Friday 28 September 2018

My Ma sê ek mag nie meer vloek nie

My Ma sê ek mag nie meer vloek as ek iets skryf nie, anders gaan sy nie my posts like nie. Skoonma het my ook al daaroor aangespreek...
Dis nou ‘n penarie want partykeer is al woord wat in ‘n sin werk “fok”. Dit weerspieël net presies die gevoel wat ek wil uitdruk. “Oepsie poepsie” of “alla mapstieks” het mos nou nie dieselfde betekenis as “ag fok” nie.

Gertruida stamp haar maermerrie teen die skottelgoedwasser wat alweer oopstaan. “Gedoriewaar dit is seer!” roep sy uit. Sy buk af om die skottelgoedwasser toe te maak en stamp haar kop teen die rak. “Eina fok!” roep sy...
Nou sê jy vir my watter een van daai twee was die seerste?

Maar Moeder en Skoonma is seker reg, want ek sien ons Dominee het ook al een of twee van my posts ge-like. En ander mense van die gemeente ook! Nou moet ek Sondag daar in die kerk gaan sit met my se vuil bek, tussen die gemeentelede wat voor hulle heilige siele weet wat ek alles kwytraak... En dan gaan onse Dominee daar voor staan om vir my die Woord oor te dra, ook met die wete wat ek alles al kwytgeraak het. Gelukkig is sy nie soos daai ou, Afrikaner-oom dominees wat in sulke lettergrepe preek nie. Beklemtoon mos hier en daar ‘n woord met sulke ongemaklike pouses terwyl hy vir ‘n spesifieke gemeentelid kyk: “En JY... BROERs... en susters...mag nie JOU... buurman se VROU... begeer nie...” Dan kyk hy in jou rigting soos hy ‘n JY beklemtoon, maar nou’s jy ook nie seker of kyk hy vir jou of die ou agter jou nie. So ewe skielik kom jy agter hoe vuil jou skoene is, en die ou wat hier agter jou sit het ewe skielik daai droë kugge-kugge wat jy net in die kerk kry.
Dankbaar dat ons kerk se ons dominees darem nie so preek nie. Ek vermoed tog dat sy eendag uit Efesiërs 4 gaan lees... “vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie en dan met ‘n laaaang pouse stip vir my gaan kyk. Ek bloos sommer al klaar. Kugge-kugge.



Maar ek wil nie praat oor die kerk of vloek nie. Ek wil praat oor my se Ma. Sy is telkemale die slagoffer van my skrywe. Mense wat haar nie ken nie, sien seker ‘n prentjie van so ‘n kwaai boertannie wat my sommer moer met dit wat sy op daai oomblik in haar hand het as ek kak aanjaag (ek bedoel “kwaad doen”) - al is dit nou ‘n besem of ‘n broodmes. Dis nie waar nie. Sy is sag en teer – binne en buite, al het sy maar ‘n moeilike lewe gehad. En met “moeilike lewe” bedoel ek sy moes ons drie hooligan kinders grootmaak en die ou toppie ook gelukkig hou.
 
My ouer broer? Picture een van daai ISIS terroriste en maal dit met Rambo en tel Chuck Norris by en dan maal jy dit met Chuckie en Problem Child en sprinkel so bietjie van daai “The Omen” kind by. Dit was basies my broer op ‘n goeie dag. Hy was op kleuterskool toe hardloop die buurt se Rottweilers al vir hom weg, as hy die straat af stap. Hy was op laerskool toe was die hele buurt se kinders al verbied om by ons te kom speel. Teen die tyd wat hy ‘n tiener was, is daar briewe aan die Katolieke Kerk gestuur om navraag te doen oor wat Exorcisms nou eintlik behels. Ek is nie heeltemal seker of was dit ‘n sukses nie, maar ouboet het in sy twintigs darem normaal geword. (Normaal is natuurlik relatief.) Ek weet net Moeder het dit nie maklik gehad nie, maar wonder bo wonder het sy hom groot gekry sonder dat hy tronk toe is. Hy het actually ‘n baie suksesvolle loopbaan, so eintlik het die Ma ‘n goeie taak verrig. Ons sal seker nooit weet hoeveel senuwee-ineenstortings dit gekos het nie. Daai dae was sielkundiges en pienk pilletjies nog nie die antwoord gewees nie; Ma’s moes maar sterk staan en hulleself snags aan die slaap huil.


My jonger suster weer is ‘n yster vrou. Sy was ‘n dag oud toe het sy al ‘n opinie en wil van haar eie. Sterk persoonlikheid en staan vir niks en niemand terug nie. Sê jy “Nee”, sal sy vir jou wys jy het eintlik bedoel “Ja, sekerlik!”. Moeder moes gedurig ‘n muur wees tussen sus en oorle Pa, want Pa was ook maar ‘n moeilike ou toppie gewees. Een dag is my suster en Pa soos tyre en tube, en die volgende dag was hulle olie en water, dan moes die Ma skild wees en vredemaker speel. Seker baie letsels om te wys, maar sy hou dit vir haarself...

Ek was natuurlik ‘n engel kind gewees. Middel kind, so niemand het eers geweet ek bestaan nie. Was totaal onafhanklik van dag een af. Sommer my eie melk in die tietiebottels gegooi en my eie doeke omgeruil. (Ek versoek vriendelik dat julle nie navraag doen oor hierdie feite nie. Wie gaan julle in elk geval glo – vir my, eerlikheid homself, of die ou tannie wat bekend daarvoor is dat sy my met die besem gemoer het?) Tensy jy ‘n middel kind is, sal jy nie verstaan nie... Dit is eers toe my broer vir my gevra het hoeveel sakgeld ek kry, dat ek besef het daar word sakgeld uitgedeel. My skool trofees was net gebruik om suster se sertifikate regop te hou. Sekuriteit by Checkers ken al jou Ma se nommer uit hulle kop uit, so baie vergeet sy jou daar; jy’t gedink die fliek “Home Alone” is ‘n  dokumentêr. Jy weet 12 Augustus is “Internasionale Middel Kind Dag”, maar jy is al een wat dit weet. Die eerste keer wat jy nuwe klere gekry het, en nie hand-me-downs nie, was toe jy met jou eerste salaristjek Edgars ingevaar het. In my geval was die ergste waarskynlik as jy vir die eerste keer by ‘n Juffrou klas kry wat voorheen vir jou broer skool gegee het: Die oomblik as sy hoor jy’s ‘n Palmer kry sy ‘n twitch in haar linkeroog en word jy summier verplaas na die voorste ry banke toe...



So moes my se Ma die drie mees uiteenlopendste brats in die wêreld groot kry. Ons drie se verskillende persoonlikhede en groot verskil in ouderdomme was ‘n natuurlike kruitvat vir konflik. Sy het ons groot geskree, geslaan, geskel, gesoebat en sonder twyfel gebid. Maar sy het dit reggekry. Ons het altyd kos gehad om te eet (en nog, want daar is kinders iewers in Afrika wat nie kos het nie. Ek verstaan steeds nie hoe die feit dat ek my Brussels sprouts moes afwurg die honger kinders gehelp het nie?). Ek het altyd skoene en klere gehad, al was dit nie ‘n brand name nie. Ek het nooit koud gekry in die winter nie. Ons het ten minste een keer ‘n jaar gaan “vakansie” gehou. (Ons het gekamp. Party mense sal dit dalk vakansie noem, maar ek noem dit “vakansie” want waar in jou lewe is kamp vakansie hou? Ek het al genoem ek hou nie van kamp nie, nie waar nie?)



Vandag, as ek terug dink kry ek skaam as ek dink wat sy alles gedoen het. Sy was ‘n “huisvrou”. Sy’t ook vir ‘n tuisnywerheid gebak vir ekstra inkomste. Teen sesuur wat ek uiteindelik opgestaan het, het sy al ontbyt gemaak, ‘n baksel ystervarkies opgetower, die beskuite verpak, skottelgoed gewas en ‘n paar goedjies gestryk. Vanmiddag as ek by die huis kom, is die huis silwerskoon, daar is middagete, 10 vla koeke staan gereed verpak vir aflewering en is die honde reeds versorg. Meanwhile kyk ek net TV of speel in my kamer. Vanaand kry ons 'n bord gekookte kos, word die beskuite in die oond gepak om te droog, bitch en moan ek as die Ma my vra om asseblief die wasgoed af te haal. Dan neul ek “Ek moet ook alles doen!” en is dikbek tot more. Jy loop en vertel vir almal hoe oulik en fluks jy is as jy een keer die skottelgoed gewas het.  

Die vrou was vier ander mense se persoonlike slaaf. Sy kon nie eers siek word nie want die hele huis sou net daar inmekaar gestort het. Wat ‘n skande. Sy behoort eintlik vereer te word met ‘n standbeeld van haar in Kerkplein. Dit is die vroue – al julle Mammas - wat die wêreld aan die gang hou. As hulle eendag hulle hande sou moet vou en ophou werk, sal die moderne samelewing straks in duie stort. Daar sal oorloë wees. Hongersnood. Peste en plae. ‘n Geween en ‘n gekners van tande.



My se Ma kan trots wees op wat sy verrig het met die bitter min hulpbronne wat sy gehad het. Nie een van haar kinders is ‘n dronkie nie (ek is ook trots op haar dat sy haar nie tot alkohol gewend het nie). Nie een van ons was in die tronk nie. (Waarvan sy weet nie.) Ons staan op 'n paar sterk skouers. Gekneus en vol letsels, maar sterk. Ouboet is ‘n leier in sy vakgebied, het ‘n plaas en nou terroriste van sy eie wat hom grys hare gee (of is dit nou bles maak?). My suster, ‘n pragtige mens, sag op die oog, Miss Popularity haarself. 

En ek? 
Ek sê so nou en dan “Fok”. Maar dis oraait. Dis met gevoel. En ek’s die middel kind, so niemand kom in elk geval agter nie.

Riaan Palmer
Share:

0 comments:

Post a Comment