Ek moet vandag
nederig om verskoning vra aan elke liewe vrou. Ek is jammer. Ek verstaan nou.
Laat ek eerder by
die begin begin.
Van jongs af het my ma
dit by my ingedril: “Sit die toilet se sitplek plat as jy klaar jou besigheid
gedoen het.” Ek sweer sy het party dae buite die badkamer gewag net om te sien
of ek die toilet se sitplek plat gesit het as ek klaar is. Ek is nie seker of my
geheue my dalk in die steek laat as gevolg van aanhoudende klappe teen die
kop nie, maar ek is seker klappe is uitgedeel as jy die dag vergeet. Dan klap
sy jou so in lettergrepe:
“Hoe-veel-keer-moet-ek-nog-sê-sit-die-toi-let-sit-plek-plat.”
Dalk is dit hoekom
ek glad nie gesukkel het met lettergrepe op skool nie? So ek moet seker dankie
sê?
Alhoewel dit
gewoonte uiteindelik in my geïndoktrineer is (of is dit nou by my in gemoer is?)
kon ek dit nooit verstaan nie. As mans die moeite kan doen om die sitplek op te
lig, kan vroue mos die moeite doen om dit weer te laat sak? Wie gaan sit op die
wit troon sonder om eers te kyk of is sitplek in die af-posisie? En wat is in
elk geval die ergste wat kan gebeur?
Wat is die ergste wat kan gebeur...?
So gebeur dit toe
nou... (Die ander mans by die kantoor het blykbaar nie so ‘n streng ma soos ek
gehad nie, want hulle los die sitplek daagliks bo.)
Ek storm die gemakshuisie
binne. Dalk was ek in gedagte. Dalk was ek baie haastig. Ek kan nie mooi onthou
nie. Ek weet net, ek het net gaan sit sonder om soos met die K53 te observeer
wat om my aangaan.
Ek gaan sit, maar
ek stop nie waar ek dag ek gaan stop nie.
Ek vou dubbel soos ‘n opvou
kampstoel.
My knieë tref my bors hard en ek gee so ‘n vreemde “whut” geluid.
Op
pad af probeer ek keer en gryp verwoed na iets wat die groot val kan keer. In
die proses word ‘n bottel seep, ‘n stapel afdroog papiere en ‘n mandjietjie potpourri
oor die vloer gestrooi. Dit lyk en ruik soos ‘n honeymoon suite op die groot
aand. Al wat ek uiteindelik vasgevat kry is die toilet rol. Die toilet rol is
rond. Dit rol maklik af. Ek rol in een vinnige, lomp beweging die hele rolletjie
af.
Dit is hoog
winter. Die water is koud. Ek sien my hele lewe verby my oë flits. ‘n Duisend
dinge gaan deur my kop in daai oomblik.
“Ek word aangeval!”
“Ek is te jonk om
dood te gaan.”
“Wie gaan al my skuld betaal?”
“Ten minste hoef ek nie meer al
my skuld te betaal nie.”
En vir een of
ander bisarre rede roep ek uit:
“Wiedefok is hier
binne!?”
Ek dink ek het
skielik ‘n vrees ontwikkel om alleen kleinhuisie toe te gaan. Ek verstaan ook
nou hoekom vroue altyd in groepe kleedkamer toe gaan. Dit is sodat hulle mekaar
kan red as iets verkeerd loop...
Ek staan ook nou by
die badkamerdeur by die werk sodat ek kan klappe uitdeel soos die mans daar
uitkom.
Ek is jammer
dames. Ek vra nederig om verskoning namens alle mans. Julle het elke reg om
klappe uit te deel. Die donners verstaan nie...
#Survivor
#Kleinhuisie
Love it!
ReplyDeleteJy laat my so verskriklik giggel voor my werk se rekenaar... Ek dink die mense begin al wonder wat is so snaaks of is daar dalk fout met my. Ek kan nie ophou lees nie. AL JOU GOED!!! Lovit!!!
ReplyDeleteDit is awesome om te hoor! :-) Solank mense dit saam met my geniet sal ek so maak.
Delete