So anders as wat mense is, so is hulle ook maar almal dieselfde...
En spesifiek nou as dit kom by sosiale interaksie wat dinge nou vir my
vreemd raak.
Ek staan en luister vir iemand wat vir my hulle
langdradige storie vertel. Vir ‘n begin is dit een van daai mense wat
geen benul het van persoonlike spasie nie. Nee, hulle dring daarop aan
om neuslengte van jou af te staan. En hoe meer ek so onopsigtelik
moontlik agteruit retireer, hoe meer skuifel sy saam. Naderhand staan
ons 10 meter verder van waar ons gesprek (eerder - die monoloog) begin
het soos wat ek probeer wegvlug-skuifel en sy my agtervolg. En sy praat
dat die spoeg spat. Letterlik. Soos wat sy babbel en net asem skep na
elke paragraaf, beland daar ‘n sproeisel spoeg -bloep - op die punt van
my neus. En daar is mos nou ‘n ongeskrewe reël dat as iemand jou per
ongeluk raak praat-spoeg, dan maak jy asof niks gebeur het nie. Hoekom?
Ek weet nie. Jy wil nie die persoon in die verleentheid stel nie? Maar
op daai oomblik hou jy in elk geval op met luister want al waaraan jy
kan dink is die druppeltjie spoeg. Jy is totaal uitgefreak. In jou kop
het jy ‘n gesprek met jouself oor hoe disgusting dit is. Jy voel hoe
kieme, bakterieë, en ‘n onbekende variant van sifilis oor jou gesig
loop. Jy het ‘n behoefte om dit onmiddellik af te vee. Maar jy hou jou
pose. Maak asof niks fout is nie en knik instemmend so asof jy nog
enigsins luister wat sy sê. Jy begin dink hoe lank tyd nodig is voor jy
“toevallig” jou neus kan krap sodat dit nie obvious lyk nie...
Uiteindelik maak ek asof ek nies en in die proses vee ek vinnig die
druppeltjie van my neus af. En in dieselfde proses van kamma-nies sproei
ek haar so van die spoeg, dit lyk of sy deur ‘n Kaapse misreën bui
gestap het...
Dieselfde mos as jy tussen ‘n klomp mense is en
iemand vir jou waai. Jou verstand hardloop verwoed op en af opsoek na ‘n
file, want jy herken die persoon van g’n kant af nie. Maar jy waai
onseker, tog vriendelik terug. Dan sien jy uit die hoek van jou oog dat
hy eintlik vir die girl hier agter jou gewaai het, en jy probeer maak
asof jy nie gewaai het nie maar jou hairdo mooi wou maak... Hoekom daai
nou so embarrassing is, weet g’n mens nou eintlik nie.
Dan is daar die kere wat jy nie kan hoor wat iemand vir jou sê nie.
“Woh gyuos oias kdsil huuhdhj keyetr gsoiuo?”
Jy weet hulle het ‘n vraag gevra, maar jy’t geen idee wat nie, so jy doen net ‘n beleefde “Ekskuus?”
Hulle praat bietjie harder. “Weet gyuos ons kdsil huuhdhj harte gsoiuo?”
Daar is ‘n oomblik van stilte om jou ore en brein tyd te gee om kop of
stert uit te maak van die klanke, maar jy weet nog steeds nie wat die
vraag is nie. “Sê weer, ek kan nie hoor nie, ek’s doof in die oor...” En
jy draai jou “goeie oor” in die rigting van die mompelaar (alhoewel
daar net mooi niks met jou gehoor fout is nie).
Nou raak die persoon ongeduldig en mompel harder in sulke lettergrepe. “WEET. GYUOS. ONS. KDSIL. HUUHDHJ. HARTE. GSOIUO?!”
Jy’t nog steeds geen idee wat hulle gesê het nie, maar apparently is
die sosiale norm dat jy nie meer as 2 keer kan “ekskuus” sê nie. So jy
antwoord net met ‘n onsekere “Nee, ek weet nie” en hoop maar vir die
beste. Die vraag kon netsowel gewees het “Wat is jou Ma se naam?” maar
die antwoord na die derde probeerslag is altyd “nee ek weet nie”.
En van nies gepraat. Het jy al een van daai niese gehad wat jou so
onverwags getref het? Jou kry net betyds jou hand voor jou mond, maar jy
voel die drillerige ghwel jou hand tref. Jou hand is sop nat... Maar
nou’s jy in ordentlike geselskap, so jy kan nie reageer en jou walging
uiter of dit iewers afvee nie. So jy vou maar jou hand toe en balanseer
die glibberige nat spul in jou hand totdat jy alleen is en iets daarmee
kan doen...
Ek sal ook nooit die oomblik vergeet wat ek met ‘n
bemarker op die foon was, en glad nie geluister het wat sy gesê het
nie... Toe die gesprek tot ‘n einde kom en die goodbyes gesê word, toe
sê ek so ewe uit (gewoonte uit?), “Ok, love you. Bye!” Gevolg deur ‘n
baie ongemaklike stilte, red sy toe darem die situasie deur te sê “I
like you, but maybe just as a friend...”
Of as die waiter by die
restaurant jou kos vir jou bring en vir jou sê “Geniet dit!” en jy volg
op met ‘n “Dankie jy ook”... Sug.
Los hande was egter die mees
embarrasing-ste oomblik toe ek ‘n probleem wind gehad het... Die ding
moes uit. Ek was alleen in my kantoor, en ek ontspan toe nou maar die
kleppe laat die winde van veranderinge gebeur. Ek weet nie hoekom nie,
maar die spesifieke uitlating het die nasmake van ‘n lyk gehad wat nou
al ‘n week fermenteer (gewoonlik ruik myne soos potpourri) en die
doodsreuk gaan hang so genadeloos in my kantoor... Die volgende oomblik
loop my baas se vrou by my kantoor in en begin om vir my iets te vertel.
Fok. Sy stop sommer in die middel van haar sin toe die reuk haar tref
en ek kan sien hoe haar verstand oortyd werk oor hoe om die situasie te
hanteer. Sy besluit toe om maar aan te gaan met haar storie en probeer
gepynig maak asof niks pla nie. Maar die feit dat haar oë getraan het,
het boekdele gespreek.
Ek het nog nooit ‘n Tannie Emsie Schoeman
boek gelees nie, maar ek raai daar is nie etiket reëls oor hoe om
hierdie sosiale verleenthede te hanteer nie? Dalk moet ek so ‘n boek
skryf?
“Wêreld sluk my tog in?”
Riaan Palmer
0 comments:
Post a Comment