Die afgelope week
was woes sê ek vir julle! Daar was die hele Black Friday affêre. Alhoewel ek
nie die binnekant van ‘n shop gesien het nie, was net die gedagte daaraan
genoeg om my uit te put.
Julle het seker
al die Black Friday video’s gesien? Daai wat wys wat geneur as Game hulle deure
oopswaai (of probeer oopswaai) en daai skare mense die winkel instorm... Die
deure word sommer van hulle skarniere af gehol. Jy moet jou storie ken hoor. As
jy neerslet daar is dit neusie verby... Die skoonmakers gaan jou later met die
mop kom opvee – daai nat kolletjie wat oor is van jou. Dis soos ‘n episode van
‘The Hunger Games’. Al verskil is die laaste survivor wat bly staan kry die TV
teen 5% afslag. Really people? As ‘n TV R10 000 gekos het, en hy kos nou R 8
000 het jy nie R 2 000 gespaar nie – jy het R 8 000 uitgegee...
En dan sien jy daai trollies met die berg
toiletpapier in, en jy wonder watse soort kak het die mens in hulle lewe? Of
het jy gaan Krismis presente koop? Het daai presente nou meer betekenis met die
wete dat jy ‘n vuisgeveg met ‘n Fortuner Tannie gehad het en jy as die
oorwinnaar weggestap het, en sy ‘n nuwe neus moet gaan shop?
Ek moet egter bieg:
Ek het ietsie by Takelot geshop. Ek besit nou ‘n high-pressure hose. Ek weet
nie wat ek met hom gaan doen nie, maar ek het nou een. Laat weet maar as jy hom
wil leen.
Saterdag weer was
die verkeer nog steeds hectic... Luister nou mooi – ek gaan dit net een keer
sê: As jy ‘n rooi ‘L’ in jou agterruit het, dan bly jy verdompwil by die huis op
‘n Saterdag. Julle gee die res van ons hart palpitasies! Saterdae is net bedoel
vir ekspert bestuurders!
(En ek wil so
graag weet wat het Saterdagaand in Rubenstein gebeur... ‘n Bakkie het aan die
verkeerde kant van die pad in ‘n ander kar vasgery... Hoe getrek moet jy wees
om in ‘n 60 sone aan die verkeerde kant van die pad in iemand vas te ry.)
Sondag moes ek
noodgedwonge Afrikaans is Groot gaan kyk. Dis was stresvol want ek het ek het
verwag ons gaan een na die ander ““Bokkie, meisie, baby jou asem laat my hart
vinniger tjoklits pomp as die seile span” liedjie gesing deur die populiste,
hoor. Ek was darem net halfpad reg. Daar was darem ‘n paar kunstenaars wat die
saak gered het. Soos Elvis Blue... Ek LOVE Elvis Blue. Hy het soveel
persoonlikheid en hy sing awesome. Ek wil hom optel, veilig in my sak sit en
net uithaal by spesiale geleenthede.
Teen Maandag is
ek so op die edge gewees dat ek amper weer ‘n dommetjie by die werk getref-en-trap
het. Ek dag toe nee ek sal iets moet doen. Ek is te mooi om tronk toe te gaan
vir moord, ek sal dit nooit oorleef nie. Oeps, nee wag die woord wat ek soek is
“afhanklik van luxuries” -
nie “mooi” nie.
Daar is egter nie
tyd of geld vir ‘n spa dag nie (sien Black Friday & Takelot bo vir redes)
en besluit die naaste wat ek daaraan gaan kom is ‘n bubble bath. Ek stop na
werk by “The Body Shop” en verduidelik vir die meisietjie ek soek goete vir ‘n
relax. Sy pak my mandjie vol olies en roompies en scrubs. My kredietkaart word
so wit in die gesig. Op ‘n stadium laai die meisie sulke balle in my mandjie.
“What is this? What
must I do with balls? Must I play with balls to relax?”
“No sir. They are
bath bombs. You put them in the bath and it releases relaxing salts and
fragrances. It’s perfect for relaxing in a bath.” Verduidelik sy. Ek’s bietjie
skepties want ek kan nie sien hoe ‘n “bom” enige iets kan ontspan nie, maar sy
weet seker waarvan sy praat. Ek swipe my kaart en hou daai BAIE lang sekondes
my asem op wagtend of die transaksie gaan deur gaan. Help ook nie veel vir die
stres nie, maar nou ja... Approved... Sug! Yay!
Jaag huis toe, tap
‘n bad water in, steek al wat ‘n load shedding kers is aan en verduidelik vir Die
Ander Een in geen onduidelike terme dat ek onder geen omstandighede gesteur mag
word nie. Bad vol water (ek sal more dubbel water spaar) staan en kyk ek my sak
vol Body Shop ‘goodies’. Waar begin mens? Verseker die “bath bomb”! Die storie
moet ek sien...
Ek bekyk die bal
en sien geen aanwysings of iets nie. Net voor ek hom in die bad sit, bedink ek
myself... As dit ‘n bom is gaan daar mos een of ander soort ontploffing wees,
nie? Gaan hurk (sommer so in my Adams gewaad) agter die wasbak en gooi die “bath
bomb” in die bad se rigting. (Ek is mos nou nie vreeslik sportief nie en kon
eers na die derde probeerslag die bal in die bad kry.) Toe die bad bom
uiteindelik in die water plons, loer ek verby die wasbak in afwagting, maar
niks gebeur nie. Ek kruip versigtig handeviervoet nader. Dalk het die ding ‘n
timer wat afloop voordat daar iets gebeur? Ek loer oor die bad se rand. Die bath
bomb dobber net heen en weer. Niks gebeur nie. Wat ‘n antiklimaks! Dalk doen ek
iets verkeerd... Ek roep Die Ander Een.
“Koe-ie! Weet jy hoe
die ‘bad bom’ goete werk? Ek dink myne is stukkend.” Die Ander Een kom met ‘n
sug die badkamer ingeloop en loer in die bad. Daar word verwoed oë gerol.
“Jy moet die
plastic wrapper eers afhaal.” Sê Die Ander Een en skep die bal uit die water
uit en trek ‘n deurskynende pampier van die bal af en gooi die bal weer in die
water. Ek loer koes-koes oor die bad se rand. Daar is steeds geen ontploffing
nie, maar nou fizz die ball verwoed – lyk of daar Enos aangemaak word.
“Nog iets?” Vra Die
Ander Een duidelik dik van die lag.
“Het ek nie gesê
ek wil nie gepla word nie?! Gaan net weg!”
Ek wag dat Die
Ander Een al giggelend uit is voor ek die sakkie ontspan goete weer oop pluk en
nog bestanddele in die water gooi. ‘n Bottel Peppermint Candy Cane Bath Foam, ‘n
spuit Vanilla Marshmallow Shimmer Mist, ‘n Moringa Fragranced Bath Bubble, ‘n
bottel Almond
Milk & Honey Calming & Caring Bath Milk en so ook ‘n bottel French Lavender Massage
Oil... ‘n Hele bottel olie? Fout. Ek klim in die bad (glas rooiwyn in die hand)
– een oomblik staan ek nog, die volgende oomblik is ek plat op my rug; gly op
en af in die bad soos ‘n slippery slide. My skok beentjie moer toe gestamp. Na
wat voel soos ure kom ek uiteindelik tot stilstand. My elmboog is lam. Ek praat
in tale. Ek probeer regop sit maar kry nêrens vasklou plek nie en gaan weer vir
minute lank aan die gly. Nog ‘n dosyn blou kolle. So lê ek maar en dobber in die bad, so bewegingloos
moontlik, en bedink my lot. As ek weer beweeg stamp ek dalk nog my kop en
verdrink hier in my eie badkamer in 10 duim water. Ek kyk hartseer hoe die
rooiwyn sulke mooi patrone maak soos dit met die eksotiese olies meng. Ek weet
nie wat van die glas geword nie. Ek hoop nie daai ongemaklike gevoel is wat ek
dink dit is nie.
Sug. Daar is net
een uitweg as ek die gaan oorleef... Ek roep Die Ander Een. Eers saggies met
die hoop dat my hulpkreet nie gehoor sal word nie. Maar ek besef dit gaan nie
die probleem oplos nie en roep harder. Die Ander Een kom eventually ingestap.
“Wat nou weer?
Moet ek jou help om ‘n proppie van ‘n bottel af te draai?”
“Ek weet nie of
is jou sarkasme nodig nie...” Ek wil eers bitsig wees maar besef dis ‘n kwessie
van lewe en dood en gaan my trots moet sluk. “Help my asseblief. Ek sit vas...”
Die Ander Een bekyk
die situasie, die hoop leë bottels olies langs die bad en toe daar tot besef
kom, volg die genadelose lag. Die Ander Een sak inmekaar van die lag. Ek bly
maar stil en wag dat dit oorgaan. Teen die tyd is die water al yskoud, alles is
klein en seer en my ego het waarskynlik iewers op die vloer beland. Maar ek bly
stil, wat soos julle weet nogal ‘n uitdaging vir my is.
Toe die histerie uiteindelik
verby is word daar ‘n handdoek se punt vir my gegooi en ek word (met moeite) soos
‘n vis uit die bad getrek. EK is so van die olie dat toe ek op die badkamer vloerteëls
beland ek weer ‘n paar meter verder, sommer so op my maag en ander dele, gly en
wat weer tot hernude histerie lei.
“Is jy nou
ontspanne?” Vra Die Ander Een deur die trane van al die lag.
“Ek het gesê ek
wil nie gepla word nie. Voert net weg...” Sê ek saggies terwyl ek kyk hoe die
laaste van my trots saam die olies in die drein verdwyn.
Riaan Palmer
0 comments:
Post a Comment