Friday 13 July 2018

Het ek al genoem ek hou nie van kamp nie?

Ek kan sommer uit die staanspoor verduidelik: Ek hou nie van kamp nie. Ek verstaan dit nie. Dit is nie dat kamp vir my volksvreemd is nie.

Ek het groot geword as ‘n kamper.  My Pa-hulle het een van daai stokou Jurgens karavane gehad – die model wat basies die ossewa vervang het na die Groot Trek. So, ek weet goed van vasgevang wees tussen die seile van ‘n tent as dit vir 2 weke aaneen reën en jou Ma jou met die besem wil moer omdat jy modder intrap nadat jy ablusie blokke toe moes hol.

Ek kan nie verstaan hoe mense geld betaal om soos ‘n boemelaar in ‘n pondok te gaan bly iewers in die bos of ‘n halwe kilometer van die strand af nie. Jy wil mos gaan vakansie hou wat beteken rus en ontspan. Nee. As ‘n kamper begin jy deur eers die helfte van jou huis in die karavaan te prop. Alles wat jy moontlik gaan nodig hê - en dan maal jy dit met twee. Want jy gaan dalk ‘n vars lemoen se sap wil drink, so jy pak die manual juicer in. Jy’t die afgelope 13 jaar nog nooit die juicer gebruik nie, maar hy gaan saam. Driepoot potjies, staanders, manual haardroërs, jerry cans, alles wat kan opvou, kilometers se elektriese verlengings kabels en, wel, basies alles in die huis wat draagbaar is en deur die karavaan se deur gaan pas. So gaan dit vir ‘n week voor die vakansie. Julle dra vir die hele week voor die vakansie die inhoud van die huis (wat 250 vierkante meter is), in die karavaan in (wat minder as 12 vierkante meter is). Ek is seker dit is een of ander onheilige toordery want dit maak mos nie sin nie.
Op die groot dag word die karavaan dan gehaak en teen slakkepas word daar vertrek na die bestemming. As kind is voel dit soos ‘n ewigheid veral as jy met frustrasie moet kyk hoe die een na die ander 10 ton trok die 1800 Nissan Skyline verby vat terwyl die arme enjin histeries gil in tweede rat.



Daar aangekom word die karavaan staanplek mooi bekyk en wetenskaplike toetse word eers gedoen om te sien watter rigting die water gaan vloei as dit reën en watter rigting die wind die tente gaan waai en uit watter rigting die blou ape op die kamp gaan neersak. En dan moet alles wat die afgelope week in die karavaan gepak is, uitgepak word voor jy uiteindelik die tydelike huis moet bou. Dan eers kan jy begin “vakansie hou”.

Ek gaan nie eers iets sê oor ablusie blokke nie. Ek is ‘n baie privaat mens, en beskou badkamer tyd - van watter vorm ook al - as ‘n tyd om rustig en stil te wees.
Nee. Nie as jy kamp nie. Tydens spitsuur (7-8 soggens en 9-10 sawens) is dit net chaos in die ablusie blokke. Elke shape, geur, kleur en reuk vergader in die badkamers sodat elkeen - blykbaar skaamteloos - skoon kan kom en hulle “dinge” te doen. Nee. Net... Nee.

Natuurlik, teen die tyd wat jy klaar vakansie gehou het, dan moet jy nou eers weer alles uit die karavaan uit pak (want die pampoenkop wat die karavaan ontwerp het, het mos besluit die seile se bêreplek is heel agter, heel onder), die tydelike huis afslaan en alles weer terug pak, net om later die dag weer alles uit te pak en terug te dra huis toe.

Die punt is: Ek hou nie van kamp nie. Dit maak nie sin nie. Dis ongerieflik.

Maar so word die Ooste van Pretoria gedwing om te kamp. Jip, een van die rykste areas in Suid-Afrika word een groot kampterrein. Dit gebeur toe mos dat die Wapadrand elektrisiteit substasie op Maandag 9 Julie 2018 onverklaarbaar afbrand en ‘n massiewe deel van die Ooste van Pretoria in stilte en donker gedompel word.






Kragonderbrekings is natuurlik geen vreemde verskynsel in Suid-Afrika nie. “Loadshedding” en kabel diefstal is so deel van ons daaglikse lewens soos eet en slaap. So, die meeste ouens het teen die tyd ‘n ou kragopwekkertjie, gasbottels en -stowe, paraffien lampies, fancy rechargable flitse en berge kerse.

Maandagaand is dit pik donker hier oor die Ooste van Pretoria. Ene Jaques Spies staan op sy stoep en herroep die woorde van die ou volksliedjie – die lied van jong Suid-Afrika - se woorde:
En hoor jy die magtige dreuning? Oor die veld kom dit wyd gesweef...
Die woorde het nou ‘n nuwe betekenis – die gedreun van kragopwekkers wat verwoed genoeg krag probeer bymekaarskraap om net so bietjie DSTV te kan voorsien. Die reuk van diesel rook hang swaar oor die Bronberg.

Meeste mensies maak ‘n avontuur van die saak. Take aways word gekoop. Kinders word vroeg in die bed gesit. Kerse word oral in die badkamer gepak om ‘n romantiese “ambiaans” te skep. Water word gekook en in die bad gegooi. Mans kom gou agter dat dit die hele nag se geketelkokery gaan vat om die bad vol te kry, so daar word maar besluit om net genoeg water in te tap om die boude nat te kry. Bottels rooi wyn word oopgemaak. Oor sowat 8 maande gaan Baby Boom in Woodlands Mall se verkope die hoogte in skiet.

Die dommes speel hulle selfone se batterye pap om die tyd om te kry.
Ons kom agter dat die mens se tone spesifiek so ontwerp is om hoeke in die donker op te spoor en dat alles in ons huis is maermerrie hoogte.

So kom en gaan Dinsdag. Pappie probeer almal gelukkig hou; mos nou ‘n baie goeie verskoning om elke aand te braai.
Maandagaand se oefening word herhaal. Toy’R’us smile breed.

Teen Woensdag begin daar ‘n reuk oor die Ooste hang. Mense besef dat jy nie heeltemal kan skoon kom deur in ‘n emmer water of ‘n koue stort te was nie. Die tannies met die groot hare kry nie meer die kapsels staangemaak met haarsproei en jel nie. Die vuil raak sterker as VO5 se Mega Hold. Vrieskaste is besig om te ontdooi.
‘n Moedeloosheid begin neerdaal op die Ooste van Pretoria.

Die snaaksigheid raak nou minder snaaks. Daar word idees uitgeruil op Facebook se “Ek’s van die Ooste”: Hoe om krag op te wek met 2 piesangs en 3 uie. (Dit is nou die wat darem nog iewers hulle fone kon charge.) Lenings word aangegaan en Builder’s Warehouse verkoop al hulle generators uit en die uitbuiters sak neer op Facebook om generators teen ‘n 400% wins te verkoop.
“Nie vanaand nie!” - Mamma se kop is seer vanaand. En die reuke wat om mens begin hang vat in elk geval enige vorm van romanse uit die seile. Jy begin besef dat alles in jou huis met krag werk. Ons begin wonder hoe die mensdom vir duisende jare sonder elektrisiteit klaargekom het. Wat het hulle heeldag gedoen – of ten minste as die son gesak het?



Teen Donderdag kom die aanvaarding.

Klein Annetjie maak vir die eerste in haar lewe ‘n boek oop en begin lees. Dawie speel vir die eerste keer ooit met sy armie mannetjies wat hy al drie jaar terug vir sy verjaardag gekry het.
Mammie en Pappie praat weer vir die eerste keer in 11 jaar. Regtig praat. Hulle leer mekaar weer ken.
Ons kom agter dat ons maar een dag 7de Laan kan mis. Ons gaan nie iets oorkom nie. Teen volgende week is al die Koekies en Tertjies se probleme en drama nog steeds onveranderd. Uiteindelik besef die res van julle dat Danie Odendaal het in elk geval ‘n dekade laas ‘n vars idee gehad het.

In Wapadrand werk mense regdeur die koue nag om die substasie van die grond af weer op te bou. Hulle sien nie hulle gesinne nie want hulle gaan net huis toe om ‘n uur of drie te slaap voor hulle weer teruggaan om verder te kap en te bou.

En uiteindelik kom daar ‘n besef hoe gelukkig ons eintlik is. Geseënd om lopende water en krag te hê. Daar is miljoene mense wat hulle hele lewens so leef. Koue wintersaande langs kerslig. Wat nie oor ‘n week weer drie heaters en warm komberse gaan aansit nie. Wat elke aand met ‘n skotteltjie warm water moet bad, nadat hulle ver moes loop om die water te gaan haal het.

Ek hou nie van kamp nie.  Maar vir ons is die kamp net tydelik. Vir ‘n groot deel van ons beskawing is die hele lewe ‘n kamp. En ek kan nie anders om hulle te bewonder nie. Hoe hulle dag in en dag uit so lewe - met geen hoop dat daar teen Sondag gaan krag wees nie. Dalk is dit omdat hulle nie van beter weet nie? Hulle weet tog. Hulle gaan werk in die paleise in Woodhill deur die dag en gaan dan terug na hulle “kamp terrein” snags. En hulle lewe.
Gaan ons weer kla met die witbrood onder die arm?
Natuurlik. Oor ‘n maand is die Massa Kamp van 2018 vergete. Ons betaal mos ons belasting en water en ligte rekeninge en ook nog ekstra vir die armes se gratis krag ook. Die wêreld skuld ons mos.


Share:

0 comments:

Post a Comment