Sunday 25 November 2018

Opwindende Nuuse - Engele en so en dit

Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar. Ek gaan nooit ‘n Nobelprys vir Letterkunde wen nie. Ek skryf nou maar net nie fancy genoeg vir die tannies met die bollas en die brille op die punte van hulle neuse nie. Hulle boudspiere is hopeloos te gespanne om my ‘stories’ te gaan wil kies vir een of ander prys. Buiten vir die feit dat ek per ongeluk (aspris) nou en dan die f-woord laat val en die ingilsman se taal vrylik gebruik, maak ek ook sommer woorde op as ek nie aan ‘n woord kan dink wat ek nodig het nie. Apparently is dit teen die reëls. (Laat ons nou maar niks sê oor die feit dat meester Coenie de Villiers maar woorde kan opmaak soos ‘kelkiewynkaros’ en ‘opslagsomer’ nie. Jy sing dit heerlik saam, maar weet jy ooit wat dit is? Toemaar ek ook nie.)

Partykeer is daar net nie ‘n woord wat lekker werk in ‘n sin nie en dan moet mens maar noodgedwonge iets uitdink wat klink of dit ‘n regte woord kan wees. (Glo dit of nie, maar partykeer werk selfs ‘fok’ nie as plaasvervanger nie.) Ander kere is my brein net bietjie van ‘n marshmallow van te hard dink, en woorde ontgaan my. Ander dag kon ek nie aan die woord “fakkel” dink nie. Ek het letterlik “word for fire on a stick” moes gaan Google en uiteindelik “torch” vertaal. Dan is daar is dae wat jou woordeskat jou net totaal in die steek laat. Soos as jy aan die Afrikaans vir ‘reindeer’ probeer dink, en jou brein antwoord “Kersfees kamele”. Well done! Net as jy dink jy’s nie te dom nie, dan dink jy sulke goed.

Maar ongeag my tekortkominge en foute het iemand dit goed gedink om een van my kort verhale in ‘n bundel te sit saam met ander kortverhale. EK moet bieg en sê ek vloek nie in die storie nie. Dis ook nie besonders snaaks nie. Soos in met glad nie. Maar dis ‘n mooi storie (OK, OK ek is dalk bietjie bevooroordeeld - julle moet maar self besluit). Dis wel 'n nuwe storie wat julle nog nooit gelees het nie.




Die bundel is ‘n versameling stories oor engele. Goed voel stories. Ideaal vir sênoumaar sou daar binnekort ‘n Kersfees wees of so. Aanvanklik gaan die boek net per bestelling beskikbaar wees (vanaf 12 Desember 2018) daarna sal jy dit aanlyn kan bestel. En cheap cheap daarby ook. Dalk is ek die dag in ‘n goeie bui en gee nog een verniet weg ook vir een van my gereelde lesers. Ek sal hom teken ook. (“Arrogant! Vir wat staan en griffel jy nou in my boek?! Wat is fout met jou man!?")
As jy sou belang stel en jy's in Pretoriadorp, laat weet my dan bestel ek sommer saam met myne. Of jy kan direk by Bets Koen bestel - bets.adminco@gmail.com.

Daar is dit nou. “Vlerke” - 'n Versameling kortverhale.

Yay! 

Share:

0 comments:

Post a Comment