Monday 29 July 2019

Die Hoender-meisie van Nooitgedacht

Daar is duisende kilometers se grondpad in Suid-Afrika waar geen mens ooit ry tensy jy daar moet ry nie. Een so pad is die pad tussen Warmbad en Nooitgedacht. Daar het ‘n paartjie Oom Drik (uitgespreek Dirk, maar gespel Drik, oorlat sy Pa disleksies was) en Ta’ Alie ‘n plaas gehad. (Nie Tant Alie van die liedjie nie; hierdie was ‘n ander antie.) Die twee was heeltemal selfversorgend: Hulle het self al wat ‘n groente is geplant, beeste, skape, varke en hoenders gekweek en selfs katoen gegroei om klere mee te maak (ten minste al die klere wat hulle nie uit leer uit wou maak nie, want mens wil tog nie met ‘n leer onderbroek stap, in die somer in die Bosveld nie). Hulle het nie eers elektrisiteit gevat toe Eskom kom lyne lê nie, wat beteken daar was ook geen draadloos of prentjie-boks nie. Hulle het dus geen rede gehad om ooit op die dorp te kom nie, en soos die jare geloop het, het die hele kontrei skoon vergeet die paartjie bestaan enigsins.



Dis eers toe Oom Abel ‘n jong Brahmaan bul bestel het, wat almal weer onthou het van Oom Drik en Ta’ Alie. Sien, Oom Abel lees in die Landbou weekblad van al die fancy beeste waarmee die Amerikaners vorendag kom met “kruisbestuiwing”. Hy bestel vir hom massiewe Brahmaan bul wat net-net ‘n vrugbare ouderdom bereik het, met die gedagte om die bul tussen sy Jersey koeie los te laat, om sodoende ‘n nuwe, massiewe ras melkkoeie uit te broei. Dié dag word die jong Brahmaan afgelaai met die hele spul Jersey koeie wat nuuskierig naderstaan om te kyk wat gebeur. Die Brahmaan storm uit, vat twee keer grond en is bo-op die eerste Jersey, Bessie, nog voor sy eers daaraan kan dink om haar onskuld te beskerm. Bessie se bene knak dubbeld soos ‘n Russiese gimnas en vir weke daarna skrik sy nog in die middel van die nag wakker, van die bomskok. Die res van die Jerseys bekyk die saak so ‘n sekonde of wat, besef wat kom en so vlug die hele trop in die vier windrigtings, die veld in. Kom ons sê maar net dat geen grensdraad ‘n angsbevange Jersey, wat vlug vir haar onskuld, kan keer nie.

Toe die Brahmaan weer teruggepos is, en die werf weer veilig is vir ‘n onskuldige melkkoei, stuur Oom Abel die volk uit om sy trop Jerseys te gaan bymekaarmaak. Met die gesoekery vir die trop Jerseys eindig die soekgeselskap op Oom Drik en Ta’ Alie se plaas. Hulle kry dié twee se geraamtes in die kombuis. Nie Konstabel Lappies of Dok Koos kon enige leidrade kry waaraan die twee dood is nie, maar Dok is seker hulle was al ‘n goeie 8 jaar dooi. Dit was egter nie die grootste skok vir die kontrei nie. Wat niemand geweet het nie, is dat Oom Drik en Ta’ Alie ‘n dogter die wêreld ingebring het. Groot was die verbasing toe Konstabel Lappies die werf verken en ‘n poedelkaal dogtertjie saam die hoenders in die hoenderhok kry. Sy loop so ewe op haar hurke met haar armpies onder haar kieliebakkies ingevou en skrop in die sand saam die hoenders. “Kô-kô-kô” ook so ewe. Blykbaar het die hoenders die arme kind, wat omtrent ‘n jaar oud moes wees toe haar ouers gesterf het, aangeneem en grootgemaak.



Na ‘n kerkraadsvergadering, ‘n skoolraadsvergadering, ‘n vrouevereniging vergadering en ‘n paar geselsies oor ‘n bier by die naaste kroeg, besluit die kontrei se mense dat Oom Drik en Ta’ Alie se kind deur die Van Verlangens aangeneem sal word. Die Van Verlangens egpaar was net te gretig – of eerder dankbaar - om die kind in hulle groot, leë huis te verwelkom. (Maak nie saak watter posisie Gert van Verlangens probeer het nie, sy vrou Hettie wou nie vat nie en vir hom ‘n eersgeborene in die wêreld bring nie.) Op Dominee se aandrang word die kind met moeite na die naaste natsel toe gesleep en word sy gedoop as Kiepie van Verlangens. (Nie vreeslik oorspronklik nie, maar wat anders sou jy nou ‘n kind wat deur hoenders grootgemaak is noem?)

Van dag een af was dit net opdraande in die Van Verlangens huishouding. Kiepie wou niks weet van klere dra óf binne die huis wees nie – wat nog te praat van op ‘n bed slaap. Hol al hurkend weg vir Hettie van Verlangens, as sy vir haar ‘n rokkie probeer aantrek, en gaan sit buite in die lukwartboom waar sy die res van die dag ontsteld sit en kô-kô-kô. Hettie kry gelukkig ‘n helder oomblik, sny drie vere kussings in flarde en maak die pragtigste sonrok vir Kiepie uit die verbleikte vere. Sy lok vir Kiepie uit die lukwartboom met ‘n handvol mieliepitte en kry die vere-rok oor die kind se kop. Kiepie is buite haarself want sy’t nog nooit méér soos ‘n hoender gevoel as in haar vere-gewaad nie. Uiteindelik kon Gert van Verlangens ook huis toe gaan want daar was nie meer skaamteloosheid op sy werf nie. Gert doen ook sy deel, en hy bou ‘n glorified hoenderhok in die agterplaas – nogal kompleet met moerse bloekom stok waarop Kiepie kan sit en slaap. Gert het ook vinnig geleer dat as Kiepie aan die kekkel gaan in die hoenderhok, dan het sy kammakastig ‘n eier gelê. Dan moet Gert maar inderhaas hardloop met die graaf en die onheil verwyder, vóór Kiepie daaraan dink om die “eier” uit te broei.

Doktors kom van heinde en verre om die hoender uit Kiepie te probeer praat of dokter. Kop dokters, mediese dokters, spesialiste, spiritualiste, sangomas en selfs ‘n veearts of twee. Maar Kiepie se toestand bly onveranderd. Inteendeel, raak Kiepie erger. Sy begin ophou eet: Nie mieliepitte nie, nie kropslaai nie, niks. Sy trek selfs haar neus op vir ‘n handvol tuinslakke (wat Kiepie in die verlede met groot oorgawe uit Hettie se hand gepik het). Naderhand sit die stomme kind dag in en dag uit en wegkwyn op die stok in die glorified hoenderhok. Sy gee net so nou en dan ‘n sagte kô-kô-kô, net om te laat weet sy leef nog indien iemand sou belangstel.

Die Van Verlangens is raadop en laat kom weer vir Dok Koos, want ten minste ken Kiepie teen die tyd al die gryskop omie. Hy luister aandagtig na wat die Van Verlangens paartjie hom vertel, steek sy pyp aan en stap met rustig met bolle rook die glorified hoenderhok in. Hy kô-kô-kô in haar rigting. Sy kô-kô-kô saggies terug. Hy staar diep in Kiepie se oë en sy wys vir hom haar siel. Dan stap Dok Koos koponderstebo weer terug tot by die Van Verlangens.
“Sy ly aan depressie. Sy’s hartseer. Sy mis haar mense...uhm...hoenders. Sy gaan doodgaan van ellende as sy hier bly.” Dok Koos se stem is bewoë want hy weet daar is niks wat enige dokter vir ‘n gebroke hart kan doen nie.
“Se moer!” Sê Hettie van Verlange, rol haar moue op en stap woedend – doelgerig - die glorified hoenderhok in, nog voor die twee mans iets kan sê of doen.
Hettie gaan staan vierkantig voor Kiepie en druk haar wysvinger voor die kind se gesig, waar sy op die stok sit en kô-kô-kô.
“Luister nou mooi vir my! Jy’s nie ‘n verdomde hoender nie!” Hettie is buite haarself van weke se frustrasie wat opgebou het tot by breekpunt. “Klim onmiddellik van daai stok af en gedra jou soos ‘n normale mens!”
“Kô-kô-kô...”
“ON! ME! DE! LIK!” Die are staan skoon bulte op Hettie se gesig soos sy die lettergrepe in hoofletters sê.
“Kô-kô-kô...”
En toe pik Kiepie vir Hettie van Verlangens. Reg teen die voorkop. En weer. En weer. Hettie slaan agteroor neer dat die stof soos ‘n wolk om haar hang. Kiepie is van die stok af, pens-en-pootjies bo-op Hettie se bors en sy pik en sy pik. Dit kos beide uitgegroeide mans om Kiepie met moeite van Hettie af te kry, want as jare se hoender-selfverdediging opleiding inskop, het jy moeilikheid!



Twee dae later is Kiepie weer terug op haar oorlede ouers se plaas saam die ander hoenders op die werf. Hettie van Verlangens het dit net-net oorleef en darem net weggestap met 60 steke, ‘n gebreekte neus en ‘n glasoog. Hettie is ook vir altyd genees van haar begeerte om kinders te hê. Sy’s ook vir altyd genees van KFC.
Gert van Verlangens het egter lief geword vir die kind, en het gereeld vir Kiepie en die ander hoenders sakke vol mieliepitte gevat. Hy’t ook gereeld vir Dok Koos daar gekry, wat darem seker gemaak het dat die kind nog gesond is, en nie Newcastlesiekte opgedoen het nie. Dan sit die twee mans oor ‘n bier en wonder wat van Kiepie gaan word.

Dit was járe terug. Dok Koos is lankal oorlede en Gert van Verlangens nie te lank daarna nie. Niemand is meer seker presies waar op die pad na Nooitgedacht lê Oom Drik en Ta’ Alie se plaas nie. As jy die volk in die kontrei vra oor die plaas en Kiepie dan skud hulle net hulle koppe. Óf hulle waarsku net “Djy moenie daar gaat nie. Darrie hoenôr vrou gat vir djou pêk. Hy maak so kô-kô-kô en as djy weer sien dans jou oog by die grond.”
Maar dis tog net ouvrou stories en bangmaak praatjies. Nè?

Share:

Saturday 20 July 2019

Koning Stefaans van Staden

Ek het van kleins af al ‘n probleem. Nee wag, kom ons stel dit eerder so: Die samelewing het van kleins af ‘n probleem met my. Sien, ek hou nie van harde handearbeid nie. Ek hou nie daarvan om iets op te tel en te dra nie. Ek hou nie van hardloop of selfs vinnig loop nie. Ek hou nie daarvan om iets met my hande te doen nie. Ek kan ure lank lê en kyk hoe iemand anders dit doen – maar net nie verwag dat ek dit self doen nie! Dit laat baie mense vir een of ander rede rooi sien. Veral my Ma wat my al reguit vertel het ek is “lui”. Maar sy’s verkeerd. Daar is ‘n baie eenvoudiger en ooglopende verduideliking vir my kondisie: Ek is ‘n afstammeling van koninklikes, wat beteken dat ek geen beheer het oor die feit dat ek nie iets vir myself wil of kan doen nie. Daar is ‘n gedruis onder die lesers soos wat hulle hulle oë vir my rol. Wel, na maande met my neus in boeke doenig met naslaanwerk kan ek uiteindelik bevestig dat ek reg was: Ek is die nageslag van ‘n koning. Nee, nie die Britse koningshuis nie. Ook nie Frans, Nederlands, Rusies of selfs Hebreeus nie. Ek is die afstammeling van die een en enigste Suid-Afrikaanse Koning van die Boere: Koning Stefaans van Staden. Aan my Ma se kant.

“Watse bog praat jy?” hoor ek julle vra. Dis die reine waarheid. Sien die ouens wat die geskiedenisboeke geskryf het, het baie hard probeer om Koning Stefaans uit te skryf asof hy nooit bestaan het nie. Vir redes. Ons sal later daarby kom. Maar ek het hom gekry. Daar in die nasionale argiewe – in wit en swart. Hulle het gedink niemand gaan hom kry nie. Hulle was verkeerd.


Johannes Stefanus Lafras Verematras van Staden is gebore 28 April 1882. As jy die sommetjies maak sal jy besef hy was moontlik die resultaat van ‘n viering van die einde van die Eerste Boereoorlog. (Maar wat sy ouers in hulle slaapkamer gedoen het is nie jou of my besigheid nie, so hoekom praat ons nou weer daaroor?) Hy was sy Ma se mooiste kind so sy was vreeslik beskermend oor die bloedjie. (Dat hy sy Ma se enigste kind was het niks met die prys van eiers uit te waai nie.) Sy het hom orals gedra waar sy gegaan het, totdat sy hom eenvoudig nie meer opgetel kon kry nie. Dit het toe nou beteken dat Stefaans eers op 15-jarige ouderdom leer loop het. (Ja, sy ma, Ta’ Klippies van Staden, was ‘n besondere sterk boere-antie gewees!) Sy het álles vir hom gedoen. Sy’t hom gevoer, hom aangetrek, hom gebad, sy skoolwerk gedoen en nog alles tussen-in. Al wat ‘n skindertong is het natuurlik bespiegel of sy Stefaans afgevee het waar daar af te vee was ook. Dit laat mens effe groen om die kiewe, so jy dink maar nie te hard oor die soort goed nie.

Daar is nie duidelikheid oor wat van Stefaans se pa, Johannes van Staden, geword het nie. Sommige meen dat hy sy goed gevat en gewaai het oor sy vrou en kind se vreemde gedrag. Ander merk dat Johannes min of meer presies dieselfde dag verdwyn het as wat die Royal hotel se kelnerin, Dubbel-D-Letta, verdwyn het. Wat ook al die rede was, Stefaans het nie ‘n vaderfiguur gehad nie. Dit was dus ‘n groot skok vir Stefaans se konstitusie toe sy ma in ‘n fratsongeluk dood is. (Motorkarre was mos nou maar ‘n nuwe verskynsel en Ta’ Klippies het ook nie geweet van kyk links en regs en weer links voor jy oor die straat stap nie. Stefaans se laaste herinnering van sy ma was die twee rooi strepe en een bruin streep wat sy in Kerkstraat gelos het. ‘n Sielkundige sal mos vir jou verduidelik dat dit waar van Stefaans se gedrag sy ontstaan gekry het.)

So is Stefaans van Staden alleen gelos sonder enige bemarkbare vaardighede. Of selfs basiese vaardighede. Alhoewel Stefaans geen boekekennis gehad het nie, was hy darem innoverend. ‘n Mens wie se hande nie van werk ken nie het maar altyd plannetjies om kos op die tafel te sit. Dis toe wat Stefaans by die politiek betrokke raak, want ‘n politikus se werk is mos om vir ander mense te sê wat om te doen. Stefaans het die regte mense botter om die mond gesmeer en kort voor lank was hy die gewildste jong man wat Pretoria nog gesien het. (Die feit dat hy sag op die oog was het ook baie gehelp. Dáái gene het ek nou nie geërf nie.) Noem sy naam voor ‘n jong dame en sy bloos rooi soos ‘n tamatie en al wat ‘n Pa met ‘n dogter is doen gereeld navraag of Stefaans nog hubaar is. Dit is ook dieselfde tyd wat die Tweede Boereoorlog tot ‘n einde gekom het. Alhoewel die Boere die Engelse oorwinning ter wille van vrede aanvaar het, kon hulle nooit aanvaar dat hulle die onderdane van die Britse koning, Edward VII, was nie. In die geheim is daar vergaderings gehou, melktert geëet en mampoer gedrink totdat daar besluit is dat daar ‘n Boere koning moet wees. (Die feit dat ‘mampoer’ in daai sin verskyn verduidelik ook die besluit wat gemaak is.) ‘n Maand en ‘n paar kerkraadsvergaderings later gebeur dit toe dat Stefaans van Staden deur die NG Moedergemeente se dominee gekroon word as koning Stefaans.


 Die Erasmus familie skenk ‘n paleis (jy kan dié grys en wit gebou vandag nog sien as jy die Ooste van Pretoria inry) en Koning Stefaans trek baie gewillig in. Aanvanklik het dinge redelik goed gegaan. Koning Stefaans word hand en voet bedien deur onderdane en die Boere loop trots en vertel hulle het hulle eie koning – die Engelse se holle. Maar dis nie lank nie voor die mense agterkom Koning Stefaans se kop is nie lekker 2-3 nie. Hy moet orals in die paleis rondgedra word, en daar word ‘n groot klong aangestel om die koning te abba. As Koning Stefaans moet reis, dan ry hy nie perd soos ander mense nie want “die goed” is glo vuil en die galoppeerdery is glo net te veel vir die “Koninklike Juwele” wat volgens oorlewering baie sensitief was. (En, nee, ek praat nie van sy kroon nie.) Die antwoord was natuurlik om vir die Koning ‘n motorkar te kry, maar na ‘n histeriese geskreeuery oor sy ma se drie strepe, was dit duidelik hy sou ook nie sy voete in ‘n motorkar sit nie. Koning Stefaans moes toe nou maar noodgedwonge deur 4 sterk jong mans rondgedra word na waar hy wou wees. (Die versoek dat die 4 sterk jong mans net in lende doeke moes wees, het die wenkbroue laat lig, maar is afgelag as maar net nog een van Koning Stefaans se eksentrisiteite.)

Koning Stefaans se daaglikse dieet het basies bestaan uit gebak en die boere meisies van regoor die land het baie gewillig beskuit, soetkoekies, koeksisters, Hertzoggies, pannekoek en al wat ‘n ander soet ding is paleis toe gestuur. (Ek wil net noem dat Hertzoggies eers Stefaansies genoem is, maar toe Generaal Hertzog vir Stefaans uit die geskiedenis help skryf het, het hy die koekies sommer na homself vernoem.) Almal het gehoop dat húlle gebak die koning se hart sou steel en hy uit liefde vir soet goed vrou vat. Hulle sê mos die pad na ‘n man se hart is deur sy maag. “Hulle” is verkeerd. Een na die ander jong gespierde staljong is by die paleis aangestel. Nou as jy bietjie sukkel om tussen die lyne te lees: Koning Stefaans het mos nie perd gery nie, so daar was nie perde of stalle by die paleis nie. Dit was vir vele staljongens ook net so ‘n verrassing, en keer op keer is daar in die middel van die nag uit die paleis gevlug – kaalgat en spierwit geskrik - as ‘n nuwe staljong uitvind hoekom hulle eintlik daar was. Die mense het begin praat, so dat daar naderhand weer ‘n kerkraadsvergadering oor Koning Stefaans gehou is. Die antwoord was eenvoudig. Óf Koning Stefaans moes ‘n Koningin aanskaf, óf hy word onttroon.

Stefaans, mal soos wat hy was, het besef dat hy nie die gans wat die goue eiers lê moet misbruik nie, en kondig toe aan dat hy opsoek is na ‘n vrou. Maar om vir tyd te speel, dink hy toe ‘n plan uit: Hy verduidelik hy sal die badwater van al wat ‘n maagdelike dame is drink, en die water van die dame wat die lekkerste proe sal hy mee trou. Nou moet julle ook ingedagte hou dat dit kort na oorlogstyd was, so maagdelike meisies was daar nie veel om van te kies nie. Tog het die dames wat te lelik, vet of preuts was vir sulke dinge hulle badwater begin paleis toe stuur. Party het in parfuum gebad wat die water te bitter gemaak het. Ander het weer in bokmelk gebad, maar teen die tyd wat dit by die paleis kom was dit al iewers tussen jogurt en kaas en dus nie meer heeltemal ‘n drinkbare vloeistof nie. Die tyd het aangeloop, en soos die water gekom en gegaan het, het die staljongens, hofknape, skildknape en kamer knegte ook gekom en gegaan; Koning Stefaans steeds vrou- en kinderloos.

Die dominee se senuwees kon dit nie meer hou nie en hy het persoonlik Potchefstroom toe gegaan om ‘n pragtige jong meisie tussen die boere gaan soek. Hy’t ook met ‘n bietjie finansiële aanmoediging en politiek die pragtigste jong meisie daar gekry. Met pragtige jong meisie bedoel ek natuurlik een met kort hare, gemaklike skoene, plat bo soos ‘n strykplank en wat eerder mansbroeke gedra het. Sy was lief vir perd ry, jag en was gereeld per ongeluk aangespreek as “jong man”. Soos die geluk dit wou hê was haar naam Lukas – want die ou mense het mos Oupa se naam gegee vir die eersgebore, ongeag of jy nou mannetjie of wyfie was. Lukas is aangery Pretoria toe met ‘n enkele tassie onder die arm. Koning Stefaans was in ‘n hoek en reël toe nou maar noodgedwonge die troue. Nogal ‘n hele gedoente. Gaste en gebak van regoor die wêreld. Meer blomme as wat jy ooit by die Bloemfonteinse blommeskou sal sien. En dosyne jong mans wat vir een of ander rede in wit onderbroekies staan en die gaste koud waai met palmtakke.

Na die groot onthaal was dit tyd vir wittebrood hou. Koning Stefaans se gemoed was swart. Koningin Lukas het haar bes probeer om die regte rol te speel. Sy’t die wit spookasem-pofrok uitgetrek en op die bed gaan sit. Koning Stefaans het van die jong mans in die onderbroekies na die kamer toe laat kom.
“Dis warm!” Verduidelik Koning Stefaans toe aan sy bruid. “Hulle moet ons waai.”
“Dis hoog winter!” Het Koningin Lukas probeer keer.
“Jy verstaan nie.” Het Koning Stefaans gesug.
“Ek verstaan presies.” Het Koningin Lukas geantwoord.
Haar hart was ook seer. Iewers in Potchefstroom was ‘n plaasmeisie wat se hart ook seer was. “Ons leef in ‘n wêreld waar niemand verstaan nie. Maar ek verstaan en jy verstaan.”
Koning Stefaans het daardie aand sy plig as eggenoot nagekom. Ook maar net omdat die man wat daai palmtak gewaai het baie gespierd was. Die volgende dag was Koning Stefaans van Staden weg. Die palmtak-waaier ook. Die Kerkraad het vergadering gehou en besluit dat ‘n koningshuis ‘n Engelse konsep is, en nie gaan werk vir die Afrikaners nie. Koningin Lukas is terug Potchefstroom toe gestuur – net as Lukas. Lukas Breedt. Nege maande later is my Ouma Isabel gebore. Honderd jaar later moet ek vir mense probeer verduidelik hoekom ek nie harde handearbeid wil of kan doen nie. Dis dan in my blou bloed. Gelukkig hoef ek nie my voorliefde vir gebak te verduidelik nie. Daar’s darem niks so lekker soos ‘n vars Stefaansie nie – of soos julle dit sal noem: ‘n Hertzoggie.

Riaan Palmer

Share: