Ek is alweer in die moeilikheid. Of is dit nog steeds, net dieper?
En dis nie eers asof ek probeer het om in die moeilikheid te kom nie.
Sien ek loop by die gang af by die kantoor en ek loop verby een van die girls – sy huil histeries. Ek vra haar wat’s fout.
“Hoehoehoesniksnik...my kar...hoehoehoesnik...proes...my man gaan my...snikproessnikhoe...”
Ek sê vir haar sy moet kalmeer. Eerste fout. Blykbaar sê jy nie vir ‘n histeriese dame sy moet kalmeer nie. Dit werk nie.
Soos ‘n ware heer haal ek my sakdoek uit my sak en vee haar trane af.
‘n Ware hero en gentleman. Met die geveëry vee ek haar wenkbroue ook af.
Ek kyk verbaas na die 2 swart strepe op my sakdoek wat al is wat oor is
van haar wenkbrou. Sy sien ook wat gebeur het. Toe het ek eers kak. Ek
is seker as sy nog wenkbroue gehad het, was hulle op daai stadium gelig.
As verontwaardigde "looks could kill"... (Ek dink sy’t het ook daai
oomblik agtergekom dit was nie ‘n skoon sakdoek wat ek oor haar gesig
gevee het nie?)
Sien. Ek het nie eers probeer nie. Moeilikheid kry my net. Ek het dit mos goed bedoel.
My Ma het van kleins af maniere by my ingemoer, so ek weet nie van
beter nie. Ek onthou goed hoe ek as klein seuntjie saam my Ma straat af
gestap het, toe sy vir my sê ek moet aan haar ‘buitekant’ loop.
Verward vra ek wat bedoel sy. Sy sê ek moet regs van haar stap sodat my swaard arm ‘los’ kan wees. “Wat praat Ma!?”
Sy verduidelik dat in die Middeleeue mans regs van vroue gestap het,
sodat wanneer hulle die vroue moes beskerm, hulle hulle swaarde makliker
kon uitruk en gebruik.
“Maar ek het nie ‘n swaard nie.”
*Klap*.
“Hou op teë praat en stap regs van my!”
En hoe meer ek probeer verduidelik ek het nie ‘n swaard nie, hoe meer
reën dit *klappe* (in lettergrepe natuurlik) omdat ek teë praat want
“vroue is sag en moet verdedig word”.
“Jy...*...is..*..die..*..man..*..en..*..jy..*..moet..*..jou..*..Ma..*..beskerm..*..want..*..sy..*..is..*..swak.”
Tot vandag toe nog koes ek onbewustelik as ek per ongeluk links van iemand beland.
Die grootste moeilikheid wat ek egter gehad het met ‘n dame, was toe ek
vir ‘n paar maande in Engeland was. Soos soveel ander jong
Suid-Afrikaners, het ek vars uit die Universiteit my rykdom en geluk in
Engeland gaan soek. Eerste keer dat ek ooit gevlieg het. Stoksielalleen
in ‘n wildvreemde land. So gebeur dit toe nou dat ek laat in die aand,
seker so 11 uur die aand, die “Underground” – oftewel die ondergrondse
treine – moet gebruik om by my bestemming uit te kom.
Nou as jy
lank genoeg in Londen was, dan kom jy agter dat die ergste bedreiging of
moontlikheid van misdaad is ‘n ou in ‘n hoodie wat met ‘n stomp
naelvyltjie jou gaan probeer beroof – aangesien vuurwapens en selfs
messe onwettig is in Engeland. Natuurlik as iemand ‘n Suid-Afrikaner
probeer beroof met ‘n geroeste naelvyl gaan hy hom dood lag, want ons
Suid-Afrikaners is meer gewoond daaraan om met AK47s en pangas
gekonfronteer te word... “You call that a knife? Get that shit away from
me Soutie!”
Nietemin, op daai stadium het ek nie van beter geweet
nie, en beland na donker alleen op ‘n trein stasie. As Suid-Afrikaner is
dit tweede natuur om donker, afgesonderde plekke te vermy, so my
onderbroekie bewe toe ek die situasie besef waarin ek my vind. Alleen.
In ‘n donker, onheilige, onbekende plek. Ek was vas oortuig dat dit die
aand was wat ek vermoor sou word – op onskuldige ouderdom van 22...
Soos ek deur die donker gange stap gewaar ek ‘n dame wat so ‘n hele ent
voor my stap. Groot was my verligting om nie meer alleen te wees nie!
Ons kon mos nou saam alle moordenaars en verkragters beveg! Ek begin toe
vinniger stap om haar in te haal of ten minste net nader te stap dat
wanneer die kak spat die moordenaar nie tussen ons kan kom nie... Sy
loer oor haar linkerskouer en begin vinniger stap. Ek dag sy het die
trein hoor aankom of iets, en ek begin ook nog vinniger stap. Sy kyk
weer oor haar skouer en begin daai “draf maar ek wil nie lyk of ek draf
nie ek loop net vinnig”-draffie te draf. Ek begin draf. Sy kyk weer om.
En begin voluit hardloop. En sy begin skree! “Help! Someone help me!” Ek
aanvaar sy het ‘n reeksmoordenaar of aanvaller agter my gewaar en besef
nou is hier kak. Ek begin ook voluit hardloop. Al gillende (ek gil mos
ook al teen die tyd “help help”) haal ek haar uiteindelik in.
Soos wat ek haar toe inhaal besef ek wat aangaan: Sy hardloop vir my weg! Sy dink - onskuldige - ek is die aanvaller!
“No no! I’m not the rapist!” Skree ek agter haar aan in beroerde Engels
(maar vir een of ander rede hou ek nie op om te hardloop nie!?).
“I’m just following you!” En om haar verder te paai voeg ek by. “I’m not
a man that’s going to rape you, I’m just a boy!” (Ek weet - dit maak
vir my ook geen sin nie.)
Ek slet neer.
In die horror
movies as die mense weghardloop vir die serial killer val hulle mos
altyd. En dan spring hulle dadelik op en hardloop verder. Ek sal nooit
‘n horror movie oorleef nie, want as ek neerslet dan bly ek eers so
bietjie lê en myself jammer kry en voel wat is alles nou weer gebreek...
Soos ek toe nou daar in die donker gang lê en myself jammer kry kom
staan die vrou hier bo my, en druk so ‘n botteltjie hier reg voor my
gesig. En sy pepperspray vir my.
Ek het eenkeer chillies gesny en
toe my oog gevryf. Daai’s fokol teenoor pepperspray. Ek het geweet
vanaand is die aand wat ek doodgaan. Is jy al ooit gepepperspray? Jy
wens jy was dood. Die snot en trane loop orals uit – my oë, my neus, my
ore – daar is dele van my lyf wat ek daai aand uitgevind het kan
vloeistof afskei wat ek nie voorheen geweet het nie. Trek die vrou los
en gee my ‘n skop in die ribbes met ‘n “scumbag!” en verdwyn om die
hoek.
Ek het my trein gemis. Ek het my Ma ook gemis.
Riaan Palmer
0 comments:
Post a Comment