OK, OK. Ek moet
seker om verskoning vra dat ek so lank stil was. Julle sal onthou ek was op
vakansie en so en dit. Ek was laas week vir ‘n dag of wat in die Kaap en ek was
vreeslik geïnspireer om te skryf, maar dink julle ek het opvangs gehad? Uhm,
nee. Ek kan nie verstaan hoe ek nie eers 1 strepie opvangs in die beskawing kan
kry nie, maar die fokken Taliban kan ‘n HD video oplaai uit ‘n grot in
Afghanistan!?
But anyway. So, Die
Ander Een is besig om met groot opgewondenheid my verjaardagpartytjie te reël
wat eers soos oor 3 maande is. Dit is glo een of ander mylpaal ouderdom. Ek kan
ongelukkig nie daardie opgewondenheid deel nie, want ek leef nog heerlik in ‘n
fantasie wêreld dat ek jonk en jeukerig is, en ‘n partytjie is net hopeloos te
“in your face”. Vir ‘n begin verstaan ek nie hoekom ons nou eintlik ‘n
verjaardag moet vier nie? Dis nie asof ék iets gedoen het nie – ek het nou nie
veel sê in die saak gehad nie. Toe ek weer sien kruip ek by ‘n plek uit wat jy
nie in ordentlike geselskap noem nie, en die eerste ding wat die dokter doen is
hy gee my pakslae...
Die hele
partytjie affêre is net doodeenvoudig weird.
“Hier is vir jou
koek!”
“Jippie!”
“Maar ons gaan
eers die koek aan die brand steek en dan moet jy dit doodblaas voordat jy
daarvan kan eet.”
“Wait what?!”
En het julle
enige idee watse mission dit gaan wees om 40 kersies dood te blaas met hierdie
rokerslonge? Ek gaan moet begin cardio doen net om my verjaardagkoek te kan
eet!
Alhoewel ek veel
eerder die dag in my kamer sou wou lê en huil, gaan ek nou maar die beste maak
van die situasie. Dit is darem ‘n partytjie after all, en daar gaan mense wees
wat ek kan tolerate en een of twee waarvan ek actually hou. En drank. (Aan Die
Ander Een: Daar beter drank wees, anders gaan ek nie die partytjie kan maak
nie!)
Ek klink soos ‘n
alkoholis, nè? Wel ek is nie. Alkoholiste gaan na AA meetings toe en praat oor
hulle drank probleem. Ek doen nie daai nie.
Ek moet darem sê
dat ek nie meer drink soos toe ek jonger was nie. Die feit dat ek enige iets
kan onthou is van my studentelewe is op sigself noemenswaardig. Daardie jare
het ek het altyd soos ‘n speurder gevoel na ‘n aand uit: Die raaisel van “waar
is ek en hoe het ek hier beland en wat is my naam”. Die geval van die leë
beursie en die knieg wat om een of ander rede bloei. En hoekom het ek nie meer
‘n onderbroek nie en net een kous? Dis half te verwagte om uit te gaan met geld
in jou beursie en dan wakker te word met geen geld in jou beursie nie. Geen
misterie daar. Maar om wakker te word met meer geld as waarmee ek die vorige
aand uitgegaan het, het altyd my verstand te bowe gegaan. Op een of ander
manier het ek geld gemaak gedurende my eskapades. Het ek iets verkoop? Het ek
gunsies of dienste verrig in ruil vir betaling? En ek is redelik seker dat ek
dit nie verdien het deur karre op te pas nie... Ek kan maar net dankbaar wees
dat dit was voor die tyd van selfone met kameras en geen Facebook nie – want my
ongure verlede sou beslis my kanse om ooit president te word verder gepootjie
het... En dan gaan ons nie eers praat van die feit dat as ek gedrink was ek
skielik in ‘n nudis verander het nie... (Ek wil weereens om verskoning vra vir
almal wat my in enige iets minder as ‘n onderbroek gesien het in Hatfield in
die jare 1999 tot 2001. Ek twyfel darem of julle my gesig sal onthou. Net my
onskuld. En net vir duidelikheid dit is koud daai tyd van die oggend!)
Ek het besef ek
moet dinge dalk rustiger vat toe die oproepe te veel begin raak het. Apparently
het ek nie omgegee om telefoonnommer uit te deel nie. Aan enige iemand nie.
Meisies, ouens, tannies, ooms... Kyk as ‘n lammervanger (dis nou daai tannies
van 50 wat al 4 keer getroud was en opsoek is na ‘n onskuldige student in
Hatfield se strate) jou bel na ‘n bedryfsekonomie toets (wat nie te goed
verloop het nie) en jou nooi vir “koffie” dan begin jy nogal jou lewenskeuses
bevraagteken.
Nou dat ek mooi
daaroor dink verduidelik dit hoekom ek eerstejaars Rek oor ‘n tydperk van 3
jaar gedoen het. Die tweede keer is altyd makliker. Die derde keer sit hulle
jou maar deur omdat hulle jou jammer kry.
Maar soos ek sê,
ek drink lankal nie meer so nie. “Ander mense” sal sê: Jy’t nie drank nodig om
jouself te geniet nie... (Jy’t ook nie tekkies nodig om te draf nie, maar dit
help tog.) Dit daar gelaat.
Dit verander nie
die feit dat die tekens van oud word nou oral begin kop uitsteek nie. Ek gaan
slaap en dan is ek 100% perdfris en gesond, maar as ek opstaan het ek ewe
skielik ‘n verstuite enkel? What even? My haarlyn het geskuif van net bo my
wenkbroue tot duskant my kroontjie vir watter bisarre rede ook al. Of moet ek
eerder sê: Die hare wat eens op ‘n tyd iewers tussen my wenkbroue en my
kroontjie was, sit nou op ander plekke. Soos binne in my ore. I mean really?!
Wat kan moontlik die doel wees van hare in jou ore?! Waar gaan ek dit ooit
nodig kry? Maar ek gaan dit nie uitpluk nie, want teen hierdie tempo kan ek
hulle dalk gebruik om oor die komende bles te kam. En dan is daar nog die feit
dat die bietjie hare wat oor is besluit grys is die nuwe muis-bruin-vaal-blond.
Wie het hulle gevra?! Wie’t gesê hulle mag grys word? (Bygesê, meeste van daai
grys hare is die gevolg van ‘n enkele persoon – en moenie maak asof jy nie weet
wie jy is nie!) Tot groot verleentheid het ek ook agtergekom dat ek deesdae maar
moet knyp as ek hoes of nies. Niks wat aandag trek soos ‘n onverwagte windjie
terwyl jy wag in Clicks se ry nie. En kan ons vir ‘n oomblik stilstaan by die
feit dat ek ewe skielik 3,023,389 keer in die aand moet opstaan oordat my blaas
vol is? Ek het al gedink dit gaan minder moeite wees om maar eerder op die
toilet te slaap en 2 of 3 keer op te staan om bietjie in my bed te gaan lê.
So loop ek en Die
Ander Een deur die mall. Doodonskuldig soos ek nou maar is, keer hierdie
meisietjie voor Edgars my voor. “Hallo Oom. Ons het hierdie nuwe produk van
Estee Lauder vir daardie plooitjies langs oom se oë...”
Die
aanrandingsaak kom later hierdie maand voor, hou maar vir my duim vas vir
versagtende omstandighede...
©Riaan Palmer
0 comments:
Post a Comment