Ouma sê die
Morkels se moeilikheid het begin by daai hond, Papaja. Volgens Ouma het Louw
Morkel die hond gesteel by ‘n sigeuner karavaan. (Daai karavane wat oornag in
‘n oop stuk veld verskyn, met ‘n plakkaat wat aanbied om jou palm te lees.
Volgende week is hulle net so skielik weg. Niemand sien hulle kom nie en
niemand sien hulle gaan nie. Daar’s ook nie eers ‘n motorkar wat die ding kan sleep
nie.) Die ou sigeuner vrou wou nie die hond aan Louw verkoop nie, toe gaan
steel hy hom dieselfde aand nog. Hy wou vreeslik graag die vreemde hond hê want
die brak was geel. Nie geel soos ‘n Labrador kammakastig geel is nie. Nee, geel
soos in met ryp piesang geel. (Ook dan nou hoekom die hond se naam Papaja was.
Dit sou seker meer sin gemaak het om die hond Piesang te noem, maar Louw het
altyd gesê jy noem nie ‘n dier na ‘n vrug nie.) Ouma reken die sigeuners het ‘n
vloek op Louw Morkel gesit oor dié hond wat hy sommer so gesteel het. Eintlik
seker maar Louw se verdiende loon, maar Ouma weet darem nie of ‘n hond al daai
pyn en lyding regverdig nie...
Die Morkel gesin
het aanvanklik eers uit 9 mense bestaan. Louw, sy vrou Magriet en die 7
kinders. (Ouma sê dis nie dat óf Louw óf Magriet vreeslik mooi was, wat so baie
kinders veroorsaak het nie. Dis net dat Magriet vreeslik vrugbaar was – seker
maar oordat sy so baie met die kompos in die lande gewerk het. Louw het net sy
onderbroek oor die deur gehang, of Magriet het net wind-af van Louw gestaan,
dan is die vrou weer verwagtend.) Die 9 van hulle het almal op ‘n halwe hektaar
plaas buite Rustenburg gebly, in ‘n 2 slaapkamer huisie. Louw wou vreeslik
graag laat aanbou om plek te maak vir die spulletjie, maar hoe meer hy gespaar
het, hoe meer kinders het sy vrou gebaar, en die aanbou het net nooit gebeur
nie. Louw en sy vrou het natuurlik in die een slaapkamer geslaap, die 6
meisie-kinders in die ander kamer en die seun buite in ‘n tent saam met Papaja.
Die noodlot het
eerste vir Magriet loop haal. Ouma sê as dit nie so tragies was nie, was dit
dalk snaaks. Magriet het kaasstokkies vir die jongste se verjaardag gemaak. Dis
nou daai blokkies kaas wat deur ‘n tandestokkie, saam ‘n gherkin of ‘n suur
uitjie, gesteek word. Jy kry hulle by enige Afrikaner partytjie – kômmen of
nie. Magriet loop so met die skinkbord kaasstokkies, wat in onderstebo halwe
lemoene gesteek is, toe Papaja voor haar inhardloop en Magriet neerslet. Reg
bo-op die dosyne stokkies. Dit reën kaas, gherkins en suur uitjies in die
Morkels se huis, en Papaja is net te bly. Weke daarna haal hulle nog kaas en
gherkins van die gordynkappe af. Gelukkig – of eerder ongelukkig – het Magriet
die val oorleef. Die verjaardag partytjie moes maar afgestel word, want die
kinders moes die res van die dag sit en tandestokkies uit Magriet trek. Die
probleem is dat Magriet toe nou vol dosyne en dosyne klein gaatjies was. In
haar gesig, in haar keel, in haar bors, in haar derms – orals! Elke keer as sy water
of iets drink, dan spuit die vloeistof by al wat ‘n gaatjie was uit – Magriet het
glo nes ‘n gieter of ‘n stort gelyk as sy ‘n glas water drink. Uiteindelik is
Magriet dood van die dors, want sy kon geen vloeistof inhou nie. Op haar einde
was sy droëer as ‘n Ouma-beskuit (die wat jy in die winkel koop, nie my Ouma
s’n nie). Louw het vir Magriet ‘n drukkie probeer gee, toe verkrummel Magriet
in ‘n duisend stofdeeltjies en waai by die venster uit. Maar nie voordat die
jongste kind, Allettaa, wat aan asma gely het, ‘n teug van Magriet se stof
inkry nie. Allettaa se bors slaan bot toe, en die kind slaan 5 minute later ook
dood neer.
Die tweede
jongste kind het hulle Ma se dood seker die moeilikste gevat. Alleta. (Ouma
praat my deurmekaar en ek vra haar, is Aletta nie dan nou net dood nie? Ouma
verduidelik toe, nee, dit was Allettaa, hierdie is Alleta. Na die derde
meisiekind, toe besluit Louw en Magriet om maar al die meisies ‘n variasie van
Aletta sal noem, want so hoef sy net een keer te roep, dan sal amper almal kom.
En dan hoef hulle, as ouers, nie so baie name te onthou nie.) Alleta, gebreek
deur haar ma se dood, was skaars ‘n bloedjie van 2, toe het sy haar aan
paraffien oorgegee. Op drie het sy gom en hoesstroop gesnuif. Op vier het sy by
‘n kers sit en teken - hoog op DDT – toe Papaja teen die tafel stamp, die kers
omval teen Alleta en Alleta met ‘n kortstondige, helder bol vlamme verdwyn tot
‘n hopie as. Al die paraffien waarin sy haar brood gedoop het, het haar hoogs
vlambaar gemaak. Ten minste het sy nie soos haar Ma by die venster uitgewaai
toe sy klaar is nie.
Die derde
jongste, Aleetta, was tragies deur ‘n haai opgeëet. Sien, dit was die tyd van
Die Groot Droogte langs die kus. Die see het begin opdroog en ver teruggetrek.
Al die seevis het maar, om te oorleef, met die riviere langs die binneland in
geswem. Al wat ‘n haai was is ook die binneland in, natuurlik agter hulle kos
aan. (Ouma sê jy kon vir jare na die droogte nog snoek vang in
Hartbeespoortdam.) Aleetta was, met Papaja agter haar aan, op pad kafee toe om
vir Louw twak te gaan koop. Papaja gewaar toe so waar as wragtie ‘n dolfyn daar
in die Hexrivier. Die hond is opgewonde die water in, en Aleetta méér opgewonde
agterna, want sy’t al gehoor die ryk mense swem so saam die dolfyne in
Mosambiek. Dit was op die ou einde nie ‘n dolfyn nie, maar ‘n witdoodhaai. ‘n
Honger een. Hulle het net Aleetta se Crocs gekry na die tyd.
Die vierde een,
Aleta, is doodeenvoudig deur ‘n haas dood gepik. Dalk nie, só eenvoudig nie. Aleta
was doodonskuldig besig om wasgoed op die draad te hang, toe Papaja aan die
blaf gaan, so ent die veld in. Oordat daar so ‘n plaag van seeslange was
besluit Aleta om maar eerder te gaan kyk, want net-nou is dit ‘n seeslang wat
vir Papaja wil pik. Toe sy egter daar aankom, toe sien sy dis ‘n hasie.
“Los die arme
hasie, jou ou simpel hond!” Was Aleta se laaste woorde.
So ent weg was ‘n
seeslang. Die seeslang het die hasie oomblikke vroeër gepik. Wat meeste mense
nie weet nie, is dat seeslange die gevaarlikste gif in die hele wêreld het,
maar omdat hulle in die see bly, en mense nié, is niemand nog ooit deur ‘n
seeslang gepik nie. Die arme hasie was egter vol seeslang gif. In sy bloed, in
sy brein, in sy spoeg – hy was basies ‘n gifhasie. Toe Aleta buk om die hasie
op te tel, toe byt hy vir Aleta. Uit selfverdediging, natuurlik. Aleta het dit
darem terug gemaak tot by die huis en was ordentlik genoeg om eers die wasgoed
klaar op te hang, voordat sy morsdood omgekap het.
Net ‘n week
daarna, toe Louw besig was om die lande te ploeg, toe hardloop Papaja voor die
trekker in. Louw het uitgeswaai vir die geel gevaarte, van die trekker afgeval
en homself basies met die trekker die lande ingeploeg. Die lande was vir jare daarna
baie vrugbaar op daardie plek, want Louw het baie bemesting gemaak toe hy sien
die ploeg gaan oor hom loop...
Toe was daar net
3 Morkels oor. Tegnies gesproke. Aletta (wat weens omstandighede toe die
jongste was) het die patroon begin raaksien, haar koffertjie gepak, en een aand
die nag in verdwyn sonder om eers koebaai of niks te sê vir niemand nie. Veral
nie vir Papaja nie. Met die dat sy ‘n gesonde 16 jaar oud was, het sy nie te
lank duimgegooi voordat ‘n trok-bestuurder haar opgelaai het nie. Niemand weet
wat verder van haar geword het nie. (Magriet Junior – die oudste van die
Morkels – het jare later ‘n poskaart van Charlize Theron gekry. Charlize wou
net weet wie leef nog. En spesifiek of leef Papaja nog. Dit was vir Magriet
Junior bietjie vreemd, maar nie die vreemdste ding wat sy al op die plaas
gesien het nie.)
Louw Junior, die
enigste seun tussen die kinders, se gedagtes was elders. Louw Junior het
homself al op 12-jarige ouderdom ontdek. Hy’t ook baie van die volk se seuns en
sy skoolvriende wat kom oorslaap het oor die jare, ontdek. In sy tent. As die
ligte af was. Na sy Pa se dood toe het hy uiteindelik die vrymoedigheid gehad om
uit die kas te klim. (Nie dat die tent ‘n kas gehad het nie, so kom ons sê maar
hy het die vrymoedigheid gehad om uit die tent te klim.) Hy was 18 en lus vir
leef en om die wêreld te ontdek – nie net homself en sy geskokte maatjies in sy
tent nie. Louw Junior het nes Aletta in die middel van die nag verdwyn. Hy het
darem vir Magriet Junior ‘n briefie gelos: “Ek is lus, Ousus, so ek moet gaan.
Pasop vir Papaja. Lief vir jou. L.J.”
Meneer de Beer
wat L.O. vir die matriek seuns gegee het, het dieselfde nag verdwyn, maar
sonder om ‘n briefie vir sy vrou te los.
Toe was Magriet
Junior alleen op die plaas. Die 2-slaapkamer plaashuisie het vir haar massief
gevoel. Leeg. Eensaam. Net sy. En Papaja.
Sy’t een middag
die haelgeweer uit die kluis gehaal en die veld ingestap. Papaja aan haar sy.
Sy’t gestap tot by die 6 grafte, ‘n handvol veldblomme gepluk en ‘n blommetjie
op elke grafsteen gesit.
“Sien jy wat het
jy gedoen, Papaja? Daar lê hulle. Louw Morkel. Magriet Morkel. Allettaa Morkel.
Alleta Morkel. Aleetta Morkel. Aleta Morkel. Morsdood. Party van hulle lê nie
eers hier nie. Hulle is stof en as in die wind. Of haaikak.”
Papaja het net sy
stert gewaai.
“Is dit wat jy
wou gehad het? Nét oordat my Pa jou by daai vrou gevat het? Is dit nou my
beurt? Gaan jy my nou doodmaak?”
Magriet Junior
het diep in die hond se geel oë gekyk. Opsoek na iets. Redes.
“Nee.”
Magriet Junior
skrik so groot sy trek per ongeluk die haelgeweer se sneller, en skiet ‘n
tarentaal dood wat doodonskuldig in die stof loop en wei het.
“Papaja? Kan...
kan jy praat...?” Vra sy geskok.
“Nee.” Die Dood
stap tot by Papaja en vryf die geel hond se ore. Papaja waai sy stert
opgewonde. “Magriet Junior Morkel.” Die Dood se stem was diep en vreesaanjaend
en mooi. “Papaja het niemand doodgemaak nie. Hy is dalk die lompste hond en die
grootste ongeluksvoël op die planeet aarde, maar hy het niemand doodgemaak
nie.”
Magriet Junior
het moedeloos in die gras gaan sit. “Maar...” Sy’t gesukkel om te verstaan.
“Magriet Junior
Morkel. Mense gaan dood. Party kry kanker. Party word so oud dat hulle móét doodgaan.
Ander mense verdor tot stof en waai weg in die wind. Maar dit beteken nie die
res moet ophou leef nie. Jy sê ‘A-nee-a Ma, klim af van die tafel af, ons moet
hier eet!’ en jy vee die stof van die tafel af. Jy loop nie die veld in met ‘n
haelgeweer nie. Jy staan op en jy leef. Nou. Dis al wat jy het.” Die Dood het
met ‘n teerheid gepraat, al was sy woorde kwaai.
“Dit is al wat ek
het.” Antwoord Magriet Junior saggies.
“Is jy hier vir
my?” Vra sy na ‘n lang stilte.
“Nee. Ek is hier
vir Papaja. En om so bietjie met jou te klets.” Antwoord die Dood.
“Kan Papaja
asseblief nog bietjie by my bly? Ons het hom almal so gehaat oor al die dood...
Hy’t nooit liefde geken het nie.”
Die Dood krap
Papaja se maag. Papaja se agterbeen begin spring dat dit lyk of hy ‘n onsigbare
fietsie ry.
“Papaja kan bly
vir nog so bietjie. As dit beteken dat jy die haelgeweer gaan bêre, kan hy met
die grootste liefde bly.” Sê die Dood in sy esoteriese dreuning van ‘n stem.
“Met die grootste
liefde.” Beaam Magriet Junior Morkel.
* * *
Ouma wys
opgewonde na die TV. “Kyk!”
Op die kassie is
nog ‘n episode van kykNET se Megaboere. ‘n Formidabele boerevrou stap deur rye
mielies wat lyk of dit vir altyd aanhou tot verby die horison. Die vrou
verduidelik aan die aanbieder hoe sy ‘n halwe hektaar plaas so vrugbaar geboer
het, dat dit nou ‘n 5,000 hektaar plaas is. Langs haar hardloop ‘n geel hond. Nie
geel soos ‘n Labrador kammakastig geel is nie. Nee, geel soos ‘n ryp papaja.
©Riaan Palmer
©Riaan Palmer
0 comments:
Post a Comment