Tuesday 24 January 2023

'n Karen-brief #2

 

Hierdie is nog een van my gunsteling “angry letters” (lees: passive aggressive).
In hierdie geval wou ek van ‘n Internet Diensverskaffer - ons noem hulle sommer “Roermymoer (Pty) Ltd” - se dienste gebruik maak. Hulle het die invoice gestuur, ek het die invoice betaal en gewag. Na 3 weke was die diens nog nie aktief nie, en ek het van ‘n ander diensverskaffer gebruik gemaak.
 
Ek het vir Roermymoer (Pty) Ltd gevra om my geld terug te gee. Niks het gebeur nie. Ek het elke nou en dan vir 3 maande lank ‘n kort mail gestuur om te vra om my geld terug te betaal.
Elke keer was die antwoord: “This ticket has been already escalated to the concerned department. They will get back to you once they are available.”
 
In dieselfde tyd het hulle die invoice - wat reeds betaal was - weer 3 keer vir my gestuur, insluitende ‘n “Overdue – letter of demand”.
 
Niemand kan my daarvan beskuldig dat ek nie geduldig is nie. 
 
Hierdie is die actual email wat ek vir hulle gestuur het (vertaal):
Ek het my geld nog dieselfde dag gekry...
 

 
 
~ ~ ~
 
Beste Mense by Roermymoer (Pty) Ltd,
 
Hoe gaan dit daar? Ek is seker dit gaan voortreflik daar, want julle spandeer heerlik ander mense se geld. By my gaan dit nie te waffers nie. Ek het wakker geword met die besef dat iemand besig is om my geld te spandeer.
 
Dit is nou 3 maande sedert ek die eerste keer ‘n versoek aan julle gerig het om my geld terug te betaal. Ek weet in die groter prentjie is dit nie veel geld nie. Maar vir mense soos ek wat actually werk vir hulle geld, en nie doodeenvoudig ander mense se geld vat nie, is dit baie geld.
 
Ek voel regtig geëerd deur julle poging om my versoek onder die hoogste gesag se aandag te bring. Hoe so? Elke keer wat ek vir julle ‘n vriendelike boodskappie stuur om my geld terug te betaal, dan laat weet julle, julle eskaleer my probleem. Ek het die sommetjies gemaak, en besef dat die probleem nou al so baie geëskaleer is, dat my mail iewers op die President van Suid-Afrika se tafel is. Alhoewel ek die feit waardeer dat julle my kwessie so belangrik ag dat julle dit tot die hoogste moontlike vlak eskaleer, is ek bevrees die mense daar bo het nie tyd hiervoor nie. Hulle moet Dollars onder hulle matrasse wegsteek en onder andere die Eskom probleem ignoreer. 
 
Ek vra baie mooi dat julle nie wéér my versoek eskaleer nie. Die meer hogere gesag is seker die Verenigde Nasies? (Ek weet nie regtig wat António Guterres van dag tot dag doen nie, maar ek is redelik seker dat Riaan Palmer se issues nie ‘n top prioriteit gaan wees nie. Tensy dit die eintlike werk van die Verenigde Nasies is? Is hulle werk om te sorg dat mense se geld terugbetaal word? As dit die geval is, eskaleer asseblief weer my versoek.)
 
Maar in alle erns, miskien is dit tyd om die issue te de-eskaleer na iemand wat die tyd en vermoë het om dit aan te spreek?
 
Kan ons asseblief ook praat oor die laaste geoutomatiseerde email wat julle vir my gestuur het. 
Dit lees: “"the third and final billing notice that your invoice no. 34420 which was generated on 29/08/2022 is now overdue. Failure to make payment will result in this service being suspended".
Is dit ‘n toets? Julle wil “dienste staak” – dis nou dienste wat nog nooit gelewer is nie (julle kan my geld hou as julle my kan wys hoe staak mens iets wat nie bestaan nie)? Dienste staak omdat ‘n rekening “nie betaal is nie”. Dis nou die rekening wat ek betaal het waarvan ek die geld probeer terugkry.
Dit moet ‘n toets wees! Dit kan nie anders nie. ‘n Toets om te sien hoe geduldig ek is. Hoe lyk dit? Slaag ek die toets? 
 
Julle ken seker die “net genoeg druk”-metode? Dis nou wanneer jy probeer om net-net genoeg druk toe te pas om te poep, maar nie te veel druk dat jy in jou broek kak nie.
Dis waar ek nou is. Ek probeer vriendelik tog ferm vra dat julle my geld terug betaal. Ek probeer om nie in my broek te kak nie. (Verskoon my walglike taal. Dis ‘n teken dat my geduld einde se kant toe staan.)
 
So, lang storie kort: Om te verhoed dat ek in my broek kak (ek vra weer om verskoning), betaal tog net my geld terug. Dan hoef julle nooit weer van my te hoor nie, en ek hoef nooit weer Roermymoer (Pty) Ltd oor my lippe te uiter nie. 
 
Die alternatief is dat ek self my issue eskaleer. Sosiale media? Koerante? ‘n Saak van bedrog? Dalk verras ek julle en eskaleer dit na Die Internasionale Strafhof in Den Haag, siende dat julle die Verenigde Nasies betrek.
 
Hier is weereens my bankrekening details:
...
Heerlike dag daar en groete aan António Guterres,
 
Riaan Palmer

Share:

0 comments:

Post a Comment