Wednesday 17 April 2019

Goeie maniere

Ek is alweer in die moeilikheid. Of is dit nog steeds, net dieper? En dis nie eers asof ek probeer het om in die moeilikheid te kom nie.

Sien ek loop by die gang af by die kantoor en ek loop verby een van die girls – sy huil histeries. Ek vra haar wat’s fout.
“Hoehoehoesniksnik...my kar...hoehoehoesnik...proes...my man gaan my...snikproessnikhoe...”
Ek sê vir haar sy moet kalmeer. Eerste fout. Blykbaar sê jy nie vir ‘n histeriese dame sy moet kalmeer nie. Dit werk nie.
Soos ‘n ware heer haal ek my sakdoek uit my sak en vee haar trane af. ‘n Ware hero en gentleman. Met die geveëry vee ek haar wenkbroue ook af. Ek kyk verbaas na die 2 swart strepe op my sakdoek wat al is wat oor is van haar wenkbrou. Sy sien ook wat gebeur het. Toe het ek eers kak. Ek is seker as sy nog wenkbroue gehad het, was hulle op daai stadium gelig. As verontwaardigde "looks could kill"... (Ek dink sy’t het ook daai oomblik agtergekom dit was nie ‘n skoon sakdoek wat ek oor haar gesig gevee het nie?)



Sien. Ek het nie eers probeer nie. Moeilikheid kry my net. Ek het dit mos goed bedoel.

My Ma het van kleins af maniere by my ingemoer, so ek weet nie van beter nie. Ek onthou goed hoe ek as klein seuntjie saam my Ma straat af gestap het, toe sy vir my sê ek moet aan haar ‘buitekant’ loop.
Verward vra ek wat bedoel sy. Sy sê ek moet regs van haar stap sodat my swaard arm ‘los’ kan wees. “Wat praat Ma!?”
Sy verduidelik dat in die Middeleeue mans regs van vroue gestap het, sodat wanneer hulle die vroue moes beskerm, hulle hulle swaarde makliker kon uitruk en gebruik.
“Maar ek het nie ‘n swaard nie.”
*Klap*.
“Hou op teë praat en stap regs van my!”
En hoe meer ek probeer verduidelik ek het nie ‘n swaard nie, hoe meer reën dit *klappe* (in lettergrepe natuurlik) omdat ek teë praat want “vroue is sag en moet verdedig word”.
“Jy...*...is..*..die..*..man..*..en..*..jy..*..moet..*..jou..*..Ma..*..beskerm..*..want..*..sy..*..is..*..swak.”
Tot vandag toe nog koes ek onbewustelik as ek per ongeluk links van iemand beland.



Die grootste moeilikheid wat ek egter gehad het met ‘n dame, was toe ek vir ‘n paar maande in Engeland was. Soos soveel ander jong Suid-Afrikaners, het ek vars uit die Universiteit my rykdom en geluk in Engeland gaan soek. Eerste keer dat ek ooit gevlieg het. Stoksielalleen in ‘n wildvreemde land. So gebeur dit toe nou dat ek laat in die aand, seker so 11 uur die aand, die “Underground” – oftewel die ondergrondse treine – moet gebruik om by my bestemming uit te kom.
Nou as jy lank genoeg in Londen was, dan kom jy agter dat die ergste bedreiging of moontlikheid van misdaad is ‘n ou in ‘n hoodie wat met ‘n stomp naelvyltjie jou gaan probeer beroof – aangesien vuurwapens en selfs messe onwettig is in Engeland. Natuurlik as iemand ‘n Suid-Afrikaner probeer beroof met ‘n geroeste naelvyl gaan hy hom dood lag, want ons Suid-Afrikaners is meer gewoond daaraan om met AK47s en pangas gekonfronteer te word... “You call that a knife? Get that shit away from me Soutie!”

Nietemin, op daai stadium het ek nie van beter geweet nie, en beland na donker alleen op ‘n trein stasie. As Suid-Afrikaner is dit tweede natuur om donker, afgesonderde plekke te vermy, so my onderbroekie bewe toe ek die situasie besef waarin ek my vind. Alleen. In ‘n donker, onheilige, onbekende plek. Ek was vas oortuig dat dit die aand was wat ek vermoor sou word – op onskuldige ouderdom van 22...



Soos ek deur die donker gange stap gewaar ek ‘n dame wat so ‘n hele ent voor my stap. Groot was my verligting om nie meer alleen te wees nie! Ons kon mos nou saam alle moordenaars en verkragters beveg! Ek begin toe vinniger stap om haar in te haal of ten minste net nader te stap dat wanneer die kak spat die moordenaar nie tussen ons kan kom nie... Sy loer oor haar linkerskouer en begin vinniger stap. Ek dag sy het die trein hoor aankom of iets, en ek begin ook nog vinniger stap. Sy kyk weer oor haar skouer en begin daai “draf maar ek wil nie lyk of ek draf nie ek loop net vinnig”-draffie te draf. Ek begin draf. Sy kyk weer om. En begin voluit hardloop. En sy begin skree! “Help! Someone help me!” Ek aanvaar sy het ‘n reeksmoordenaar of aanvaller agter my gewaar en besef nou is hier kak. Ek begin ook voluit hardloop. Al gillende (ek gil mos ook al teen die tyd “help help”) haal ek haar uiteindelik in.

Soos wat ek haar toe inhaal besef ek wat aangaan: Sy hardloop vir my weg! Sy dink - onskuldige - ek is die aanvaller!

No no! I’m not the rapist!” Skree ek agter haar aan in beroerde Engels (maar vir een of ander rede hou ek nie op om te hardloop nie!?).
I’m just following you!” En om haar verder te paai voeg ek by. “I’m not a man that’s going to rape you, I’m just a boy!” (Ek weet - dit maak vir my ook geen sin nie.)

Ek slet neer.

In die horror movies as die mense weghardloop vir die serial killer val hulle mos altyd. En dan spring hulle dadelik op en hardloop verder. Ek sal nooit ‘n horror movie oorleef nie, want as ek neerslet dan bly ek eers so bietjie lê en myself jammer kry en voel wat is alles nou weer gebreek... Soos ek toe nou daar in die donker gang lê en myself jammer kry kom staan die vrou hier bo my, en druk so ‘n botteltjie hier reg voor my gesig. En sy pepperspray vir my.

Ek het eenkeer chillies gesny en toe my oog gevryf. Daai’s fokol teenoor pepperspray. Ek het geweet vanaand is die aand wat ek doodgaan. Is jy al ooit gepepperspray? Jy wens jy was dood. Die snot en trane loop orals uit – my oë, my neus, my ore – daar is dele van my lyf wat ek daai aand uitgevind het kan vloeistof afskei wat ek nie voorheen geweet het nie. Trek die vrou los en gee my ‘n skop in die ribbes met ‘n “scumbag!” en verdwyn om die hoek.

Ek het my trein gemis. Ek het my Ma ook gemis.

Riaan Palmer
Share:

Friday 5 April 2019

Dag van die beduiwelde eiers

Ouvrou Wippers is toe nou uiteindelik dood. Askies dat ek sê “uiteindelik” maar ek glo die dorpenaars sal ieder en elk saamstem dat “uiteindelik” die regte woord is. Niemand is seker hoe oud sy was nie. Katryn Brilboks, die bibliotekaresse, het navorsing gedoen en die vroegste verwysing wat sy in ‘n ou koerantuitknipsel kon kry, dui daarop dat Ouvrou Wippers omtrent 124 jaar oud was.

‘n Mens praat nou nie sleg van ‘n ontslape nie, maar niemand waarvan ek weet het van Ouvrou Wippers gehou nie. Sy was doodeenvoudig nou maar net ‘n onaangename, knorrige vrou. As jy haar die eerste keer gesien het dan sou jy gedink het sy loop en kou ‘n suurlemoen, want jou gesig lyk mos net so as jy iets suur eet. Maar nee, dis sy maar hoe sy gelyk het. Suur. Dis hoe haar hart ook was. Suur. As sy die dorp ingestap het verdwyn die res van die dorpenaars by die anderkant uit. Los sommer alles waarmee hulle besig was net so, of dit nou ‘n trollie vol inkopies of ‘n half-gesette perm was, jy vlug. More is nog ‘n dag. Die wat nog nie van beter geweet het nie, het gaan staan en kyk hoe die ou vrou aangestap kom, want dit was ‘n eiesoortige skouspel. Ouvrou Wippers het mos groot geword in die tyd van korsette en toe sy mondig word weier sy botweg om enige iets aan te trek ‘vir ondersteuning’. Sy het gemeen haar lyf is nie ‘n rankplant wat vasgebind moet word nie, en alles laat loshang wat wou loshang. Na 100 jaar se gravitasie hang dinge wat hang mos maar laer en losser as in die verlede. As sy loop lyk dit kompleet soos ‘n oupa klok met twee pendulums.

Ouvrou Wippers het altyd iets gehad om oor te kla of te kritiseer. Mens sal sweer sy was die gemeenskaplike skoonma vir die hele Vaalwater. As jy per ongeluk paaie met haar gekruis het, dan het die ‘gesprek’ (wat gewoonlik maar ‘n monoloog was) altyd begin met “Wat kyk jy? Ek het nie jou brood gesteel nie!”, al het jy nie eers vir haar gekyk nie. Sodra sy jou aandag het, dan het sy van die geleentheid gebruik gemaak om vir jou mooi te verduidelik wat jou grootste foute was
“’n Dame van jou raamwerk moet mos nie pienk dra nie. Swart is al wat die voue gaan help wegsteek. Dan moet jy begin blare eet. Mens kan mos sien dis al dertig jaar se melkterte wat daar op jou boude lê gekry het. Groen goed is al wat gaan help. Of nog beter: Hou jou kake vir so paar dae stil.”
“Dame, verbeel ek my of is daar alweer ‘n broodjie in die oondjie? Wat is dit nou? Pyporrel nommer 6? Goeie genade. Dalk maar bietjie leer om ‘dankie maar nee dankie’ te sê vir al wat man is wat vra.”
Dan het sy omgedraai en om die hoek verdwyn terwyl jy sprakeloos daar staan en selfondersoek doen.

Die eerste keer wat ek die ou vrou in aksie gesien het, was toe ons by die een en enigste restaurant op Vaalwater gesit. Ons kos het nét gekom, toe sê my pa ons moet maar sit en eet, ons kan nie nou vlug vir Ouvrou Wippers nie. Swaai Ouvrou Wippers die restaurant binne en gaan sit by die tafeltjie langsaan. Ons gesinnetjie staar koponderstebo almal na ons borde kos asof dit die interessantste aanskouing in die geskiedenis van tyd is. Sy bestel ‘n glas kraanwater met ys in, maar “nie te veel ys nie, anders raak die water te flou”. Nie lank nie en sy roep die kelner weer nader.
“Draai bietjie daai lugverkoeler van julle af, kêrel, ek gaan verkluim hier waar ek sit. Die koue gaan sit in my beendere en dan moet ek weer die heeldag sjerrie drink vir bietjie hitte.” Kla sy.
“Ja Dame. Goed Dame.” is al wat die kelner sê en verdwyn agter by die kombuis in.
Enkele minute later klap sy weer haar vingers en beduie die kelner moet vinnig kom.
“Dink jy nou jy is ‘n hanswors? Nou kry ek weer so warm dat ek moet begin klere uittrek om te oorleef. Of is dit jou plan al die tyd? Draai die ding koeler.”
“Nee Dame. Goed Dame.” En hy verdwyn weer by die kombuis in.
So hou dit aan vir omtrent ‘n halfuur. Dán is dit te koud. Dán is dit te warm. Elke keer vra die kelner net om verskoning en verdwyn by die kombuis in. Toe sy uiteindelik haar glas water klaar gedrink het en duidelik so geïrriteerd is soos ‘n mamba met ‘n seer tand, verklaar sy dat sy nie meer honger is nie, en verdwyn swaai-swaai by die deur uit.
Toe die kelner weer by ons tafel uitkom vra my pa hom hoe hy so kalm bly met die moeilike kliënt.
“Nee. Ek gee nie om nie, Meneer.” Antwoord die kelner doodluiters. “Sy’s elke week hier. Elke keer dieselfde storie. Ek’s dit al gewoond.”
“Nou hoekom stel jy nie net die aircon die regte temperatuur dat sy jou kan uitlos nie?”
“Want ons het nie ‘n aircon nie, Meneer.”

Niemand weet hoekom Ouvrou Wippers so suur vir die lewe was nie. Vir ‘n bestaan het sy met slakke geboer en al wat ‘n restaurant in die Noorde verskaf met die beste en grootste slakke wat die Bosveld nog gesien het. My ma meen dit is oordat Ouvrou Wippers heeldag loop en praat het met die goggas in die hokke dat sy nie geweet het hoe om met mense te praat nie.
Dis ook waar hulle die ou vrou gekry het – daar in die slakhokke. Hulle weet nie hoe lank sy dood was nie, want met ‘n lyf wat so oud is weet jy nie wat is die dood en wat is net die ouderdom nie. My pa het gewonder of die slakke aan haar begin eet het, en net daar besluit om nooit weer ‘n knoffel slak by ‘n restaurant te eet nie. My ma was egter van mening dat een slak ‘n hap aan Ouvrou Wippers gevat het, en toe hy proe hoe bitter die vrou is, haar net daar gelos het.

Sy het natuurlik geen kind of kraai gehad nie – ‘n slak is mos nie ‘n kraai nie – so Dominee Sarel het dit maar op sy hande geneem om die begrafnis te reël. Ek het gewonder hoekom enigsins moeite doen, want g’n mens sou wou gaan gedenk of afskeid neem van die vrou nie. My ma het egter aangekondig dat ons gaan begrafnis toe want “sy was ons naaste en mens betoon respek aan jou eie mense”. Blykbaar het almal kammakastig so gevoel want die hele dorp was by die begrafnis. Almal het egter geweet – maar nie gesê nie – dat almal eintlik net wou seker maak dat sy regtig dood was en begrawe word. 



My ma bied aan om te help met die happies vir na die begrafnis en so word die hele gesin in ‘n produksielyn gesit die aand voor die tyd. Ma besluit op beduiwelde eiers (ek weet tot vandag toe nie wat is die regte Afrikaans vir ‘deviled eggs’ nie). Pa dop af. Ma skep eiergeel uit en meng mayonnaise ek vul weer die eierwitte. Nou as ek twee swakhede het is dit fudge en beduiwelde eiers, en laasgenoemde kry jy moes net (vir onbekende redes) op ‘n begrafnis. Dit beteken natuurlik vir elke twee eiers wat ek vul daar net een op die skinkbord beland. Ma wonder aanvanklik hoekom 8 dosyn eiers so min lyk, maar toe ek nie wil aandete hê nie, toe verstaan sy die wiskunde beter.

Volgende oggend daag die hele dorp, al die maplotters en meeste van die Waterberge se boere by die kerk op. Daar was met die Mampoerfees van ‘87 laas so baie mense by die kerk. (Na die nagmaal wynkelkies ook betrek was by die Mampoerfees, was dit die laaste keer wat die fees by die kerk gehou was.) Ekstra stoele word uitgepak, en die sy-saal se deur word ook oopgemaak om plek te maak vir almal. Toe almal ‘n plekkie vir die agterstewe het, word die kis ingedra en Dominee Sarel skop af. Dominee Sarel wat aanvanklik net van plan was om Spreuke 24:17 te lees en vinnig op die gewetens te speel, is verheug om gemeentelede te sien wat hy laas by die Mampoerfees gesien het, en besluit toe om die laaste 3 weke se preke te herhaal vir almal wat dit gemis het.
So begin my marteling.

Daar is mos maar sekere soorte kos wat allerhande chemiese reaksies veroorsaak met ’n mens se maagsure. Kool byvoorbeeld. En uie en bone en brokkoli. En eiers. Met my stadige metabolisme saam het gisteraand se beduiwelde eiers uiteindelik begin verteer. Dit gorrel. Dit broei. Dit kook. Dit maak gasse. Ek voel wat besig is om te gebeur. Dominee Sarel praat. Ek skuif dié kant toe. Dit begin kramp. Ek skuif dáái kant toe. Dominee Sarel praat. Die druk begin opbou en ek besef die kans het gekom en gegaan om stadig en geluidloos die druk onder beheer te hou. As enige kleppe nou oopgaan, gaan dit nie saggies wees nie. Ek konsentreer verwoed om te knyp. Dominee Sarel praat. Die sweet staan op my voorkoop soos kondensasie op ‘n koue bier. Dominee Sarel praat. Ek skuif rond met die hoop om gemak te kry. My ma gee my ‘n knyp - die universele teken dat ek moet stilsit. Dominee Sarel praat. Ek begin koue koors kry soos die druk op al wat ‘n senuwee punt is, opbou. Dominee. Sarel. Praat.

Ek besef hier is moeilikheid. Ek gaan ‘n plan moet maak. So vang my oog die groot Familiebybel langs my en ek kry die beste plan sedert die wiel uitgedink is. Ek gaan ‘per ongeluk’ die Bybel laat val en met die harde knal, sal ek die nodige druk verlig. Ek vat die swaar boek en maak asof ek die vers opsoek waar Dominee Sarel nou trek. Ek leun vorentoe, tel tot by drie en maak my hande oop dat die boeke uitglip en ontspan.
Die Bybel val plat op die houtvloer en die klap geluid weergalm deur die kerk. Almal draai en rek hulle nekke om vir my te kyk. My  tydsberekening was uit. Heeltemal uit.
“Ppppprprprrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrttttttttttttttt!!”
Dominee Sarel is stil. Ek is bloedrooi. Ma is bloedrooi. Pa se oë is toe. My neus begin brand. Ma se oë begin traan en sy gryp haar neus tussen twee vingers vas. Soos ‘n rimpel gaan dit deur die bedompige gebou. Mense kreun en druk hande en kledingstukke voor hulle neuse en monde. Dominee Sarel begin weer praat maar is net drie woorde diep in sy sin toe die reuk by die preekstoel uitkom, en hy weer stil word vir ‘n paar sekondes. Dan aframmel hy af sonder om asem te skep: “Kollektesalbydiedeuropgeneemword. Daariseetgoedindiesaal. Amen.”
So is die iesegrimmige Ouvrou Wippers toe nou die ewigheid ingestuur: Die hele distrik se gesigte met dieselfde wrang uitdrukking waarvoor sy so berug was. 

Riaan Palmer
Share:

Tuesday 2 April 2019

Sport en so en dit

Waar was ek die afgelope paar weke? Ek gaan jou nou nie verveel met die details nie. Kom ons sê maar net alles wat moontlik skeef kon loop, het. My oog wat altyd aan die spring raak as ek gespanne of geïrriteerd raak (jip, my nervous twitch) het opgehou om te spring en sommer ontaard in een of ander gross infeksie? Nou loop ek rond soos ‘n glorified semi-seerower met net een goeie oog... I kid you not.

Nietemin is die ergste nou verby, maar ek’s nog steeds bietjie tense. Fine. Seker baie tense. Ek vermoed ander mense sien dit ook raak... Die leidraad is dat ek word klaarblyklik deur almal vermy soos ‘n baba se vuil doek. Ek raai ek loop rond met een of ander ‘n aggressiewe uitdrukking op my gevreet, so al asof ek enige oomblik iemand ‘n high-5 gaan gee. Met ‘n kaktus. In die gesig. 

Ek het dit op ‘n stadium oorweeg om my probleme te verdrink in drank, maar uit vorige ervaringe weet ek dit werk nie. Die boggers – my probleme nou - is goeie swemmers, so drank help ook nie. Iemand stel vandag voor (baie versigtig en diplomaties) ek moet dalk dit oorweeg om ‘n sport te beoefen. Dit sal my glo help om van die stres ontslae te raak. Ek gooi my kop agteroor en lag.
Ek? Sport? Uh-huh.
Kom ons dink gou daaroor... Nee.
Wag, laat ek nog daaroor dink.
Nee.
Glo my, dis nie dat ek nie probeer het nie. Die grootste probleem is dat ek is baie lomp. Ek val gereeld sommer oor niks. Dis nogals ‘n kuns om oor niks te kan val nie. (Dis nie dat ek regtig val nie – ek toets net gereeld om te kyk of werk die aarde se gravitasiekrag nog. Probeer hom onkant vang deur elke nou en dan vir geen logiese rede net neer te slet.)
Ek ontdek ook gereeld blou kolle wat ek geen idee het waar dit vandaan kom nie. Gebeur dit met ander mense ook? Kom agter daar is ‘n moerse blou kol hier in jou binnebeen – sommer maar net? (En wat is die eerste ding wat jy doen as jy ‘n nuwe blou kol ontdek? Jy druk hom met jou vinger mos. Die mens is ‘n vreemde skepsel...)

Ek was van jongs al berug daarvoor dat ek nou nie heeltemal (lees: glad nie) sportief was nie. As daar spanne gekies was tydens pouse vir speletjies, dan was ek altyd laaste. Ja, ek is letterlik gekies ná kruppel Chris en Michael met twee gebreekte arms. So nie ‘n positiewe konnotasie met sport om mee te begin nie.



Die feit dat ek normale lengte is, en die res van julle kort gatte ‘n kop korter as ek is, het darem verseker dat ek die eerste keer wat ek probeer rugby speel het, ek span gekry het as slot. (Die gerugte oor my bal vaardigheid – of tekort daaraan - het duidelik nie by die onnie uitgekom nie...)
Ek het geen idee gehad oor rugby reëls nie (nie dat veel verander het in die afgelope 30 jaar nie) maar ek was vasbeslote om rugby te speel. Net mooi die eerste dag oefen ons lynstaan. Die manne verduidelik waar ek, as slot, moet staan. Dit is ál verduideliking wat daar aan my gegee is. Volgende oomblik skree die skrummie (of is dit nou die heelagter of die goalie? – Weet nog steeds nie...) “Mickey Mouse, 87, 4, 4, zebra” en gooi die bal. Wat de moer beteken dit!? Ek kyk rond wat doen die ander ouens om my. Die ander ouens gryp my aan die broek en lig my op. Ek raak aan die spartel. Ek het geen clue wat nou aangaan nie, maar blykbaar kry ek nou ‘n galactic wedgie!? (Ek haal tot vandag toe nog stukke van daai onderbroek uit my ollie uit) Klaarblyklik moes ek die bal vang... Nou weet ek ook. (Wat ek nie verstaan nie, is hoe moes ek weet “Mickey Mouse, 87, 4, 4, zebra” beteken ek moet die bal vang!? Was daar ‘n spanoefening wat ek gemis het waar hierdie geheime kodes gedeel is? Almal het geweet wat dit beteken, behalwe Riaan. One of life’s great mysteries.)

But anyway. Meneer besluit toe nee, ons speel bietjie. Daar word hierdie kant toe gehol en daai kant toe. Dan word daar geskrum. Daar moet eers weer aan my verduidelik word wie staan waar en hoekom. Ek kry ‘n moerse skok toe iemand my net hier duskant die crown jewels gryp toe die skrum sak. Ek spring op en begin die skuldige opspoor. Daar word verduidelik nee dis maar hoe en waar daar vasgehou word... So much for personal space. Mense. Julle het geen idee wat gebeur daar binne in die skrum nie! Geen idee.
Uiteindelik kry ek die bal. Wat doen Riaan die heel eerste keer wat hy ooit ‘n rugbybal in die hande kry (en wonder bo wonder raak vang)? Hy skop natuurlik – wat sal die slot dan nou anders met die bal maak? Die heelagter het die bal baie mooi gevang. Dis nou, my eie heelagter, wat agtertoe moes hardloop om die bal by ons eie doellyn moes vang.

Lang storie kort: Meneer skree. Riaan pluk sy moer, klim op sy fiets en ry. “Fok julle. Kry vir julle ‘n ander slot. My ore gaan in elk geval nie hierdie geskrummery hou nie. I’m out.” Laaste wat ek en rugby iets met mekaar te doen gehad het.

Krieket het ook nie veel beter gevaar nie. Eerste keer wat ek kolf, gooi die stupid bouler die houtjies wat agter my staan om. Ek gil op die bouler dat hy moet gooi vir my kolf, nie vir die houtjies nie. Idioot! Toe ek na vele probeerslae uiteindelik die bal raakgeslaan kry, tref die bal my reg op die oog (g’n niks helmets daai tyd nie!). Dit sou ten minste ‘n 4 gewees het as my gesig nie in die pad was nie... Moerse eier. Tranedal. Fok dit. Ek hou duidelik nie van krieket nie. Maar Meneer oortuig my om net bietjie vas te byt en sê ek moet bietjie by die reserwes gaan sit, dis nie so erg nie.

Ek het lankal my mind opgemaak, want wie wil in elk geval heeldag lank op die veld staan en wag dat die bal eendag in jou rigting kom? Ain’t got no time for that shit. Nietemin gaan sit ek langs die veld en ontdek iemand se sak met al die krieket gear in. Alles nuut vir my, gaan ek deur die toerusting. Pas die maermerrie-beskermers aan. Handskoene word aangetrek waarmee die naaste reserwe dadelik geboks word. So hamer-affêre met ‘n bal aan wat g’n mens weet wat jy mee doen nie... Uiteindelik ontdek ek so ‘n wit, driehoekige bakkie met gaatjies in. Ek draai die ding al in die rondte maar kan nie uit-figure wat die ding moet doen nie. Uiteindelik maak die vorm vir my sin – ‘n driehoek... Die skerp hoek kom oor jou neus en die breë kant “onder” kom oor jou mond? Ek druk die ding oor my gesig, draai na die naaste reserwe toe en sê “Psssfffft. Luke... I’m your father...” met ‘n Darth Vader stem. Die reserwe kyk my net met sulke groot oë aan. (Ja, Anton, ek onthou asof dit gister was! Jou varknek! Jy kon my gesê het, maar nee, laat Riaan maar sy naam vergat!) Dis eers jare later wat ek uitvind dit is ‘n “ball box”, en jy sit hom definitief nie op jou gesig nie. Ooit. Sommer heeltemal genees van krieket as daar nog ‘n kans was...

So is ek van sport na sport. Geen teken van ‘n spier om ‘n gewigstoot bal te gooi nie. Te rigting beduiweld om ‘n diskus te gooi – na klagtes van vele omstanders is ek verbied om verder te probeer inkom vir diskus. Hoogspring? My brein wil net nie toelaat dat ek agterstevoor oor ‘n lat spring nie. My fok, as jy oor iets spring, dan kyk jy mos waar jy spring. Jy val nie blindelings en hoop jy land op ‘n matras nie.

Tennis? Die ou fyn handjies het na die eerste stel ‘n halfdosyn blase opgelewer. Waarvan een nogal op my linkerhand was – nie eers die hand waarmee ek die raket vasgehou het nie.

Golf? My brein wil dit net nie verstaan nie. Dit maak doodeenvoudig nie sin nie... Moer die bal. Soek die bal. Moer die bal. Soek die bal. 18 bane lank. En asof dit nie moeilik genoeg is om net die bal raak te slaan nie, gaan sit een of ander siek bastard nog sandputte en damme die hele veld vol. Dis seker ‘n joke?

Boks? Ek gaan sommer skip oor die feit dat dit bietjie barbaars is in my opinie, en die olifant in die vertrek aanspreek: Twee halfkaal mans wat in hulle onderbroeke baklei oor ‘n belt vol blink goedjies en badges? Ouens. Klim uit die kas uit. Aanvaar julle seksualiteit. Dis oraait.

En nevermind eksotiese sporte soos “surfing”. Ek kan net-net regop bly, as ek hard konsentreer, op droë grond. Ek staan mos nou geen kans om op ‘n plank op die see regop te bly nie...

As ‘n laaste wanhopige poging was ek nou-die dag by ‘n gym. OK, fine. Ek was by Ed’s Diner en die waiter se naam was Jim – dis amper dieselfde ding...

Ek het probeer. Ek het aanvaar. Ek het aanbeweeg met my lewe.

Nou ja, as iemand ‘n ander voorstel het vir “stress release” – anders as drank en sport, ek luister. Want dis net ‘n kwessie van tyd voor ek ‘n ongeluk by die werk het en per ongeluk iemand wat drooggemaak het met die stapler in die nek bykom.

Riaan Palmer
Share: