Monday 9 January 2023

Hêppie 2023. Of probeer ten minste net.

 En so is dit weer ‘n nuwe jaar. Ek weet nie hoe dit gebeur het nie, want toe ek eergister na ‘n kalender gekyk het, toe is dit 11 November 2022.

Maar hier is ons nou.

Sal ons gou met heimwee en koue rillings terugkyk na 2022?

Natuurlik was Covid skielik iets van die verlede. Ons het die oggend opgestaan en dit was weg. Ewe skielik moet ons die wêreld weer invaar. Ons moet ander mense sien en fisies voor hulle gaan staan en die reuk van die garlic snails wat hulle gister geëet het geniet. Ons kan nie meer “jammer, maar Oom Ramaphosa het gesê ek moet in die huis bly” as verskoning gebruik nie. Party mense is natuurlik baie bly daaroor. Hulle het nodig om met ander mense in aanraking te wees. Hulle het nodig om aan mense te vat en te chit-chat. (Dis gewoonlik daardie mense wat oneindig baie praat. Jy sê jy gaan nou ry, maar dan moet jy nog ‘n uur in hulle drive-way staan en luister na stories oor skoonma se linker-tiet wat in die vrugtekoek se deeg beland het.)

Die res van ons – ons wat net van lamas, honde en soos 5 mense hou – skrik wakker in die middel van die nag, sopnat gesweet, met die wete dat ons weer met mense te doen gaan kry.

 

En net so skielik as wat Rona verdwyn het, was die gespuis se onwelvoeglike gedrag weer terug. Mens sou dink dat higiëne en die konsep van persoonlike spasie ingedoktoreer is na 2 jaar. Maar nee. Die ou wat agter jou in Checkers se queue staan, staan weer hier styf teen jou. Naby genoeg om hier oor jou skouer ‘n wortelkanaal op jou te kan doen.

En klaarblyklik is dit nou weer fine om te hoes en nies in die publiek. As jy gehoes het tydens Rona-tye was jy soos ‘n melaatse hanteer. Winkels se deure is toegeslaan, almal is vir 14 dae in kwarantyn geplaas en die winkel het toegebly vir 7 dae of totdat dit ge- fumigate is... Maar daai dae is verby. Jy mag maar weer hoes en nies nes jy smaak. Niks van elmboë of selfs hande voor die mond nie. Daar word skaamteloos gehoes en jy hoor sommer daai slym wat probeer uitkom word van hier duskant die hol gaat haal... As jy teen die regte hoek van ‘n nieser staan kan jy ‘n reënboog sien.

Niemand sing meer happy birthday as hulle hande was nie. Dis nou as hande enigsins gewas word. Oral om ons staan bottels sanitiser en stof opgaar. Vergete soos die vrugtekoek wat Tannie Magriet 7 jaar gelede vir jou gegee het.

Mense is gross.


Dan, die donkerste wolk wat oor ons neergedaal het in 2022... Letterlik en figuurlik. Eskom. Ek kan nie iets oor hulle sê sonder om ‘n string van die lelikste vloekwoorde te uiter nie. Donker Afrika sal nou maar net Donker Afrika bly tot die einde van tyd. Wat ek nie verstaan nie, is dat hulle nou al maande aan die kragstasies “werk’, maar niks gebeur nou eintlik nie. Het hulle een van daai manne wat langs die pad staan met ‘n verfroller opgelaai, ‘n skroewedraaier in die hand gestop en net gesê “fix dit!”? En as ons weer hoor dan het generator 7 en 9 van die Donkiedrol-kragstasie weer gebreek. “Kry vir julle bietjie Stage 8 loadshedding daar.” Koop hulle die verdomde parte by Wish? Wat van ons koop by die Duitsers parte en ons weet dit gaan vir altyd hou?

But anyway. Ek werk ons nou net weer op, so fok Eskom.

 


Verder is Antie Queen Lizbet die tweede die ewigheid in. “Siestog” seg die mense. Regtig? Die Antie was daar toe die dinosourusse uitgesterf het.  Sy was daar toe vuur uitgedink is. Sy het gehelp om Stonehenge te bou. Waarskynlik die piramiedes ook. Boonop het sy en haar Kakie Rampokkers gehelp om al wat ‘n blink ding is te steel uit ander lande, net om in Britse Museums te gaan vertoon. Die punt is sy het lank gelewe. Argeoloë het al om haar begin draai want sy was basies ‘n fossiel. Sy verdien om so bietjie te rus. 

 


 

Dan was daar natuurlik Tannie Sjarlies se bewering dat nog net 44 mense Afrikaans praat. So aan al die 20000+ Engelse mense wat altyd lees wat ek skryf, ek sal bietjie meer “slang” gebruik dat julle kan verstaan wat ek kwytraak. You English peoples, I is talks for you Englishes so you can forstands what I is saying.

 


Verder het Putin gaan kak soek met die Ukraine wat die hele wêreld se ekonomie beduiwel het. Inflasie maak nou dat ons minder Woolies meals en meer blikkies spaghetti moet eet. Ek moet nou ‘n actual mango gaan koop. So met skil en al. En ek moet hom nou self skil. My lewe is geruïneer (Dis satire Karen... Ontspan daai boud. Nou die ander een.).

Ek gaan kak sommer in Putin se skoene.

 

Ons stop sommer net daar met die hele 2022 storie. Vir party was dit ‘n half kakkerige jaar. Vir ander was dit ‘n volle kakkerige jaar. Maar ons het elke dag opgestaan, en die son het weer geskyn. Behalwe die dae wat dit gereën het.

Gister is gister. Vandag gaan more gister wees. More gaan more vandag wees. Ons kyk vorentoe.

So wat doen ons om 2023 beter te maak? 


 My Nuwejaar voornemens is baie eenvoudig. Soos ek aan vriende en familie verduidelik: Ek het geen voornemens. Ek beplan om dié jaar dieselfde vreemde, sarkastiese, grootbek te wees. Mens kan mos nie verbeter op perfeksie nie? Ou flou grappie. I know. Ek dink tog dis nodig om ‘n paar voornemens, of “mikpunte” te hê om onsself en ons wêreld beter te maak.

      Iemand het iewers op Facebook sulke lys van inspirerende, filosofiese goete ge-post vir die nuwe jaar. Ek wou dit met julle gedeel het, maar ek kry dit nie nou nie. So ek gaan dit maar probeer herhaal soos ek dit onthou...

       1. Drink baie.

       Wag... Was dit dalk “drink baie water”? Ek’s nou nie 100% seker nie, maar enige een van die 2 sal werk. 

            2. Moenie ‘n [*baie lelike woord*] wees nie. Wees so dat almal van jou hou. Of wees ten minste so dat ‘n spesiale iemand van jou hou.

       3. Moenie lemoensap drink nadat jy jou tande geborsel het nie.

       4. Moenie in shopping malls die roltrappe se handrelings lek nie.

            5. Moenie papsak wyn drink nie. Treat jouself en koop ‘n dooswyn.

       6. Doen aansoek vir ‘n nuwe kredietkaart met ‘n hoër limiet, dan kan jy die ander kredietkaarte afbetaal en weer bietjie gaan shop.

       Nee wag. Dit klink soos ‘n slegte plan... Dalk was dit moenie nóg skuld maak nie? Ignoreer maar punt 6. Net vir ingeval. 

            7. Moenie die tandepasta buisie in die middel uitdruk nie. Druk van agter af. Behalwe as jy jou wederhelfte wil moerig maak.

       8. Sit nuwe toiletpapier in as die rolletjie leeg is. Behalwe as jy jou wederhelfte wil moerig maak. 

            9. Dink nuwe verskonings uit om verlof te vat. Jou baas begin onraad vermoed want 7 van jou oumas is nou al oorlede. Maak jou verskonings interessanter, bv.

“Ek het per ongeluk ‘n blikkie katkos geëet in stede van ‘n blikkie tuna, en nou staan die hond buite die deur en blaf, en ek kan nie uit kom nie.”

“EK het per ongeluk op ‘n vliegtuig geklim. Ek dink ons is op pad Paraguay toe. Ek laat weet as ons daar kom.”

“My vrou se suster se marmot is oorlede. Ek moet by die begrafnis wees, want ek was sy oom. En ek’s ‘n kisdraer.”

Wees kreatief. Jou baas sal begin uitsien daarna dat jy vra om verlof te neem.

      10. Die lewe is kort so eet wat jy wil wanneer jy wil. Het jy geweet daar hoef nie ‘n rede te wees vir jou om ‘n tjoklit koek te koop nie. Geen verjaardag, going-away of coming-out party nie. Jy kan ‘n koek koop net omdat jy lus is vir een. En jy kan in jou kar sit en die hele koek alleen opeet. Onthou net om ontslae te raak van alle bewyse van die koek. Kinders kan sjokolade koek ruik van so ver as 500 meter af, 3 dae nadat die koek reeds weg is. Dit neem een enkele krummel vir ‘n kind om vrae te begin vra oor hoekom, waar en wat die koek was.

       11. Gaan werk toe sonder ‘n babbelas – ten minste 2 keer ‘n week.

       12. Probeer om nie meer as 2 keer ‘n jaar geboorte te skenk nie.

       13. Probeer om nie gewig te verloor nie*. Klere is duur – jy wil nie ‘n hele nuwe wardrobe koop net oordat jy nie meer boude het nie.

Probeer om nie gewig op te tel nie. Jou knieë is alreeds op die koffie. Dit vat dalk net nog een happie sjokolade om jou knieë te laat ingee. (As jou knieë klik of klak as jy opstaan, dan is jou knieë klaar moer toe. Eet maar wat jy wil, wanneer jy wil. – Sien punt #10.)

       * As jou maag wobble en dril wanneer jy tande borsel, moet jy dit dalk oorweeg om ‘n kilogram of twee te verloor.

       14. Soek beleggers vir jou multi-miljoen-Rand besigheidsidee.

       15. Kry ‘n multi-miljoen-Rand besigheidsidee.

       16. Hou op rook. Jy kan dit doen deur stadiger te stap, dan sal jou dye wat teen mekaar skuur minder wrywing veroorsaak (wat die bron van die bolle rook is).

       17. Maak beter slegte besluite.

       18. Haal alle sosiale media apps van jou foon af sodat jy minder tyd op jou foon spandeer. Install dit weer elke keer as jy verveeld op die toilet sit.

       19. Wees meer geduldig met en bedagsaam teenoor jou kinders. Byvoorbeeld:

As jy geboorte skenk moenie net die naelstring afsny nie. Wag dat die kind oud genoeg is om self die besluit te neem. Die naelstring behoort aan jou kind, en jy kan nie net laat afsny links en regs nie.

Of

      Wanneer ‘n kind stout is, moenie oorgaan tot geweld nie. Probeer altyd eers konflik met woorde op te los. Soos dreig dat jy tot by tien gaan tel. As die kind steeds nie jou saak insien nie, begin tel. As jy by nege kom, en die kind het nog steeds nie ingegee nie, begin in breuke tel. Nege. Nege en ‘n half. Nege en ‘n driekwart. Nege en sewe agtstes. Nege en vyftien sestiendes. En so aan. Die kind gaan nog steeds nie vir jou luister nie, maar ten minste leer hulle breuke en dit daag jou ook uit om jou algebra op te skerp.

      20. Jy is spesiaal. Ons is lief vir jou nes jy is; jy hoef nie te verander nie. Daar is dele van jou persoonlikheid waarvan ons nie hou nie, maar ons gee nie om nie. Ons het geleer om daarmee saam te leef. Wees net nice met almal om jou, en jy sal fine wees.

You go girl... man... person... they/them!

So. Daar is jou lys om ‘n beter mens in 2023 te wees. Gaan uit en wees vrugbaar. Nee wag. Verkeerde speech. Gaan uit en neem die wêreld op horings.

Stout wees.

Riaan Palmer

 

Share:

0 comments:

Post a Comment