Wednesday 26 September 2018

Fortuner Tannies


Dis nog nie eers ‘n week sedert my mees onlangse senuwee-ineenstorting nie... Ek het alweer hartkloppings. Hierdie keer is dit ‘n tannie in ‘n Fortuner. Praat op die foon en sit maskara aan die wimpers. Ry so dat my lewe verby my oë flits. Twee keer. (Moontlik het ek hartkloppings oor wat ek in die terugflitse gesien het?)



Weet julle van die Fortuner tannies? As sy nie op die foon is nie, staan sy so reg in die middel van ‘n vier-rigting kruising met haar big-ass Fortuner - so dat ek nie kan verby sien in my plat karretjie nie. Dan sit en pik-pik ek mos so by die robot en wonder of is dit nou veilig om oor te gaan of nie. Noem dit sommer Robot Russian Roulette. Intussen lê die taxi-bestuurder hier agter my so op sy toeter laat die ding skoon hees word en ‘n oktaaf hoër begin toet. Ek beduie maar in die spieëltjie so met die een vinger (die middelvinger) dat ek nie verby die Fortuner kan sien of dit veilig is om oor te ry nie. 

Tannie, dis nie my skuld jou man kon nie die ekstras bekostig en vir jou Bluetooth in die Fortuner kon sit nie. Jy dink jy kan goed bestuur so met die foon teen die oor, maar hier van agter af sien ek alles mooi en ek kan jou verseker jy bestuur soos ‘n drol. Dalk bietjie slegter. 

My vraag is: Wie is hierdie tannies? Ek ken baie mense, maar ek ken nie een so tannie in ‘n Fortuner nie. Maar tog is hulle orals om ons! (Kyk bietjie om jou rond as jy daar op Atterbury in die verkeer staan: Ek wed jou een of meer mense om jou is ‘n Fortuner tannie.) Wie is hierdie mense? Ken een van julle so ‘n tannie in ‘n Fortuner? ‘n Naam? Waar sy vandaan kom? Waarheen sy op pad is? Of is hulle dalk aliens wat hier tussen ons bly, en ons dink almal: Nee, dis iemand anders se vrou... Weet julle van wie ek praat? Het julle hulle al gesien?

Ek sien hulle in die oggende as ek verby die laerskool ry. Die Fortuners is in so ‘n laer getrek in die parkeer areas voor die skool. Hulle het almal gym klere aan – nee, nie sweetpakke nie. Sulke stywe ski-pants goeters, met matching brands van die skoene tot bo by die toppie. Gewoonlik Reebok maar blykbaar is Adidas ook aanvaarbaar. Geen normale boere tannie lyk so nie. Nee, nee. Hierdie girls is almal rietskraal en het waarskynlik jare laas ‘n hamburger en chips gesien... Anyway, gym klere aan en ge-make-up. Moet ons nou dink julle is op pad gym toe of kom van die gym af? Met ‘n ge-make-up-de (my oud-Afrikaans juffrou moet daai woord sien - ek sweer sy gee my 'n plathand teen die oor!) gesig wat jy straks in ‘n Vogue magazine gaan sien. En moenie die string goue bangles vergeet nie – hou ook die Suid-Afrikaanse myn industrie aan die gang op hulle eie. Klink ook sommer soos 'n wind-charm soos sy met die arms beduie. Staan hulle in sulke groepies en chat, elkeen met ‘n waterbottel in die hand. Hulle flous egter niemand nie. Ons weet almal dis Vodka. Waaroor chat hulle, wonder ek? Is dit regte mammas? Het iemand al gesien of hulle actually kinders uit die Fortuners laai? 
 Ek het al regte mammas gesien. Dis daai wat nog die slippers aan het, en moes kies tussen hare kam of betyds by die skool uitkom... Ja, ek sien julle, regte mammas, wat uit die Getz uit spring terwyl die kar nog half beweeg, ‘n tas uit die boot ruk, ‘n laaste tandepasta merk met ‘n nat vinger van ‘n kind se wang af vee, koebaai waai en weer om die draai verdwyn...

Het jy al in ‘n restaurant gesit – minding your own business – dan hoor jy daai stywe stem hier agter jou...? 
Can I speak wiff de manager pleese”? 
As jy omkyk kan ek jou guarantee dit is ‘n Fortuner tannie wat garnish op haar bord gekry het, nadat sy uitdruklik gesê het “No garnish”... 
Gewone tannies moan nie oor garnish nie, want hulle is net te dankbaar dat hulle vir 10 minute op hulle agterwêreld kan sit en nie hoef kos te maak nie.

Ek het al agter die Fortuner tannies gestap in Menlyn; hulle hoor chit-chat...
Nee,” seg die een. “Ek geniet ‘n bietjie wyn in die middag, net om af te sluit.
Die ander twee knik instemmend.
Moet jy regtig? ‘n Bottel wyn? Om af te sluit van wat? Of dalk, Annetjie, dalk is jy net ‘n alkoholis? Het jy al daaraan gedink?
Ek het geen pyn met wyn nie. Ek het vele wynplase al gered van totale bankrotskap so op my eins. Maar ten minste is ek nie in denial daaroor nie. Gewone tannies drink ook wyn. Op Maandae sommer so uit die hip flask uit tussen bondels wasgoed.

Ken julle nou daai Fortuner tannies...? Weet julle van wie ek praat? 
(OK, ek sê tannies, maar hulle is waarskynlik jonk genoeg om nie te weet wat ‘n “Baas en Mossie” is nie…) 
Waarnatoe ry hulle in hulle Fortuners? Op pad Dakar toe? Wie is hulle? Is hulle iemand se vroue? Het julle al een van hulle ontmoet? Of is hulle dalk regtig aliens wat hier tussen ons kom en gaan en niemand kom dit agter nie? 

** Vrywaring: Hierdie is tong-in-die-kies sosiale kommentaar. Ek het twee vriendinne wat Fortuners ry, en hulle is pragtige mense. As hulle nie besig is om te bestuur nie.
Moet my asseblief nie kom bliksem nie. Ek kan skaars my onderklere aantrek sonder om om te moer, nou wil jy my kom slaan...?

Riaan Palmer
Share:

6 comments:

  1. Ek voel jou pyn. Hulle is even hier agter die boereworsgordyn in Pretoria Moot...

    ReplyDelete
  2. Ek het nou so lekker gelag en ken so baie van hulle

    ReplyDelete
  3. Briljant geskryf. Jy het vergeet om te sê dat hulle in die parkeerarea bymekaarkom sodat hulle hulle kinders se onderwysers kan bespreek, hulle kan spog met hoeveel aktiwiteite hulle bloedjies nog bo en behalwe skool se buitemuurse aktiwiteite. Veronreg voel dat Jannie 'n halwe punt meer as Pietie vir die speltoets gekry het, nou gaan Jannie die topleerling wees en nie Jannie nie.....Dis daardie tannies wat 16 lyk en al n kind in graad 000 het, wat die onderwyseres die meeste probleme gee.
    Pietie het gesê dat juf X .....
    Dis hulle wat voor skool al die arme skoolhoof nog in die parkeerarea voorkeer om juf X te rappoteer en aan te dring dat Pietie se speltoets weer na te sien want eintlik is Jannie slimmer as Pietie ......

    Wat laat jou dink dat ek n onderwyseres is?

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hahahahaha!!! Nee, ek dink dis maar net so 'n gevoel wat ons kry dat jy 'n Onderwyseres is...
      Ek het baie respek vir julle... Weet nie wat is erger nie - die kinders of die ouers...? ;-)

      Delete