Jy dink ek wil praat oor dagga, maar jy’s verkeerd. (Meeste mense is dom genoeg sonder spook-rook, nou wil hulle daai laaste twee breinselle verder briek? Right. Ek het mos nou ‘n saak.)
Ek het net weereens besef dat mense is baie weird. So laat weet iemand my van ‘n post op ‘n ander Facebook groep: Iemand wat een van my gebabbelrye gepost het asof hulle dit self geskryf het. Die blerrie vermetelheid.
Ek skryf nie vir geld nie. As jy gaan soek wat ek het van jare se geskrywery sal jy dalk op ‘n gebreekte bierbottel en ‘n 5 sent muntstuk afkom... Ek skryf vir die lekkerte daarvan. Dit is vir my so lekker as mense sê hoe hulle my storietjies geniet. En wat nog lekkerder is, is as dit ‘n gesprek aanwakker. Ek wil glad nie hê dat ek moet praat en almal moet luister nie. Glad nie. Nee, as ek iets skryf en mense aan die praat kry, dan was dit ‘n sukses. Al wat ek kry uit my skrywery, is die lekkerkry van mense wat dit geniet en deel met ander. Ek meen dis nie asof ek enigsins famous is of iets nie (maar dan moet ek noem dat Beeld onlangs ‘n onderhoud met my gevoer het oor my skrywery... Maar meer daaroor op ‘n ander dag.). Gun my daai bietjie lekkerkry deur net erkenning te gee. Maar nee, jou satansdingesses, copy en paste my goete en maak asof jy dit geskryf het? Jy lieg mos jou kommen dief. Miskien moet ek ook maar soos die res van die Internet in my kar sit en 'n video van myself maak terwyl ek sit en praat, dan kan jy mos nie maak asof dit jy is nie... Net jammer ek's nou nie iets vir die oog nie, anders het ek.
Maar ek sê maar niks. Net-nou dink mense ek is verwaand. Dit is tog mense en hulle vreemde gedrag waaroor ek die lekkerste kan skryf. Het jy al lank genoeg stilgesit en mense net dopgehou? Geluister wat hulle nou eintlik kwytraak? Mense doen en sê heeltyd net vreemde goed.
Kan iemand byvoorbeeld vir my “Almond Milk” (amandelmelk) verduidelik? Die liewe Vader gee vir ons 8 verskillende soorte melk wat min of meer drinkbaar is, en een of ander mens besluit: “Nee, nee. Hier is ‘n ander plan. Kom ons melk ‘n neut.” Regtig? But why?
En van melk gepraat, hoe het dit gebeur dat ons koeie (diere) melk? Vir al wat ons weet was ‘n beesboer eendag besig met ‘n koei se spene, toe stap mevrou boer daar by die skuur in... Dalk was dit die enigste verskoning wat hy op daai oomblik kon uitdink? “Nee, dit is nie soos wat dit lyk nie, my vrou... Ek trek hier aan die spene, want ek wil... uhm... dit drink?”
Mens wonder baie oor dinge wat die eerste keer gebeur het. Hoe het ons begin eiers eet? Het daar regtig eenkeer iemand ‘n hen staan en bekyk, en gesê: “Haai... kyk daai ding wat by die hoender se hol uitgekom het... Kom ons eet dit!” Really?
Wat van die eerste drukkie? Het ‘n ou sy meisie skielik styf vasgehou? Haar eerste reaksie was sekerlik “Wat de fok doen jy, los my uit man!”
En hy fluister in haar oor.: “Nee ek wil jou NET vashou. Vertrou my...”
Riiiiight...
Dis eintlik jammer dat daar so min "eerstes” oor is om te doen. Dit moes baie opwindende tye gewees het “in die begin” om alles eerste te probeer. Dis seker in ‘n mate ‘n goeie ding. Ons leer mos uit ander se foute. (En party van ons is mos “ander”. Soveel foute.) Deesdae as jy iets wil weet, dan vra jy mos net vir Oom Google (Ander ding – hoe het die ouens wat Google uitgedink het hulle eie vrae geantwoord?).
As jy 30 jaar terug wou weet hoe om Crème brûlée te maak moes jy in die buurt rondstap en vra:
“Hoe maak mens Crème brûlée? Pietertjie? Ta’ Saartjie? Nig Appeloor? David? Kramer? (Dis twee verskillende mense.)” En as niemand geweet het nie, was dit dit. Jy’t nie geweet hoe om Crème brûlée te maak nie… Maar in vandag se tyd loer jy sommer gou op Google: Crème brûlée was uitgedink in 1915 deur Mevrou Brûlée in Frankryk blablabla. Easy peasy.
Het dit het dalk te maklik geword? Is ons nou al so gekondisioneer soos Pavlov se honde dat ons nie eers self dink of probeer nie? (Vir die wat nie weet nie: Pavlov het honde gekondisioneer dat elke keer wat hy ‘n klokkie gelui het, dan maak hulle ‘n Pavlova – nie dat dit baie suksesvol was nie, want honde het nie duime nie. Regtig gaan lees dit maar op.)
Ons het nou al so afhanklik geword van die Internet en ons Smartphones dat ons eintlik nie daarsonder kan klaarkom nie. Wat het die mense toentertyd gedoen as hulle kar gaan staan het? ‘n Tiekieboks loop soek? In die Karoo? I don’t know. Ek kan nie ‘n wêreld sonder selfone voorstel nie...
Uitdaging vir jou: “Do something every day that scares you.” Doen iets nuuts, elke dag – iets opwindend. Probeer die “nat verf” oomblikke in die lewe sien. (Jy weet mos: As daar ‘n kennisgewing iewers geplak is wat waarsku dat die verf nat is, dan moet jy mos daaraan gaan voel. Sit jy met ‘n vinger vol verf, maar ten minste kan jy bevestig dat die waarskuwing waar is.) Al het iemand anders iets al vir die eerste keer gedoen, het jy dit al gedoen?
Hoekom nie?
Ons lewens is so kort en vaal – dag in en dag uit dieselfde. Lek jou vinger nat en druk dit in iemand so oor. Wat gaan gebeur? Kom ons kyk! (Sorg net dat jy fiks is of dit probeer met iemand wat stadiger lyk as wat jy is.)
Voor jy iets Google, vra bietjie die mense om jou. Hulle het al daai fout gemaak. Kan ons leer van hulle?
Nou copy en paste nou weer my goete, jou slaksnot-eter...
0 comments:
Post a Comment