“Mamma!!!
Maaaaaaa!”
Fok.
Sug.
“Ja!?”
“Hy’s terug!!!”
Sug.
Ek gooi vies die
hemp neer en maak my oë toe. Ek maak my oë oop net om in die berg ongestrykte
wasgoed vas te kyk. Vanaand is die aand... Vanaand gaan die bloed vloei! Ek
loop met ‘n mission die gang af en
stamp die kamer se half-toe deur oop. Ek kyk die kamer op en af maar in die
flou lig wat van die gang af kom, kan ek nie veel sien nie en sit die lig
hardhandig aan. In die middel van die bed sit my 8-jarige dogtertjie in ‘n
bondeltjie. Dis net haar oë – so groot soos pierings – en die blonde ponytail wat
by die prinses Elsa duvet uitsteek. My oë soek deur die kamer met sy pienk
mure, versier met prente van unicorns, Olaf, vele prinses Elsas en ‘n Tangled
poster maar ek sien nie waarna ek soek nie.
“Waar’s hy?” My
stem is so hard en woedend ek skrik sommer self.
“Onder die bed.”
Antwoord my meisiekind in a piepstemmetjie wat duidelik na aan trane is.
Ek sak op my knieë
neer (tot my spyt, want ek gaan eventually hier moet opkom op ‘n manier) en lig
die val van die bed op. Dis pik donker onder die bed, maar soos my oë gewoond
raak aan die donkerte begin ek vorms raaksien. ‘n Barbie pop se kop. Ek wonder
waar die arme vrou se lyf is en wat sy nou weer gedoen het om onthoof te word.
Die hel waardeur die arme vrou ook moet deurgaan in miljoene huishoudings... Verder
is daar ook vele los Legos, ‘n leë Steri stumpi botteltjie, ‘n pakkie Niknaks, vele
Barbie uitrustings wat seker daar beland het omdat dit nie meer in die mode is
nie, ‘n verlore kind van ‘n Koala Sylvanian familie en ‘n een-oog teddiebeer
wat eendag lank gelede die liefde van ‘n kind geken het.
“Kyk hoe lyk dit
hier onder! G’n wonder die ding kom elke keer terug nie, dit lyk dan soos ‘n
nes!”
Net stilte
antwoord my van bo die bed af.
Ek vroetel in my
sakke totdat ek my selfoon opspoor en sit die flits liggie aan. My frons word ‘n
halwe sentimeter dieper soos wat ek nog dinge onder die bed sien wat my ‘n pyn
gee. Die lyke van lang-vergete dustbunnies, ‘n kots-groen vetkryt, ‘n hele
kolonie gebruikte tissues en iets wat moontlik op ‘n stadium ‘n toebie was,
maar nou ‘n broei stasie is vir 39 bekende en 45 onbekende spesies muf.
Uiteindelik
vang my oog ‘n skurwe hakskeen soos wat hy agter die leë strawberry Steri
Stumpi botteltjie probeer inkruip.
“Het jou, jou
diklip vark nek!”
Ek gryp die voet
en begin trek.
“Nee! Asseblief! Nee!
Ek sal nie weer nie...! Heeeeeelp!” Ek steur my nie aan sy gille nie. Ek weet
al die bliksem is ‘n drama-queen.
Ek sleep hom tot
by die voetenent van die bed, en los hom toe hy ophou spartel. Die oomblik wat
ek hom los begin hy dadelik weer kruip in die rigting van die kas wat oopbek
staan.
“Sit stil,
fokker!” Roep ek en hou my hand dreigend in die lug as teken dat ek gaan begin
klappe uitdeel. Hy knyp koes-koes sy swart ogies toe en sy dik onderlip begin
liggies bewe.
“Asseblief moenie...”
Sê hy smekend, maar ek laat sak nie my hand nie.
“Mamma! Jy’t die
f-woord gesê!” Kom ‘n beskuldigende stem van bo-op die bed. Ek het vergeet ek
het ‘n audience en laat sak verleë my hand.
“Kom!” Sê ek en
gryp hom aan sy grillerige arm sonder om eers te wag vir ‘n reaksie. Ek kom
kreunend orent en verwens weer die konsep van gravitasie voordat ek deur toe stap
terwyl ek Meneer half sleep half dra. Ek stop by die oop deur en sit die lig
af.
“Slapies nou maar
my liefies kind. Alles is onder beheer.” Sê ek in ‘n soetsappige stem, en voeg
by “Sê nag!” en lig my voet met ‘n skop dreigement in die rigting van die
karakter wat ek steeds styf aan die arm beet het.
“Nag. Lekker slaap.”
Sê hy saggies terwyl hy met groot – waarskynlik smekende – oë na die jong
meisietjie kyk wat besig is om weer haar lê kry.
Ek wag totdat sy
gemaklik lyk en trek die deur op ‘n skrefie agter ons toe.
In die gang laat los
ek sy arm, want ek gril tot in my tone vir die harde haartjies op sy skurwe
arm.
“Toe. Stap.” Sê
ek met gevoude arms. “Kombuis toe.” Antwoord ek op sy vraende kyk.
In die kombuis
beduie ek na ‘n stoel by die tafel toe.
“Maar ek...” Wil
hy met sy stories begin.
“Sit.” Sê ek
sonder die uitroepteken, maar in geen onduidelike terme nie.
Hy klouter by die
stoel op en bekyk die kombuis op en af en heen en weer in ‘n poging om my nie
in die oë te kyk nie.
“Hoeveel keer
nog? Hoeveel keer moet ons nog deur dieselfde roetine gaan? Het ek nie nou al
vir jou mooi verduidelik nie?” Vra ek en wag vir ‘n antwoord.
“Dis my werk. Wat
verwag jy van my? Jy’t gesien hoe lyk dit onder daai bed! Dis soos catnip vir
my. Ek kan nie anders nie!” Sy stemtoon is hopeloos te uitdagend na my sin.
Ek beur vorentoe
sodat my gesig reg voor syne is. Ek is onmiddellik spyt want daai vrot asem sal
die braafste Rambo se oë laat traan. Maar ek hou my pose.
“Wat de fok is
fout met jou man? Jy is ‘n verdomde pervert, man! Kruip rond onder klein
dogtertjies se beddens... Jy is siek in jou kop, man. Jy’t hulp nodig.”
“Dis my werk... Ek...”
Hy wil teë praat maar bedink hom as hy die woede in my oë sien.
“Ek het nie tyd
of krag vir hierdie kak nie. Seriously. Kan daar nie net 5 minute verbygaan dat
daar nie ‘n krisis is nie? Net een dag wat ek nie ‘n skooltaak op nommer 99
hoef te bou nie? Net een dag wat ek nie moet jaag van hokkie oefening na kitaar
oefening toe nie? Net een fokken dag wat ons kan betyds wees sonder dat ek soos
‘n goedkoop stadshoer hoef te skreeu nie? Net een aand wat ek nie jou skurwe
hol uit haar kamer hoef te gooi nie. Een dag wat iemand my nie vra ‘Wat is vir
ete’ nie. Net een dag – een enkele dag - wat die dronk gat pa net sy deel sal
doen in stede daarvan om soos ‘n mak moer op die bank uit te paas nie. Een dag
wat ek nie blou kolle hoef...” My stem raak onverklaarbaar weg. “Net 5 fokken
minute vir myself. Dis al wat ek vra. Die naaste wat ek aan ‘n spa kom is as ek
die skottelgoedwasser oopmaak en die stoom in my gesig blaas... Dis nie ‘n
fokken grap nie wat lag jy jou klein tosser...?!”
Ek laat sak
moedeloos my gesig in my hande. Ek’s nie seker of ek actually huil en dit net
voel of ek wil huil nie.
Ek voel sy skurwe
handjie met die lang naels oor my arm vryf. Dit voel soos skuurpapier, maar ek
gee nie om nie. Vir daai oomblik voel ek die frustrasie, die seer, die
alleenheid uit my spoel soos ‘n stroom oor ‘n droë rivier oewer in die Karoo. ‘n
Oomblik wat iemand omgee. ‘n Oomblik wat die waansin ligjare weg is. En net so
skielik hou die aanraking op. Ek kyk nie op nie. Ek hoor sy stoel skuif. Die
kaal voetjies oor die vloer loop. Die ketel wat aangaan. ‘n Koppie wat neergesit
word en ‘n teelepel wat doenig raak met iets. Ek sit steeds koponderstebo,
gesig in my hande. Ek voel die nattigheid en besef dat ek wel regtig gehuil
het. Uiteindelik hoor ek hy sit die koppie voor my neer en begin hy troostend my
rug vryf.
Ek kyk op in sy
horribale gesiggie. Dis vol vratte. Skewe tande steek hier en daar verby die dik
lippe. Die groot swart oë kyk met teerheid en vol verstaan diep in my siel.
“5 minute. Net
vir jou. Sien jou more aand.”
En dan is hy weg.
Die Heel beste!!!!!!!!! hahaha
ReplyDelete:-) :-) ;-)
Delete