Tuesday 12 November 2019

Vakansie? Wat is dit?

Ek voel ons beweeg weer daai tyd van die jaar in. ‘n Tyd wat ek begin vrees vir ander mense se lewens. Want hierdie tyd van die jaar begin my geduld op ‘n skaal van 1 tot 10 trek by “fok jou”. Ek het soos dit is ‘n reputasie van “Die Skuins Bedonderde Een”, om en in die kantoor – waarskynlik na aanleiding van my taalgebruik en onvermoë om my gesigsuitdrukking en oë wat rol te beheer. Maar dit raak dalk nou bietjie erg, want iemand het vir my ‘n pamflet op my lessenaar gelos. Dit lees so: “What Are the Signs and Symptoms of Tourette's Syndrome?” Ek gaan blykbaar so tekere soos ‘n Pretoria-Noord-Hugo-se-Housewife dat die mense dink ek het Tourette’s. (Maar ek moet darem sê ek is baie trots op myself dat ek nog niemand fisies seergemaak het nie. Die HR departement is streng daarteen. Ek weet want ek het gaan vra.)



Maar dis darem nie heeltemal my skuld nie. Ek weet ek kan so klein bietjie van ‘n handvol raak as mense sukkel met basiese konsepte soos “Lees waddefok ek vir jou geskryf het...”, maar in my verdediging was ek baie lank gelede weg om net bietjie te chill. Vakansie? Kennie van darrie een meer nie. Die kollegas wat braaf genoeg is (of nie van beter weet nie of desperaat genoeg is om my vrae te vra) kry my telkemale in ‘n bondeltjie onder my lessenaar waar ek lê en snik en luister na dolfynklanke. Selfs die dokter het gesê ek het ‘n vakansie nodig. (Dis dalk nie relevant nie, maar ek noem myself mos deesdae “die dokter”.)



Die jaar was nou maar net een van dáái waar alles wat moontlik kon skeefloop, wel skeefgeloop het en selfs dit wat nie kon skeefloop nie, ook skeefgeloop het. Dit beteken dat elke keer dat ons net dink aan weggaan dan kugge-kugge my kredietkaart hier uit my beursie en fluister “wees net vir my fokken rustig”. Sug.

Sug.

Dis darem vreeslik as mens begin rondkyk hoeveel vakansies kos. En ek kan nie mooi verstaan hoekom dit is nie. Daar is mos kamp (wat ek in elk geval nie doen nie). Iemand gee vir jou ‘n oop stuk grond, ‘n kragpunt en bietjie water. Verder moet jy jou eie huis, kos, gereedskap, eetgerei en in sommige gevalle ‘troon’ saambring. Dan betaal jy maklik meer as R1000 per nag vir die stuk grond om soos ‘n hawelose te bly... As ek nou al ooit gehoor het van ‘n “money-making racket”...
Die ander opsie is natuurlik selfsorg eenhede. Klein 2 slaapkamer flats wat in die 60’s of 70’s gebou is waarin hulle 4-8 mense prop. As jy rond shop kan jy heel aanvaarbare pryse raakloop. Maar moet net nie te veel dink aan hoeveel mense al oop daai matras wat in 1973 gekoop is, geslaap het nie. Hoeveel kieme, weeluise, vlooie, siektes, sweet, bloed en ander goed wat jy nie in ordentlike geselskap noem nie, op daai matrasse lê en wag vir ‘n volgende slagoffer? Nie vir mense met hartkloppings of wat hipokondriese neigings het bedoel nie. 

Dit los jou natuurlik met hotelle. Bedoel vir die mense wat Duur Duitse Motors ry of iemand wat bereid is om ‘n vierde huislening uit te neem. Ek is nie seker presies hoekom is hotelle so duur nie, want kom ons wees nou maar eerlik met mekaar, dis niks anders as glorified bachelor flats nie.
Hotelle dring mos deesdae daarop aan om in plaas van ‘n gewone sleutel, ‘n “kredietkaart” vir jou te gee om in die kamer te kom. Hoekom? Nee ek weet nie, sê maar! Maar dié kaarte is mos so temperamenteel soos ‘n kaalvoet pregnant vrou tydens volmaan. Dink jy die deur gaan oopsluit met die eerste probeerslag? Uhm, nee. As jy gelukkig is, vat dit so sewe en ‘n driekwart swipes. As hy nie werk nie, moet jy terug pickle ontvangs toe om te gaan moan.
Meneer, die kaart was seker binne ‘n radius van 12 en ‘n half meter van jou selfoon? Dit affekteer die magnetiese band...
Wil nie dit hê nie!



Dan is daar die “koffie stasie” in die kamer. Eers sukkel jy om water in die ketel te kry. Die ketel pas nie onder die wasbak kraan nie, wat beteken jy moet die ketel by die bad se kraan volmaak. Geen opgevoede mens hoef óóit hulle ketel by ‘n bad se kraan vol te maak nie! It’s just wrong! En dan het jy vergeet om die bad-stort knop te druk. Die kraan is nog in “shower mode”, wat beteken jy maak die kraan oop net om vinnig ‘n koue stort te vang in jou pajamas. Fine. Eventually het jy water gekook en maak jy koffie in daai piepklein koppietjies wat vir Espresso bedoel is. Dan is daar net-net genoeg suiker vir een persoon, want dis mos die hotel se plig om jou suiker inname te kontroleer. (Voert-weg! Julle is nie my ma nie, as ek bietjie koffie by my suiker wil drink, sal ek!) Beweeg ons aan na sulke piepklein bakkietjie goeters waarin die melk kammakastig is. Ek sê nou vir julle, dáái goed is toordery, want maak nie saak hoeveel van die bakkies “melk” jy ingooi nie, die koffie word nie ligter van kleur nie. So, nou drink jy maar semi-swart koffie waarin jy die plastiek koekie, wat sedertdien die laat 90’s in die plastiek pakkie lê en wag, doop.

Een van die ander vreemde verskynsels in hotelle gebeur in die aand. Jy kom terug in die kamer en iemand het dit goedgedink om die hoekie van die lakens op die bed vir jou oop te vou... But why, Larry, why?! Van alles wat jy moontlik vir my kan doen om die lewe vir my makliker te maak, hoekom die hoek van die laken vir my oplig? (Wie slaap nog onder lakens!?) Dink hulle mense weet nie hoe dit werk nie?!
Uhm, ek wil nou graag gaan slaap, maar ek weet nie hoe om onder die lakens te kom nie? Moet ek hier van die voetenent af inklim? O nee wag! Kyk daar is ‘n hoekie oopgevou! Aah! Nou maak dit sin! Ek moet dáár inklim!

En as jy nou by ‘n baie fancy hotel is kry mos ‘n sjokolade op jou kussing voor slapenstyd. Dis nou iets waarmee ek kan saamleef. Maar soos die dae en nagte aanloop verander daai sjokolade mos... Die eerste aand is dit ‘n Sally Williams gedoop in dekadente maagdelike koei melksjokolade. Hier in die middel word dit sommer ‘n blokkie Cadbury’s sjokolade wat van ‘n slab afgebreek is. Hier aan die einde lyk dit soos ‘n “peanut bokdrol” waarvan die sjokolade afgesuig is... Laaste aand kry jy sommer niks. “Ons is klaar met jou...

As jou tydjie klaar is, en jy weer jou goedjies inpak, dan strip jy mos daai hotelkamer van die notaboekie, coasters en skroewe in die koffietafel regdeur tot by die miniatuur sjampoe botteltjies en naaldwerk stelletjies. Dis nie asof sjampoe regtig duur is of dat jy ooit daai botteltjies gaan gebruik nie, maar jy pak vir hulle in want jy’t mos daarvoor betaal. Ons badkamer by die huis lyk amper soos ‘n Body Shop van dosyne en dosyne mini sjampoes, body lotions en showercaps oor meer as ‘n dekade bymekaargemaak. Because why? Because we can.



Dan daai “Do Not Disturb” bordjies wat mense aan die kamerdeure hang. Dit voel altyd vir my of mense adverteer wat hulle besig is om daar binne te doen... Maar niemand sê dit hardop nie.


Ek het daai fout gemaak die heel eerste keer toe ek en Die Ander Een in ‘n hotelkamer geslaap het. Dit was in Graaff-Reinet vir ‘n troue. Ons was brandarm en was groentjies wat hotelle aanbetref. Ek dag toe die aand, ek gaan sommer vir grênd wees, die “Do Not Disturb” bordjie buite hang. Sommer maar net. Ons bly mos nou in ‘n hotel, so jy maak soos mense maak in hotelle. Het ek al genoem dit was Graaff-Reinet? Dit was warm. Daar was geen lugversorger in die kamer. Ek en Die Ander Een suffer en lê naderhand bo-op die lakens geklee soos die dag wat ons gebore was, oop ketel. Wat ek nie besef het nie, was die een kant van die bordjie wat ek aan die deur gehang het, het gesê “Do Not Disturb”. Die ander kant? Jy weet dit dalk, maar ek het dit nie geweet nie. “Please Clean Room”.
6 uur daai volgende oggend bars die kamerdeur oop; die skoonmaker met haar stofsuier, emmers en ander supplies, gereed om die kamer skoon te maak. Ek kan net raai wat die arme siel alles gesien het, want teen die tyd wat ons heeltemal uit die slaap uit ontwaak het, was sy reeds weer by die deur uit, met net ‘n streep handdoeke, Handy Andy en mini sjampoes as teken dat sy daar binne was. Iewers in die Kaap is daar ‘n dame wat haar kinders mooi leer jy klop eers aan ‘n toe deur voor jy ingaan, want daai witmense het ook geen skaamte nie.

©Riaan Palmer
Share:

0 comments:

Post a Comment