Monday 27 May 2019

3 Groepe Mense

Het julle al opgelet dat daar in die “moderne tye” groepe mense is wat bestaan, wat nie bestaan het toe ons kinders was nie. Waar kom hulle vandaan? Waar het hulle weggekruip al die tyd net om ewe skielik onder een of ander bos uit te spring “Hallo! Hier’s ek nou... Nee, ek was nog heeltyd hier, het jy my nie gesien nie?”

O, ek moet seker sê van wie praat ek: Vegans, mense wat gluten onverdraagsaam is en mense met neut allergieë... Hoe weet jy as jy in so iemand se geselskap is? Moenie worry nie, hulle sal jou binne die eerste 5 minute van die gesprek herinner dat hulle vegan/gluten intolerant/allergies vir neute is. Ek weet nie wat verwag hulle van ander mense deur vir ons te vertel nie? Dis nie asof ek jou ‘n steak/broodjie/peanut gaan aanbied binne die eerste 5 minute van ons gesprek nie!?



Ek het simpatie met die ouens wat allergies is vir neute. Soos ek die storie verstaan ruik hulle net ‘n peanut butter en stroop toebie dan trek hulle kele toe, val neer met skuim in die bek en gaan dood. Dis tragies – dat jy nie die vreugde van Nutella ooit sal ken nie. Hulle lewe moet totaal betekenisloos voel. Ek verstaan dat jy oral waar jy moet gaan mense moet waarsku dat jy allergies is vir neute want dis ter wille van oorlewing!

“Ek is allergies vir neute, so moet my asseblief nie met ‘n peanut gooi nie, ek sal doodgaan!”

Maar waar kom hulle vandaan? Toe ons kinders was, was niemand tog allergies vir neute nie. Peanut butter was ons stapelvoedsel op skool. Peanut butter en jam. Peanut butter en stroop. Peanut butter en peanut butter. Peanut butter met ‘n lepel net so uit die bottel. Daar was selfs die psigopate wat peanut butter en piesang toebies gehad het – maar ek was nie maatjies met hulle nie vir obvious redes. Wat het gebeur dat kinders deesdae almal allergies is vir neute? Het die ouers te veel peanut butter gehad?

Fine. Ek kan hulle vergewe...



Maar die “gluten intolerant” mense. Hierdie mense is nie soos die peanut mense wat gaan doodgaan as hulle naby ‘n bruinbrood korsie kom nie... As hulle graan inkry dan voel hulle net so ‘n bietjie “af”. Nie soos in met “ek wens ek was dood” af nie. Nee, net bietjie opgeblaas - windmakerig. Soos as ek koolslaai geëet het. Jy loop rond met konstante turboboost. Nou dis fine as jy nie heeldag met die winde van verandering wil saamleef nie. Die probleem is dat fokken ALLES wat ons in ons monde prop een of ander vorm van gluten in het. Skielik is daar ‘n hele nuwe mark vir die kos produsente. “Gluten free products”. Ek’s nie seker wat presies is nou in die “gluten free” kos nie – gedroogde blomkool poeier en kakiebos saad? Ek weet nie. Wat ek wel weet is dat gluten die bestanddeel is wat hulle in kos sit om dit heerlik te maak! Het jy al ooit iets gluten vry geëet? Was jy soos ek onseker of jy die karton boks geëet het waarin dit gekom het of die actual produk?

Sien, driekwart van die mense het net op die “bandwagon” gespring vir gesondheidsredes. Een of ander dieetkundige het in ‘n Sarie artikel gesê dat “gluten free” is gesonder. Kak man.
Daar is mense wat nie die proteïen, gluten, kan verteer nie. Hulle ly aan coeliakie. ‘n Doktor het hulle gediagnoseer en dit kan tot ernstige mediese probleme lei as hulle selfs ‘n klein hoeveelheid gluten inkry. Hulle het my simpatie. Dit moet aaklig wees! Maar nee, ‘n groot gedeelte van die “gluten intolerant bende” is sommer self gediagnoseer, en dis hierdie klomp wat tipies vir almal loop en vertel hulle is “gluten free”. Hierdie mense het ‘n keuse gemaak. Ek weet ook dat “gluten free” goete is ongelooflik duur, so in dieselfde asem sal jy opmerk dat net ryk mense is kammakastig gluten intolerant. Jy kry nie ‘n arm mens wat gluten intolerant is nie, want brood en bier vorm deel van hulle stapel dieet. Ewe skielik wil al wat ‘n besigheid is geld maak daaruit: Gluten Free perms, gluten free bacon (no shit, Sherlock), gluten free ice cubes...

Dan probeer hulle jou nog oortuig:
“Vandat ek gluten vry is, het ek soveel energie dit voel of ek my man se Fortuner sommer met my kaal hande kan omgooi.”
‘Tsek, Linda. Ek hou van kos wat na iets smaak. Wat wil ek met ekstra energie doen as ek nie kan pizza, koekies, pasta, pannekoek en ander vorme van geluk eet nie?



Dan die veganiste. Nou as jy nie weet wat presies ‘n “vegan” is nie, dis die hippie tree-huggers onder ons wat ‘n morele besluit gemaak het om nie enige iets met ‘n gesig te eet nie. Ook nie enige iets wat uit ‘n ding met ‘n gesig gekom het nie wat insluit eiers, kaas, melk, ensovoorts. As jy ‘n veganis is, awesome. Ek is bly vir jou. Dis cool dat jy ‘n standpunt inneem en ‘n etiese besluit gemaak het om nie diere te eet nie. Ek sal nooit vir jou ‘n heerlike steak bedien nie (want die kanse is klein dat ek jou gaan nooi vir ete).
Maar ek sweer as jy vir my vertel dat ek ‘n moordenaar is of as jy my probeer sleg laat voel omdat ek vleis eet sal ek JOU eet.
“Ja, maar...”
“Maar” se voet in ‘n visblik. Ek sal basting sous oor jou smeer en ek sal jou fokken eet. Medium rare.
En as hulle nie vir jou probeer preek en op jou gewete speel oor hoe moorddadig en wreed dit is om vleis te eet nie, probeer hulle die vegan kos aan jou afsmeer.
“Probeer bietjie hierdie worsie, Riaan. Dit proe nes hoender, maar dis gemaak van tofu!”
“Nee Linda. Daar is klaar iets wat proe soos hoender... Hoender. Hoender proe soos fokken hoender!”

My vleisie het dalk ‘n naam gehad, Lammie of iets, en ‘n mammie en ‘n pappie wat vir hom lief was. Dalk hoekom hy so lekker juicy is? Omnomnom. Maar as jy nie daaroor praat nie, sal ek jou nie vertel dat jy eerder moet gaan wei buite op die gras om jou mond toe te kry nie... OK? OK. Ek's nie kwaad vir julle nie. My tjoppie is net belangriker as die bak voëlsaad wat jy "lunch" noem... True 's Bob.

Riaan Palmer
Share:

0 comments:

Post a Comment