Monday 16 March 2020

Nog Corona - Want mense weet nie wat is satire nie


Sug. Asem in (maar nie te diep nie, want julle weet – Corona) en asem uit. Kyk moeilikheid is mos nou vir my niks nuut nie, want dis mos nou maar wat gebeur as jy heeldag en aldag daarvoor loop en soek. Maar hierdie keer begin dit nou bietjie op my linker tietspier werk. So laat ek nou maar die ammoniak druppels uithaal vir die wat hiperventileer oor wat ek kwytgeraak het oor die Corona virus.

Maar voor ek by die stok-in-die-hol-verwyderings-proses begin, is daar eers ‘n ander saak wat ek vinnig moet aanraak. Weer. Net om dit uit my stelsel uit te kry. Ek skryf nie vir geld nie. Dit wat ek hier op my verlate vlakte van die internets plaas doen ek vir die lekkerte, en dis vir my heerlik as mense saam lag en gesels oor die goete en dinge. Maar nou kry jy daardie stinkneus otterdrol aasvoëls wat dit wat ek geskryf te copy en te paste en net my naam uit te haal. Kan iemand asseblief vir my verduidelik hoekom? Want ek verstaan nie. Is dit mense wat geen kreatiwiteit het nie en nou kreatief voel omdat hulle iets wat iemand anders geskryf het post?
Dankie vir elkeen wat vir my ‘n boodskap gestuur het om my te laat weet van die stinkgoggasnot-vreters wat plagiaat pleeg. Ek het net die beste ondersteuners op die internets! Maar wat my skoon laat opswel van trots (op onnoembare plekke) is as julle sien iemand steel my goed en hulle aanvat daaroor. Sê hulle! Vertel hulle wat ons dink van sulke gedrag – dis amper so erg soos om ‘n Gupta broer te wees!

Reg, terug by die virus. Ek het tot vervelens toe boodskappies gekry wat my vertel dat ek weet nie waarvan ek praat nie, dat van lekker lag kom lekker huil en dat daar regstappe teen my geneem gaan word as mense begin doodgaan. (Ek belowe julle!) Want Riaan is totaal clueless en versprei leuens en lag vir mense wat doodgaan. Ek trek my skouers op. Die laaste strooi was egter so ‘n poppie wat dié vir my stuur:
“Jy praat kak man! wag tot dit jou of jou ouers tref wat reeds siek is dan gaan jy n' ander storie spin. Word groot man en besef die is nie n' joke nie idiot.”
Ek bekyk haar kiekie so en jy kan sommer sien sy’s so oppervlakkig soos ‘n piering melk. Dit verduidelik hoekom sy dit regkry om [‘n] verkeerd te spel... Maar sy’s nog nie klaar nie en kry ‘n tweede wind.
“die kan jy wees of jou ma of jou pa!!!!! Mense sterf reg oor die wêreld en jy kom met jou kak jokes .... jy pos my Sommer net af! Jy spot so, as j dit kry sterkte ek wonder in watter staats hospitaal jy gaan lê en dink jy gaan oorleef....”
Nou ja toe. Vertel sy nou mooi.
Hulle sê mos jy weet jy’t dit gemaak as jy begin “hate mail” kry. Dankie vir al die ondersteuners wat al jare saam lees en lag en deel. “I’ve finally made it.”



Ek gaan nou vir ‘n oomblik ernstig raak, en dan gaan ons more maak asof dit nie gebeur het nie. Soos die sekretaresse by die jaareindfunksie. Selle storie.

Vir ‘n begin het ek baie duidelik aan die einde van die “Corona Virus” skrywe geskryf: “Vrywaring want apparently sukkel party mense om parody en sarkasme raak te sien: As jy ‘n swak immuniteit stelsel het, wees versigtig en paranoïes!”
En selfs na ek dit gesê het en dieselfde mense wat histeries raak oor Corona natuurlik histeries geraak oor wat ek kwytgeraak het. Huiswerk: Gaan soek die definisie van satire op.

Oor die simpel virus:
Nee, Corona is nie glorified griep nie. Dis meer soos glorified verkoue. Die virus is tegnies gesproke nader aan die “gewone verkoue virus” (wat tot longontsteking kan lei). Onthou die spesifieke virus is "Severe acute respiratory syndrome coronavirus 2" - alhoewel ons almal sommer maar net verwys daarna as die Corona Virus. Dit is eintlik 'n subspesie van Coronaviridae 'n virus familie wat al in die 1960s identifiseer is en is waarskynlik duisende jare oud is. "Coronaviruses cause diseases in mammals and birds. In humans, the viruses cause respiratory infections, including the common cold." Die COVID-19 is 'n baie naby familie van die SARS-CoV wat in 2003 'n pandemie was, asook MERS wat in 2015 'n pandemie was. Die virus se oorsprong is waarskynlik vlermuise.



Dit is geen verrassing dat daar weereens ‘n nuwe Corona subspesie is nie. Onthou, virusse muteer gedurig. Dit is hoekom jy elke jaar ‘n “griep inspuiting” moet kry – omdat die gewone griep virus (Orthomyxoviridae) elke seisoen muteer en jou immuunstelsel gereed gemaak word teen die nuwe mutasie.
Die sterfte syfer van die COVID-19 Is baie laer (+/-4%) as byvoorbeeld die SARS virus (9%) en die MERS virus (30%).
‘n Pandemie is glad nie nuut nie. Neem nou maar net die H1N1 virus (ook bekend as die “Spaanse griep” of “Vark griep”) wat tussen 1918-20 100 miljoen sterftes veroorsaak het. ‘n Mutasie van dieselfde virus het in 2009 ‘n vyfde van die wêreld aangesteek en ongeveer 600 000 sterftes veroorsaak. In die afgelope jaar het ‘n mutasie van dieselfde virus (nog steeds H1N1) ‘n geraamde 1.2 miljoen sterftes veroorsaak (Sien Wikipedia). Hoe vergelyk dit met die 6,000 sterftes van die COVID-19? Mense noem graag dat mense dood is aan Corona. Maar hulle noem nie dat 75,000+ mense al ten volle herstel het nie. Die Corona virus is nie ‘n doodsvonnis nie. Ja, dit kan baie gevaarlik wees vir mense met ‘n swak immuniteit stelsel. Maar dieselfde mense loop net soveel gevaar om blootgestel te word aan die verkoue virus of die griepvirus of duisende ander kieme en goggas wat so te sê skadeloos is vir gesonde mense.

Nee. Daar is geen bewyse dat die Corona “airborne” is nie. Ja, iemand met Corona kan nies en vir ‘n paar oomblikke kan ‘n stukkie snot meters ver trek en jou in die oog tref en dan is jy siek. Jou gesigmasker gaan jou nog steeds nie help nie. Dit maak sin dat die ou wat siek is ‘n maskertjie dra, maar ons sou verkies dat hulle eerder in hulle kamers bly. Wat die Corona gevaarliker maak as baie ander virusse, is die feit dat dit so lank buite die liggaam kan oorleef – veral op metaal oppervlaktes. Dis hoekom jy jou hande gedurig moet was. Maar jy moes in elk geval jou hande was want mense druk hulle vingers in hulle neuse en jy druk jou vinger in jou mond.

Kan ons gou na die groter prentjie kyk?
Teen 2018 was 7.7 miljoen HIV positief. Die bevolking is 57 miljoen. Dit is meer as 10% van die bevolking! En ons het geen idee hoeveel mense is besmet die virus wat nog nie gediagnoseer is nie. Dieselfde jaar is 71 000 mense dood aan VIGS-verwante siektes. Hoekom raak niemand histeries oor hierdie skrikwekkende syfers nie? Hoekom word die winkels se kondome nie opgekoop nie?!

Nuutste statistieke (StatsSA) wys daarop dat +/-55% van jaarlike sterftes is as gevolg van nie-oordraagbare siektes in SA. (Diabetes, hartprobleme, beroertes, ens. maar nee, vreet nog KFC en drink nog ‘n Coke! Niemand raak histeries daaroor nie?)
+/- 31% van alle sterftes in SA is as gevolg van oordraagbare siektes (TB, HIV, verkoue/griep/longontsteking). As jy gaan doodgaan het jy ‘n 1 uit 3 kans dat dit as gevolg van ‘n aansteeklike siekte is. Dink nou mooi daaroor. Corona verander niks omtrent ons lot nie. Jou kans is nog heeltyd baie goed dat iemand jou gaan aansteek met een of ander kiem en jy die tydelike verwissel met die ewige. Met daai gedagte in jou kop, hoekom loop jy nie nog altyd met ‘n maskertjie op jou gevreet en met rubberhandskoene in die winkels rond nie? Want ewe skielik begin mense bewus word dat daar bestaan goed soos “virusse”. Dankie media.



Die feit bly staan dit is niks anders as massa-histerie nie. En dit is waarmee die spot gedryf word. Niemand spot met siek mense nie. Niemand spot met mense wat hulle lewens verloor het nie. Ons spot met die oorreaksie. Wat moet ons doen anders as lag? Huil? Moet ek nou heeltyd sit en ernstige goed skryf dat almal meer depressed kan raak? Wat gaan dit enige iemand help? Fokof man. Haal die stok uit jou agterstewe uit. Ek besef daai gesiggie is so styf gespuit van die Botox dat jy nie meer kan smile nie, maar moenie jou frustrasies hier kom uithaal oordat jy seksueel gefrustreerd is nie. Dis pappie se probleem, nie myne nie. Die volgende ou wat vir my kom aanvat oor wat ek tong-in-die-kies oor Corona gesê het gaan ek lughawe toe vat dat hy van daar af self in sy moer in kan vlieg.
Kan ons nóú maar aan beweeg met ons lewens?
© Riaan Palmer (Maar dit help ook nie ek skryf my naam hier nie want een of ander tosser gaan dit in elk geval delete. Ja, ek kyk vir jóú! Tosser.)
Share:

0 comments:

Post a Comment