Monday 16 September 2019

Rugby vir idiote - Deel 1

As jy soos ek is, dan is jy bewus van Rugby en dis hoe ver jou kennis en belangstelling strek. Dit het geen invloed op jou lewe nie, en jy lei ‘n gelukkig lewe ondanks dié feit. 17 of 12 of 49 mans (of hoeveel ook al in ‘n span is) wat heen en weer hardloop op ‘n baan agter ‘n bal aan, het geen impak op jou lewe nie.
Die probleem is dat elke nou en dan besluit die hele wêreld om op een of ander land neer te daal en teen mekaar rugby te speel. Hulle noem dit glo die rugbywêreldbeker. Skielik gaan staan die hele samelewing botstil en al wat ons dag in en dag uit hoor is “Rugby woohoo! Go Bokke!” en mense soos ek en jy staan in die skadu’s op die kantlyn as uitgeworpenes van die samelewing want ons is totaal clueless. 





Wel, nie hierdie jaar nie. Ek het vir mense soos myself en jy wat clueless is ‘n cheat sheet geskryf sodat ons kan deel wees van die rugbywêreldbeker 2019 vieringe. Hierdie is die resultaat van maande se navorsing. (OK fine, met “maande se navorsing” bedoel ek als wat ek kan onthou van daai een keer wat ek probeer rugby speel het op skool 25 jaar terug. Ek het aanvanklik die rugby reëlboek oopgeslaan, maar dit was ‘n 212 bladsy dokument en, wel fok dit, ek het nie daai soort tyd nie.)



Die basics:
-        Daar is baie rugbyspanne om van te kies. Jy moet één kies. Dit maak glad nie saak waarop jy jou keuse baseer nie. Dit kan wees omdat die materiaal waarvan hulle hempies gemaak is gemaklik lyk, of omdat hulle span naam jou met heimwee laat dink aan jou gunsteling Spur gereg. Of die span met die aantreklikste spelers. ‘n Gewilde rede om ‘n span te kies, is gebaseer op waar jy bly. Byvoorbeeld as jy in Bloemfonfokkentein bly, dan kies jy Vrystaat. Want: Redes. Jy moet egter mooi dink oor jou keuses want jy gaan sekere opofferings moet maak. Byvoorbeeld as jy in Pretoria bly en besluit om vir die Blou Bulle te gil, dan moet jy bereid wees om Klippies en Coke te drink, ‘n mynhoed met horings te dra en ‘n paar reuse blou – uhm – testikels aan jou kar te hang. Is jy bereid om ‘n paar blou pere aan jou Mercedes C-klas te hang? Nee? Dan is Blou Bulle dalk nie vir jou nie.
Tydens die wêreldbeker moet jy vir Suid-Afrika skree anders is jy ‘n verraaier, kommunis en terroris.
-          ‘n Rugbyspan bestaan uit 15 spelers. Maar dis net die hoeveelheid wat gewoonlik op die veld is. Daar is nog heelwat ouens wat langs die veld sit en hoop een van hulle spanmaats breek ‘n been sodat hulle ook ‘n beurt kan kry om op die veld te draf.
-          ‘n Rugbyspeler se toerusting bestaan uit ‘n rugbytrui, ‘n PT broek, ‘n paar tokse en kouse. Ons weet nie of dra hulle onderbroeke nie, en ons stel ook nie belang nie.
Hoekom hulle dit ‘n rugbytrui noem weet g’n mens nie. ‘n Trui is mos eintlik ‘n onooglike lelike ding wat van wol gemaak is wat jou ouma vir jou gebrei het. Dis tog nie wat rugbyspelers aan het nie? Moenie dieselfde fout as ek maak en dit per ongeluk ‘n cardigan noem nie. Jy kry ‘kyke’.
Hulle het ook mouth guards om hulle tande te beskerm. Behalwe die Kaapse spelers, want... redes.
Party van die spelers (die slotte – ons sal later weer by hulle kom) het sulke hoede-goeters op hulle koppe of verbande om hulle ore. Dis om hulle ore te beskerm want ‘n skrum fok jou ore op. (Ek het op skool mos vir ‘n week rugby probeer speel. Ek is gekies as slot. Voor die tyd het ek ‘n perfekte paar ore gehad. ‘n Week later het ek sulke verlepte nat piesangskil ore gehad.)
-          Die doel van die hele spel is om die bal (die ovaal wit voorwerp so groot soos... uhm... ‘n rugbybal?) in die hande te kry en daarmee punte aan te teken. 



Posisies:
Net om jou geheue te verfris, daar is mos 15 spelers op die veld. Elke speler op die veld het ‘n “posisie”. Ek weet dit klink verspot want as jy al ooit ‘n rugby gesien het, dan weet jy dis totale chaos en die ouens hardloop net waar en wanneer hulle wil. Blykbaar is dit verkeerd.
Die span word in 2 gedeel: Voorspelers en agterspelers. Jy gaan my nou nie glo nie, maar die voorspelers is betrokke vóór in die gespelery en die agterspelers is daar ágter rond betrokke.
Die voorspelers se werk is om die bal in die hande te kry en dit vir die agterspelers te gee sodat hulle dit weer kan verloor deur te skop of geduik te word. So nou en dan kry ‘n agterspeler dit per ongeluk reg om punte aan te teken, en dan kry die agterspelers al die lof, alhoewel die voorspelers al die werk gedoen het. Baie soos wat by ons almal se werk gebeur. Jy doen al die werk en management vat die lof. Duidelik is agterspelers ‘n klomp tossers.

Die voorspelers bestaan uit die volgende spelers (gelys volgens die nommer op hulle trui:
1.       Loskopstut: Die stutte is die... wag... ek wil nou nie sê “vetties” nie, maar hulle is definitief nie maer nie. Hulle staan voor in die skrum, so hoe groter en sterker hulle is, hoe beter. Ek het tot nou-net altyd gedink dis “los-skop-stut”, maar so leer ek ook dat dit hulle koppe wat los is, en nie hulle skoppe nie.
2.       Haker: Die haker staan ook voor in die skrum en word omhels deur die stutte. In die ou tyd moes die haker die bal in die skrum gehaak het, maar deesdae werk dit anders. So ek weet nie wat is hulle werk nou eintlik nie. O-ja! Hulle moet die bal ingooi by die lynstaan. En as jy in ag neem dat in Engels hulle ‘n “hooker” genoem word, beteken seker ook dat hulle die sletterige een in die span is? Dalk maak die haker ogies vir die ander span om hulle aandag af te trek as die skrum sak?
3.       Vaskopstut: Dieselfde as die loskopstut, behalwe sy kop is vas.
4.       Linkerslot: Hulle sak ook in die skrum en word in hulle ‘bikini-areas’ gegryp deur die ouens wat agter hulle sak in die skrum. (Dis nogal ‘n verrassing as jy vir die eerste keer as jong seun die skrum sak. So is my onskuld ook daarmee heen.) Hulle moet ook die bal vang in lynstane (of ten minste probeer. Ek het probeer! Get off my back!) so hulle is gewoonlik lank. Die linkerslot staan links in die skrum.
5.       Regterslot: Presies dieselfde as die linkerslot, maar net presies die teenoorgestelde want hy staan regs in die skrum.
6.       Linkerflank: Dis onduidelik presies wat die vent se werk is, want hy moet glo “veelsydig” wees. Hy sak ook in die skrum en is die lummel wat die arme slot aan sy ‘privaat’ gryp. Die linkerflank moet ook eerste by die losskrum wees want hy moet die bal probeer kry. (Klaarblyklik terwyl die regterflank staan en niks doen nie?) Hy moet ook probeer om te verhoed dat die opposisie se baldraer die bal aan sy aankomende voorspelers oorhandig. Ek weet nie wat dit beteken nie – dis net so ge-copy en paste uit die reëlboek.
7.       Regterflank: Mens sou dink hy doen presies dieselfde as die linkerflank, maar net regs. Ek kry egter geen duidelikheid oor wat hy nou eintlik moet doen nie. Dalk staan en mooi lyk? Ek weet nie.
8.       Agsteman: Nie ‘n baie oorspronklike naam vir die agtste speler nie, is dit? Hoekom nie sommer die hele span so noem nie? Eersteman, tweedeman, ens...!? Hy sak ook in die skrum. Ek weet nie wat anders doen hy nou eintlik nie. Hy is baie keer die kaptein en ander kere nie, so hy staan seker en order die ander ouens rond?
9.       Skrumskakel: Dis altyd die kort gat mannetjie op die rugbybaan. Gevolglik het hy ook kortmannetjie-sindroom wat beteken hy’s vreeslik aggro. Die Jack Russel van die span. Siestog. Hy gooi die bal by die skrum in en hardloop dan na die agterkant van die skrum om weer die bal te kry. Pointless much?
10.   Losskakel: Hy is glo die klaskaptein van die agterspelers. Baie bossy. En hy hou van skop. Of is goeie skoppers. Of so iets? Basies sou hulle eerder wou sokker speel.
12.   Binnesenter: Hy staan omtrent in die senter mister Venter. Hy moet die bal vang as die losskakel nie die bal vinnig genoeg wegskop kry in sy droom om ‘n sokkerspeler te wees nie.
13.   Buitesenter: Soos ‘n binnesenter maar net aan die buitekant. Hy’s gewoonlik die een wat sleg ruik, dis hoekom hy moet buite staan. Hy’t nie regtig ‘n spesifieke werk nie en is basies maar net daar om die span vol te maak.
11.   Linkervleuel: Die vleuels is gewoonlik die vinnigste ouens op die veld. Hulle is ook maar net vinnig en rats omdat hulle vrek bang is. Hulle is delikate blommetjies wat gaan kneus as hulle geduik moet word. Hulle is gewoonlik die ouens wat doellyn toe hardloop om die drie te gaan druk, so hulle is die grootste varknekke in die span. Die hele rugbyspan werk hulle gatte af om die bal by die vleuel te kry en om die delikate dingetjie te beskerm, en as hy eventually die drie druk is dit die vleuel wat al die drukkies en soentjies en gelukwensing kry.
Die linkervleuel staan links.
14.   Regtervleuel: Die regtervleuel staan – dit gaan nou ‘n totale verrassing wees: Regs. Verderis dit maar dieselfde storie net ‘n ander naam.
15.   Heelagter: Jy weet seker wat ek nou gaan sê, en jy’s dood reg: Die heel agter staan heel agter. Hulle is so ver van die spel af dat hulle gewoonlik rustig agter die doellyn onder die pale kan staan en ‘n bier drink. So nou en dan kom die bal in hulle rigting dan moet hulle goed kan vang. Gewoonlik skop hulle net die bal weer terug na die ander kant van die baan toe want hulle is te lui om te hardloop, of bang hulle bier mors.



Nou ja, dit is die basiese inligting oor rugby. Volgende keer sal ek die reëls verduidelik, asook tegniese terme wat ek nou reeds gebruik het soos “skrum” en “skop”. Vir huiswerk kan julle bietjie gaan kyk wie speel watter posisie in ons 2019 Bok-span. Moenie uitgevang word soos ek wat gedink het Frik du Preez speel nog flank nie.
Share:

Friday 13 September 2019

Die Dood en die tweede kans



Ek het haar doodgemaak. Jy hoef nie te wonder nie. Daar is geen raaisel, misterie of onoplosbare komplot nie. Ek het die pistool teen haar kop gedruk en die sneller getrek. Natuurlik nie sonder die nodige drama, trane en pleite nie. Daar was bloed orals. Soos ‘n rooi storm na ‘n droë winter.

Dit het natuurlik begin by my eie dood. Ek het apaties in ‘n plas van my eie bloed gesit en wag. My wange was nat van die trane, maar ek het nie meer gehuil nie. Ek het genoeg gehuil voor dit, maar die trane was uiteindelik vir altyd klaar. Ek het ook nie lank gewag nie. Hy’t stadig, statig die vertrek ingestap, presies soos ek hom in my geestesoog gesien het. ‘n Entiteit in swart geklee met die mantel oor sy kop sodat jy nie sy gesig kan sien nie. Net ‘n oneindige swart. Die Dood. Dalk lyk hy soos wat jy verwag hy moet lyk? Hy lyk dalk anders vir elkeen?
Hy’t langs my kom sit, sommer so plat op die grond.
Hoekom?” Sy stem ingetoë, tog met soveel gesag dat die berge vir seker vir hom sal luister as hy praat.
Hoekom nie? Ek was half ongeduldig, half beskuldigend. Ek het niemand ‘n verduideliking geskuld nie.
Hierdie oomblik was die somtotaal van jare se foute, swakheid en moedswilligheid.

Ek was ‘n alkoholis. As ek nou terugkyk kan ek haar nie blameer dat sy gevra het vir ‘n egskeiding nie. Sy was die liefde van my lewe. En ek was haar ewige liefde. “Ewig”. Elke glas whiskey het haar liefde vir my bietjie-bietjie weggespoel. Na genoeg soebat, smeek, dreig en bottels whiskey word “ewig” ook maar net so lank as wat een vrou nie meer kan nie.
Sarah.
Na die egskeiding het ek nie ophou drink nie. Ses maande terug het Stuart, wat die wêreld se geduld gehad het, ook genoeg gehad en my in die pad gesteek. Ek het mure om my gebou en met woede en verwyte my laaste vriende en selfs familie vervreem. Laas maand het die bank ook genoeg gehad. ‘n Whiskey-asem betaal nie die huispaaiement nie. Hulle het laat weet dat hulle die huis gaan terugvat.
My lewe was in puin en al wie die skuld kon dra was ek. Hierdie was die bodem van ‘n put waaruit niemand ooit sal kan klim nie. Die einde.
Dit is natuurlik net reg dat die whiskey wat my tot by hierdie punt gebring het, my ook die nodige moed gegee het om die pistool teen my kop te sit en die sneller te trek. Natuurlik eers een laaste oproep na haar toe, om jammer te sê vir alles. Sy’t soos soveel keer tevore gesê ek’s dronk, ek moet ophou om haar te bel en die foon doodgedruk. Dit het die finale besluit seker makliker gemaak.

En hier het ek gesit, hopeloos en alleen. Maar ek was nie alleen nie.
Nadat ek die sneller getrek het was dit dalk ‘n ewigheid, dalk ‘n breukdeel van ‘n millisekonde. Toe ek opkyk, was hy daar.
 'n Normale mens sou histeries of bang gewees het, maar ek was nie meer normaal nie. Ek was nie verbaas dat hy daar was nie. Nee, ek het hom verwag. Verwelkom.
Hoekom?
‘Hoekom nie’ is wat ek wou antwoord. Maar dit was ‘n verligting om hoekoms uiteindelik hardop te sê. “Jy weet sekerlik al die redes. Drank. My swakheid. My foute. Die seer. Ek kan nie meer daarmee saamleef nie. Ek kan nie sonder háár leef nie!”
Ai, Michael...” Die manier waarop hy dit gesê het, het my weer soos 'n kind laat voel, asof ek iets gedoen het en daaroor gelieg het. Maar ek het nie nou gelieg nie. Die bewys was in die gemors wat ek op daardie oomblik was.
“Ek is jammer,” het ek gesê. Om watter rede ook al, het ek gevoel dat ek verskoning moet vra.
Jy’t ‘n leeftyd spandeer om jammer te wees.” Het hy geantwoord. “Jammer vir jouself. Maar jammer beteken niks tensy jy nie jouself vergewe nie.
 Die woorde het in my ore weerklink. Ek het geweet wat hy bedoel het. Hy wou hê dat ek moes sien dat my enigste vyand ekself was.
Jammer.
Jammer dat Joshua verdrink het. Jammer dat Joshua verdrink het toe ek hom moes oppas.
Ek was veertien. Hy was ses.
Ek probeer nou al 25 jaar myself verdrink.

 “Gee jy al die siele wat jy kom haal sielkundige raad?” Ek het probeer om hom in die oë te kyk, maar daar was net die eindelose swart waar sy gesig moes wees.
 Die Dood het ‘n verleë, kort laggie gegee, “Nee. Dit is meestal net vir diegene soos jý wat dit in eie hande neem om die lot te bepaal. Dit hang egter nie van jou af nie.
 “So, jy gee raad aan selfmoord slagoffers. Dis nou bietjie laat, dink jy nie so nie?"
 Hy’t diep gesug, asof hy dit al duisende kere vantevore verduidelik het. Hy het sekerlik. “Daar moet ‘n balans wees in die heelal. Goed en sleg. Die lewe. Die dood. Redes. ‘n Ewewig. Ek wil net vir jou 'n ander perspektief gee.
  “Watter perspektief sou dit wees? Die enigste werklikheid wat ek sien, is dat ek 'n aaklige verskoning van 'n mens is. Hoekom moet ek bang wees vir die dood? Dit kan nie moeiliker wees as die lewe nie. Dit is al wat daar vir my oor is.”
 “Ek wys jou net hoe die lewe kán wees.
 “Gmf. Waarvoor moet ek lewe?” My stem was hard, kwaad, maar dit het geen effek op die donker figuur voor my gehad nie.
Hy’t met verrassende geduld bly praat. “Wat as ek jou vertel dat jy dit deur hierdie depressie sou maak? Dat jy uiteindelik deur hulp en terapie jouself kon vergewe vir jou broer se dood. Wat as ek jou vertel dat omdat jy hierdie depressie sal oorkom, jy weer 'n werk sal kry, en dat jy baie suksesvol sou wees in die pos? Uiteindelik, sou jou vriende, familie en ook jou eks gesien het dat jy nugter is en jou lewe omgekeer het. Hulle sou trots wees op jou. Jy sal nie na 'n bottel whiskey kyk sonder om siek te wees nie. Sarah sal weer met jou begin praat en julle liefde sal weer vlam vat. Uiteindelik sal julle weer trou en twee pragtige kinders die wêreld inbring. Wat as ek jou sou vertel dat jy die beste deel van jou lewe sou misloop deur te kies om op te gee?
Die trane was weer terug. Trane van blydskap. Hoop. Sarah. Kinders. “Regtig? Sou ek regtig weer geluk geken het? Hoekom vertel jy my dit alles?”
Wil jy daai lewe ken?” Die Dood se stem was vol belofte van hoop.
“Ek wil lewe.”

Toe ek wakker word was haar gesig die eerste ding wat ek sien. Sarah. Sy het verduidelik dat die koeël wonderbaarlik geen permanente skade aan my brein verrig het nie. Ek gaan leef.
Ek het geleef.
Ek het na terapie en behandeling weer die wêreld aangedurf. Ek het my broer se dood verwerk en myself vergewe.
Sarah het my toegelaat om in haar spaarkamer te bly totdat ek weer op my voete was. Ek het die lewe aangedurf met ongekende energie en ‘n wil om te lewe. Ek het uiteindelik werk gekry en ‘n totale sukses daarvan gemaak. Na 2 jaar sonder ‘n druppel drank oor my lippe het Sarah ingestem om weer met my te trou. Binne ‘n jaar was sy verwagtend en ‘n tweeling het my oneindige vreugde gebring. Die lewe was ‘n lied.
Vir ‘n oomblik.

Sarah was na die tweeling se geboorte...anders. Ek het dadelik die simptome herken. Die onttrekking. Die konstante hartseer. Verlies aan eetlus en belangstelling. Sy het die tweeling soveel vermy as wat sy kon.
Depressie.
Ek het Sarah gedwing om my sielkundige te gaan sien en die dokter het bevestig wat ek vermoed het. Postnatale depressie. Sy het vir Sarah medikasie voorgeskryf en afsprake twee keer ‘n week gereël.

Maar dit was te laat.
Dit was net na twee die oggend en die tweeling was aan die huil. Sarah het opgestaan om hulle melk te gee. Ek het vinnig weer aan die slaap geraak toe die tweeling stil word. Sowat ‘n uur later het ek weer wakker geskrik van...ek weet nie. Maar iets was fout. Sarah was nog nie terug in die bed nie. Ek het haastig opgestaan en na die donker babakamer gestrompel. Sarah het emosieloos in ‘n bondeltjie voor die kot gesit met haar knieë opgetrek tot onder haar ken. ‘n Kussing in haar hande vasgeklem.
“Sarah?” ‘n Koue angs het my omsingel, deurdring en in my beendere gekruip. Ek het die lig aangesit en met ‘n doodsvrees tot by die kot geloop. Die tweeling het doodstil gelê.
Dood. Stil.
Die trane het vrylik oor my wange geloop terwyl ek my hand uitgesteek het en oor die yskoue liggaampies gevryf het.
“Nee...Sarah...NEE!” My bene het onder my ingegee en ek het inmekaargesak. Totaal lam van die skok.
“Hulle wou nie ophou huil nie.” Het Sarah in ‘n saaklike stem gesê en die kussing – die moordwapen – teen haar vasgedruk.

My hele lyf het geruk van die snikke en ek het besete roepe van pyn geskreeu – soos die van ‘n dier. Ek het ‘n hand op my skouer gevoel en ontsteld my lyf weggeruk. Toe ek opkyk, kyk ek in die diep swart niks waar Die Dood se gesig moes wees.
Ek was terug in die vertrek waar ek myself geskiet het, 3 jaar gelede. Asof daar nie ‘n sekonde verloop het nie. Ek het steeds in die plas bloed gesit wat net groter geword het. Was dit alles ‘n droom? Is dit alles ‘n hallusinasie as gevolg van breinskade van die skoot deur die kop?
Nee.” Het die Dood gesê asof hy my gedagtes gelees het. “Dit is jou lewe as jy besluit om te leef.
Ek het manies gelag.
“Watse soort besluit is dit?! Ek kan mos onmoontlik nie dáái besluit maak nie! Drie jaar van herstel en geluk en vrede vir my siel, en dan...” Ek kon die tweeling so duidelik soos daglig in my gedagtes sien. Voel. Ruik. Asof ek sekondes gelede nog aan hulle gevat het. Nou koud. Leweloos. “Jy’t dan die gesprek begin deur te sê ‘dit hang nie van my af nie’... En nou verwag jy ek moet ‘n keuse maak?”
Ja en nee. As ek sê dit hang nie van jou af nie, bedoel ek die balans hang nie van jou af nie. Die universele balans. Elke aksie het ‘n reaksie. Begin. Einde. Goed. Sleg. Lewe. Dood. Balans. Jy't keuses, maar die balans sal áltyd daar wees.

Mens sou dink dit is ‘n maklike keuse om te maak. Dat ek eerder sou kies om dood te wees as wat ek my kinders se lyke kry... My kinders, wat deur die liefde van my lewe vermoor was. Dis mos maklik. Kies die dood voor ek weer dit moes beleef.

Maar ek het nie die dood gekies nie.
Alles het gebeur soos die vorige keer. Ek het oorleef. Uit die put geklim en my lewe weer opgebou van die grond af op. Soos die vorige keer was Sarah daar vir my. Soos die vorige keer het ek haar uiteindelik gevra om weer te trou. Soos die vorige keer was sy verwagtend. Met ‘n tweeling.
Ek weet nie of sy dit kon aanvoel nie. Ek het my bes gedoen om die part te speel van die verlore, gebroke, verliefde man. Maar diep binne my was ‘n oneindige woede. ‘n Haat. Ek kon nie die toneel uit my gedagtes kry van Sarah wat in die donker voor die kot sit nie. My liewe, onskuldige kinders in die kot. Leweloos. Sarah wat hulle vermoor het. Dit het in my bly draai en kolk; soos ‘n kanker gegroei en gesweer. Ek kon haar nie vergewe nie.
Maar ek kon dit keer.

‘n Week na die geboorte van die tweeling het ek ons slaapkamer ingestap met die pistool. Ek het die koue staal teen ‘n verskrikte Sarah se kop gedruk.
“Jy is ‘n moordenaar. ‘n Monster.”, het ek koud gesê en die sneller getrek. 3 jaar se woede, haat, afsku wat gelei het tot daardie oomblik.
Toe ek omdraai staan Die Dood daar. Alhoewel ek nie sy gesig kon sien nie, kon ek die hartseer en teleurstelling voel.
“Sien. Ek kan kies.” Ek het vir hom gegrynslag. Ek was ver verby waansinnig. Verby terugkeer. “Jy soek ‘n dood vir ‘n lewe. Dáár. Redes? Dáár is jou redes. Balans? Dáár is jou balans.”
‘n Put sonder ‘n begin of ‘n einde.
Sonder om vir ‘n antwoord te wag het ek na die babakamer begin stap om die tweeling te gaan troos.
Ek het uiteindelik verstaan. Dit was nie ‘n droom nie. Dit was nie ‘n hallusinasie of breinskade nie. Daar was net een moontlike antwoord. Die hel.

© Riaan Palmer 

= = = = = = = = = =
Agtergrond oor die storie:
Die verhaal is aanvanklik begin as ‘n “moord verhaal” (murder mystery) maar het ‘n totale ander wending geneem as wat ek aanvanklik gedink het. Die verhaal het so “donker” geword dat ek in die middel gestop het om dit te skryf. Ek het iemand vertel daarvan en hulle het my aangemoedig om die storie klaar te skryf, en dié is die resultaat. Die wat bekend is met my skryfstyl weet dat bloed en moord en “babas doodmaak” definitief nie my styl is nie, so as enige iemand ontsteld is dan is dit ek. Maar as ‘n storie vertel wil word, dan moet hy vertel word.
Met apologie. 

Riaan
Share: