Tuesday 2 April 2019

Sport en so en dit

Waar was ek die afgelope paar weke? Ek gaan jou nou nie verveel met die details nie. Kom ons sê maar net alles wat moontlik skeef kon loop, het. My oog wat altyd aan die spring raak as ek gespanne of geïrriteerd raak (jip, my nervous twitch) het opgehou om te spring en sommer ontaard in een of ander gross infeksie? Nou loop ek rond soos ‘n glorified semi-seerower met net een goeie oog... I kid you not.

Nietemin is die ergste nou verby, maar ek’s nog steeds bietjie tense. Fine. Seker baie tense. Ek vermoed ander mense sien dit ook raak... Die leidraad is dat ek word klaarblyklik deur almal vermy soos ‘n baba se vuil doek. Ek raai ek loop rond met een of ander ‘n aggressiewe uitdrukking op my gevreet, so al asof ek enige oomblik iemand ‘n high-5 gaan gee. Met ‘n kaktus. In die gesig. 

Ek het dit op ‘n stadium oorweeg om my probleme te verdrink in drank, maar uit vorige ervaringe weet ek dit werk nie. Die boggers – my probleme nou - is goeie swemmers, so drank help ook nie. Iemand stel vandag voor (baie versigtig en diplomaties) ek moet dalk dit oorweeg om ‘n sport te beoefen. Dit sal my glo help om van die stres ontslae te raak. Ek gooi my kop agteroor en lag.
Ek? Sport? Uh-huh.
Kom ons dink gou daaroor... Nee.
Wag, laat ek nog daaroor dink.
Nee.
Glo my, dis nie dat ek nie probeer het nie. Die grootste probleem is dat ek is baie lomp. Ek val gereeld sommer oor niks. Dis nogals ‘n kuns om oor niks te kan val nie. (Dis nie dat ek regtig val nie – ek toets net gereeld om te kyk of werk die aarde se gravitasiekrag nog. Probeer hom onkant vang deur elke nou en dan vir geen logiese rede net neer te slet.)
Ek ontdek ook gereeld blou kolle wat ek geen idee het waar dit vandaan kom nie. Gebeur dit met ander mense ook? Kom agter daar is ‘n moerse blou kol hier in jou binnebeen – sommer maar net? (En wat is die eerste ding wat jy doen as jy ‘n nuwe blou kol ontdek? Jy druk hom met jou vinger mos. Die mens is ‘n vreemde skepsel...)

Ek was van jongs al berug daarvoor dat ek nou nie heeltemal (lees: glad nie) sportief was nie. As daar spanne gekies was tydens pouse vir speletjies, dan was ek altyd laaste. Ja, ek is letterlik gekies ná kruppel Chris en Michael met twee gebreekte arms. So nie ‘n positiewe konnotasie met sport om mee te begin nie.



Die feit dat ek normale lengte is, en die res van julle kort gatte ‘n kop korter as ek is, het darem verseker dat ek die eerste keer wat ek probeer rugby speel het, ek span gekry het as slot. (Die gerugte oor my bal vaardigheid – of tekort daaraan - het duidelik nie by die onnie uitgekom nie...)
Ek het geen idee gehad oor rugby reëls nie (nie dat veel verander het in die afgelope 30 jaar nie) maar ek was vasbeslote om rugby te speel. Net mooi die eerste dag oefen ons lynstaan. Die manne verduidelik waar ek, as slot, moet staan. Dit is ál verduideliking wat daar aan my gegee is. Volgende oomblik skree die skrummie (of is dit nou die heelagter of die goalie? – Weet nog steeds nie...) “Mickey Mouse, 87, 4, 4, zebra” en gooi die bal. Wat de moer beteken dit!? Ek kyk rond wat doen die ander ouens om my. Die ander ouens gryp my aan die broek en lig my op. Ek raak aan die spartel. Ek het geen clue wat nou aangaan nie, maar blykbaar kry ek nou ‘n galactic wedgie!? (Ek haal tot vandag toe nog stukke van daai onderbroek uit my ollie uit) Klaarblyklik moes ek die bal vang... Nou weet ek ook. (Wat ek nie verstaan nie, is hoe moes ek weet “Mickey Mouse, 87, 4, 4, zebra” beteken ek moet die bal vang!? Was daar ‘n spanoefening wat ek gemis het waar hierdie geheime kodes gedeel is? Almal het geweet wat dit beteken, behalwe Riaan. One of life’s great mysteries.)

But anyway. Meneer besluit toe nee, ons speel bietjie. Daar word hierdie kant toe gehol en daai kant toe. Dan word daar geskrum. Daar moet eers weer aan my verduidelik word wie staan waar en hoekom. Ek kry ‘n moerse skok toe iemand my net hier duskant die crown jewels gryp toe die skrum sak. Ek spring op en begin die skuldige opspoor. Daar word verduidelik nee dis maar hoe en waar daar vasgehou word... So much for personal space. Mense. Julle het geen idee wat gebeur daar binne in die skrum nie! Geen idee.
Uiteindelik kry ek die bal. Wat doen Riaan die heel eerste keer wat hy ooit ‘n rugbybal in die hande kry (en wonder bo wonder raak vang)? Hy skop natuurlik – wat sal die slot dan nou anders met die bal maak? Die heelagter het die bal baie mooi gevang. Dis nou, my eie heelagter, wat agtertoe moes hardloop om die bal by ons eie doellyn moes vang.

Lang storie kort: Meneer skree. Riaan pluk sy moer, klim op sy fiets en ry. “Fok julle. Kry vir julle ‘n ander slot. My ore gaan in elk geval nie hierdie geskrummery hou nie. I’m out.” Laaste wat ek en rugby iets met mekaar te doen gehad het.

Krieket het ook nie veel beter gevaar nie. Eerste keer wat ek kolf, gooi die stupid bouler die houtjies wat agter my staan om. Ek gil op die bouler dat hy moet gooi vir my kolf, nie vir die houtjies nie. Idioot! Toe ek na vele probeerslae uiteindelik die bal raakgeslaan kry, tref die bal my reg op die oog (g’n niks helmets daai tyd nie!). Dit sou ten minste ‘n 4 gewees het as my gesig nie in die pad was nie... Moerse eier. Tranedal. Fok dit. Ek hou duidelik nie van krieket nie. Maar Meneer oortuig my om net bietjie vas te byt en sê ek moet bietjie by die reserwes gaan sit, dis nie so erg nie.

Ek het lankal my mind opgemaak, want wie wil in elk geval heeldag lank op die veld staan en wag dat die bal eendag in jou rigting kom? Ain’t got no time for that shit. Nietemin gaan sit ek langs die veld en ontdek iemand se sak met al die krieket gear in. Alles nuut vir my, gaan ek deur die toerusting. Pas die maermerrie-beskermers aan. Handskoene word aangetrek waarmee die naaste reserwe dadelik geboks word. So hamer-affêre met ‘n bal aan wat g’n mens weet wat jy mee doen nie... Uiteindelik ontdek ek so ‘n wit, driehoekige bakkie met gaatjies in. Ek draai die ding al in die rondte maar kan nie uit-figure wat die ding moet doen nie. Uiteindelik maak die vorm vir my sin – ‘n driehoek... Die skerp hoek kom oor jou neus en die breë kant “onder” kom oor jou mond? Ek druk die ding oor my gesig, draai na die naaste reserwe toe en sê “Psssfffft. Luke... I’m your father...” met ‘n Darth Vader stem. Die reserwe kyk my net met sulke groot oë aan. (Ja, Anton, ek onthou asof dit gister was! Jou varknek! Jy kon my gesê het, maar nee, laat Riaan maar sy naam vergat!) Dis eers jare later wat ek uitvind dit is ‘n “ball box”, en jy sit hom definitief nie op jou gesig nie. Ooit. Sommer heeltemal genees van krieket as daar nog ‘n kans was...

So is ek van sport na sport. Geen teken van ‘n spier om ‘n gewigstoot bal te gooi nie. Te rigting beduiweld om ‘n diskus te gooi – na klagtes van vele omstanders is ek verbied om verder te probeer inkom vir diskus. Hoogspring? My brein wil net nie toelaat dat ek agterstevoor oor ‘n lat spring nie. My fok, as jy oor iets spring, dan kyk jy mos waar jy spring. Jy val nie blindelings en hoop jy land op ‘n matras nie.

Tennis? Die ou fyn handjies het na die eerste stel ‘n halfdosyn blase opgelewer. Waarvan een nogal op my linkerhand was – nie eers die hand waarmee ek die raket vasgehou het nie.

Golf? My brein wil dit net nie verstaan nie. Dit maak doodeenvoudig nie sin nie... Moer die bal. Soek die bal. Moer die bal. Soek die bal. 18 bane lank. En asof dit nie moeilik genoeg is om net die bal raak te slaan nie, gaan sit een of ander siek bastard nog sandputte en damme die hele veld vol. Dis seker ‘n joke?

Boks? Ek gaan sommer skip oor die feit dat dit bietjie barbaars is in my opinie, en die olifant in die vertrek aanspreek: Twee halfkaal mans wat in hulle onderbroeke baklei oor ‘n belt vol blink goedjies en badges? Ouens. Klim uit die kas uit. Aanvaar julle seksualiteit. Dis oraait.

En nevermind eksotiese sporte soos “surfing”. Ek kan net-net regop bly, as ek hard konsentreer, op droë grond. Ek staan mos nou geen kans om op ‘n plank op die see regop te bly nie...

As ‘n laaste wanhopige poging was ek nou-die dag by ‘n gym. OK, fine. Ek was by Ed’s Diner en die waiter se naam was Jim – dis amper dieselfde ding...

Ek het probeer. Ek het aanvaar. Ek het aanbeweeg met my lewe.

Nou ja, as iemand ‘n ander voorstel het vir “stress release” – anders as drank en sport, ek luister. Want dis net ‘n kwessie van tyd voor ek ‘n ongeluk by die werk het en per ongeluk iemand wat drooggemaak het met die stapler in die nek bykom.

Riaan Palmer
Share:

0 comments:

Post a Comment