Tuesday 24 January 2023

'n Karen-brief #1

Ons woon in Afrika. (As jy onseker is waar jy is, kyk in jou yskas. As die liggie nie brand nie, het jy weer nie elektrisiteit nie, so jy is inderdaad in Afrika.) 

Ons weet al alles gebeur in "Afrika Tyd". Dit verg baie geduld. Party mense hou van "gil en skree" en wil met die "manager" praat as alles nie volgens hulle sin gebeur nie. (Here's looking at you Karen.) Ek is nie 'n Karen nie. Ek is baaaie geduldig. Tot op 'n punt. As diens nou regtig useless raak, dan skryf ek 'n "angry letter". Maar dis nie gewone agressief nie. Dis, soos die Engelse sal sê "passive-aggressive". 

Hierdie briewe is, in my opinie, van my beste werk. Dis vir my jammer dat dit (gewoonlik) net een persoon is wat die voorreg het om dit te lees. Ek dink dis tyd dat ek dit met meer mense deel...

In hierdie geval het ek 3 items van 'n online shop bestel. Na 4 weke se wag, het 2 van die items nog steeds nie by my uitgekom nie. Toe skryf ek hierdie mail aan die online store, en natuurlik CC ek elke liewe persoon van die maatskappy wie se email adres ek kon kry. ('n Uur later het die logistieke bestuurder my gebel, en 'n dag later het ek my 2 pakkies gehad.) Hierdie is die actual email wat ek vir hulle gestuur het: (Name is verwyder om identiteite te beskerm.) 

~ ~ ~ 

Beste [Gesensor] 

Met verwysing na my bestelling met verwysing “XXX” 

Ek hoop en vertrou alles gaan voor die wind daar. Hierdie kant, nie soseer nie. Sien ek het 3 items bestel. Julle het dit goed gedink om die 3 items in 3 verskillende pakkies te stuur. (Ek neem aan “save the trees” is nie meer ‘n ding nie.) Na 2 dae het 1 van die 3 pakkies by my aangekom. Fantastiese diens. 

Dit was presies 29 dae gelede. Die ander 2 pakkies het nie by die derde een aangesluit nie. Ek het met die tracking number die ander 2 pakkies se reise deur die land dopgehou en geduldig gewag. Almal hou van bietjie reis, en verdien om die pragtige land te sien. Volgens die tracking number was my twee pakkies al in Nelspruit, Bloemfontein, Groot Brak, Kaapstad, terug Bloem toe, PE (ek kan nie die nuwe naam spel nie) en is nou op pad George toe. 

Maar ek dink dis nou tyd dat my twee pakkies huis toe kom. Ek het uitgereik na my pakkies se reisagent, “[Useless]” koeriers toe, maar hulle het nog nie kans gehad om my te antwoord nie. Hulle is seker te besig om almal se pakkies op en af in die land te ry, so hulle het nie tyd om e-posse te antwoord nie. 

Ek het hulle toe maar gebel. Nou moet julle weet ek bel niks en niemand OOIT nie. Dit was ‘n geskiedkundige gebeurtenis! In elk geval na ‘n paar Calmettes het ek “[Useless]” koeriers gebel. Die dame wat die telefoon geantwoord het was... ek probeer hard om nie lelik te wees nie: Ek gaan maar net sê sy was clueless. Ek is nie seker of sy eers geweet het waar sy was nie. Moontlik was dit haar eerste dag daar, en niemand het haar verduidelik wat nou eintlik aangaan nie. Of dalk het sy ‘n beroerte gehad. Ek hoop sy is oraait. Ek sal moet opvolg. 

Maar in ieder geval [Useless] koeriers is van geen hulp nie, so ek vra julle maar vir hulp. Ek het die produkte by julle gekoop, so julle dra ook verantwoordelikheid vir wat die koeriers aanvang. Ek sal weer verduidelik. 

Ek sal stadig skryf sodat julle mooi kan lees: Die adres sê duidelik “Georgeville”. Georgeville is in Pretoria. (Daar is selfs ‘n poskode by om verdere leidrade te gee van waar ek is.) Pretoria is in Gauteng. Pretoria is nie Bloemfontein nie. Pretoria is nie PE nie. (Ek moet dalk moeite doen en PE se nuwe naam probeer spel. Of selfs net uitspreek.) Pretoria is ‘n plek op sy eie. (Interessante feit: Pretoria is een van Suid-Afrika se hoofstede. My magtig! Askies, ek wou julle nou nie weer deurmekaar maak nie.) Hier is my versoek: Stuur asseblief my 2 pakkies na my toe. Hier in Georgeville. Georgeville is nog steeds in Pretoria. Pretoria is nog steeds in Gauteng. 

Julle webtuiste sê dat goedere afgelewer word binne 1-3 werksdae. Kyk, ek is glad nie goed met wiskunde nie, maar ek is seker 29 dae is meer as 3 dae. Ek het selfs my sakrekenaar uitgehaal om seker te maak. 

Ek gaan staan solank buite by die hek en wag opgewonde vir my 2 pakkies. Ek is vas oortuig dat iemand gaan besef dat my kalm gemoed min of meer op breekpunt is. 

Beste wense en heerlike dag! 

Riaan Palmer

Share:

0 comments:

Post a Comment