoop letterlik “gesigroompies” (jou baard is op jou gesig, nie?) maar dis nie vir mans wat gesigroompies opsit nie? Make up your mind. (En wat jy in die badkamer doen is jou saak, niemand anders s’n nie. Ek kan net sê van sit en staan is lê die lekkerste.)


Dit beteken nie as jy goeie higiëne het en mooi na jouself kyk dat dit van jou ‘n moffie, sissie of ‘n vrou maak nie. Gaan mevrou stywer teen jou lê as jy ruik soos trekker binneband en sweet of as jy lekker ruik?

Die dubbel standaarde is vir my baie vreemd en ek wens ek het geweet wie de moer het dit uitgedink. Ek sal graag met die ou ‘n gesprek wil hê. Ek wil net vir hom vra: “Nou wie de donner dink jy is jy?

Luister ouens. Dis die 21ste eeu. Jy mag maar jou sagter kant wys ook, nou en dan. Nie akoestiese-kitaar-vanilla-kers sag nie, maar jou "Ja, my vel voel so goed as wat dit lyk en ruik" kant. Jy kan 'n rowwe man wees en goed lyk en ruik. Dis OK. Jy gaan ook nie teen die tyd wat jy 75 is soos 'n uitgedroogde Shar pei lyk nie. Die ander omies in die ouetehuis gaan groen wees van jaloesie omdat al die tannies van die aftree oord om jou gaan koek (letterlik, nie figuurlik nie. OK, dalk figuurlik ook). En as iemand jou 'n moffie noem, dan verduidelik jy vir hom die donker eeue is al verby en hy kan maar onder die klip uit kruip waar hy bly. ‘n Goedversorgde man wys net dat jy klas en styl het. Dit het boggerôl uit te waai met jou manlikheid. 

En fur boots. Asseblief?

En hou op instruksies op ons sjampoe sit. Mans volg in elk geval nooit instruksies nie.

Riaan Palmer

Share:

Monday 29 October 2018

Die vrou en die skerwe



Sy sit sommer so plat op die grond. Haar hart lê in skerwe so om haar. Haar gesig verraai geen emosie nie. Geen trane. Ek vermoed die trane is klaar. Elke druppel wat kon val, het geval. Daar is waarskynlik al twee diep spore oor haar wange – onsigbaar - wat deur die erosie van trane uitgekerf is. 

Een vir een tel sy ‘n skerf op om haar kosbaarste besitting weer aanmekaar te probeer kry. Soos ‘n tienduisend-stuk legkaart probeer sy die stukke bymekaar pas. Al verskil is, sy het geen prentjie van hoe die eindproduk moet lyk nie. Sy moet die legkaart uit geheue probeer bou. Elke brose skerf het ‘n begeleidende herinnering wat herroep moet word om sy plek te kry; om uiteindelik weer die pynlike fyn hart aanmekaar te las. 

Ek kyk in stilte hoe sy nog ‘n skerf optel. Sy vertel van die skerf. Dit was die geboorte van hulle eerste kind. Sy vertel van die hospitaal. Die dae wat selfone nog nie bestaan het nie, en daar verwoed agter hom aangebel is om hom in die hande te kry. Hy moes kom. Sy eersteling was op pad. Sy is nie seker waar en hoe hulle hom uiteindelik opgespoor het nie, maar hy was daar. Hy was saam met haar trots. Saam was hulle bly oor die nuwe lewe. ‘n Simbool van hulle liefde. Die vlymskerp punt van die skerf sny haar, en sy probeer om nie die pyn te wys nie. 

So tel sy die een na die ander skerf op en vertel elke skerf se verhaal. Sy vertel egter nie net van die skerwe nie, sy vertel ook van die krake. Soos wat elke skerf deel van haar hart is, en ‘n storie het, so het elke kraak ‘n storie. Maar dis nie mooi of lekker stories nie, want dit is die krake wat gelei het tot hierdie punt. ‘n Mooi, gesonde hart kan ‘n stamp oorleef. Of selfs as dit laat val word. Maar ‘n hart vol krake... Sy draai die skerf om en om tussen haar vingers. Ek weet nie of is dit omdat sy nie seker is waar dit pas nie, en of sy die skerf se storie in haar gedagtes herleef nie. Dit is ‘n besondere mooi skerf. Die kleure dans pragtig oor die delikate oppervlakte soos wat die lig elke faset vang terwyl sy dit om en om draai.

Uiteindelik vertel sy die skerf se storie, soos al die ander.
Kyk. Dis my tweede kind. Die verassings kind.” Daar kom ‘n skaduwee oor haar gesig. “Sien - daar waar dit gebreek het kan jy nog sien hoe het ek dit met gom probeer plak het. ‘n Week voor die geboorte het ek hulle die eerste keer saam gesien. Sommer so in die publiek. Ek het ‘dis nie soos wat dit lyk nie’ gom opgesit. Hy het ‘ons is net vriende’ gom aangesmeer. Dit het gehelp dat my hart nie breek nie. Maar ek het eintlik geweet dis net ‘n tydelike oplossing. Dalk moes ek maar toegelaat het dat my hart destyds gebreek het, dan het ek vandag nie met soveel skerwe gesit nie.

Sy bly lank stil voor sy verder praat.
Hoe langer jy ‘n kraak los met net ‘patch en solution’ op, hoe swakker maak dit die res van die hart. ‘n Kraak moet ordentlik herstel word, anders kom hy terug en... byt jou aan die boud.
Sy tel die skerwe op. Baie skerwe sny haar, maar sy stop nie. Ek weet sy moet haar hart weer heel kry. Ek wil haar graag help, maar ek is te bang om met my lomp vingers aan die fyn stukkies te vat. Ek kan haar ook nie probeer lei deur te praat nie, want ek weet nie hoe pas die duisende stukkies aanmekaar nie. Niemand weet nie. Net sy. Ek kyk om my rond. Almal sit en kyk hoe sy die skerwe optel en luister met soveel hartseer en omgee na elke skerf en kraak se storie. Almal het soveel respek en agting vir elke skerf. Elkeen teenwoordig besef hoe kosbaar elke stukkie is.

 Ek voel uit plek uit. Dit voel nie of ek waardig genoeg is om daar te wees nie. In die mees private oomblik waar ‘n vrou haar gebroke hart probeer red, is ek eintlik te betekenisloos, klein en niemand om teenwoordig te wees.
Maar sy laat my toe om daar te wees en ek aanvaar die woordelose toestemming. Ek leer uit die proses. Dalk gaan ek dit self eendag moet doen? Ek hou elke nou en dan my eie hart versigtig in my hande vas. Ek draai dit al in die rondte. Bekyk elke kraak, kepie en die plekke waar stukke al weg gesplinter het. Ek smeer politoer aan en maak seker dat die gom nog hou. Ek het dit ook vir iemand gegee om na te kyk. Gaan my hart ook eendag op die vloer beland in ‘n duisend stukke. Weggegooi asof dit niks beteken nie? Die probleem is, ‘n mens kan nie alleen na ‘n hart kyk nie. Jy moet dit met iemand deel, want ‘n alleen hart word koud en gaan naderhand dood. ‘n Hart wat gedeel word, groei. Ou krake word heel. 

Ek kyk ook na die hart wat aan my gegee, toevertrou, is. Hoeveel van die krakies en kepies het ek veroorsaak? Daar waar dit so hard en effe dof is? Was dit my skuld? Gaan ek eendag hierdie hart wat met soveel oorgawe aan my toevertrou is ook stukkend gooi en iemand anders los om die skerwe op te tel? Ek kyk na die vrou voor my wat met soveel deernis en omgee die skerwe en splinters optel. Hoe kan iemand dit aan iemand anders doen? Jy hanteer ‘n hart wat aan jou gegee is mos met soveel versigtigheid as wat jy kan. En as jy besluit jy wil dit nie meer hê nie, dan gee jy dit terug met soveel teerheid as wat jy kan bemeester. Jy gooi dit nie stukkend op die vloer nie.

Ek wonder vir ‘n oomblik waarmee sy die skerwe plak. Asof sy my gedagtes lees, sê sy “Ek weet nie wat Sy plan is nie, maar ek weet Hy is hier.” Ek verstaan: Haar gom is geloof. Hoop. Die sterkste moontlike gom vir oomblikke soos hierdie. 

Skielik merk ek op dat daar mense buite staan en deur die venster loer. Hulle druk hulle neuse plat teen die ruit en bekyk die vrou wat weerloos op die grond sit met die skerwe om haar. Nou en dan fluister die een iets vir die ander een agter ‘n hand en dan word daar kop geskud. Maar die vrou steur haar nie aan die mense nie. Ek merk nou eers op hoe haar spiere bult elke keer wat sy nog ‘n skerf plak. Ek besef hoe sterk sy.
Hy’t nie die waarheid vir hulle vertel nie. Hy sal nooit nie. Dis mos makliker om vir hulle te vertel dis my skuld.” Sê sy sonder om op te kyk.
Maar hoekom vertel jy nie vir hulle nie? Hulle moet weet. Hulle verdien om te weet wie en wat hy is!” Sê ek, half kwaad. “Dit sal jou vry maak. Dan kan jy mos jou kop omhoog hou.
Nee.” Antwoord sy. “Die gemeente kan nie weet nie. Ek hou in elk geval my kop omhoog want ek weet die waarheid. En julle wat saam met my hier is ken die waarheid. Dis al wat saak maak.

Sy tel nog ‘n splinter versigtig op. Dit los ‘n diep sny aan haar hand.

=========================== ===========================
Ek dra die op aan die verpletterde vroue. Die vroue wat probeer heel maak en heel word. Die vroue wat probeer verstaan “Hoekom?”. Ek het nie woorde wat die seer en stukkendheid gaan reg maak nie. Maar kyk om jou rond. Daar is baie mense wat by jou sal sit terwyl jy die skerwe optel. Ons sal in stilte sit, en jy kan vertel van elke skerf en kraak. As jy wil, kan jy ons vra om ‘n skerf vir jou aan te gee, of om net te help vashou terwyl die gom droog word.
Mans, kyk mooi na jou vrou se hart. Dit is nie ‘n leë blikkie bier wat jy net kan neergooi en aanstap nie. Dit is die mees kosbaarste besitting in die wêreld.

Share:

Sunday 21 October 2018

Spikkels die Bobbejaan

Spikkels die bobbejaan was wyd en syd bekend tussen die boere daar in die Waterberge. Alhoewel Spikkels op Oom Miel Lieplikker se plaas gebly het, het die bure hom gereeld ingeroep om te kom help ploeg as die oes goed is en Fielies se wingerdgriep te swaar trek. 






Spikkels se gawes het egter nie gestop by sy vermoë om ‘n trekker deur die lande te jae asof hy op die stel van Fast & the Furious 19 - Pampoenplaas is nie. Spikkels word ingeroep as die waterpomp gediens moet word – want wie kan nou beter werk met ‘n bobbejaan spênner as ‘n bobbejaan? Of as daar ‘n swart mamba in ‘n kind se kamer is kom Spikkels met sy blokfluit en betower daardie slang met ‘n deuntjie van Sarie Marais of Ta’ Hessie se Wit Perd totdat die slang in ‘n beswyming is dan vat Spikkels hom sommer so met die kaal hande uit en laat hom vry daar in die kloof. (Vra jy vir Spikkels waar hy dit geleer het, verduidelik Spikkels, nee hy’t op National Geographic gesien die Indiese mense maak so met die slange, toe leer hy die blokfluit speel.) 
Spikkels word sommer ook ingeroep as daar ‘n mediese krisis is. Nie dat Spikkels besonder goed was met mediese sake nie - pasiënte het net skielik beter begin voel as hulle hoor Spikkels was op pad, want Spikkels het ‘n voorliefde gehad vir mond-tot-mond-asemhaling (of die pasiënt dit nou nodig gehad het of nie, het nie saak gemaak nie). 
Daar was ook die keer wat Spikkels vir Klein Groot Daan en Will-Lemaria moes trou. Maar dit was ‘n noodgeval omdat Dominee Praaten Zonderuinde se donkie kar op pad na die seremonie toe ‘n slaggat getref het, en hy met twee pap donkies op geëindig het. Spikkels het sy trou-diploma gedoen toe hy ‘n sendeling was in Tietiesbaai, so dit was wettig. (Spikkels het gaan sendingwerk doen in Tietiesbaai oor ‘n misverstand, maar daai is ‘n ander storie vir as die kinders gaan slaap het.)



Baie mense vra my nou waar kom Spikkels vandaan. Sit dan vertel ek vir jou. Spikkels was gebore in ‘n kleinerige trop wat daar om Dron Knaap se lusern plaas gewei het. Spikkels is gebore Johannes Stefanus Laffras Verematras Bo’jaan. Nooit geweet wie sy pa is nie want – ek wil nou nie lelik praat van sy ma nie – maar sy was so los soos ‘n Ford se moere na ‘n kilometer op ‘n sinkplaatpad. Die tonge het maar gewikkel met bespiegelinge oor wie die pa kon wees. Spikkels het die bynaam gekry oor sy sproete, en daar was net een ander bobbejaan in die Waterberge gewees wat sulke sproete gehad het, en dis daai alleenloper mannetjie wat gelyk het of iemand hom in die gesig gegooi het met ‘n drol deur ‘n sif. Maar ‘n trop bobbejaan loop buk mos nie voor ‘n alleenloper mannetjie nie, so sy ma is met daai geheim graf toe. 



Spikkels het sy eerste boek gekry toe hy per ongeluk op Janneman Draat, die trekker bestuurder afgekom het. Janneman was net besig om sy broek op te trek na ‘n “bossie”, toe Spikkels om die bos geloop kom. Gelukkig was Janneman se buik al leeg teen die tyd, anders het hy ‘n skoon broek nodig gehad. Gaan Janneman aan die hol toe die tiener-bobbejaan so skielik voor hom staan. Die broek was nog nie mooi vas nie, en begin toe afval so in die hol. Janneman besluit hy gaan vinniger kan hol sonder ‘n broek, want dis in elk geval net windweerstand en verdwyn oor die koppie, wit boude wat wikkel soos twee hase wat besig is. Dis mos ook op daai oomblik wat Spikkels die verskil tussen ‘n kaalholler en ‘n kaalnaeler uiteindelik verstaan het. Dit hang af van watter kant af jy hom sien...
In die weghollery het Janneman ook sy Huisgenoot daar gelos. Daar in die bos is ‘n Huisgenoot mos tweedoelig – jy lees hom nie net nie. So kry Spikkels sy eerste boek en sy eerste broek. Ook nie kort voor lank nie, en Spikkels het homself leer lees. Die Huisgenoot gebruik gelukkig nie groot woorde nie, en daar is baie prentjies, so hy kan die woorde maklik aflei. ‘n Mooi geboude blonde-kuif man wat ‘n baba vashou beteken “Bobby van Jaarsveld het weer Pa geword”. ‘n Tannie wat hartseer aan ‘n sigaret suig met ‘n prentjie van ‘n ou tannie wat ‘n jong man omhels beteken “Vrou hartseer oor hy saam met Onnie huis opsit”. En so aan. 

Dis ook nie lank nie, en Spikkels ken die Huisgenoot uit sy kop uit en sy honger vir nuwe leesmateriaal laat hom onverskillig raak. Hy staan en wag gereeld agter ‘n bos vir Janneman om te kom lees, net om hom skrik te maak sodat hy sy boek vergeet en hol. So maak Spikkels ‘n hele stapel Huisgenote bymekaar. Ook genoeg broeke vir ‘n week. Maar Janneman raak naderhand so senuweeagtig oor die bobbejaan wat hom so skrik maak, dat hy maar eerder knyp totdat hy by ‘n kleinhuisie kan uitkom. Vir “bossies” en bobbejane had hy nie meer kans gesien nie. Sy pype was nog nooit so skoon nie, maar sy vrou het de bliksem in geraak oordat hy elke aand kaalgat by die huis aangekom het en nie kon verantwoording doen vir sy broek of die nuwe Huisgenoot nie. 
Spikkels moes toe nou maar noodgedwonge sy dae deurbring soos ‘n bos-ninja opsoek na nuwe slagoffers sodat hy nuwe leesmateriaal kon kry. Binne ‘n maand het Spikkels ‘n biblioteek van Huisgenote, Landbou Weekblaaie, Weg tydskrifte en die Waterberg se weeklikse koerant. Hy het ook genoeg klere bymekaar gemaak dat sy grot soos die binnekant van ‘n Mr Price begin lyk het. (Dis nou te sê as Mr Price net onderbroeke, kakie kortbroeke en over-alls verkoop het.) Spikkels het ook sy tydsberekening so bemeester dat hy meeste van die broeke nie hoef te gewas het nadat dit van die slagoffer ontneem is nie.



Uiteindelik het die boere en werkers van die omgewing ‘n vergadering bymekaargeroep oor die bosbollie-bobbejaan wat mense so skrik op die lyf jaag. Dis ook toe nou op die vergadering wat Oom Miel Lieplikker sê hy sal die bobbejaan probleem oplos. 
So gesê, so gedaan. Loop Oom Miel toe die res van die week van bos tot bos en gaan hurk asof daar ‘n “bossie” ter sprake is. Haelgeweer onder die een arm en Landbou Weekblad onder die ander. 

Na so ‘n paar onsuksesvolle dae sit Oom Miel so gehurkend, broek op die knieë en sê vir homself, “Nee, die mense het sweerlik nonsens gepraat. Daar’s nie iets soos ‘n bosbollie-bobbejaan nie!”
Sy woorde was nog nie koud nie, toe staan daar ‘n fris mannetjies-bobbejaan reg voor Oom Miel.
Die bobbejaan sê: “Bôgom.”
Gelukkig is Oom Miel se broek reeds af, want daar is sekere goed wat selfs Omo se “stain remover” nie kan uithaal nie. Toe Oom Miel uiteindelik weer tot sy sinne kom (of eerder beheer oor sy knyp-spiere kry) lig hy die haelgeweer op en mik, vinger op die sneller na die bobbejaan wat steeds voor hom staan. Slagtande so groot soos, wel, baie groot slagtande, wat duidelik sigbaar is. Oom Miel neem die res van die prentjie in. Voor hom, staan ‘n bobbejaan, gevoude arms kaal bolyf en kaal pote, maar ook met ‘n kakie broek aan en met ‘n vel hoed op, kompleet met die Springbok vel om die middel (seker ook die eiendom van een van die vorige slagoffers).
“Bôgom.” Sê Spikkels weer met een wenkbrou wat vraend lig. 
Oom Miel besef toe nou die bobbejaan maak nie bôgom nie, hy sê werklikwaar die woord “bôgom”. Hy kan mos nou nie die bobbejaan skiet nie – die dier lyk dan kompleet soos ‘n harige mens in ‘n kakie broek en hoed. 
Oom Miel laat sak versigtig die haelgeweer en trek sy broek op.
“Voertsek man.” Sê Oom Miel. Hy probeer eintlik kwaai klink, maar kry dit reg dat dit soos ‘n vraag klink.
“Jy sal weer vir my sê voertsek; ek klap jou dat jou nageslag hik!” Antwoord Spikkels vies.
“Vir wat maak jy die mense so skrik man?” Vra Oom Miel en sukkel dat sy mond nie oophang van die verbasing nie.
Spikkels laat sak sy kom in skaamte. “Ek’s jammer Oom... Ek soek net... Ek wil lees.” 
So gaan sit die twee, Spikkels en Oom Miel Lieplikker daar plat in die stof en begin gesels. Spikkels vertel sy storie, en Oom Miel moet verduidelik dat die hele kontrei se mense begin maag probleme ontwikkel oor hulle te bang is om te hurk.

So raak daai twee beste gatgabbas daai dag daar in die Bosveld. Oom Miel laat die tante ‘n kamer regkry vir Spikkels, en Spikkels trek uit die grot uit en by die plaashuis in. Oom Miel betaal toe ook dat Spikkels ‘n regte opvoeding kry deur Unisa, want Huisgenoot kan ook maar net soveel doen vir jou intelligensie. 
Spikkels het aanvanklik politiek begin studeer, maar toe die “b-woord” skielik ook ‘n verbode rassistiese term raak, so sonder waarskuwing, toe besef Spikkels politiek is nie vir hom nie. Daar gaan net moeilikheid van kom. Toe doen hy maar ‘n regsgraad. Vind hy uit hy is ook nie skelm genoeg om ‘n prokureur te wees nie. Toe Spikkels die derde keer sy studierigting wil verander, toe moes Oom Miel maar brieke aandraai, voor Spikkels die plaas onder hom uitstudeer met studie skuld. So het Spikkels maar begin boer en legende geraak daar in die Waterberge.Van bosbollie-bobbejaan tot die eerste man - oftewel - bobbejaan wat jy bel as jy hulp nodig het.

Jy gaan seker nou volgende vra oor die Groot Droogte van ‘93 en Lêma Bieki se moeilike kraam. Nee, daai is ‘n ander dag se storie. 

Riaan Palmer


Share: