Tuesday 26 November 2019

Oor seesterre en troeteldiere

My ouma het altyd gesê, jy kan 'n boerbok tot by seewater lei, maar jy kan hom nie forseer om 'n seester te lek nie. Nee, ek’s self nie seker wat dit beteken nie, maar dit klink vreeslik insiggewend. As ek moet raai het dit iets te doen met Fanus.




Een goeie dag het ‘n Antie op ‘n buurplaas dit goed gedink om vir Ouma ‘n boerbok persent te gee. Ouma was gaande oor dié bok, Fanus, en die ding het haar soos ‘n hond orals heen gevolg. Maar ‘n boerbok is mos nou nie ‘n vreeslike skoon ding nie, so sy besluit toe om vir Fanus te “potty train”. Die idee was dat as Fanus in die verste hoek sy besigheid doen dan gee sy vir hom ‘n lekkerny. Behalwe, Fanus het begin dink dat elke keer as hy piepie, dan kry hy ‘n lekkerny... So, na ‘n week se “opleiding” het hy elke keer begin piepie as hy vir Ouma sien. Needless to say het Fanus toe nou maar afgetree as troeteldier en moes maar saam die koeie gaan wei.

Dis vir my eintlik weird – hoe het ons nou eintlik besluit sekere diere is troeteldiere? O wag, die antwoord is seker maklik: Mense wil mos alles in hulle verdomde monde steek!
“Kan mens dit braai? Kan mens dit tussen 2 snye brood pas? Kan mens dit geniet met ‘n lekker knoffel sousie?”

Ek sê julle nou, troeteldiere is diere wat nie lekker proe nie. Ek dink nie dit was per ongeluk nie. Ek dink die oermense het waarskynlik alles eers probeer eet. “So, hoe proe daai ding wat so aanhoudend blaf?”
“Nee fok my ou, dis moer sleg.”
“Oukei, kom ons vang een, noem hom Flaffie, vryf sy magie en trek mens klere vir hom aan.”

Ek is so nuuskierig oor die ou wat eerste alles geëet het. Wat het mense alles geëet? Skoenlappers? Bye? “Nee, hy’s lekker soet, maar hy brand so bietjie soos 'n chillie.”
En wie’t gevolunteer om eerste iets te eet? “Toe Frikkie! Dis jou beurt! Eet die volgende ding wat uit daai hoender se hol uit kom...”

Ek dink ons drink ook net melk omdat ‘n boer se vrou hom een dag gevang het met die koei se boobs speel. Toe moes hy vinnig ‘n storie opmaak. “Nee, ek... uhm, melk net vir Bessie, Magriet. Ek wil net proe hoe die wit goed proe!” En nou drink ons melk oor één ou perverse afwykings gehad het. En om dit erger te maak het iemand eenkeer hulle melk in ‘n vat vergeet, ‘n jaar later weer daarop afgekom en nog steeds besluit om dit te proe ondanks die reuk!? Ek gaan nou nie nee dankie sê vir kaas nie; kaas is nommer een. But still. What were you thinking? “Die melk is so oud dis al solied. Kom ons eet dit...”

Ons eet selfs voëls. Ek kan nie glo dat ons voëls eet nie. Hoe het dit begin? Frikkie die Grotman het vir sy vrind Gert die Grotman gesê “Sien jy daai ding wat daar doer bo vlieg vlieg? Ek wil dit in my mond sit. Ja, dit lyk omnomnom!''
“Maar Frikkie, daar is vere en goed op!”
“Moenie worry nie. Ek gaan hom skil en bietjie Buffalo Herbs & Spices oor strooi. Omnomnom!”
“Maar Frikkie, sê nou dit proe nie lekker nie?”
“Man, dan sal ek hom vang en in 'n hok sit en hy sal in my kombuis woon. En ek sal dat hy op ou nuus kak.”



Kyk ek kan nog verstaan hoekom hulle besluit het honde kan werk as troeteldiere. Hulle is nogal handig. Hulle kan jag en diewe pik en skape aanjaag en bly wees om jou te sien. Alles nuttige goed.
Maar ‘n kat? Watter nut het ‘n kat? “Maar Riaan, katte vang muise en ander plae!” Goed. Dis een nuttige doel, maar ‘n muis valletjie kan presies dieselfde werk doen. Sê my, kan ‘n kat ‘n bal vang en vir jou terugbring? Ek leef in vrees rondom katte, want een oomblik mag jy aan hom vat, of as jy gelukkig is sy ruggie vryf, maar vyf sekondes daarna draai die duiwel se ondier om en word jy viciously attack. For no apparent reason, doodeenvoudig maar net omdat hy ‘n asshole is en besluit het hy hou nie meer van jou nie. Ek het genoeg stres in my lewe. Ek hoef nie nog draai om my eie troeteldiere te loop uit vrees dat hulle my gaan aanval en sepsis of klem-in-die-kaak gaan gee nie.

Ek kan darem saamstem dat katte mooi en grasieus is, en die misterie maak hulle dalk interessant. Maar daar is mense wat haarlose katte aanhou... But why!? Kort dié mense brille!? Die arme ding lyk soos ‘n kaal 60-jarige antie wat Tik snuif vandat sy 3 jaar oud is! Nee, sies man!



Honde verstaan ons lewens. Honde weet van vroeg opstaan. Honde word saam jou wakker (of maak jou wakker om uit te gaan net voor die wekker afgaan). Nie soos katte wat 2 uur die oggend soos ‘n mal ding op en af in die huis hardloop nie. ‘n Hond sien jou af by die deur as jy werk toe gaan, en jy weet jou huis is veilig want jou hond gaan die skelms aan die boud byt as hulle iets probeer. (Tensy jy ‘n Labrador het. Labradors se tande is net vir versiering en om jou tuinslang te vernietig.) En jy weet as jy terugkom by die huis gaan hy jou inwag en histeries bly wees om jou te sien. (Wat jou nogal laat goed voel, veral as jy al soos 20 jaar getroud is en niemand anders is besonder bly om jou te sien nie.)
Katte? Katte voel ‘n fok of jy nou by die werk is of by die huis is. “Is daar kos?”
“Ja.”
“Whatever.”

Fine, ek kan aanvaar dat daar mense is wat ‘n goeie selfbeeld het, en nie ‘n troeteldier nodig het wat die grond aanbid waarop hulle loop nie. Kry vir jou ‘n kat. Jy besit nie ‘n kat nie, daar bly net een in jou huis. Maar wat ek nie kan verstaan nie is die weirdo’s wat slange aanhou as “troeteldiere”. Really? Daar is soveel fluffy, cuddly en oulike opsies, maar jy kies ‘n slang? ‘n Ding wat die emosionele omvang van ‘n klip het?
“So Frikkie, jy kan kies. Hierdie oulike wollerige puppie. Dis ‘n rescue. Kyk hoe bly is hy om jou te sien! Of hierdie koudbloedige, glibberige ding met die dooie, emosielose oë? Dis die teenoorgestelde van ‘n rescue. Dis ‘n attack.”
Kyk ek wil nou nie iets sê nie, maar as Frikkie ‘n slang kies, en ek was sy Ma, sou daar by my ‘n rooi lig of tien aangegaan het. Of ‘n spinnekop? But why, Larry? Meeste mense wil ‘n blik Doom leegmaak op die ding, en jy voel “Kyk my oulike troeteldier! Mister Bitey McPoison. Is hy nie net te oulik nie?”
Nee, Frikkie. Net nee.

Maar whatever makes you happy. Moet net nie wonder hoekom jy nie vriende het nie.

So, al wat ek eintlik wou sê is jy kan 'n boerbok tot by seewater lei, maar jy kan hom nie forseer om 'n seester te lek nie. En boerbokke is nie goeie troeteldiere nie.

©Riaan Palmer
Share:

0 comments:

Post a Comment