Monday 27 May 2019

3 Groepe Mense

Het julle al opgelet dat daar in die “moderne tye” groepe mense is wat bestaan, wat nie bestaan het toe ons kinders was nie. Waar kom hulle vandaan? Waar het hulle weggekruip al die tyd net om ewe skielik onder een of ander bos uit te spring “Hallo! Hier’s ek nou... Nee, ek was nog heeltyd hier, het jy my nie gesien nie?”

O, ek moet seker sê van wie praat ek: Vegans, mense wat gluten onverdraagsaam is en mense met neut allergieë... Hoe weet jy as jy in so iemand se geselskap is? Moenie worry nie, hulle sal jou binne die eerste 5 minute van die gesprek herinner dat hulle vegan/gluten intolerant/allergies vir neute is. Ek weet nie wat verwag hulle van ander mense deur vir ons te vertel nie? Dis nie asof ek jou ‘n steak/broodjie/peanut gaan aanbied binne die eerste 5 minute van ons gesprek nie!?



Ek het simpatie met die ouens wat allergies is vir neute. Soos ek die storie verstaan ruik hulle net ‘n peanut butter en stroop toebie dan trek hulle kele toe, val neer met skuim in die bek en gaan dood. Dis tragies – dat jy nie die vreugde van Nutella ooit sal ken nie. Hulle lewe moet totaal betekenisloos voel. Ek verstaan dat jy oral waar jy moet gaan mense moet waarsku dat jy allergies is vir neute want dis ter wille van oorlewing!

“Ek is allergies vir neute, so moet my asseblief nie met ‘n peanut gooi nie, ek sal doodgaan!”

Maar waar kom hulle vandaan? Toe ons kinders was, was niemand tog allergies vir neute nie. Peanut butter was ons stapelvoedsel op skool. Peanut butter en jam. Peanut butter en stroop. Peanut butter en peanut butter. Peanut butter met ‘n lepel net so uit die bottel. Daar was selfs die psigopate wat peanut butter en piesang toebies gehad het – maar ek was nie maatjies met hulle nie vir obvious redes. Wat het gebeur dat kinders deesdae almal allergies is vir neute? Het die ouers te veel peanut butter gehad?

Fine. Ek kan hulle vergewe...



Maar die “gluten intolerant” mense. Hierdie mense is nie soos die peanut mense wat gaan doodgaan as hulle naby ‘n bruinbrood korsie kom nie... As hulle graan inkry dan voel hulle net so ‘n bietjie “af”. Nie soos in met “ek wens ek was dood” af nie. Nee, net bietjie opgeblaas - windmakerig. Soos as ek koolslaai geëet het. Jy loop rond met konstante turboboost. Nou dis fine as jy nie heeldag met die winde van verandering wil saamleef nie. Die probleem is dat fokken ALLES wat ons in ons monde prop een of ander vorm van gluten in het. Skielik is daar ‘n hele nuwe mark vir die kos produsente. “Gluten free products”. Ek’s nie seker wat presies is nou in die “gluten free” kos nie – gedroogde blomkool poeier en kakiebos saad? Ek weet nie. Wat ek wel weet is dat gluten die bestanddeel is wat hulle in kos sit om dit heerlik te maak! Het jy al ooit iets gluten vry geëet? Was jy soos ek onseker of jy die karton boks geëet het waarin dit gekom het of die actual produk?

Sien, driekwart van die mense het net op die “bandwagon” gespring vir gesondheidsredes. Een of ander dieetkundige het in ‘n Sarie artikel gesê dat “gluten free” is gesonder. Kak man.
Daar is mense wat nie die proteïen, gluten, kan verteer nie. Hulle ly aan coeliakie. ‘n Doktor het hulle gediagnoseer en dit kan tot ernstige mediese probleme lei as hulle selfs ‘n klein hoeveelheid gluten inkry. Hulle het my simpatie. Dit moet aaklig wees! Maar nee, ‘n groot gedeelte van die “gluten intolerant bende” is sommer self gediagnoseer, en dis hierdie klomp wat tipies vir almal loop en vertel hulle is “gluten free”. Hierdie mense het ‘n keuse gemaak. Ek weet ook dat “gluten free” goete is ongelooflik duur, so in dieselfde asem sal jy opmerk dat net ryk mense is kammakastig gluten intolerant. Jy kry nie ‘n arm mens wat gluten intolerant is nie, want brood en bier vorm deel van hulle stapel dieet. Ewe skielik wil al wat ‘n besigheid is geld maak daaruit: Gluten Free perms, gluten free bacon (no shit, Sherlock), gluten free ice cubes...

Dan probeer hulle jou nog oortuig:
“Vandat ek gluten vry is, het ek soveel energie dit voel of ek my man se Fortuner sommer met my kaal hande kan omgooi.”
‘Tsek, Linda. Ek hou van kos wat na iets smaak. Wat wil ek met ekstra energie doen as ek nie kan pizza, koekies, pasta, pannekoek en ander vorme van geluk eet nie?



Dan die veganiste. Nou as jy nie weet wat presies ‘n “vegan” is nie, dis die hippie tree-huggers onder ons wat ‘n morele besluit gemaak het om nie enige iets met ‘n gesig te eet nie. Ook nie enige iets wat uit ‘n ding met ‘n gesig gekom het nie wat insluit eiers, kaas, melk, ensovoorts. As jy ‘n veganis is, awesome. Ek is bly vir jou. Dis cool dat jy ‘n standpunt inneem en ‘n etiese besluit gemaak het om nie diere te eet nie. Ek sal nooit vir jou ‘n heerlike steak bedien nie (want die kanse is klein dat ek jou gaan nooi vir ete).
Maar ek sweer as jy vir my vertel dat ek ‘n moordenaar is of as jy my probeer sleg laat voel omdat ek vleis eet sal ek JOU eet.
“Ja, maar...”
“Maar” se voet in ‘n visblik. Ek sal basting sous oor jou smeer en ek sal jou fokken eet. Medium rare.
En as hulle nie vir jou probeer preek en op jou gewete speel oor hoe moorddadig en wreed dit is om vleis te eet nie, probeer hulle die vegan kos aan jou afsmeer.
“Probeer bietjie hierdie worsie, Riaan. Dit proe nes hoender, maar dis gemaak van tofu!”
“Nee Linda. Daar is klaar iets wat proe soos hoender... Hoender. Hoender proe soos fokken hoender!”

My vleisie het dalk ‘n naam gehad, Lammie of iets, en ‘n mammie en ‘n pappie wat vir hom lief was. Dalk hoekom hy so lekker juicy is? Omnomnom. Maar as jy nie daaroor praat nie, sal ek jou nie vertel dat jy eerder moet gaan wei buite op die gras om jou mond toe te kry nie... OK? OK. Ek's nie kwaad vir julle nie. My tjoppie is net belangriker as die bak voëlsaad wat jy "lunch" noem... True 's Bob.

Riaan Palmer
Share:

Friday 17 May 2019

'n Ongemaklike Spul

So anders as wat mense is, so is hulle ook maar almal dieselfde... En spesifiek nou as dit kom by sosiale interaksie wat dinge nou vir my vreemd raak.


Ek staan en luister vir iemand wat vir my hulle langdradige storie vertel. Vir ‘n begin is dit een van daai mense wat geen benul het van persoonlike spasie nie. Nee, hulle dring daarop aan om neuslengte van jou af te staan. En hoe meer ek so onopsigtelik moontlik agteruit retireer, hoe meer skuifel sy saam. Naderhand staan ons 10 meter verder van waar ons gesprek (eerder - die monoloog) begin het soos wat ek probeer wegvlug-skuifel en sy my agtervolg. En sy praat dat die spoeg spat. Letterlik. Soos wat sy babbel en net asem skep na elke paragraaf, beland daar ‘n sproeisel spoeg -bloep - op die punt van my neus. En daar is mos nou ‘n ongeskrewe reël dat as iemand jou per ongeluk raak praat-spoeg, dan maak jy asof niks gebeur het nie. Hoekom? Ek weet nie. Jy wil nie die persoon in die verleentheid stel nie? Maar op daai oomblik hou jy in elk geval op met luister want al waaraan jy kan dink is die druppeltjie spoeg. Jy is totaal uitgefreak. In jou kop het jy ‘n gesprek met jouself oor hoe disgusting dit is. Jy voel hoe kieme, bakterieë, en ‘n onbekende variant van sifilis oor jou gesig loop. Jy het ‘n behoefte om dit onmiddellik af te vee. Maar jy hou jou pose. Maak asof niks fout is nie en knik instemmend so asof jy nog enigsins luister wat sy sê. Jy begin dink hoe lank tyd nodig is voor jy “toevallig” jou neus kan krap sodat dit nie obvious lyk nie... Uiteindelik maak ek asof ek nies en in die proses vee ek vinnig die druppeltjie van my neus af. En in dieselfde proses van kamma-nies sproei ek haar so van die spoeg, dit lyk of sy deur ‘n Kaapse misreën bui gestap het...



Dieselfde mos as jy tussen ‘n klomp mense is en iemand vir jou waai. Jou verstand hardloop verwoed op en af opsoek na ‘n file, want jy herken die persoon van g’n kant af nie. Maar jy waai onseker, tog vriendelik terug. Dan sien jy uit die hoek van jou oog dat hy eintlik vir die girl hier agter jou gewaai het, en jy probeer maak asof jy nie gewaai het nie maar jou hairdo mooi wou maak... Hoekom daai nou so embarrassing is, weet g’n mens nou eintlik nie.



Dan is daar die kere wat jy nie kan hoor wat iemand vir jou sê nie.
“Woh gyuos oias kdsil huuhdhj keyetr gsoiuo?”
Jy weet hulle het ‘n vraag gevra, maar jy’t geen idee wat nie, so jy doen net ‘n beleefde “Ekskuus?”
Hulle praat bietjie harder. “Weet gyuos ons kdsil huuhdhj harte gsoiuo?”
Daar is ‘n oomblik van stilte om jou ore en brein tyd te gee om kop of stert uit te maak van die klanke, maar jy weet nog steeds nie wat die vraag is nie. “Sê weer, ek kan nie hoor nie, ek’s doof in die oor...” En jy draai jou “goeie oor” in die rigting van die mompelaar (alhoewel daar net mooi niks met jou gehoor fout is nie).
Nou raak die persoon ongeduldig en mompel harder in sulke lettergrepe. “WEET. GYUOS. ONS. KDSIL. HUUHDHJ. HARTE. GSOIUO?!”
Jy’t nog steeds geen idee wat hulle gesê het nie, maar apparently is die sosiale norm dat jy nie meer as 2 keer kan “ekskuus” sê nie. So jy antwoord net met ‘n onsekere “Nee, ek weet nie” en hoop maar vir die beste. Die vraag kon netsowel gewees het “Wat is jou Ma se naam?” maar die antwoord na die derde probeerslag is altyd “nee ek weet nie”.

En van nies gepraat. Het jy al een van daai niese gehad wat jou so onverwags getref het? Jou kry net betyds jou hand voor jou mond, maar jy voel die drillerige ghwel jou hand tref. Jou hand is sop nat... Maar nou’s jy in ordentlike geselskap, so jy kan nie reageer en jou walging uiter of dit iewers afvee nie. So jy vou maar jou hand toe en balanseer die glibberige nat spul in jou hand totdat jy alleen is en iets daarmee kan doen...

Ek sal ook nooit die oomblik vergeet wat ek met ‘n bemarker op die foon was, en glad nie geluister het wat sy gesê het nie... Toe die gesprek tot ‘n einde kom en die goodbyes gesê word, toe sê ek so ewe uit (gewoonte uit?), “Ok, love you. Bye!” Gevolg deur ‘n baie ongemaklike stilte, red sy toe darem die situasie deur te sê “I like you, but maybe just as a friend...”
Of as die waiter by die restaurant jou kos vir jou bring en vir jou sê “Geniet dit!” en jy volg op met ‘n “Dankie jy ook”... Sug.

Los hande was egter die mees embarrasing-ste oomblik toe ek ‘n probleem wind gehad het... Die ding moes uit. Ek was alleen in my kantoor, en ek ontspan toe nou maar die kleppe laat die winde van veranderinge gebeur. Ek weet nie hoekom nie, maar die spesifieke uitlating het die nasmake van ‘n lyk gehad wat nou al ‘n week fermenteer (gewoonlik ruik myne soos potpourri) en die doodsreuk gaan hang so genadeloos in my kantoor... Die volgende oomblik loop my baas se vrou by my kantoor in en begin om vir my iets te vertel. Fok. Sy stop sommer in die middel van haar sin toe die reuk haar tref en ek kan sien hoe haar verstand oortyd werk oor hoe om die situasie te hanteer. Sy besluit toe om maar aan te gaan met haar storie en probeer gepynig maak asof niks pla nie. Maar die feit dat haar oë getraan het, het boekdele gespreek.



Ek het nog nooit ‘n Tannie Emsie Schoeman boek gelees nie, maar ek raai daar is nie etiket reëls oor hoe om hierdie sosiale verleenthede te hanteer nie? Dalk moet ek so ‘n boek skryf?
“Wêreld sluk my tog in?”
Riaan Palmer
Share:

Tuesday 7 May 2019

Drank en liefde

Einde van hierdie maand vier ek en Die Ander Een ons 15de anniversary... 15 laaaang jare. Hoe oorleef jy 15 jaar saam ‘n persoon? Goeie vraag! Baie versigtig...

Soos met alle verhoudings was daar maar baie ups and downs. ‘n Gelag. ‘n Gehuil. Uiteindelik bereik jy ‘n ewewig punt waar die redes om lief te wees vir die ander persoon presies gelyk is aan die redes wat jy dieselfde persoon wil vermoor. (Jy kyk mos CSI en daai ander police investigation dokumentêre om “tips” te kry, soos hoe om ontslae te raak van ‘n lyk of om dit soos ‘n ongeluk te laat lyk – nie omdat ‘n goeie storie is nie.)

Met die tyd saam leer jy wat werk en wat werk nie.
Soos as die Ander Een jou vra “Is dit wat jy na die funksie toe gaan dra?
Dan is die antwoord “Blykbaar nie.
Jy kom agter dat die Ander Een vir ‘n week onder dieselfde dak as jy leef sonder om agter te kom jy’t jou hare gekleur, maar sal onmiddellik agterkom as jy die laaste Sally Williams Nougat skelm geëet het.
Dis een ding om in ‘n verhouding te wees “vir liefde” – maar kom ons wees nou maar eerlik met mekaar, dis ook nogal handig om iemand anders in die huis te hê om jou te help soek vir jou gunsteling jersey wat weg is. (Net om die kas waarin jy nou-net gekyk het oop te maak en sonder om eers te soek te voorskyn bring.)
Jy leer geduld. Baie, BAIE geduld. En compromise. Hoeveel compromise? 5 Twilight movies se compromise. 5. Baie. Lang. Twilight. Movies.

En met “baie geduld” bedoel ek baie geduld om met my saam te leef, want ek kan obviously nie maklik wees om mee saam te leef nie. Ek het sterk opinies oor alles, ek is vreesloos (wat nie altyd ‘n goeie ding is nie) en ek is weird. Die Ander Een moet gedurig net kop skud as ek met gedagtes opkom soos “Vandag gaan ek probeer links wees” of “Ek gaan van nou af met orgideë boer”.
Dan is ek boonop lomp ook, wat ‘n groot verleentheid is vir enige iemand wat saam my gesien word; ek kan enige oomblik neerslet, iets omstamp of iets per ongeluk breek. As jy saam met my gesien wil word gaan jy jou trots en ego in jou sak moet steek. Sorry daaroor. As jy saam met my ry en ons musiek luister is die opsies: óf ek luister net na die eerste 15 sekondes van elke liedjie en skip na die volgende een toe, óf ek sing uit volle bors vyf oktawe te hoog saam. Dit vat ‘n spesiale persoon om met daai soort uitdagings kalm te bly. Dankie hoor.

Dit het van my kant af ook baie geduld gekos om Die Ander Een te leer dat daar nie toilet feetjies is wat ‘n leë toilet rol gaan omruil nie... En iets se plek is “waar jy hom gekry het”, nie “waar jy hom laas gebruik het” nie. Julle leer mekaar ook dat die klein issues nie saak maak nie. Dit maak nie saak dat al die hangers dieselfde kleur is nie, en dit maak ook nie saak of almal dieselfde rigting kyk nie...
Ter verdediging van myself dink ek het ek die hoeveelheid geduld benodig om met my oor die weg te kom, heelwat verlaag. In my jonger dae – toe ons net begin uitgaan het – was ek heelwat maintenance. Die grootste probleem was my liefde vir partytjies. As iemand jou vra “Wil jy iets gaan drink na werk?” is daar net een moontlik antwoord en dit is “Ja”.



So beland ek een aand weer in een of ander onheilige drinkgat na werk saam met kollegas. En die drank vloei. Ek gaan deur my stadiums van nugter na minder nugter wat insluit my skoene wat eerste is om te waai , gevolg deur my wat leopard crawl deur die plek (want ek dink mos ek’s ‘n ninja of iets drie drankies diep?). Dié aand eindig ek eventually kaalvoet op die tafel en ek karaoke verwoed uit volle bors, vals en met geen ritme. (Net vir duidelikheid: Dit was nie ‘n actual karaoke bar nie – hulle het sommer net MTV op die TV’s gewys. Ek het dis misgis vir karaoke.) Fronse is gefrons. Woorde is gewissel, en die eienaar het gevra dat ons maar liefs moet vertrek. Wat seker ook maar ‘n goeie ding was, want ek het nie die tyd dopgehou nie, en besef toe teen dié tyd gaan Die Ander Een weer vir ‘n week nie met my praat nie.

Daai jare het ek nog motorfiets gery... I know, right. Domonnosel wat ek was, besluit ek om in dié toestand huis toe te ry. Die een kollega sê hy sal agter my aanry om seker te maak ek kom veilig by die huis aan. (Wat ook nie sin maak nie want wat de donder gaan hy doen om te keer dat ek verongeluk? Al waarde wat hy het is om vir die spietkop na die tyd te vertel hoe hy gesien het ek verongeluk. “Ja Meneer. Daar waar die pad so draai maak moes hy ook ‘n draai maak, maar hy hettie.") Ek verduidelik vir die kollega dat as ek iets oorkom hy asseblief ‘n taxi moet bel, en nie ‘n ambulans nie. ‘n Taxi is baie goedkoper. Ek het nie R5000 om die Bie-Pô Wa se rekening te betaal nie.

Gelukkig kom ek veilig by die woonstel aan. (Siestog, my arme beskermengel het sy hande vol gehad. Seker ‘n paar senuwee-ineenstortings gehad oor die jare. Seker hoekom hy deesdae so ‘n lakse houding het?) Ek sien die woonstel se ligte is af wat beteken Die Ander Een slaap al. Daar is darem ‘n kans dat ek die moeilikheid kan vermy – of ten minste uitstel. Maar die Tequila het teen daai tyd sy rekening kom eis. Tequila is niemand se maatjie nie – moenie na jou “vriende” se slim stories luister nie! Die hele aardbol draai verwoed, en ek moet aan al wat ‘n muur en ‘n reling is vasklou om nie van die aarde af te val soos hy draai nie. Na ‘n ewigheid kry ek uiteindelik die woonstel oopgesluit (as jy nie nugter is nie, is dit mos onmoontlik om die regte sleutel te kry, selfs al is daar net 3 sleutels aan die bos. Jy is uiters versigtig dat jy net nie die woonstel start nie.) Om en om draai die hele woonstel. My kop is swaar en dik. Ek besluit dat dit ‘n baie gevaarlike pad is om te navigeer in die donker na die slaapkamer toe en dat leopard crawl die beste opsie gaan wees. So seil ek op my maag deur die woonstel tot by die bed – maar nie sonder om die koffietafel eers so in die donker te kry nie. (Want ‘n donnerse koffietafel loop mos rond as dit donker is. Vra jou maermerrie, hy weet.) Ek besef ek het die voordeur oopgelos, en seil weer al die pad terug. Met die slag terug ontdek ek weer die koffietafel. Uiteindelik by die bed probeer ek my lê kry, maar iewers is iets groot fout. Iets voel verkeerd... Skielik gaan die bedliggie aan.
Die Ander Een kyk my vierkantig in die oë. My oë wil nie fokus nie – alles lyk dof.
“Het jy weer ge-party?” Vra die Ander Een uiteindelik.
“Nee. Ek het gewerk.” Antwoord ek, maar my stem klink gedemp en ver weg. “Wat laat jou so dink?”
“Jy’t nog jou helmet op.”
--- --- ---
Gelukkig kom daar ‘n tyd, na genoeg stilstuipe, gesmeek en dreigemente, wat jy besef dat jy jou olifante in ‘n ry moet kry of jy gaan jou geluk verloor. Jy besef dat daar niemand anders op die planeet aarde is wat jou kak gaan opeet nie, so jy maak dit werk.

Moet nooit iets in 'n oomblik van woede sê nie.

Die klein foutjies en probleempies maak nie saak nie. Die groot probleme en foute praat jy uit, vergewe jy en beweeg aan want die lewe is te kort en mense wat regtig saak maak is te min om hang-ups te hê...

Riaan Palmer
Share: