Tuesday 8 October 2019

Rugby vir idiote (Deel 2)

Hierdie is deel 2 van die handleiding vir idiote (soos ek) wat totaal ‘clueless’ is as dit by rugby kom, maar graag wil saam gil as daar ‘n groot ‘game’ is. Net om julle geheue te verfris: Deel een het ons die basiese rugby terme behandel soos “bal” wat die ronde ding (wat nie rond is nie) is waaroor al die hoe-ha gaan. Ons het ook al die posisies behandel, wat eintlik baie maklik is want al die posisie het “regter-” en “linker-” in die naam om die ouens te herinner waar hulle op die baan moet staan. (OK, nie al die posisies nie, maar dis nou nie nodig om tegnies te raak nie. Gaan lees deel 1 weer.)

Nou as jy net effe oplettend is, sou jy al gesien het dat daar lyne op ‘n rugbybaan is. Daar’s ‘n lyn in die helfte. Jy gaan nou geskok wees, maar hulle noem dit die halflyn. Dan is daar aan weerskante van die halflyn ‘n lyn presies 10 meter van die halflyn af en word die 10-meter lyn genoem. (Ek dink ons kan almal saamstem dat die rugby uitdinkers nie vreeslik baie kreatief was met benaming nie.) Dis in stippels geverf om verf te spaar. So ook is daar ‘n soliede lyn 22 meter van die doellyn af. Kan jy raai wat word die lyn genoem? As jy enige iets anders as 22-meter lyn geantwoord het, het jy nie opgelet tot dusver nie... Dan is daar die doellyn. Dis min of meer die belangrikste lyn op die baan. Ons sal weer by hom kom. Verder is daar lyne reg rondom die baan. Jy mag nie buite daai grense speel nie, want wie weet tot waar die ouens sou hardloop as dit nie vir dié grenslyne was nie. Al die lyne beteken seker iets. Ek weet nie wat nie, en lyne is hopeloos te vervelig dat ek regtig belang stel. Al wat ons in belangstel is die doellyn. Jy sal die doellyn herken aan die groot hoofletter H wat uit staal gemaak is, wat in die middel van die lyn staan. Die groot H (wat uit staal gemaak is) is om vir almal te wys waar is die doellyn. 



OK, so voor die wedstryd sing al twee spanne eers ‘n liedjie. (Want ‘n kuier raak mos eers lekker as daar ge-karaoke word.) Dit is tradisioneel dat elke span hulle volkslied sing, maar daar is geen reël wat sê dat jy mag nie, byvoorbeeld, Dancing Queen sing nie. Dan word daar getos. Ek raai dit gebeur voor die tyd in die aantrekkamers uit ‘common decency’ – want daar is vroue en kinders wat kyk. Die wenner van die tos besluit wie skop af. (Ek het gou gaan oplees hieroor en ek vra om verskoning. Ek het verkeerd verstaan. Dis ‘n “coin toss” en glad nie wat ek gedink het dit is nie. ‘n “Coin Toss” maak eintlik baie meer sin. Jammer oor die verwarring.)
Dan word daar afgeskop en die chaos begin soos wat elke speler hulle beste probeer om die bal te probeer kry. (Behalwe die heelagter wat sy eerste glas chardonnay skink en onder die pale gaan ontspan met ‘n lekker boek.)

Nou, as die bal tydens die rondgehollery oor een van die grenslyne gaan, dan is die bal “uit”. Daar is ‘n laaang lys reëls oor watter span se beurt dit is om in te gooi. Kom ons maak maar of dit nie so ‘complicated’ is nie, en sê as jou span laaste aan die bal geraak het voor hy uit is, dan moet die ander span ingooi... Dan moet al die voorspelers (of ten minste 2) in sulke ry gaan staan langs die grenslyn en een van die maatjies moet die bal reg in die middel van die twee rye spelers ingooi. Dis nou hier waar die gevreesde slotte – die lang latte van die span – die bal moet vang. Die reëls sê die ou wat die bal gaan vang, mag deur sy maatjies opgelig word, met die voorwaarde dat hulle hom saggies neersit sodat hy nie sy enkel verstuit of iets nie. So, een van die spelers vang die bal, en al die maatjies wat om hom staan probeer om hom heup-hoogte ‘n drukkie te gee (ook genoem ‘n  losgemaal). Die ou wat die bal gevang het hou nie van al die mense in sy persoonlike spasie nie, so hy gee so vinnig as wat hy kan die bal uit.



Jy het dalk al opgelet dat daar altyd ‘n ou op die rugbybaan is wat nie dieselfde jersey aanhet as die ander maatjies nie. Nee, sy jersey was nie vuil en dis al wat hy gehad het om aan te trek nie. Daai is die skeidsregter. (Ook bekend as die poepol met die fluitjie.) Dis sy werk om te kyk dat al die spelers die reëls nakom. Hoe hou jy 30 verskillende ouens, wat chaoties rondhol, dop? Jy kan nie. Dis hoekom ‘n skeidsregter sulke kak besluite neem en almal altyd op hom gil. ‘n Skeidsregter is tipies swaksiende en het ‘n gunsteling rugbyspan van sy eie - gewoonlik is die opposisie sy gunsteling span. Hy hardloop met ‘n fluitjie agter die bal aan en blaas op die fluitjie as sy span die bal verloor (of partykeer as daar ‘n reël gebreek word). Hy kan ook vir spelers wat baie stout was ‘n geel kaart wys om die speler te verneder. (Geel beteken “hierdie ou speel soos ‘n piesang” en die speler moet vir 10 minute in ‘n hoekie gaan staan en dink oor wat hy gedoen het.) Meneer Skeidsregter kan ook ‘n rooi kaart vir ‘n speler wys. Rooi is natuurlik die kleur van liefde en as die skeidsregter dit vir ‘n speler wys, dan moet die speler onmiddellik in die skeidsregter se kamer gaan wag vir sy “straf”.
(Daar is ook “vlagmanne” – of “vlag persone” om polities korrek te wees – wat langs die baan oefen om een van daai mense te wees wat vir vliegtuie wys wat hulle moet doen op ‘n aanloopbaan. Hulle is nie belangrik vir die wedstryd nie, so moenie jou aan hulle steur nie.)

Rugbyspelers hou nogal daarvan om mekaar vas te hou. (Dit het niks te doen met hulle seksualiteit nie. Hulle is nou maar net van daai mense wat hou van fisiese kontak.) Hulle kan op 3 maniere in sulke bondels aan mekaar vat: ‘n Losgemaal, ‘n losskrum of ‘n skrum.
‘n Losgemaal kan enige tyd gebeur wanneer die ou wat die bal tans het, vasgehou word, en al die ander ouens so in die bondel kom saam vashou.
‘n Losskrum gebeur gewoonlik as die ou wat die bal gehad het, geduik word (hopelik deur die opposisie span). Beide die baldraer en die duiker moet die bal net daar los en hulself probeer skaars maak. Dis gewoonlik dan ‘n vreeslike gestoeiery en gesteunery tussen die twee spanne om dan die bal in die hande kry. (Hoe is dit dan anders as die res van die spel?)
‘n Skrum word deur die poepol (askies ek bedoel skeidsregter) toegestaan na ‘n geringe oortreding of onderbreking van spel. Daar is ‘n lang lys van reëls en tegniese bla-bla wat te doen het met ‘n skrum. Al wat jy hoef te weet is dat die voorspelers mekaar stoot, tot die bal agter uitkom en spel aangaan. En die skrum mag nie plat val nie. 



Drie belangrike reëls: Jy mag nie die bal aangee vir jou maatjie as hy vóór jou staan nie. ‘n Bal moet altyd agtertoe gaan anders is dit ‘n “vorentoe aangee”. Jy mag nie die bal voor jou op die grond laat hop nie (al is dit per ongeluk soos wat ek altyd doen as ek ‘n bal probeer vang) anders is dit ‘n “aanslaan”. Jy mag ook nie tussen die opposisie gaan staan en flirt en dan dink jy gaan aan die bal vat nie, want dan is jy “onkant”.

Nou as alles goed verloop en die simpel agterlyn nie die bal heeltyd moertoe skop nie, kan daar ‘eventually’ punte aangeteken word. As ‘n ou oor die opposisie se doellyn hardloop (dis nou die lyn met die groot hoofletter H) en die bal op die grond druk, is dit ‘n drie. Hoeveel punte dink jy tel ‘n drie? As jy “drie” geantwoord het is jy verkeerd. Vergeet alles wat jy geleer het oor rugby benaming want die fok weet hoekom hulle dit ‘n drie noem as dit 5 punte tel... (om Zita aan te haal). Na jy ‘n “drie” gedruk het kan jou span probeer om die bal oor die hoofletter H te skop dan kry jy nog 2 punte persent. Partykeer skop een van die spelers, wat bang is hulle word geduik, per ongeluk die bal oor die hoofletter H. Dan kry die span 3 punte persent. Dit word ‘n doelskop genoem. Partykeer as die skeidsregter se gunsteling span te ver agter is met punte, staan hy ‘n strafskop toe. Die skopper kan dan die bal oor die hoofletter H probeer skop en as hy dit reg kry is dit ook 3 punte. So basies tel amper al die puntetoekennings 3 punte, behalwe ‘n “drie”. Maak heeltemal sin vir my...

En daar het jy dit. Die minimum wat jy hoef te weet as jy saam die “manne” (en net so baie tannies!) wil rugby kyk.

As jy bietjie konsentrasie verloor en nie weet wat aangaan nie, kan jy een van hierdie nuttige frases gebruik om steeds deel te wees van die bespreking tydens ‘n rugbywedstryd:
Frase: “Jis ons beter nou ‘n drie druk!”
Verduideliking: (Dit sê jy as die groep se gunsteling span agter is met punte.) Dankie’ Captain Obvious’. Maar ten minste kan niemand met jou stry nie, en jou onkunde sal nie na vore kom nie.
Frase: “Lyk of iemand ‘n oogtoets nodig het!”
Verduideliking: Dit sê jy as die skeidsregter ‘n straf téén jou span toestaan. Maak nie saak wie se skuld dit nou eintlik is nie. Al het jou span se speler soos ‘n wafferse Bruce Lee die ander span se speler met ‘n ‘flying kick’ in die gesig geskop, jy staan by jou span! Die skeidsregter is áltyd verkeerd as hy teen jou span blaas en hy het definitief ‘n bril nodig.
Frase: “Dis onmoontlik om te sê van hierdie kamera ‘angle’ af...”
Verduideliking: Jou span se speler word gestraf as onkant. Hy’t 3 meter agter die opposisie se heelagter gestaan. Onthou die goue reël: Jy staan by jou span! (Totdat die speler jou span laat verloor het. Dan sê jy “Rassie moes hom al lankal van die veld afgehaal het”. Ek weet nie wie “Rassie” is nie, maar blykbaar is hy die ouens wat die spelers van die baan afhaal.)
Frase: “Die ding met *opposisie span se naam* is dat hulle 'n kavalleristiese benadering het om te verdedig en dit geünieer die spel se ritme.”
Verduideliking: Gebruik groot woorde om die opposisie te “beledig”. Niemand is nugter genoeg om te verstaan wat jy sê nie, en almal sal doodeenvoudig net saam met jou stem.

Wees kreatief. Maak notas van wat jou pelle sê oor rugby, en gebruik dit in ander gesprekke. Behalwe as jou pel ook van my “handleiding” gebruik maak, dan gaan julle al twee soos bobbejane lyk. Sorry daaroor.

Geniet die rugby!
Go Bokke!
#MoerHulle #worldcup2019
Riaan Palmer
 = = =
Deel 2 is geskryf na ‘n spesiale versoek deur @Elmarie Kolb. Hoop dit voldoen aan verwagtinge... ;-)
Share:

0 comments:

Post a Comment