Wednesday 13 June 2018

Manne, ons moet praat...

My mede mans bestuurders, kom staan bietjie hier dat ons gesels oor ‘n saak wat swaar op my hart lê. Soos sake staan moet ons almal nou maar elke dag vir ure in die verkeer sit op pad na of van ons werk af. Sal ons nie veel eerder langs ‘n bosveld vuur wil sit of oor die see wil uitkyk nie? Maar helaas ons moet ons daaglikse brood verdien.



Nou terwyl ons so ons lewens om wag in die verkeer kyk ‘n mens mos maar rond wat om jou gebeur. Ons het dit mos destyds geleer toe ons die K53 gedoen het: observeer. Terwyl ek so sit en observeer sal ek telkemale ‘n man observeer wat dink ons ander kan hom nie gewaar nie. Vir een of ander rede dink die ouens dat wanneer hulle agter die stuur sit, hulle onsigbaar is vir die res van die wêreld. Asof hulle motors ‘n soort “invisibility forcefield” is wat hulle toelaat om enige iets daar binne te doen, en die res van die wêreld sal nooit wyser wees oor die onheilighede wat hulle daarbinne aanvang nie. Ek ry nou nie so ‘n grand kar soos party ouens nie, maar my motor se vensters werk so: Ek kan van binne af buitentoe kyk, en enige iemand kan van buite af binnetoe kyk. Dit is maar hoe glas oor die algemeen werk. Met die kennis weet ek dat ek myself maar moet gedra daar in my motor. Dit is soms moeilik, maar dit is hoe dit is. Jy weet nooit wanneer sien jy ‘n foto van jouself op “Ek’s van die Ooste” nie.

Maar o wee, daardie mans met die “invisibility forcefield” motors het geen vrees of skaamte nie. Nou dat ek eers sê, ek verstaan dat daar soms ‘n simpel snotbolletjie in die voorportaal van jou snoet sit, en dat dit ‘n groot irritasie kan veroorsaak. Dan moet jy hom maar so vinnig uithelp met die punt van jou duim en dit op so manier doen dat dit nou nie lyk asof jy in jou neus grawe nie. Jy doen dit gewoonlik in so ‘n beweging dat dit lyk asof jy ‘n jeukende neus krap. Ook maar mens met normale liggaamlike funksies. Nee, meneer in jou duur Duitse motor. Ek praat met jou wat soos ‘n wafferse kulkunstenaar jou wysvinger laat verdwyn in die donker dieptes van jou sinusholtes waar daglig nooit sal skyn nie. En dan nog die duim agterna stuur om ‘n geharde klouer uit te grawe. Jy grawe so diep dat jou oogbal sommer so bollemakiesie slaan soos jou vingers in die binnekant van jou kop stoei met versteende slym. Ek praat met jou wat dan daardie bal neusgoeters met groot tevredenheid uittrek, vir ‘n oomblik trots bekyk en dit dan in jou mond druk soos ‘n toffie.

Ga! Sies! En elke keer moet ons hard baklei teen vanoggend se Postosties wat ‘n surprise appearance wil maak of vanmiddag se ham en kaas toebie wat met alle mag probeer uitbreek na vryheid. Nee! Moenie! Ons sien vir jou. Ons kyk vir jou in ons spieëltjies of waar jy langs ons in jou motor sit met jou “invisibility forcefield” aan.

Hou dalk vir jou ‘n pakkie Big Corn Bites in jou motor vir as die honger jou oorval oordat jy vir ure al met ‘n nugter maag in die verkeer sit. Of vra vir Mevrou dat sy vir jou ‘n pakkie Gary Player handkerchiefs koop, dan haal jy die nollas uit met die handkerchief, en dan sit jy hom in jou sak en dan gaan eet jy dit later in die badkamer agter ‘n toe deur. Of vat jou kind se fidgetspinner vir wanneer jy verveeld raak in jou motor. Want ons wil dit nie sien nie. Asseblief ouens – ek vra mooi. Moenie op ontdekkingstogte gaan terwyl jy in jou motor sit nie, maar as jy regtig moet, vir die liefde van alles wat goed en mooi is, moet dit nie in jou mond druk nie. Want eendag gaan ek my stryd met my Postosies wat wil terugkom verloor...


Oorspronklik op Facebook gepost - 1 Februarie 2018 (Kopiereg Riaan Palmer)

Share:

0 comments:

Post a Comment