Hierdie was ‘n
besondere uneventful week, die dat ek so stil is. Behalwe natuurlik vir die feit dat dit warm was.
Nee, nee. Moer warm. Ek het besef dis nou regtig warm toe twee Hobbits by my
kantoor inhardloop en ‘n ring daar neergooi. (Komaan. Iemand moet daai
verwysing verstaan?!)
Anyway. Dis moer
warm so ons almal sit maar eerder doodstil en doen so min moontlik. Jy’s te lam
om iets te doen of te bang die son kry jou alleen en brand jou dood. Dit raak
in elk geval ook nou daai tyd van die maand wat jy maar eerder niks doen nie
uit vrees dat dit jou gaan geld kos – wat jy nie het nie. Want – sug – my
kredietkaart het mos ‘n target, nie ‘n limiet nie. Ek het mos al geleer – ek
spandeer die begin van die maand vinnig al my geld, want daar’s nooit ‘n sent oor
hier aan die einde van die maand nie. (En my Pick ’n Pay kaartjie kort nog 3
stickers voor hy vol is. Sug.) Nou is dit nog ‘Black Friday’ ook. So voor
payday. Wat help dit nou in elk geval vir wie?
Nou moet ek maar
op die naat van my rug lê en terugverlang na opwindender tye... Die hitte laat
my terugdink aan die droogte jare op my Ouma-hulle se plaas daar in die
Waterberge. Hulle het met koeie en mielies geboer.
Soos dit warmer
en droër geword het, het die arme melkkoeie ook maar swaar getrek. Eers het
hulle karringmelk gegee, en later net poeiermelk. As die Oubaas van die kraal
af kom is hy so van die wit poeier dat dit meer lyk asof hy koek gaan bak het,
as wat hy gaan koeie melk het...
Die mielies het ook
maar net-net beter gevaar, maar ook maar net omdat al wat ‘n vloeistof is na
die lande toe herlei is. As jy ‘n nommer 1 soort nood het, dan moet jy lande
toe stap (wat ook beteken het jy moes maar vooruit beplan wanneer jou blaas
gaan vol wees). Daar was op ‘n stadium net genoeg mielies om gelyk te breek,
maar toe kom daai hittegolf... Een oomblik is daar mielies, volgende oomblik lê
die lande wit van die popcorn. Ons moes toe nou maar al wat ‘n hol ding is gryp
en begin skep. Dit was eintlik ‘n bedekte seën gewees, want die popcorn was
teen ‘n baie beter prys aan Sterkinekor en Numetro verkoop word. (Sommer op
daai tema... Hoe herken jy ‘n krimineel by Sterkinekor? As iemand ‘n koeldrank
EN ‘n popcorn EN sweets koop. Ek meen, watter gewone ou het daai soort geld? Iemand
met daai soort geld moet sweerlik ‘n drug dealer of iets wees...)
Nietemin was die vakansies
op die plaas net die beste. Kaalgat swem in die spruit in die kloof. Trekker ry
saam die Oubaas as hy die lande ploeg. Vars botter, plaasbotter, vars gebakte soetkoekies,
vars gebakte brood... vars alles. Mis ek darem nou my Ouma en die plaas...
Die Oubaas het
natuurlik perske of druiwe mampoer gestook – skelm – in die kloof. Die Waterberge
se polisiekonstabels was gedurig daar om te kom kyk of die Oubaas nie weer
onwettig stook nie. Hulle is altyd daar weg met ‘n bottel deurskynende
vloeistof onder die arm, tevrede dat die Oubaas nie besig is met onwettighede
nie. Ek was nog kind in daai jare, en kan nie vir jou regtig sê hoekom die
Oubaas se mampoer so beroemd (of berug?) in die distrik was nie. Die Oubaas het
my eenkeer ‘n proppie vol gegee om te proe. Ek kan nie veel van die
aangeleentheid onthou nie. Ek weet net, voor die proe het ek aan asma gelei, is
gepla deur aambeie en het vratjies op my hande gehad. Die volgende dag kom ek
agter dat ek vir die eerste keer ordentlik kon asemhaal en die vratjies het
soos grondboontjie doppe tussen die lakens gelê toe ek wakker word. Kan nie sê
dat mampoer iets vir aambeie doen nie. Jy’s net nie soveel gepla dat jy hulle
het nie.
En van aarbeie gepraat – die Oubaas het so ‘n droë sin vir humor gehad. Die dag ry die plaaswerker met die trekker en die sleepwa vol beesmis die grondpad af en die Oubaas wys vir hom hy moet stop.
“Waar gaan jy met
al die mis?” Vra die Oubaas toe die trekker tot stilstand kom.
“Nei Oubas. Ons
gat hom daar by die strawberries gooi.”
“Siestog.” Sê die
Oubaas ewe droog. “Julle kan maar een dag hier by ons kom strawberries eet. Ons
sit icecream op ons s’n.”
0 comments:
Post a Comment