Friday 1 November 2019

Julle kan nie bestuur nie!

Kyk, as daar een ding is waaroor ons almal kan saamstem, dan is dit die feit dat Pretorianers nie kan bestuur nie. Soos wat Magriet in haar Corsa Lite, Frikkie in sy Wildtrak en Bongani in sy taxi bestuur, is die feit dat ons almal nie daagliks in ‘n ongeluk is nie, niks anders as ‘n wonderwerk nie.

Nou, ek is glad geensins die beste bestuurder in die wêreld nie, maar my kilometers afgelê/ongelukke ratio is baie min, so dit tel vir iets. Ek moet erken my achilleshiel is parkering. Parallel parkering om presies te wees. Dit gaan gewoonlik so:
Sien 'n parkering op straat.
“Kyk al daai spasie! Jy kan die Titanic daar parallel parkeer!”
Probeer inkom met 283.78 bewegings. Ek eindig op dat dit lyk of ek probeer tonnel-parkeer het. "Fok dit!"
Ry weg en gaan soek 'n ordentlike parkering want karre is nie gemaak om dwars te parkeer nie! (En teen daai tyd is daar al 4 ander karre afgeskryf, 7 mense beseer, 3 in kritiese toestand en 8 vermis.)






In my Mini kan ek nog enige plek parkeer, maar as ek in Die Ander Een se SUV probeer parkeer, raak dinge bietjie van ‘n uitdaging. Want links staan daar ‘n Fortuner wydsbeen oor sy parkeerarea. Dié het mos bande op wat eintlik op ‘n myntrok moet wees, want die paaie is mos maar vreeslik sleg hier in die ooste... (Mans met oversized bakkies: ons weet almal dit is simbolies vir jou manlikheid. Maar dis nie hoe dit werk nie. As jy klein is, is jou klein. Sorry.) Regs staan daar weer ‘n BMW 318 wat lyk of die bestuurder probeer parallel parkeer het in die tonnel parkering. So eindig ek skeef soos ‘n krap se hol in die parkering. 5 minute later ry die bakkie en die BMW, en dit lyk of ek die een is wat soos my gat parkeer het. Natuurlik word die kar dan van al die windrigtings afgeneem en op Facebook gesit. Dankie, maar ek weet hoe lyk die kar, julle hoef nie foto’s van hom op Facebook te sit nie.

Ek kan niks sê oor taxi’s wat almal nie reeds weet nie. Wat ek net wil weet, vir wat is hulle so haastig?! Hy’s mos klaar by die werk! Ons probeer nog daar uitkom, dis hoekom óns haastig is! Hulle kan gerus bietjie kalmer wees. Dalk moet ons vir hulle CD’s met walvis klanke op aan hulle skenk?

Tydens spitsverkeer is daar mos maar altyd ‘n lang ry karre in die draai-baan en die verkeer in die reguit-ry-baan loop soos stroop. En ons wag almal geduldig vir ons beurt om te draai. Maar daar is mos altyd ‘n grot-otter wat Crocs dra wat in die reguit-ry-baan ry, en dan voor indruk om te draai. Luister nou mooi: Jy is nie slim of oulik nie. Jou bestemming is nie belangriker as enige iemand anders s’n nie. Jy weet natuurlik die hele string bestuurders agter jou vertel jou van “Jou Ma se miaau-miaau”? En die ouens wat toelaat dat daai bestuurders daar voor indruk – stop julle dit ook, toe!



Dan is daar natuurlik die flikkerlig kwessie. Ons weet almal BMW’s kom nie uit met flikkerligte nie, so ons verstaan dat julle graag sou wou wys wat julle volgende gaan doen, maar julle kan nie. Dalk moet julle begin om daai handseine te gebruik wat die fietsryers gebruik as hulle wil draai? Tot dan sit ons maar agter julle met opgehoude asems en wonder wat julle volgende beweging gaan wees.
Bestuurders van ander motorfabrikate: Julle het nie ‘n verskoning nie. Jy kan sien party bestuurders probeer darem. Dis nou daai wat die windscreen wipers aansit as daar nie eers ‘n wolkie in die lug is nie... Probeer bietjie harder.


Julle wetters wat bly oorry by ‘n kruising nadat ‘n lig geel en rooi oorgeslaan het: Fok julle. Ek probeer draai. Die lig is al amper weer rooi vir die ander kant, dan probeer ek nog regs draai, net oorlat julle sukkel om te verstaan wat beteken die geel en rooi lig nou eintlik. Gaan toets vir kleurblindheid as jy sukkel met die konsep.

Jou gevaarligte (hazards) gee jou nie toestemming om te doen wat jy wil nie. Weet julle hoeveel mense sien ons wat hulle gevaarligte aansit sodat hulle op hulle selfone kan praat!? Nee! En gepraat van selfone. Jy kry mos die dames wat hulle fone op “speakerphone” sit en dan meen dit is mos nou “handsfree”. Sug. Hoe stadig is daai tor nou eintlik? Of jy nou jou foon gewoonweg teen jou oor hou of 5 sentimeter voor jou mond op speakerphone, daar is GEEN verskil nie.
Dis. Nie. Hands. Free. Nie.
Lees die woord mooi:. “Handsfree”. Die leidraad is in die woord! As jy nie Bluetooth in jou motor het nie, is dit tyd dat jy in jou sexy stem met pappie gaan praat dat hy vir jou koop! Want, Magriet, jy kan toe nou nie praat en bestuur gelyk nie; daai tor val af.

En verkeersirkels? Nou as jy paniek en verwarring in ‘n Mpumalanger se oë wil sien, dan sit jy nou ‘n verkeersirkel in sy pad. Siestog. Mens sou sweer dis hoërgraad werk.

Sug. Ander mense se kinders darem...



Maar dis hoekom ek ‘n nice kar ry. Sodat ek my rit kan geniet en rustig kan wees en vergeet van al die poelpetaters op die pad. Lekker musiek en ek karaoke heerlik saam, al moet ek nou die lirieke opmaak soos wat ons gaan.

Nou en dan moet daar iemand saamry, wat my vreeslik ontsenu want hulle ken nooit die reëls nie... Laat ek verduidelik:
 

Ek bestuur. Al die knoppies is onder mý beheer. Dit beteken jy raak nie aan die radio, aircon of enige knoppie waaroor jy moontlik kan wonder nie. Jy vlieg mos nie op ‘n Kulula vliegtuig, stap die kajuit in en begin knoppies druk nie. Die kaptein sal mos die Boeing net daar aftrek en jou uitskop. Dieselfde storie in my kar. Ek’s die kaptein. Jy’s die passasier. Jy kan versoeke aan die lugwaardin rig en sy sal vir my vra, dan sal ek daaroor dink.

Jy sit nie jou voete op my dashboard nie. Lyk my kar dalk vir jou soos Mangwanani spa? Jy’t in elk geval stink voete en voetskimmel. Sies man.

Jy kan water in my kar drink. En dis al. Ook net as dit in ‘n goed verseëlde sippy-cup-tipe houer is. Jy bring nie ‘n garage pie in ‘n 5 meter radius van my kar nie. Actually, niks wat moontlik per ongeluk ‘n krummel kan maak nie!

Jy is welkom om vingertaal met ander mense op die pad te praat, maar net as hulle karre stadiger is as myne en dit lyk of hulle nie vuurwapens by hulle het nie.

Jy is ook welkom om kommentaar te lewer oor enige iemand se bestuursvermoë. Behalwe myne. Ek wil nie hoor “draai hier...”, “Wat van...”, “ry bietjie stadiger...” of “moenie...” nie. As ek jou opinie wou gehad het, sou ek dit vir jou gegee het. Ek weet waarnatoe ek op pad is. As ek nie weet nie, dan vra ek vir die meisietjie wat in die radio bly. As sy nie weet nie dan vra ek die meisietjie wat in die Google bly. As sy nie weet nie, dan maak ons almal net asof ek weet wat ek doen. Maak nie saak hoe graag jy wil sê “I told you so” nie. Ek stop nét daar en jy slaan plakkie verder...

So, as daar ‘n Mini verby jou jaag – kyk uit vir ‘n vinger. Dit sal ek wees wat die universele Pretoria-padgroet gegee het. Glimlag maar net en waai.

Veilig ry! 😉 
©Riaan Palmer



Share:

0 comments:

Post a Comment