Kom ons vlieg sê hulle
vir my. Dit sal lekker wees sê hulle vir my.
Leuens. Oopbek,
blatante leuens.
En so hardloop ons
ook die gange van OR Tambo op en af – laat soos gewoonlik. Die enigste
indikasie van waar jy nou eintlik moet wees, is die vae leidrade “Terminal A” en
“Terminal B”.
Ek word oorval
deur die pyn en roep die res van die geselskap tot stilstand.
“Ek is besig om ‘n
hartaanval te kry. Gaan maar voort sonder my. Ek het ‘n oraait lewe gehad.
Iemand sal eventually my lyk hier kry.”
“Hahaha! Kom
nou...!”
“Ek maak nie
grappies nie! Ek het ‘n pyn. ‘n Versekerde teken van ‘n hartaanval!”
“Waar is die pyn?”
Ek beduie na my
regtersy.
“Jou hart sit nie
daar nie. Jy’t miltsteek.”
So moet ek
uitvind dat as jy lank en ver hardloop, jy “miltsteek” kry. Totale verrassing
vir my op hierdie ouderdom. Gebeur seker maar as jy nog nooit in jou lewe lank
en ver gehardloop het nie. Of al ooit gehardloop het nie, for that matter. (Ek meen dis
teen my geloof. Spreuke 28:1 – “Die goddelose hardloop weg al jaag niemand hom
nie.”)
Uiteindelik kom
ons by ‘n moooeerse saal vol check-in counters. (Alhoewel ons aanlyn in-ge-check
het, maak dit nie saak nie, want jy moet in elk geval in die ry gaan staan
om jou bagasie aan hulle lot oor te gee. Pointless much?)
Daar is – wat lyk
soos – honderde toonbanke. Ek verstaan nie hoekom is daar so baie toonbanke as
mens se keuses van lugredery vir binnelandse vlugte redelik beperk is nie...?
Daar is Souf
Efrican Airlines, die trots van onse regering: Jy boek net by hulle as jy daarvan
hou om onnodiglik meer te betaal, selfs al is daar goedkoper opsies. Of as jy
van bietjie drama hou, want SAA se bankrotskap beteken dat hulle enige oomblik
hulle deure kan toeslaan en jy gestrand gaan sit op die lughawe. Geniet jou
vakansie in Terminaal B. Wonder jy waar is jou bagasie? Toemaar, SAA wonder ook.
Jou tassie kan op pad wees na enige van SAA se 90 opwindende bestemmings.
Mango Airlines?
Sien SAA. (Wie vernoem in elk geval ‘n vliegtuig na ‘n vrug? Oros, dalk, maar
nie ‘n vliegtuig nie.)
Kulula? Hulle
neem hulleself glad nie ernstig op nie. Altyd ‘n ou grappie om te vertel.
Wink-wink. Nudge-nudge. Maar kom ons wees nou eerlik met mekaar: Wie se “bak
plan” was dit nou eintlik gewees om die Kulula vliegtuie en logos kots-groen te
maak?
FlySafair? “Cheap
cheap!” Maar...
“Ja, meneer. Jy
kan vlieg vir ‘n skrale R399! Dit is mos so te sê verniet! O, jy wil ‘n sitplek
hê? Sekerlik. Dit sal R200 ekstra wees. Jy bedoel ‘n sitplek met ‘n
veiligheidsgordel? O, ja, daai is R500 ekstra, meneer. En bagasie saamneem?
Natuurlik! Dit sal R200 ekstra wees. En toegang na die badkamer? Sekerlik
meneer! Dit sal R300 ekstra wees. Vars lug? Natuurlik! R200 ekstra. O, en R150
om die trappe te gebruik om tot in die vliegtuig te kom. Ja, ons is die
goedkoopste, hoekom vra meneer?”
Vind jy
uiteindelik die regte inboek toonbank, groet jy met verlange jou tassie, as jy
hartseer kyk hoe hy iewers heen gestuur word op presies dieselfde band
as al die ander toonbanke se bande...
Niemand is verbaas as hulle bagasie
wegraak nie. Jy is net verbaas as jy actually jou bagasie aan die anderkant
terugkry – heel en nog steeds ge-vacuum pack is (want as jy hom nie vacuum pack
nie, gee jy mos die ouens toestemming om deur jou tassie te gaan gedurende sy
reis deur die lughawe. Wil jy kyk hoe goed is ‘n slot nou eintlik? Stuur hom
deur OR Tambo.).
Dan moet jy nou
deur security mission. Die koue sweet sak oor jou neer en vir een of ander rede
ontwikkel jy ‘n vrees dat hulle sakke vol dwelms aan jou gaan kry. Jy’t nog
nooit eers in jou lewe ‘n dagga zol gesien nie, maar jy is skielik vas oortuig hulle
gaan ‘n kilogram Mandrax aan jou kry. Jy moet drie keer deur die metaalverklikker
stap. Naderhand staan jy net in jou onnie. Ontdek hulle uiteindelik jou
tweezers en konfiskeer dit. My liewe hemel, ouens. Ek kry nie eers daai een grys
haar wat in my wenkbroue skuil vasgevat met tweezers nie, maar blykbaar is daar
ouens wat ‘n vliegtuig kan hijack met tweezers...? As jy goed genoeg is om ‘n
vliegtuig te hijack met tweezers, dan verdien jy daai vliegtuig!
(Hulle verbied
jou ook mos om woorde soos “bom” en “hi-jack” te sê in die lughawe. Jy’t nog
nie een keer in jou lewe die woord bom in ‘n gesprek gebruik nie, maar kom jy
op die lughawe is dit vir een of ander rede die enigste woord in jou
woordeskat!)
Uiteindelik deur,
kom jy aan die anderkant uit en begin die groot wag. Natuurlik genoeg tyd vir ‘n
toebie en ‘n koffie. Aan hierdie kant is jy mos nou nie meer in Suid-Afrika
nie. Nee, jy is skielik in ‘n ander wêreld waar ‘n ham en kaas bruinbrood toebie
R120 kos en ‘n koffie R60. As jy gedink het snacks by die movies is duur, wag
totdat jy daar in die lughawe iets moet koop. As jy van plan is om ‘n ligte
snack op die lughawe te geniet, maak maar seker jy’t so R2000 in kontant by
jou. Duidelik het die ouens wat daar in die lughawe winkels het geen idee wat
goed in die res van die wêreld kos nie.
‘n Halfuur voor
die hek (wat eintlik deure is?) na die vliegtuig toe oopmaak begin die passasiers
al in die ry staan - dis mos belangrik om eerste op die vliegtuig te wees
want... uhm... net-nou vlieg die vliegtuig vir jou weg...? (Ek weet nie, ek
raai maar.) En deesdae is daar mos nou twee rye. Een vir “Priority pass” en die ander vir die res van
ons pleps. Jy betaal ‘n ou ekstra geldjie om daar deur te stap. Ignoreer die
feit dat ons almal maar op dieselfde vliegtuig moet klim, en almal eers kan
vlieg as die hele lot op die vliegtuig is... Ek weet jy wil dit nie hoor nie,
maar die Engelse sê dit so: “A fool and his money are soon parted”.
Dan kom ons nou
in die vliegtuig. Nou, ek is ‘n normale size mens. Net-net onder 2 meter lank.
(Enige iemand wat korter as ek is, is ‘n kort-gat freak.) Ongelukkig is die
wêreld waarin ons leef nie gebou vir normale ouens soos ek nie, maar vir die kort-gat
dwergies om my. Alles is daar onder. Alles is laag. Dit is dus ook geen
verrassing dat ek my kop gedurig moer toe stamp nie. My kop is al
vol knobbels en gate gestamp. (Iemand wat Braille kan lees sal waarskynlik die
volledige werke van Shakespear kan lees deur aan my kop te voel.) Nou as
vliegtuie se been spasie vir julle dwergies ‘n bietjie knap voel, dan
kan julle net raai hoe dit vir my voel... Tight. Ek het egter nou al die truuk
uitgewerk: Ek gaan sit so wydsbeen om die stoel voor my, dan sak ek af tot my
sewende rugwerwel en haak my knieë om my ore en dra my bene soos ‘n bril. Want
die poepol voor my gaan in elk geval net-nou sy stoel laat sak in die “recline”
posisie wat my kniekoppe gaan kompakteer. (Wat ook vir my ‘n misterie is, want
ek verstaan nie hoe die “recline posisie” wat 0.000005 grade verskil van die
regop posisie enige iets vir enige iemand beteken nie...)
Na die “in case
of emergency” praatjie loop die lugwaardinne eers deur die hele vliegtuig en
spuit die hele gemeente met Doom. Hoekom weet ek nou nog nie.
“Dit is totaal
skadeloos!” verseker hulle ons altyd terwyl hulle hulle eie monde styf toe hou.
Nou as dit so skadeloos is, hoekom verdompwil spuit julle dit? Sekerlik moet
dit skadelik vir iets wees!?
Volg ‘n geniesery
en gehoesery. Kugge-kugge.
“Skadeloos." Right.
Kom die opstyg. Soos
‘n rollercoaster. Jippie. Maar dis ook die gevaarlikste deel van die vlug.
As jy dink ek verwys na die feit dat meeste vliegongelukke binne die eerste 10
minute van ‘n vlug gebeur, is jy verkeerd.
Nee.
Ek verwys na die
feit dat die mens se buik vol gasse is. Die lugdruk verander soos wat die
vliegtuig styg. Die gasse in almal se mage sit uit. Die gasse begin dan ontsnap.
(Foeit!) In daai eerste 10 minute sak daar ‘n chemiese wolk toe in die kajuit.
Die lugwaardinne weet al. Waarnatoe dink jy verdwyn hulle? Hulle vlug voor die elfde
plaag – die reuk van kerrie, biltong en boerwors wat dae lank al fermenteer en die
dood self - in gasvorm. Jy probeer verwoed daai aircon-blaas-dingetjie hier bo
jou so wyd as moontlik oopdraai, maar die effe luggie wat daar uitkom staan
geen kans teen die biologiese wapens van massa vernietiging nie.
Net-nou kom die
kos trollie verby. Nie dat jy lus is vir iets nie, want jy is nog so dik
gevreet van jou R120 se ham en kaas toebie. (Dis sarkasme as jy wonder.)
As jy oor die see
vlieg, dan is die kos mos ingesluit by jou kaartjie. Kry jy mos ‘n “heerlike”
vyfgang maaltyd (chicken or beef?). Ek verstaan nie hoekom kos anders werk daar
bo nie. Hier op die grond het jy ‘n ordentlike bord kos met ‘n groot steak,
baie tjippe, ‘n slaai, en drie groentes nodig om jou deur te trek en die
hongerte te stil. Daarbo is 2 repies seningrige bief, 15 ryskorrels, ‘n gestoomde
wortel en ‘n Cream Cracker met 'n moo-moo kasie kammakastig genoeg om jou te red
van uithongering. En daai pakkies peanuts? Daarbo raak jy histeries opgewonde
as dit snack-tyd is en die lugwaardin jou ‘n pakkie met 5 peanuts in oorhandig.
Ek meen, as iemand hier op die grond vir jou daai selfde hartseer pakkie van 5 peanuts gee,
gaan jy vir hulle sê “Voertweg met daai kak! Ek soek dit nie eers verniet nie!”
Op ‘n stadium
moet jy kleinhuisie toe. KLEINhuisie in die mees letterlike manier wat hulle
kon uitdink. Jy wag totdat daar niemand naby is nie. Glip in. 1 minuut later kom jy
uit, wag die hele vliegtuig se passasiers voor die deur. Jy mompel skaam dat
die reuk daar was voordat jy ingegaan het; ore bloedrooi gebloos.
Aan die einde van
die vlug raak die wiele skaars die grond, dan spring die hele spul mense op en
ruk hulle handbagasie uit, net om nog daar te staan vir die volgende halfuur en
‘n verdere halfuur te wag vir die ander bagasie. Mense is weird. “Hurry up and wait!”
"Kom ons vlieg. Dit sal lekker wees." Julle blerrie
liegbekke. Vlieg is nie lekker nie. Jy dink seker 'n wortelkanaal is ook lekker, jou sadis?
Lekker? ‘Tsêk!
Riaan Palmer
Freaking brilliant. Ekt my gat af gelag vir die knieë agter die ore en bene soos 'n bril dra. Eks nou wel nie 2m lank nie maar 1.8 is klaar moeilik op enige vlug, kan net dink hoe dit vir jou voel.
ReplyDeleteLove die. Well done.
Baie dankie vir jou comment! Word opreg waardeer! :-)
Delete