Monday 12 August 2019

Die gemeenskaplike vyand: Oggend mense



 Ek sweer daar moet ‘n makliker manier wees om die dag te begin as om wakker te word in die oggend. Kyk ek hou nou maar net nie van daai “morning people” (oggend mense?) nie. (Ek hou ook nie van oggende nie en ook nie van mense nie, maar dis nie nuus daai nie.) Ons ken almal daai mense. Hulle spring soos 4 uur die oggend uit die bed uit met ‘n lied in die hart en ‘n glimlag op hulle bakkies. Dan huppel hulle so deur die huis en fluit die verdomde Oukraalliedjie, so al asof die dag onbeperkte geleenthede inhou. Mens sou sweer hulle leef in een of ander Disney musical waar almal enige oomblik gaan begin sing en dans. Dis om van naar te word.

Niemand van ons hou van daai mense nie, tog gaan hulle onverpoos voort met hulle happy-go-lucky houdings. Hoorie. As jy ‘n oggend mens is, wil ek net vir jou sê: Op een of ander stadium in jou vroeë-oggend-ure-lewe het iemand dit al sterk oorweeg om jou te vermoor... En nie net vinnig daaroor gedink nie, hulle het al beplan hoe om dit soos ‘n ongeluk te laat lyk of hoe hulle van jou lyk gaan ontslae raak. Feite! “Goeie more Magriet? Nou wat de moer is so goed aan die more? Toe, Magriet, uit daarmee!”



Die mense by my werk weet al jy loop draaie om my totdat ek my eerste koffie gehad het. Dan mag jy my groet. So teen 11 uur kan jy my maklike vrae begin vra. Dis eers 10 uur die aand wat ek uiteindelike op spoed is, maar dan is almal weer terug huis toe. Ek kan nie verstaan hoe ons toegelaat het dat oggend mense die wêreld se skedule gereël het nie? Ek meen, wie’s die drolknipper van ‘n vark nek wat besluit het dinge moet al 7 uur die oggend begin? Wat is nou eintlik fout daarmee om eers 10-uur die oggend te begin werk? Nee, terwyl die res van ons nog gelê en slaap en poep ruik, toe het die klomp oggend mense bymekaar gekom en besluite geneem. En nou sit ons met die gebakte pere...

Ek gaan slaap eers soos 1-uur, 2-uur in die aand. Glad nie ‘n onredelike tyd nie (en daai tyd van die aand is die beste movies in elke geval op die TV. Wink-wink. Nudge-nudge.). Die dag gebeur dinge egter so dat ek vroeg in die bed beland en per ongeluk aan die slaap raak – seker so by 11 uur die aand. Bisar, ek weet. Skrik ek 4-uur die oggend wakker. Ek dog by my eie self, “Fok dit!” en ek draai op die ander sy om verder te slaap, maar my brein is soos “Uhm. Nee. Ons het nou klaar geslaap.” Sug. My hele dag geruïneer. Besluit ek maar, OK, ons maak maar die beste van ‘n slegte saak, en ek staan op. Ek gaan vir een keer in my lewe een van daai die-lewe-is-‘n-lied donkie drolle wees – ‘n oggend mens. Dis mos eintlik ‘n goeie ding. Bietjie kwaliteit tyd vir myself, ekstra tyd om allerhande dingetjies te doen want ek moan mos elke dag dat daar te min ure in die dag is.


Ek spring op uit die bed uit. Eerste fout. Ek het reeds die ouderdom bereik waar ek nêrens heen kan spring nie. Definitief nie uit die bed uit nie. Ek trek ‘n hammy (‘n hamstring vir die dokters tussen ons). Nou gaan ek vir die res van die week mank loop.
Ek vaar die kombuis in en begin vir myself ‘n breakfast maak wat Sun City Hotel sal laat skaamkry. (OK, fine. Dit was net toast en ‘n gebakte eier. Maar dit was ‘n lekker gebakte eier, so...) En ek dag by my eie self, “Jis, dis nou lekker! Ek kan nie eers onthou wanneer laas het ek ‘n lekker breakfast gebou nie!”

Toe kry ek nog ‘n bakker plan. Ek dog toe laat ek gaan draf... I know, right!? Ek het nooit gedink ek sal een van daai mense wees nie! Ek was reg. Ek het gelukkig ‘n hamstring besering gehad, so ek kon toe nou nie gaan draf nie. Ek besluit toe maar op sit-ups voor die TV. Julle gaan my nou nie glo nie, maar daar is nuus daai tyd van die oggend. Regte, egte nuuslesers met stoele en kameras en shit wat sit en nuus lees! Stom. Geslaan. Ek het nie eers geweet daar gebeur nuuswaardige goed so vroeg in die oggend nie.

But anyway. Na sit-up nommer 7 toe voel ek wat moontlik die begin van ‘n six-pack kon wees (of ek het ‘n maagspier getrek. Nie heeltemal seker nie.) en ek besluit toe maar om dit nie te oordoen nie. Toe raak ek bietjie verveeld en dag toe, ek het my eerste breakfast nou opgebruik met al die geoefenry, dis weer tyd vir breakfast. Al wat ek die tweede keer bymekaar kon skraap was ‘n Weet-bix. Maar ek het hom ook perfek gaargemaak, so ons kan breakfast nommer 2 ook ‘n reuse sukses noem.

Toe is dit darem nou al ses uur en ek is so verveeld ek kon die mure uitklim. Ek gaan sit toe maar op die stoep en ‘n twakkie rook (sien my longe was mooi skoon van al die geoefenry). Nou op daai stadium toe is al wat ‘n voël is aan die tjirp. Die duiwe koer, die kwêvoëls kwê en die hadidas hadi. Maar laat ek julle nou vertel: Daai storie van “the early bird catches the worm” is ‘n stront storie. Ek het nie een enkele voël sien ‘n wurm vang nie. Maar dalk is dit oorlat ek in ‘n Afrikaanse buurt bly? Die vroeë voël vang nie die wurm in Afrikaanse buurte nie. Nee, nee. Die oggendstond het goud in die mond. Wat. De. Fok? Daai’s mos nou nie ‘n regte sin nie? Wat op dees aarde is dit veronderstel om te beteken!?

Moving on. So breek breakfast nommer 3 (Fruitloops – tot perfeksie gaargemaak) aan en eventually half-agt; tyd om te gaan werk. Gedog ek gaan die hele dag met ‘n lied in my hart rondloop? Uhm. Nee. Teen 12-uur is ek so moeg en geïrriteerd almal begin weer draaie om my loop. Ek besluit toe om vinnig ‘n uiltjie te gaan knip. Weet jy hoe lank kan jy in die badkamer slaap by die werk voordat mense jou begin soek? Die antwoord is 43 minute.

Die les wat ons leer: Ek kan ook ‘n oggend mens wees. As oggende eers 3-uur die middag begin het.

© Riaan Palmer
Share:

0 comments:

Post a Comment