Friday 17 January 2020

Die groot honger

Dink julle dit is veilig om ‘n blikkie baked beans wat nog oor is van die “1994 oorlog voorraad” te eet? Ek vra sommer maar net vir ‘n “vriend”...

Ek het nou al baie te sê gehad oor kos en al die vreemde goed wat in ons in ons monde prop, maar dit bly vir my so 'n fassinerende onderwerp.

Vat nou maar iets eenvoudig soos roosterbrood. Een of ander tyd in ons geskiedenis het ‘n ou ‘n sny brood geëet en vir sy vrou gesê: “Die brood is nog nie gaar genoeg nie!” Hy het toe sy werkswinkel ingevaar en ‘n toaster uitgedink sodat hy ‘n sny brood NOG gaarder kan maak. But why? Hy het natuurlik nooit die kuns vervolmaak nie, want die gemiddelde toaster het mos twee verstellings: “Amper glad nie ge-toast nie” of “Houtskool”. Ons kan ‘n spaceship op Mars land, maar ons kan nie die tegnologie vervolmaak om die perfekte snytjie toast te maak nie?

Ek het al baie gewonder oor wie eerste iets probeer eet het. En hoeveel mense is gedooi omdat ge-“took one for the team”.
“Kyk hierdie pragtige rooi paddastoel. Ek wonder hoe proe dit?”
“Proe jy!”
“Nee, proe jy! Kyk ek was verkeerd oor die Brussel sprouts – maar ek is seker hierdie gaan anders wees.”
“Omnomnom. Aaaargh!”
“Oeps. Ek gaan nogal vir Frikkie mis. O ja. Op ‘n onverwante noot: Moenie die rooi paddastoele eet nie.”





En resepte? Don’t even get me started! Hoeveel keer is ‘n spesifieke resep gemaak voordat iemand besluit het dís hoe jy iets maak? Wanneer besluit jy daai metode werk nie ons gaan dit nie weer probeer nie, en wanneer besluit jy jy’t dit doodeenvoudig nie reg gedoen nie?
Soos nou in Desember dink ek mos ek’s vreeslik oulik. Ek gaan ‘n Mozart koek bak vir Kersdag se nagereg. (As jy nie weet nie, ‘n Mozart koek bestaan uit lae meringue van amandel meel en ander omnomnom goed. Dis nogal hoërgraad werk.) Vir die eerste keer in my lewe. En ek het mos selfvertroue en ek kan mos mooi instruksies volg. 24 Desember begin ek sommer vroeg bak. Ek gaan julle die details spaar. Kom ons sê maar net 3 baksels taai, droog en oneetbare meringue lae later het die gaste op die ou einde op Kersdag van daai waterige vrugte-ysies vir poeding gekry.

Ons is ook nooit tevrede met iets soos wat dit is nie. Waarskynlik omdat daar altyd ‘n Magriet is wat vol fiemies is. Probeer nou maar iets eenvoudig doen, soos grondboontjiebotter koop. Jy dink jy gaan daar instap en ‘n bottel grondboontjiebotter vat en loop. Uhm, nee. Nie net moet jy kies tussen Black Cat, No Name of Yum-Yum nie, jy moet ook besluit tussen Smooth, Extra Smooth, Plain, Crunchy, Extra Crunchy, Super Extra Crunchy of Crunchy met Gurkins (ek toets net of jy nog oplet). Ek het die Super Extra Crunchy probeer. Dit was toe nou net ‘n bottel met peanuts in. Dis nogal ‘n uitdaging om daai storie op brood te smeer hoor.



Take aways het ook die afgelope jaar of so heeltemal verander. Ek praat nou van Mr D en Uber Eats en daai ouens. Dis ‘n hele game changer. In die ou dae as jy te lui was om kos te maak, moes jy nog steeds iewers heen ry, kos bestel, wag en weer al die pad terug ry huis toe. Nie meer nie. Nee, nee. Nou druk jy ‘n knoppie op jou foon en die kos verskyn minute later by jou voordeur. Dit kombineer sommer twee van my gunsteling goed. Eet en niks doen nie. Alhoewel daar is nog een hindernis. Ek moet nog actually opstaan en deur toe stap om die kos te gaan kry. As jy nou wil verbeter op Mr D se diens, dan maak jy nou ‘n diens wat die delivery ou jou kos vir jou bring daar waar jy op die bank voor die TV sit!
“En bring sommer vir my iets koud uit die yskas terwyl jy op is!”
Die ryk mense het mos sulke fancy yskaste wat aan die Internets vas is. As jy net 14 biere oor het dan laat weet die yskas vir jou dat jy moet begin paniekerig raak die voorraad is op, en dan laat weet hy sommer vir Pick ‘n Pay hulle moet iets daaromtrent doen.
Ons het darem ver gekom van in die bos gaan stap, iets eetbaar soek, hom met ‘n skerp stok dood kap, hom skil en dan nog hom gaarmaak ook. Ek dink nie ek sou oorleef het in daardie tye nie. Of ek sou soos die chieftain (Grootbaas Geenbeweeg) gewees het, wat halfkaal mense my druiwe gevoer het sonder dat ek iets hoef te doen.

Dis ook interessant hoe kos mense bymekaar bring. As groepe mense bymekaar kom, word daar geëet. Veral Afrikaners. Kan mos nie ander mense sien op ‘n nugter maag nie. Maar daar is niks wat mense so verenig soos koek nie.
“Kom jy? Frikkie verjaar!”
“Ugh. Ek hou nie regtig van Frikkie nie.”
“Daar’s koek!”
“Ek kan seker net gaan hallo sê, ek meen dit is sy verjaardag...”
Maar koek is ook die enigste kos waarin jy kerse kan steek en daarmee kan wegkom. Steek kersies op ‘n koek, en jy’t ‘n partytjie. Steek kersies in sê nou maar ‘n melktert of ‘n koeksister, en mense dink jy’s dronk.
En natuurlik die vreemdste gedrag is as iets sleg proe.
“Omnomnom. Eeew. Ek dink hierdie kaas is af. Proe!”
“Nee dankie.”
“Nee regtig. Dis aaklig! Proe net man!”
“Maar my fok...”



Ek moet seker nie oor kos praat nie, want meeste van ons het die tyd van Januarie so lanklaas iets ordentlik geëet, ons kan nie eers meer onthou hoe proe skaapvleis nie (of dalk is dit juis hoekom ek oor kos praat want ek’s honger?)... Maar wat ek eintlik wou sê: Ek het ‘n lekker resep raakgeloop. Daai klein sakkies tamatiesous wat die take-away plekke altyd vir ons gee wat jy net so in “Die Laai van Alles” moer... Vat een van hulle en maak dit leeg in ‘n koppie. Gooi kookwater by. (As jy spaarsamig was in Desember het jy dalk nog bietjie sout en peper. Moer by.) Meng goed met ‘n teelepel. Tada! Tamatiesop!
Dis ‘n plesier.
Toemaar liewe lesers. Ons is darem al verby die helfte van Januarie. Nog net 3 maande, 17 dae, 43 uur en 12 minute voor payday. Dalk sal ons hiérdie jaar Desember meer verantwoordelik wees?
Of nie.



© Riaan Palmer
Share: