Wednesday 23 January 2019

Eet ‘n hoenner

Soos dit ‘n Maandag-oggend betaam, is daar toe nou ‘n moerse f-op, op die N1 voor die Atterbury-afrit, een van die besigste interseksies in die land. Nou gewoonlik sal mense alternatiewe roetes kies om die ongeluk te vermy, maar vandag sien ek ‘n weird patroon – dis asof die verkeer in die rigting van die ongeluk vloei. Totdat ek nou uitvind dis ‘n trok wat lewendige hoenders vervoer het wat skuins gaan lê het op die snelweg, en ewe skielik lyk die N1 soos ‘n Rainbow Chicken plaas – dosyne en dosyne hoenders wat getraumatiseerd deur die ongeluk, verward rondloop en teer pik. En met die wat dit (soos julle weet) dag 938 van Januarie 2019 is, is almal op pad na die toneel van die ongeluk met die hoop om ‘n lewendige hoendertjie te ontvoer... Mense raak desperaat die tyd van die jaar – die yskas en kaste is leeg, so ons sien kans vir ‘n brandmaer hoender wat tien-teen-een Newcastle-siekte het...



Ja nè, ons doen dit elke jaar. Desember kry ons bonus en dan leef ons asof daar geen einde aan ons geld is nie... Eet elke tweede aand KFC (want dis tog net ryk mense wat KFC kan bekostig), vaar Woolies in en koop mos al wat ‘n fancy ding is wat jy in jou lewe nie sal koop as jy helder dink nie: Alles van walvis-kaviaar tot ingevoerde skoenlapper-lewer-patee. Dink mos niks daarvan om 3-ply toiletpapier te koop nie. For why? Because we can.

30 Desember 2018 - Jy wil jy bietjie uitgaan en iets gaan doen want jy raak nou verveeld, dan besef jy, jy het geld nodig om iets te gaan doen, maar ewe skielik is die onbeperkte fondse van 15 Desember BAIE beperk. Jy begin sommetjies maak en jy kom agter jy’t so 73.5673 sent oor per dag tot die volgende payday. Sug.

7 Januarie 2019 – Skielik kom jy agter jy’t nog nie die kinders se skoolgoete gekoop nie. Jy sit ‘n hoed, serp en ‘n donkerbril op en glip by Pep stores in met die hoop dat niemand jou gaan sien nie (want onder normale omstandighede sal jy mos nie dood in ‘n Pep stores gesien word nie). Jy gewaar jou vriendin wat in Mooikloof bly ook in Pep Stores en julle ignoreer mekaar totaal-en-al. Daar is party goed wat mens net nie erken of oor praat nie.

9 Januarie 2019 - Jou kind gewapen met die goedkoopste no name brand skryfbehoeftes, kom jy agter jy’t nou net 38.4593 sent oor per dag tot die volgende payday. Skielik het jy die behoefte om met daai familie-lede kontak te maak met wie jy ‘n jaar laas gepraat het. Die feit dat hulle moer ryk is en dalk vir jou geld sal leen het niks met die prys van eiers uit te waai nie...

11 Januarie 2019 - Kom aandete, slaan jy moedeloos die yskas oop. Daar is ‘n tupper-bakkie heel agter in die yskas wat left-over pasta in het wat jy iewers in Julie laas jaar gemaak het. Jy wonder is dit nog eetbaar. Kos hou mos vir ewig in Tupperware. Jy maak die bakkie oop en loer in. Dit wat daar binne is probeer jou aan die oogbal byt. Die pasta is lankal nie meer pasta nie, en wat dit ook al nou is, het klaarblyklik nou ‘n lewe van sy eie. Jy gooi maar die bakkie weg.



12 Januarie 2019 – Jy staan verslae voor die vrieskas. Daar gaan ook nie veel aan nie. Daar is ‘n pak kookbene, maar dis al so wit van die ys dat argeoloë dalk meer waarde as jy daaruit gaan kry... Daar is ook ‘n pakkie ‘pet mince’. Jy wonder ernstig wat is die verskil tussen ‘pet mince’ en mince vir mense... Jy hou die gedagte maar in jou agterkop – plan B.

15 Januarie 2019 - Jy slaan die spens oop en bekyk die rak waar die blikkieskos altyd staan. Daar is nou niks. Jy staan op jou tone en loer na die heel boonste rak. Daar, doer in die donkerste hoek staan ‘n enkele blikkie stoksielalleen en gluur jou aan. Jy sleep hom nader. Dis ‘n blikkie tuna. Dit het in 1957 verval. Jy’s nie seker hoe hy daar gekom het nie, want jy’s eers in 1983 gebore. Jy gaan vra vir Google hoe lank tuna kan hou in ‘n blikkie. Dis nie goeie nuus nie.

17 Januarie 2019 – Die laaste grondboontjiebotter is op, en jy weet nie meer wat om op die kinders se toebies te sit skool toe nie. Jy ontdek ‘n bottel nastergal konfyt wat jy jare terug van ‘n tante af persent gekry het. Jy weet nie wat is nastergal nie, maar jou kinders gaan nou uitvind hoe dit proe. Die deksel kry jy norremoer oopgedraai en jy slaan die bottel se kop af teen die rak. Jy hoop maar vir jou kinders se onthalwe dat jy al die glasstukke uitgekry het.

18 Januarie 2019 – Daar is ‘n ou op die ‘Ek’s van die Ooste’ Facebook groep wat wil weet of is dit wettig om hoenders in die stad aan te hou, want sy buurman het hoenders en hulle pla hom. Jy stuur vir hom ‘n privaat boodskap en sê jy sal van sy probleem ontslae raak – gratis en verniet. Hy moet net sy buurman se adres stuur en laat weet wanneer die buurman nie by die huis is nie...

20 Januarie 2019 – Jy begin Google of het jy regtig 2 niere nodig om te oorleef en waar jy ‘n nier op die swart mark kan verkoop. Jy lees egter dat jy jou drinkgewoontes sal moet verander, en sit dit eerder in die ‘Plan B’ kategorie.



21 Januarie 2019 – Jy begin nou kreatief raak met die kinders se toebies vir skool. Jy smeer Colgate op en sê vir hulle dit is Disney se Frozen se nuwe peperment-sjokolade toebroodjiesmeer.
Jy hoor op die radio daar het ‘n trok met hoenders op die snelweg gerol. Jou planne vir die dag verander baie vinnig. Jy laat weet jou baas dat jy gaan laat wees...

Sug. En so gaan dit.

Kon een van julle darem toe ‘n hoender gevang kry?
Die goeie nuus is daar is nog net 39 dae oor voor payday.
Ek het geen verdere raad nie. Behalwe: Hou in gedagte dat as jy R50 in jou bankrekening het, en jy trek geld by die OTM: die transaksie koste is R15, so jy’t eintlik net R35... Ek praat uit ondervinding...
Share:

0 comments:

Post a Comment