Tuesday 1 October 2019

Die mense van 'Faceboek'

Ek dink ek moet myself van al wat ‘n Facebook groep is afhaal, want die frustrasie maak net dat my een linkeroog aanhoudend aan die spring is... Dit is nogal ‘n uitdaging vir iemand soos ek, wat mos oor alles ‘n eiertjie te lê het, om stil te bly as “die dommetjies” losgelaat word. (Dis nou “ander mense” – niemand wat ons self ken nie.)




Miskien moet mense eers ‘n IK toets (en ‘n basiese speltoets) doen voordat jy mag toegang kry om iets te kan post op Facebook? Kyk ons almal maak ‘n ou foutjie, en dis OK. Ek meen, ek het al soveel keer van my stories se karakters “verseker” (as ek eintlik bedoel vir seker) dat Outsurance my al moet begin kommissie betaal. ‘n Spelfout hier en daar is normaal. Maar my liewe hemel, as Frikkie verduidelik dat hy “is op soek na twee 3/4 bekies of enkel bekies” of Linda vra “Kan iemand my se hoe maak mens tjokelade koek se ising” dan lê ek mos nou vir ‘n week lank wakker en wonder oor ons se volk. (Hierdie is werklike voorbeelde!!)



Soos ek beduie vat dit baie selfbeheersing van my dat my sarkasme nie ontsnap nie; hulle skop jou mos maklik van die groepe af as jy jou nie gedra nie (of die ouetehuis se tannies “gang” op teen jou, en noem jou ‘n cyberbully). So ek bly stil, maar dis moeilik. So moeilik.

Ek maak nou al ‘n ruk lank sulke vrae (posts) bymekaar wat ek vreeslik graag sou wou beantwoord, maar die beter mens was en net aange-scroll het. (Party posts is geleen/aangestuur – dankie julle!) Gelukkig is hierdie my eie bladsy so niemand kan my afskop nie (tensy ek my vir myself vervies).
Hierdie is alles regte vrae wat ge-post is op Facebook groepe en wat ek wou antwoord. (Insluitende daai een berugte groep wat rym met “Ek is van die Hooste”...)

(Name is verwyder. Want siestog.)

V: Waar kan ek crocs tipe skoolskoene koop?
A: Asof jou skooljare nie erg genoeg is nie, nou wil jy jou kind met Crocs skooltoe stuur? Hoekom haat jy jou kind so? Of wag, laat ek raai – dis die middel kind, nè? Nee! Die kind gaan beter af wees as jy hom/haar kaalvoet skooltoe stuur.
---

V: Is daar weer n maag virus in die lug en wat is die simptome?
A: Nee. Mense bekak hulle want die krag is weer af. Wag tot dit aand is en dan kyk om jou rond. As dit donker is, is jou krag ook af.
---
V: Enige raad om by die huis 'n vraaitjie te laat verwyder?
A: Hou op om vir hom kos te maak.
---
V: Wat kan dit wees maats ek voel so moeg kani my oe oop hou ni ek is ge ireteurt en emosineel wil net huil.
A: Lees ‘n boek of gaan slaap. Maar lees definitief ‘n boek.
---

V: Hi almal..ek opsoek klein hond 6 week en wat jou het jou hond niemand weg gee asb
A: Rooi telefoon bel Mickey Mouse by sewentien half oor nege.
---
V: Het enige iemand dalk n skedile van die beurtgraf?
A: ‘Beurtgraf’ is die minste van jou probleme. Lees ‘n boek.
---

V: Wat kn ek g bryk vi Skrikerig ek is ng heel ini Skrik
A: Jy’s in skok. Drink ‘n glas suikerwater en probeer weer.
---
V: Wat word vrees vir ‘n haaie genoem?
A: Common sense.
---
V: As evolusie regtig is, hoekom het mense nie vlerke nie? Dis net leuens wat deur ateiste versprei word!
A: Jy verwar evolusie met Red Bull.
---

V: Goeie dag Montana.. Beste plek om trou rokke te laat bak??
A: Fokus Magriet! Hierdie is belangrike vrae, jy kan nie bekostig om foute maak nie!
---
V: My Jack Russel terf is op hutte en maak my reene en my mal. Enige raad of kennels wat ek kan doen? Ja Ja ek gaan haar laat reg maak sodra sy van hutte af is.
A: Sug. (En lees ‘n boek. Verkieslik een sonder prentjies.)
---
V: Wat beteken dit as jy droom jy ry werk toe en ‘n draak land voor jou in die pad?
A: Jy is ‘n wizard. Het jy nog nie jou uitnodiging na Hogwarts toe gekry nie?
---

V: Wie kan vir my se my kar het n nuwe clats kit in en hy kry nog steeds nie ratte nie dis oupel kaded
A: Het jy al tussen die voorste sitplekke gekyk?
---
V: GOEIE MORE EK WIL HOOR WIE WEET VAN MENSE WAT OP HEMDE KAN GRAFEUR?
A: Ten minste is jy mooi. Dit tel darem vir iets.
---
V: Naand almal as my resep strooi suiker soek kan ek gewone suiker gebruik?
A: Ja jy kan. Maar dan moet jy dit oor die beslag strooi, nie net in moer nie.
---

V: Wat is dit met **** straat se huis eienaars wat nie na hulle honde kan kyk wat nie hulle honde aandag gee wie se honde 24/7 blaf vir die gerungste ding. Regtag dit begun nou n neusens raak ek is iemand self met diere ma nie eeers my honde blaf so on ophoudlik oor gemors nie. Wat kan n mens doen ek is op die pint om my kop te virloor met my buur man se 3 elsasians wat so blaf en tekeere gan.
A: Ek voel jou pyn. Jy’t duidelik weke laas geslaap, want dit kan die enigste verskoning vir daai spelling wees. Ek het in ‘n movie gesien dat as jy ‘n hond aan sy oor byt, dan hou hy op met blaf. Probeer dit bietjie en laat weet of dit werk.
---

V: Kan iemand my help hoe om melktert te maak asb ekt kla die pasta en eie by gegooi...
A: Magriet. Jy’s dronk. Haal die macaroni uit die wasmasjien en gaan klim in die bed.
---
V: Waar kan ek steune koop en hoeveel prys per steun?
A: Jy’s seker van Wôterkloof? Probeur Builders Warehouse.
---
V: Hi almal ek het met 'n oline werkie begin. As u belangstel om meer geld te maak of as u dit n probeer slag wil ook los asb u nommer of email adres en ek stuur die link vir u. dis nog n nuwe ding dis nie scam nie.
Soos die spreek woord se wie nie waag nie sal nie.
A: Ek was eers op my senuwees, maar die feit dat jy sê “dis nie ‘n scam nie” het my gerus gestel. Kan ek sommer my bankrekening nommer en PIN vir jou stuur dan los ons sommer al die onnodige admin tussenin?
---
V: Beste maniere om sonnestelsel te maak? Sonder balonne en paper Machel.
A: As jy uitvind, onthou net om op die sewende dag te rus.
---
V: Op soek na n ontfangs dame /man met werks winkel ontfangs onderfinding in polokwane kontak *** op.
A: Ek het nog altyd gewonder wat sal ek doen as my V-sleutel op my keyboard moet ophou werk.
---

V: Wie doen nails in ellisras wat nie n appel en n uie gaan vra nie
A: Het jy nog idiome waarmee jy ons kan vermaak?
---

V: Ek soek n leka pot boot en piper mint tert resep
A: Magriet, jy’s nog steeds dronk. Ek dog ek het gesê jy moet gaan slaap?
---
V: Hi julle. Hoekom is langer katte gewoonlik grotter as ouer katte?
A: Ek kan nie vir jou sê hoeveel aande het ek al wakker gelê en wonder oor hierdie einste vraagstuk nie...
---

V: Admin, hoekom mag ander se koeke hier geplaas word en myne nie?
A: Nes arme Margaret dink ons het van haar vergeet...

©Riaan Palmer
Share:

0 comments:

Post a Comment