Dink julle dit is
veilig om ‘n blikkie baked beans wat nog oor is van die “1994 oorlog voorraad”
te eet? Ek vra sommer maar net vir ‘n “vriend”...
Ek het nou al
baie te sê gehad oor kos en al die vreemde goed wat in ons in ons monde prop,
maar dit bly vir my so 'n fassinerende onderwerp.
Vat nou maar iets
eenvoudig soos roosterbrood. Een of ander tyd in ons geskiedenis het ‘n ou ‘n
sny brood geëet en vir sy vrou gesê: “Die brood is nog nie gaar genoeg nie!” Hy
het toe sy werkswinkel ingevaar en ‘n toaster uitgedink sodat hy ‘n sny brood
NOG gaarder kan maak. But why? Hy het natuurlik nooit die kuns vervolmaak nie,
want die gemiddelde toaster het mos twee verstellings: “Amper glad nie ge-toast
nie” of “Houtskool”. Ons kan ‘n spaceship op Mars land, maar ons kan nie die
tegnologie vervolmaak om die perfekte snytjie toast te maak nie?
Ek het al baie
gewonder oor wie eerste iets probeer eet het. En hoeveel mense is gedooi omdat
ge-“took one for the team”.
“Kyk hierdie
pragtige rooi paddastoel. Ek wonder hoe proe dit?”
“Proe jy!”
“Nee, proe jy!
Kyk ek was verkeerd oor die Brussel sprouts – maar ek is seker hierdie gaan
anders wees.”
“Omnomnom.
Aaaargh!”
“Oeps. Ek gaan
nogal vir Frikkie mis. O ja. Op ‘n onverwante noot: Moenie die rooi paddastoele
eet nie.”
En resepte? Don’t
even get me started! Hoeveel keer is ‘n spesifieke resep gemaak voordat iemand
besluit het dís hoe jy iets maak? Wanneer besluit jy daai metode werk nie ons
gaan dit nie weer probeer nie, en wanneer besluit jy jy’t dit doodeenvoudig nie
reg gedoen nie?
Soos nou in
Desember dink ek mos ek’s vreeslik oulik. Ek gaan ‘n Mozart koek bak vir
Kersdag se nagereg. (As jy nie weet nie, ‘n Mozart koek bestaan uit lae
meringue van amandel meel en ander omnomnom goed. Dis nogal hoërgraad werk.)
Vir die eerste keer in my lewe. En ek het mos selfvertroue en ek kan mos mooi
instruksies volg. 24 Desember begin ek sommer vroeg bak. Ek gaan julle die
details spaar. Kom ons sê maar net 3 baksels taai, droog en oneetbare meringue
lae later het die gaste op die ou einde op Kersdag van daai waterige
vrugte-ysies vir poeding gekry.
Ons is ook nooit
tevrede met iets soos wat dit is nie. Waarskynlik omdat daar altyd ‘n Magriet
is wat vol fiemies is. Probeer nou maar iets eenvoudig doen, soos
grondboontjiebotter koop. Jy dink jy gaan daar instap en ‘n bottel grondboontjiebotter
vat en loop. Uhm, nee. Nie net moet jy kies tussen Black Cat, No Name of
Yum-Yum nie, jy moet ook besluit tussen Smooth, Extra Smooth, Plain, Crunchy,
Extra Crunchy, Super Extra Crunchy of Crunchy met Gurkins (ek toets net of jy
nog oplet). Ek het die Super Extra Crunchy probeer. Dit was toe nou net ‘n
bottel met peanuts in. Dis nogal ‘n uitdaging om daai storie op brood te smeer
hoor.
Take aways het
ook die afgelope jaar of so heeltemal verander. Ek praat nou van Mr D en Uber
Eats en daai ouens. Dis ‘n hele game changer. In die ou dae as jy te lui was om
kos te maak, moes jy nog steeds iewers heen ry, kos bestel, wag en weer al die
pad terug ry huis toe. Nie meer nie. Nee, nee. Nou druk jy ‘n knoppie op jou
foon en die kos verskyn minute later by jou voordeur. Dit kombineer sommer twee
van my gunsteling goed. Eet en niks doen nie. Alhoewel daar is nog een hindernis.
Ek moet nog actually opstaan en deur toe stap om die kos te gaan kry. As jy nou
wil verbeter op Mr D se diens, dan maak jy nou ‘n diens wat die delivery ou jou
kos vir jou bring daar waar jy op die bank voor die TV sit!
“En bring sommer
vir my iets koud uit die yskas terwyl jy op is!”
Die ryk mense het
mos sulke fancy yskaste wat aan die Internets vas is. As jy net 14 biere oor
het dan laat weet die yskas vir jou dat jy moet begin paniekerig raak die
voorraad is op, en dan laat weet hy sommer vir Pick ‘n Pay hulle moet iets daaromtrent
doen.
Ons het darem ver
gekom van in die bos gaan stap, iets eetbaar soek, hom met ‘n skerp stok dood
kap, hom skil en dan nog hom gaarmaak ook. Ek dink nie ek sou oorleef het in
daardie tye nie. Of ek sou soos die chieftain (Grootbaas Geenbeweeg) gewees
het, wat halfkaal mense my druiwe gevoer het sonder dat ek iets hoef te doen.
Dis ook
interessant hoe kos mense bymekaar bring. As groepe mense bymekaar kom, word
daar geëet. Veral Afrikaners. Kan mos nie ander mense sien op ‘n nugter maag
nie. Maar daar is niks wat mense so verenig soos koek nie.
“Kom jy? Frikkie
verjaar!”
“Ugh. Ek hou nie
regtig van Frikkie nie.”
“Daar’s koek!”
“Ek kan seker net
gaan hallo sê, ek meen dit is sy verjaardag...”
Maar koek is ook
die enigste kos waarin jy kerse kan steek en daarmee kan wegkom. Steek kersies
op ‘n koek, en jy’t ‘n partytjie. Steek kersies in sê nou maar ‘n melktert of
‘n koeksister, en mense dink jy’s dronk.
En natuurlik die
vreemdste gedrag is as iets sleg proe.
“Omnomnom. Eeew.
Ek dink hierdie kaas is af. Proe!”
“Nee dankie.”
“Nee regtig. Dis
aaklig! Proe net man!”
“Maar my fok...”
Ek moet seker nie
oor kos praat nie, want meeste van ons het die tyd van Januarie so lanklaas
iets ordentlik geëet, ons kan nie eers meer onthou hoe proe skaapvleis nie (of
dalk is dit juis hoekom ek oor kos praat want ek’s honger?)... Maar wat ek
eintlik wou sê: Ek het ‘n lekker resep raakgeloop. Daai klein sakkies
tamatiesous wat die take-away plekke altyd vir ons gee wat jy net so in “Die
Laai van Alles” moer... Vat een van hulle en maak dit leeg in ‘n koppie. Gooi
kookwater by. (As jy spaarsamig was in Desember het jy dalk nog bietjie sout en
peper. Moer by.) Meng goed met ‘n teelepel. Tada! Tamatiesop!
Dis ‘n plesier.
Toemaar liewe
lesers. Ons is darem al verby die helfte van Januarie. Nog net 3 maande, 17
dae, 43 uur en 12 minute voor payday. Dalk sal ons hiérdie jaar Desember meer
verantwoordelik wees?
Of nie.
© Riaan Palmer