Wie ek ook al die
moer in gemaak het en my verwens het: Sorry.
OK. Ek weet nie
wat ek gedoen het nie, maar ek is blerrie sorry. Blykbaar word ek nou swaar gestraf
daarvoor. Kan jy nie maar net volgende keer wens ek kry ‘n pyn onder my lae rug
nie?
So doen ek toe
mos nou aansoek vir die hernuwing van my bestuurslisensie. Ons is mos nou in
die 21ste eeu. Jy boek en reël alles aanlyn en die dag van jou afspraak gaan jy
net, stap jy verby die hele ry mense van alle kleure, geure en afkomste en wys
jou pampier vir die sekuriteitswag by die deur: Hy sal jou help
.
So gesê, so
gedaan. Eerste week in Junie ry ek al die pad Bronkhorstspruit toe en begin
soos ‘n Boeing om die gebou draai met my karretjie opsoek na parkering.
Hier is die
geheim: Ry 9 keer kloksgewys om die blok, en dan 7 keer antikloksgewys om die
blok, en dan besef jy dat dit gaan nie gebeur nie, en klim met jou lae hatchback
motortjie skuur-skuur op ‘n pavement. Want de hel met dit.
Dan stap ek die
halfmarathon terug na die lisensie kantoor toe. Die ry mense peul by die straat
af. Ek nader iemand wat soos ‘n sekuriteitswag lyk, groet vriendelik en wys die
pampiere vir haar. Sy kyk vir ‘n sekonde ongeïnteresseerd na die pampiere en
beduie iets met die hand. My gebare taal is non-existent so ek aanvaar maar sy
bedoel ek moet instap. Soos ek verby die string mense stap wat al van donker af
daar in die koue staan, voel ek die haat en “Wat de hel doen jy?” kyke op my
val. Sonder om links of regs te kyk stap ek die deure in. Daar is mense. Baie
mense. Dit maal en praat en beduie. Uiteindelik sien ek iemand wat agter ‘n
tafel sit en half offisieel lyk. Ek groet en wys vir haar my pampiere. Sy
beduie dat ek eenkant moet staan en wag dis amper my beurt. Driekwart uur na my
afspraak tyd beduie sy ek moet na die ander beampte toe gaan vir my kiekie en vingerafdrukke.
Dit neem sekondes dan word daar nog pampiere in my hand gestop en ek moet stap
na die betaal kantoor toe. Hier maak dit nie saak of jy ‘n afspraak gehad het
of nie. Almal is hier weer gelyk en jy moet saam die gespuis wat nie ‘n
afspraak gehad het nie in ‘n ry skuif-skuif wag om te betaal. Nog so ‘n halfuur
later. (En drie keer wat die toonbank toegemaak het – blykbaar vir twee tea breaks
en ‘n bathroom break. Ek dag by myself as daar minder van die een was sou daar
minder van die ander gewees het. Maar ek sê niks. Geduld is mos my middelnaam.)
Uiteindelik het
ek my geldjie oorhandig en word my stapel papiere aanmekaar ge-staple en ek kry
‘n kwitansie. Yay! Die beste van alles is, as jy genoeg geld betaal (aanlyn)
dan bring hulle jou lisensie vir jou as hy gaar is. Yay! Die plek sien my nie
weer vir 5 jaar nie.
Of nie.
Na maand 3 van nog
nie ‘n lisensie kry nie, begin ek navraag doen.
“Ag ouens, kan ek
nie maar asseblief my lisensie kry nie?”
“Sorry. Hulle
moes jou gebel het. Jou aansoek is ‘n Kode 3. Daar is iets fout. Jy moet weer
ingaan.”
Ek voel hoe die
trane vlak in my oë lê. Wat doen jy? Jy is magteloos!
Maar Riaan, dis mos
nie so erg nie.
Jammer vir jou,
maar dit is. Dis baie erg. Ek hou nie van mission nie. Hulle kan ‘n satelliet
op ‘n komeet land, maar ek moet terug Bronkhorstspruit toe mission vir ‘n
verdomde plastiek kaartjie?
Buiten vir
mission hou ek ook nie daarvan om in ‘n queue te staan en wag nie.
By die bank
beland ek altyd langs iemand se ouma wat hou van praat. O, en natuurlik vir jou
foto’s van haar kleinkinders wil wys. Dan moet jy mos ordentlik wees en geduldig
sit en kyk hoe sy op haar Nokia 3310 soek na die galery vir ‘n halfuur lank. En
as sy eers die galery gekry het dan moet jy elkeen van die 70 foto’s se “back
story” hoor. Tannie, jy is dierbaar, en ek is seker jy beteken die wêreld vir
jou kleinkinders. Maar ek gee regtig nie om of Tanja se vriendin eenkeer vir
Bobby by jou Pick’n Pay gesien het nie. "I don't care!" (Wil ek gil. Maar ek bly nice met die antie want geduld is mos my middelnaam en die queue is nog lank. Ek kan nie nou vyande maak nie.)
By die lisensie
kantoor beland ek altyd tussen iemand vir wie die konsepte van seep, water en
elke dag so onbekend is soos breinchirurgie. Ander kant sit daar natuurlik
altyd so ‘n dik oom in ‘n kortbroek (al is dit hoog winter... wat is fout met
jou man!?) met daai dik gebreide wol sokkies opgetrek tot onder die knieg en moan
oor daar alweer ‘n tea break agter die counter is. (Wie is so onmenslik om te
moan oor tea breaks? Ek sal dit byvoorbeeld nooit doen nie. Have a little heart.)
Maar niks – NIKS –
is so erg soos wag in ‘n dokter se spreekkamer nie. Buiten vir die feit dat dit
die ideale plek is om ‘n eksotiese Kongolese aambei virus of Chinese bakteriële
ingroei nael op te tel, is daar die gewag met die vernederende koppietjies...
Jy weet... Daai plastiek koppietjies. Want of jy nou hoofpyn het en of jy nou
skurwe vel het, die dokter vra mos altyd vir ‘n urine monster... (Of is dit net
ek?) Vir ‘n start is badkamer sake vir my baie privaat, en nou moet jy met jou
badkamer sake daar tussen al die mense staan? Ons lyk kompleet soos ‘n klomp
mense by ‘n Oktoberfest of ‘n Craft Beer konvensie met ons plastiek glasies geel
monsters...
As jy so tussen
ander mense is dan beloer jy hulle mos so... Hoe die een met haar kinders
praat. Jy sien sommer die kind gaan jare later terapie nodig hê. En daai een
wat kliphard op sy selfoon praat want ons almal wil mos hoor wat in sy lewe
aangaan. As jy so hard hier tussen ons op jou selfoon gaan praat, sit die ding
ten minste op speaker phone dat ons altwee kante van die saak kan hoor.
Die mense en hulle dingetjies... Gee jou genoeg om oor te dink. Nou een ding waaroor ek al BAIE gedink het, en tog te dankbaar is: Van al die mens se liggaamlike funksies is ek BAIE dankbaar dat GAAP die een ding is wat “aansteeklik” is, en nie een van die ander wat dit kon wees nie...
Sug. En soos ‘n
mens ouer word, moet jy mos al hoe meer dokter toe gaan. As kind moer jy uit die
boom uit; skraap jou dat jou vel soos ‘n lemoenskil aan die boom se bas
agterbly, maar jy skud dit af en speel verder. Deesdae staan ek verkeerd op, lê
te lank op my een sy of nies te hard dan moet ek ‘n dokter gaan sien oor al die
pyne en gerekte spiere... Ons vier mos nie meer verjaarsdae om ons geboortedag
te herdenk nie, maar die feit dat ons wonder bo wonder nog steeds lewend is ‘n
jaar later.
‘Skies. Ek’s
bietjie van die onderwerp af. Waaroor praat ek nou weer? O ja. Ek wil net seker
maak ek vra vir almal sorry hier ook oor alles wat ek aan julle gedoen het. Sallieweernie. Hou asseblief op om my te verwens.
As jy more dalk toevallig
in Bronkhorstspruit se lisensie kantoor sit langs ‘n ou wat skuins bemoerd lyk...
Sorry daaroor ook.
0 comments:
Post a Comment