Ek het ‘n
natuurlike vrees vir kinders. (Of is dit nou eintlik ‘n onnatuurlike vrees?)
Dit is moontlik omdat die monstertjies agaskiesekbedoel mensies so
onvoorspelbaar is. Met volwassenes weet ek gewoonlik wat in ‘n situasie gaan
gebeur – hulle is redelik voorspelbaar.
Maar kinners? Nope. Hulle kan enige
oomblik enige iets sê of doen. En dit maak my senuweeagtig, want ek wil in
beheer wees van ‘n situasie. Kinners maak dit onmoontlik om in beheer te wees.
Ek is weer
daaraan herinner die naweek toe ek en Die Ander Een doodonskuldig ‘n lunch by ‘n
restaurant geniet. Steek ‘n blondekop seuntjie sy neus oor ons tafel:
“Is jy tannie Linda?”
Vra hy. Ek’s ‘n bykans twee meter lange vent wat ‘n week laas geskeer het – ek kan
onmoontlik nie soos ‘n tannie lyk nie.
“Ek het jou gesê
dis tyd dat jy jou hare sny.” Sê Die Ander Een.
“Lyk ek soos tannie
Linda?” Vra ek vir die grootoog kind.
“Nee.” Antwoord
die seuntjie. “Ek hou ook van spaghetti.” Gaan hy aan en kyk aandagtig na my
kos. Dis salm in my bord.
Ek rol my oë. “Waar’s
jou Ma?”
Hy beduie in ‘n
rigting en voeg by. “Sy drink wyn.”
Wel dit verklaar
baie.
“Neem jy haar kwalik?” Vra ek en kry ‘n skop teen die maermerrie.
***
As ek mooi daaroor
dink het my vrees ontwikkel toe ek ‘n finale jaar student was. ‘n Pêl het my
gevra om hom te kom help verf. Nou ek is nie vreeslik groot op fisiese
handearbeid nie. Ek hou nie van iets dra of optel of neersit of was of verf
nie. (Die enigste rede hoekom dit so is – waaraan ek kan dink – is dat ek koninklike
bloed in my moet hê. Dis tog net koninklikes wat daar fout mee staan met hulle
hande. Of my ‘lui klier’ is ooraktief.) Nietemin belowe my vriend – kom ons
noem hom Rupert - my dat daar gaan drank wees. En kos. Maar meer belangrik
drank. As student is jou prioriteite mos maar bietjie anders en ek stem toe
in met die vooruitsig dat ek gaan verniet kan wyn vir die dag.
Nou my vriend,
Rupert, sukkel nogals om van sy vrou af te klim, en die gevolg is dat hy 4
kinders het. 4 meisietjies om presies te wees met ‘n effense variasie in ouderdomme. Sy vrou het hard probeer om ‘n goeie ouer te wees. Die 5 girls het Rupert
egter gou gebreek, wat veroorsaak het dat sy ouerskapstyl tot “Gods water oor
Gods akker” ontaard het.
So kom ek vroeg
die afgesproke Saterdagoggend daar aan. Dit alleen was alreeds pynlik vir my,
want as student is ‘7 uur die oggend’ iets wat met ander mense gebeur, nie met my nie. In
die kombuis is die vrou besig om die nagevolge van ontbyt te probeer skoon kry.
Soos dit vir my lyk was daar of ‘n slagting tussen eiers en toast óf ‘n dragtige
hoender en ‘n brood is geoffer.
Dadelik raak die
6-jarige en 4-jarige lus vir chit-chat toe ek daar aankom. Soos gewoonlik word
daar oor totale lukrake onderwerpe gepraat.
“Ek het my eerste
tand gewissel.” Spog die 6-jarige. “Ek het dit vir die tandmuis gegee, toe
bring hy vir my geld. Maar eers die tweede aand. Hy’t die eerste aand vergeet.”
Vriend Rupert
vermy my kyk.
“O. En hoeveel
het jy gekry?” Vra ek nuuskierig.
“Nie genoeg nie.”
Kom die antwoord, net om Rupert te herinner dat hy vir die volgende - ten
minste - 21 jaar min of meer platsak gaan wees danksy die 5 vroumense in sy
huis. Maar ek het nie simpatie nie. Hy moes nie met so mooi vrou getrou het
nie.
“Is dit more my
verjaarsdag?” Wil die 4-jarige weet. Ek kyk vir Rupert en hy antwoord sommer “Nee.”
Sy vra dit glo elke dag. Selfs op die dag van haar verjaardag.
“Ek dog julle sou
teen die tyd al aangetrek gewees het?” Vra hy sommer om hulle rigting te laat
kry.
“Ek dog Pappa sou
teen die tyd al beter geweet het.” Antwoord die 6-jarige snip.
Die Ma kyk op en
sonder ‘n woord verder verdwyn die hele lot van hulle.
Ons raak aan die
verf en dis ook nie lank nie wat ons besluit die eerste vliegtuig is al oor;
dis tyd vir bier. Rupert verduidelik dat sy vrou hom toegelaat het hom die
kleure verf te kies. Dit het min of meer so gegaan:
Sy’t met daai
kleurkaarte voor hom gestaan.
Hy: “Daai kleur.”
Sy: “Nee.”
Hy: “Daai een.”
Sy: “Nee.”
Hy: “Daai een.”
Sy: “Nee.”
Hy: “Daai een.”
Sy: “Goeie keuse!
Jy’t ‘n oog vir kleur!”
Baie gaaf van haar.
Op ‘n stadium is
daar ‘n geskreeuery in die ander vertrek.
“Gaan jy nie kyk
wat aangaan nie?” Vra ek.
“Dit help nie. As
jy daar kom weet niemand iets van niks af nie. Dis soos ‘fight club’. Hulle
praat nie oor wat gebeur nie.” En hy trek sy skouers op.
Ook nie lank nie
en een van die girls raak aan die huil. Rupert laat sak sy kop, sug en loop dan
met gesakte skouers om ondersoek in te stel. Minute later kom hy kopskuddend terug.
“En?” Vra ek
nuuskierig.
“Hulle baklei oor
wie volgende die 'imaginary' dolfyn mag ry...”
Later weer moet
die vrou ry om nog verf en Pizzas vir lunch te gaan koop.
“Was hulle soet
terwyl ek weg was?” Vra sy toe sy terug is.
“Awesome.”
Antwoord Rupert.
“Jy besef hulle
het saam met my gery?” Sê sy.
“Ek wou sê hulle
is besonders stil...”
So verloop die
dag en een na die ander vertrek kry ‘n nuwe laag verf. Ek leer ook die een na
die ander les oor kinders. Ek leer byvoorbeeld dat ‘n kind sal ‘n droë ertjie wat
al ‘n maand onder die yskas lê eet, maar nie ‘n wortel nie. Ek leer dat as jy “We
will rock you” vanuit die badkamer hoor, dan vra jy nie watter mylpaal vandag
behaal is nie. ‘n Tweejarige sal suiker wat op die vloer gemors het oplek. Ten
minste het hulle nie ‘n mier probleem nie.
Uiteindelik is
ons klaar, maar omdat daar omtrent dieselfde hoeveelheid drank as verf gevloei
het besluit ons ek kan nie terug huis toe bestuur nie. Ek sal op die bank kamp
vir die aand.
Ek kry ‘n kussing en een van dáái komberse. Jy ken hulle. Hulle
is van wol gemaak. Dit het so ‘n sagte satyn rand reg rondom – maar dis net om
jou onder ‘n valse hoop te plaas dat dit ‘n aangename kombers ervaring gaan wees.
Leuens! Dit sal minder krapperig wees om onder ‘n hoop skuurpapier te slaap...
Anyway, met genoeg alkohol gee jy nie om nie. Jy slaap daar waar jy beland.
Dit gebeur so 1 uur
die oggend. Nou, as jy, soos ek, genoeg horror movies gekyk het,
dan weet jy al ‘n kind wat alleen in die nag rondloop is bad news. Die monster
gaan enige oomblik op jou toesak.
Ek word wakker
van iets – daai sesde sintuig. Van bo af bekyk een van daai horror movie
kinders my woordeloos. Chucky? Daai een van Poltergeist? Daai een van The Exorcist?
Haar demoniese oë verraai dat sy oomblikke daarvan is om my gesig te verslind. (Altans,
dis wat deur my kop gaan.)
Ek gil verskrik, spring op en gee haar ‘n flying kick
- ala Jean Claude van Damme - vol in die gesig. Oftewel dit was die plan, maar
in my toestand kry ek dit net reg om van die bank af te val. Die Chucky-meisie staan
steeds bo my en kyk amusant af waar ek paniekbevange op die grond lê. Dan hou
sy haar wysvinger reg voor my neus. Ek begin by my sinne kom. Dis die 4-jarige.
Vir wat druk sy haar vinger hier reg voor my neus?
Ek dink nie mooi nie, en
ek byt haar vinger. Nie byt-byt nie. Net saggies, speel-speel byt.
Sy trek haar hand
terug en kyk met groot oë na haar vinger. Haar lip begin bewe. Dan kom die
trane. Ek het duidelik nie gedink nie.
“Ek is jammer!”
Sê ek verskrik. “Ek het nie bedoel om jou seer te maak nie!” Ek vat haar
handjie en soen saggies die vinger. “Toemaar. Kyk daar’s nie eers bloed of ‘n
merkie of iets nie!” Paniek stoot in my op. Wat de moer gaan ek vir haar Pa sê?
‘Nee, daar is niks fout nie. Ek het net jou 4-jarige se vinger amper afgebyt in
die middel van die nag...’
Uiteindelik kry
sy woorde uit tussen die snikke... “Nee... snik... dis nie... snik... seer
nie... Jy’t my... snik... snot geëet wat ek vir jou gewys het... snik...”
0 comments:
Post a Comment