Monday 16 September 2019

Rugby vir idiote - Deel 1

As jy soos ek is, dan is jy bewus van Rugby en dis hoe ver jou kennis en belangstelling strek. Dit het geen invloed op jou lewe nie, en jy lei ‘n gelukkig lewe ondanks dié feit. 17 of 12 of 49 mans (of hoeveel ook al in ‘n span is) wat heen en weer hardloop op ‘n baan agter ‘n bal aan, het geen impak op jou lewe nie.
Die probleem is dat elke nou en dan besluit die hele wêreld om op een of ander land neer te daal en teen mekaar rugby te speel. Hulle noem dit glo die rugbywêreldbeker. Skielik gaan staan die hele samelewing botstil en al wat ons dag in en dag uit hoor is “Rugby woohoo! Go Bokke!” en mense soos ek en jy staan in die skadu’s op die kantlyn as uitgeworpenes van die samelewing want ons is totaal clueless. 





Wel, nie hierdie jaar nie. Ek het vir mense soos myself en jy wat clueless is ‘n cheat sheet geskryf sodat ons kan deel wees van die rugbywêreldbeker 2019 vieringe. Hierdie is die resultaat van maande se navorsing. (OK fine, met “maande se navorsing” bedoel ek als wat ek kan onthou van daai een keer wat ek probeer rugby speel het op skool 25 jaar terug. Ek het aanvanklik die rugby reëlboek oopgeslaan, maar dit was ‘n 212 bladsy dokument en, wel fok dit, ek het nie daai soort tyd nie.)



Die basics:
-        Daar is baie rugbyspanne om van te kies. Jy moet één kies. Dit maak glad nie saak waarop jy jou keuse baseer nie. Dit kan wees omdat die materiaal waarvan hulle hempies gemaak is gemaklik lyk, of omdat hulle span naam jou met heimwee laat dink aan jou gunsteling Spur gereg. Of die span met die aantreklikste spelers. ‘n Gewilde rede om ‘n span te kies, is gebaseer op waar jy bly. Byvoorbeeld as jy in Bloemfonfokkentein bly, dan kies jy Vrystaat. Want: Redes. Jy moet egter mooi dink oor jou keuses want jy gaan sekere opofferings moet maak. Byvoorbeeld as jy in Pretoria bly en besluit om vir die Blou Bulle te gil, dan moet jy bereid wees om Klippies en Coke te drink, ‘n mynhoed met horings te dra en ‘n paar reuse blou – uhm – testikels aan jou kar te hang. Is jy bereid om ‘n paar blou pere aan jou Mercedes C-klas te hang? Nee? Dan is Blou Bulle dalk nie vir jou nie.
Tydens die wêreldbeker moet jy vir Suid-Afrika skree anders is jy ‘n verraaier, kommunis en terroris.
-          ‘n Rugbyspan bestaan uit 15 spelers. Maar dis net die hoeveelheid wat gewoonlik op die veld is. Daar is nog heelwat ouens wat langs die veld sit en hoop een van hulle spanmaats breek ‘n been sodat hulle ook ‘n beurt kan kry om op die veld te draf.
-          ‘n Rugbyspeler se toerusting bestaan uit ‘n rugbytrui, ‘n PT broek, ‘n paar tokse en kouse. Ons weet nie of dra hulle onderbroeke nie, en ons stel ook nie belang nie.
Hoekom hulle dit ‘n rugbytrui noem weet g’n mens nie. ‘n Trui is mos eintlik ‘n onooglike lelike ding wat van wol gemaak is wat jou ouma vir jou gebrei het. Dis tog nie wat rugbyspelers aan het nie? Moenie dieselfde fout as ek maak en dit per ongeluk ‘n cardigan noem nie. Jy kry ‘kyke’.
Hulle het ook mouth guards om hulle tande te beskerm. Behalwe die Kaapse spelers, want... redes.
Party van die spelers (die slotte – ons sal later weer by hulle kom) het sulke hoede-goeters op hulle koppe of verbande om hulle ore. Dis om hulle ore te beskerm want ‘n skrum fok jou ore op. (Ek het op skool mos vir ‘n week rugby probeer speel. Ek is gekies as slot. Voor die tyd het ek ‘n perfekte paar ore gehad. ‘n Week later het ek sulke verlepte nat piesangskil ore gehad.)
-          Die doel van die hele spel is om die bal (die ovaal wit voorwerp so groot soos... uhm... ‘n rugbybal?) in die hande te kry en daarmee punte aan te teken. 



Posisies:
Net om jou geheue te verfris, daar is mos 15 spelers op die veld. Elke speler op die veld het ‘n “posisie”. Ek weet dit klink verspot want as jy al ooit ‘n rugby gesien het, dan weet jy dis totale chaos en die ouens hardloop net waar en wanneer hulle wil. Blykbaar is dit verkeerd.
Die span word in 2 gedeel: Voorspelers en agterspelers. Jy gaan my nou nie glo nie, maar die voorspelers is betrokke vóór in die gespelery en die agterspelers is daar ágter rond betrokke.
Die voorspelers se werk is om die bal in die hande te kry en dit vir die agterspelers te gee sodat hulle dit weer kan verloor deur te skop of geduik te word. So nou en dan kry ‘n agterspeler dit per ongeluk reg om punte aan te teken, en dan kry die agterspelers al die lof, alhoewel die voorspelers al die werk gedoen het. Baie soos wat by ons almal se werk gebeur. Jy doen al die werk en management vat die lof. Duidelik is agterspelers ‘n klomp tossers.

Die voorspelers bestaan uit die volgende spelers (gelys volgens die nommer op hulle trui:
1.       Loskopstut: Die stutte is die... wag... ek wil nou nie sê “vetties” nie, maar hulle is definitief nie maer nie. Hulle staan voor in die skrum, so hoe groter en sterker hulle is, hoe beter. Ek het tot nou-net altyd gedink dis “los-skop-stut”, maar so leer ek ook dat dit hulle koppe wat los is, en nie hulle skoppe nie.
2.       Haker: Die haker staan ook voor in die skrum en word omhels deur die stutte. In die ou tyd moes die haker die bal in die skrum gehaak het, maar deesdae werk dit anders. So ek weet nie wat is hulle werk nou eintlik nie. O-ja! Hulle moet die bal ingooi by die lynstaan. En as jy in ag neem dat in Engels hulle ‘n “hooker” genoem word, beteken seker ook dat hulle die sletterige een in die span is? Dalk maak die haker ogies vir die ander span om hulle aandag af te trek as die skrum sak?
3.       Vaskopstut: Dieselfde as die loskopstut, behalwe sy kop is vas.
4.       Linkerslot: Hulle sak ook in die skrum en word in hulle ‘bikini-areas’ gegryp deur die ouens wat agter hulle sak in die skrum. (Dis nogal ‘n verrassing as jy vir die eerste keer as jong seun die skrum sak. So is my onskuld ook daarmee heen.) Hulle moet ook die bal vang in lynstane (of ten minste probeer. Ek het probeer! Get off my back!) so hulle is gewoonlik lank. Die linkerslot staan links in die skrum.
5.       Regterslot: Presies dieselfde as die linkerslot, maar net presies die teenoorgestelde want hy staan regs in die skrum.
6.       Linkerflank: Dis onduidelik presies wat die vent se werk is, want hy moet glo “veelsydig” wees. Hy sak ook in die skrum en is die lummel wat die arme slot aan sy ‘privaat’ gryp. Die linkerflank moet ook eerste by die losskrum wees want hy moet die bal probeer kry. (Klaarblyklik terwyl die regterflank staan en niks doen nie?) Hy moet ook probeer om te verhoed dat die opposisie se baldraer die bal aan sy aankomende voorspelers oorhandig. Ek weet nie wat dit beteken nie – dis net so ge-copy en paste uit die reëlboek.
7.       Regterflank: Mens sou dink hy doen presies dieselfde as die linkerflank, maar net regs. Ek kry egter geen duidelikheid oor wat hy nou eintlik moet doen nie. Dalk staan en mooi lyk? Ek weet nie.
8.       Agsteman: Nie ‘n baie oorspronklike naam vir die agtste speler nie, is dit? Hoekom nie sommer die hele span so noem nie? Eersteman, tweedeman, ens...!? Hy sak ook in die skrum. Ek weet nie wat anders doen hy nou eintlik nie. Hy is baie keer die kaptein en ander kere nie, so hy staan seker en order die ander ouens rond?
9.       Skrumskakel: Dis altyd die kort gat mannetjie op die rugbybaan. Gevolglik het hy ook kortmannetjie-sindroom wat beteken hy’s vreeslik aggro. Die Jack Russel van die span. Siestog. Hy gooi die bal by die skrum in en hardloop dan na die agterkant van die skrum om weer die bal te kry. Pointless much?
10.   Losskakel: Hy is glo die klaskaptein van die agterspelers. Baie bossy. En hy hou van skop. Of is goeie skoppers. Of so iets? Basies sou hulle eerder wou sokker speel.
12.   Binnesenter: Hy staan omtrent in die senter mister Venter. Hy moet die bal vang as die losskakel nie die bal vinnig genoeg wegskop kry in sy droom om ‘n sokkerspeler te wees nie.
13.   Buitesenter: Soos ‘n binnesenter maar net aan die buitekant. Hy’s gewoonlik die een wat sleg ruik, dis hoekom hy moet buite staan. Hy’t nie regtig ‘n spesifieke werk nie en is basies maar net daar om die span vol te maak.
11.   Linkervleuel: Die vleuels is gewoonlik die vinnigste ouens op die veld. Hulle is ook maar net vinnig en rats omdat hulle vrek bang is. Hulle is delikate blommetjies wat gaan kneus as hulle geduik moet word. Hulle is gewoonlik die ouens wat doellyn toe hardloop om die drie te gaan druk, so hulle is die grootste varknekke in die span. Die hele rugbyspan werk hulle gatte af om die bal by die vleuel te kry en om die delikate dingetjie te beskerm, en as hy eventually die drie druk is dit die vleuel wat al die drukkies en soentjies en gelukwensing kry.
Die linkervleuel staan links.
14.   Regtervleuel: Die regtervleuel staan – dit gaan nou ‘n totale verrassing wees: Regs. Verderis dit maar dieselfde storie net ‘n ander naam.
15.   Heelagter: Jy weet seker wat ek nou gaan sê, en jy’s dood reg: Die heel agter staan heel agter. Hulle is so ver van die spel af dat hulle gewoonlik rustig agter die doellyn onder die pale kan staan en ‘n bier drink. So nou en dan kom die bal in hulle rigting dan moet hulle goed kan vang. Gewoonlik skop hulle net die bal weer terug na die ander kant van die baan toe want hulle is te lui om te hardloop, of bang hulle bier mors.



Nou ja, dit is die basiese inligting oor rugby. Volgende keer sal ek die reëls verduidelik, asook tegniese terme wat ek nou reeds gebruik het soos “skrum” en “skop”. Vir huiswerk kan julle bietjie gaan kyk wie speel watter posisie in ons 2019 Bok-span. Moenie uitgevang word soos ek wat gedink het Frik du Preez speel nog flank nie.
Share:

0 comments:

Post a Comment