Monday 14 October 2019

Moeggepraat


Die debat oor lyfstraf was natuurlik die afgelope maand op almal se lippe. Obviously moet ek my opinie ook gee, want niemand het daarvoor gevra nie.



Ek het al ‘n keer of wat oor my kinderjare geskryf, so meeste van julle weet dat ek nog nooit in my lewe pakslae gehad het nie. (Ek sê dit net, want ek is baie bang vir my ma. As my ma moet hoor ek loop en vertel dat sy my konstant gemoer het , gaan sy my wéér moer. Sy vertel mos sy’t nog nooit haar hand vir my gelig het nie, maar wie gaan julle glo – vir ‘n kwaai antie wat veroorsaak dat almal in vrees laat wegvlug vir hulle lewens as sy ‘n vertrek instap? Of vir my wat doodonskuldig net hier sit en tik voor my rekenaar? Moenie vir haar sê ek het julle vertel nie!) 

Nou as jy in ag neem dat ek koes-koes in my ma se teenwoordigheid loop, sal mens dink dat ek téén lyfstraf sou wees? Die vraag is of sou ek so oulik uitgedraai het as ek nooit gestraf was nie? Ek meen ek vloek nie eers nie en is baie stil en teruggetrokke. (Ten minste kan niemand sien dat ek dit nie eers met ‘n straight gesig kan tik nie...) 

Meeste van ons het grootgeword met pakslae. En meeste van ons het nie té wanaangepas uitgedraai nie. (Behalwe nou die mense wat in hulle karre sit, in hulle neuse grawe en dit eet, die mense wat soos hulle gatte parkeer in Woodlands, die mense wat trek en hulle troeteldiere net daar los en die wetters wat op besige oggende Lynnwoodweg toestaan met hulle stupid karre sodat ons wat in Generaal Louis Botha staan nie kan oorry as die lig groen word nie. Hulle is die soolvratte van ons samelewing – en dalk dié wat nie pak gekry het as kinders nie...)  Meeste van ons het nie permanente skade as gevolg van pakslae nie – as ons nou terugdink aan die pakslae wat ons onthou, dan besef ons, ons het dit verdien. 

Pakslae het ons ook taallesse geleer, soos lettergrepe: “Hoe-veel-keer-moet-ek-nog-sê-moe-nie-dit-doen-nie!”
So ook waardevolle wetenskap lesse. Vir elke aksie is daar 'n gelyke en teenoorgestelde reaksie. “Moet ek jou rede gee om te huil!?” Gevolg deur ‘n pakslae en dan ‘n tranedal. (Of is dit nou eintlik ekonomie? Vraag en aanbod?)



Ek moet dit dalk net baie duidelik stel: Mens moet ‘n duidelike onderskeid tref tussen lyfstraf/pakslae en mishandel. ‘n Vriend van my (noem hom sommer Frikkie) se ma het ‘n baie kort humeur gehad. En as daai humeur knak, dan vlug jy want sy moer vir jou met wat ook al in haar hand was. So het Frikkie uitgevind toe hy sy ma de moer in gemaak het terwyl sy staan en brood sny het. Frikkie sit tot vandag toe met ‘n letsel op sy kop. Drie spore kolletjies net by sy haarlyn, so al asof iemand hom 3 keer geraps het op die kop, met die lem van ‘n broodmes. 

Die eerste reël is dat jy nie ‘n kind moet slaan as jy kwaad is nie. Dis dán wanneer jy meer skade doen as goed, want jy slaan die kind oorlat hy stout is – maar net vir die eerste 3 houe. Die volgende paar houe is omdat Pappa gister vergeet het dit was die huweliksherdenking. Dáárna kry die kind nog ‘n hou of wat omdat ‘n poppie in ‘n Fortuner jou parkering by Woodlands gesteel het en so ontgeld die kind die afgelope week se opgekropte woede. Is dit regverdig dat jou kind al jou probleme op sy agterwêreld dra? Asem in. Asem uit. Vat ‘n sluk wyn. Dalk ‘n Valium. Dan slaan jy die kind vir wat hy/sy verkeerd gedoen het, en nie vir alles wat die wêreld verkeerd gedoen het nie...

Nou as jy jouself kan beteuel as liefie-kind ‘n terroris is, dan is jy dalk in die versoeking om die “Wag tot jou Pa by die huis kom...” dreigement te gebruik. Ai tog. Hier stap Pa moeg na ‘n dag se gehurk voor die rekenaar by die huis, en wil net bietjie chill met ‘n bier en dalk met die laitie ‘n bal skop. Maar nee. Nou moet Pa eers ‘n paar klappe uitdeel? Dis mos nie sy fight nie?! Fight jou eie battles! (Ek moet sê daai gewaggery dat Pa van die werk af kom is baie erger as die actual pakslae. Of as jou ma sê “Gaan wag in die kamer, ek kom...” Ek was seker so 6 toe my ma het dit vir my gesê terwyl sy met die buur-tannie gestaan en praat het. Ek het huilend in my kamer gaan wag, maar daai pak het nooit gekom nie. Ek loop tot vandag nog rond met daai vrees en afwagting dat my Ma gaan onthou sy skuld my ‘n pak...)

Reël twee is ‘n fout wat meeste mense maak: Moenie jou kinders slaan as hulle stout is nie. Dit maak dalk glad nie sin nie, maar luister bietjie... Neem nou maar my broer. My broer was ‘n terroris gewees as kind – hy was soos die Al Qaeda/ISIS van kinders. So hy het konstant pak gekry – in so ‘n mate dat hy naderhand eelte op sy boude gehad het en nie eers meer vir “Moeggepraat” gevoel het nie... So wat het ‘n pakslae gehelp? Boggerôl.
Die beste is om ‘n kind pak te gee wanneer hulle dit die minste verwag. Of nog beter, net wanneer hulle op hulle gelukkigste is. Vat hulle soos Valley of the Waves toe of een van daai VR Rides in jou naaste winkelsentrum. En dan hou jy hulle dop. As daai gesiggie so straal van lekkerkry en genot, dan deel jy ‘n klap of twee uit. En as hulle vra “But why?!” dan verduidelik jy mooi dat dit is hoe die lewe werk... Dis mos nou ‘n waardevolle lewensles: Net as jy dink dinge gaan nou punt in die wind, dan kom die lewe en sê “Sjoe, maar dit lyk mos nou of jy vreeslik gelukkig is. Kom ons doen bietjie iets daaromtrent...” ‘n Kind moet mos betyds die goed weet. (Leer hulle sommer hoe om SARS eFiling te doen, want dis skills wat mens nodig het, en niemand leer jou dit nie!)



Maar wees versigtig voor jy begin klappe uitdeel. Want dis mos deesdae “onwettig”. Want? Redes. Jy moet definitief nie ‘n kind in die publiek, soos byvoorbeeld Woolworths, pakslae gee nie. (Ek het darem die antie se kind 3 keer gewaarsku as hy nou weer my hakskeen raakry met die trollie... Dis een ding as jy jou eie kind pak gee, maar dis klaarblyklik ‘n ander storie as jy ‘n vreemde antie se kind pak gee?!) Nou wonder ek wat wil die “Edelagbare Regter” hê moet ‘n kwaai, moedelose boertannie met ‘n stout kind doen? Dalk moet al die mammas hulle onmoontlike kinders na die regter toe vat dat hy kan kyk of “praat” werk... Toe. Ek dare julle!

Maar ernstig nou? Werk die “praat” metode?
Verbeel jou jy loop doodonskuldig verby die sitkamer op pad om jou derde glas dooswyn vir die oggend te skink, en daar sit klein Frikkie en probeer ‘n mes in die kragprop druk...
Stap jy rustig na hom toe en sê in ‘n kalm stem:
"Weet jy wat Frikkie, ek sou nie dit gedoen het as ek jy was nie. Het jy geweet elektrisiteit kan jou nogal seermaak?"
"Dankie Mammie! Ek is net 4 jaar oud en ek het nie geweet van die gevare van elektrisiteit nie. Ek sal een van daai 'time outs' vat waarvan Mammie so baie hou, en ek sal verder gaan dink oor hierdie gesprek en die moontlike nagevolge my onverskilligheid teenoor elektrisiteit...”
Sien, as dit my Ma was het ek vinnig ‘n fisika les (in lettergrepe) gekry en ‘n alie wat brand. En ek sou tot diep in my dertigs ‘n vrees gehad het om naby ‘n kragprop of selfs ‘n AAA-battery te kom. (True story.)

Nou wonder ek wat gaan gebeur as een van julle julle kind pak gee (selfs al is dit onwettig) en die kind bel die polisie? Vir ‘n begin hoef jy nie te veel worry nie, want as hulle 10111 bel gaan dit so 3 dae wees voor die polisie daar aan kom (dis nou te sê as hulle enigsins opdaag).
En dan? Gaan hulle jou arresteer? Jou 2 jaar tronk toe stuur? Wat word van die kind? Beland dié in ‘n kinderhuis saam met 100 ander kinders wie se ouers hulle gebliksem het? En wie gaan die kinders die nodige dissipline leer en opvoed en liefde gee? En buite stap die verkragters, moordenaars, diewe en ander skorries rond, want die tronke is vol van ouers wat hulle kinders op die boeremanier probeer dissiplineer het? Ek verstaan nie... Of maak ons ‘n generasie van mense groot wat net reageer op “ek gaan tot by 10 tel...”? ‘n Generasie van mense wat iewers moet gaan sit en dink oor wat hulle gedoen het?

*** *** ***
Vrywaring: Hierdie is satiriese sosiale kommentaar. Op die einde van die dag het ek geen sê oor hoe jy jou kind grootmaak of jou besluit om hom/haar te dissiplineer nie. Geen regter iewers in ‘n simpel hof ook nie. Hy ken nie jou kind nie. Jý moet op die einde van die dag jou kind grootmaak, toegerus met die nodige dissipline, selfrespek en respek vir ander mense en hulle besittings. Slaap jy rustig in die nag?

Daar is ouers wat “lyfstraf” te ver neem. Dit is verkeerd en daardie mense is die mense teen wie die wetgewing kinders probeer beskerm. As jy jou kind onnodig en/of oordadig en/of permanent fisies seermaak verdien jy om in die tronk te sit! Dis hoekom my Ma my met die plathand geslaan het. Sodat sy presies dieselfde pyn as ek voel.

Om hemelsnaam moet net nie jou kind “lukraak”/wanneer hy dit die minste verwag slaan nie. Veral nie wanneer hy/sy op haar gelukkigste is nie! Dit was net ‘n grappie!

My Ma het my nie regtig so baie geslaan nie. Sy slaap met ‘n skoon gewete en ek weet sy kan ‘n grap vat. Ek was obviously ‘n engel van ‘n kind, so sy het geen rede gehad om my te slaan nie.
Al wat ek vir julle kan sê is sterkte met julle kinders! Asof dit nie reeds moeilik genoeg was nie...

 ©Riaan Palmer

#Lyfstraf
Share:

0 comments:

Post a Comment