Tuesday, 10 March 2020

Hoe om Corona te oorleef (Of: Stoppit met julle nonsens!)

Maar my donnor. Sal julle nou bietjie relax?! Ontspan die tiete. Hakuna jou tatas. Ontknop die hol spiere. Want as ek nou weer een keer “Corona Virus” hoor gaan ek sowaar as waaragtig daai persoon met ‘n kaktus in die keel steek. Kom sit hier om die oom dat ek julle nou mooi kan vertel:

1.       Daai gesig-maskertjies wat jy so koop en in Menlyn mee rondloop beteken niks nie. Die Corona Virus is nie “airborne” nie. Dit beteken hy kan nie vlieg nie. Hy’t nie vlerkies nie, hy’t nie ‘n helikoptertjie nie, hy’t nie ‘n valskerm nie, niks. So tensy Corona begin Red Bull drink om vlerkies te kry, beteken daai masker vir jou niks nie. Moenie jou geld mors nie. Moenie in Menlyn rondloop en jou verbeel jy’s Darth Vader nie. Die sekuriteit gaan jou moontlik aansien vir ‘n terroris en jou uithaal.



2.       As jy mooi oplet dan sal jy agterkom die slim dokters met die eier koppe vertel jou jy moet jou hande was. Regtig? Is hande was regtig ‘n nuwe konsep vir mense? Dink net vir ‘n oomblik waar ander mense se hande al orals was vandag... Dink net bietjie waar jou eie hande al vandag was. (Sies. Ek kan nie glo jy druk jou hand daar in nie!?) En nou wil jy aan ander mense se hande vat en net-nou KFC vreet en jou vingers aflek? Dan skryf jy more weer ‘n woedende brief omdat so-en-so se KFC jou half dood gemaak het, maar eintlik is dit oorlat jy nie jou hande was nie!
As daar net een rede is om jou hande te was, is dit die feit dat daar mense is wat 1-ply toiletpapier gebruik. Weet jy hoe maklik skeur 1-ply toiletpapier? En dan wil daai selfde mense jou hand skud. Eew.
Moenie aan geld vat nie. As jy dink “boob geld” is die ergste, dan het ek baie slegte nuus vir jou.

Jy moet jou hande vir ten minste 30 sekondes was. Met ordentlike seep. Heeltyd. Want kieme sit aan sit aan alles vas. ALLES. As jy nie weet hoe lank 30 sekondes is nie, sing 2 keer Never gonna give you up se versie terwyl jy was. Of om veilig te wees, sing die hele Bohemian Rhapsody.

3.       Toiletpapier? Regtig? Die Australiërs raak angsbevange en slaan vuis oor toiletpapier? Tensy jy deur jou hol hoes is daar geen rede om paniekbevange te raak oor toiletpapier nie. Of is dit nou die feit dat elke keer dat iemand hoes, dan bekak al die ander mense hulleself?

4.       Gepraat van hoes. “Hou jou hand voor jou mond, sê die kat vir die hond.” Dis nie so moeilik konsep nie. Moet ek ‘n prentjie teken? En om nog veiliger te wees hou jou elmboog voor jou bek as jy hoes of nies. Daar is niks so erg soos om in Checkers se queue te staan en die een agter jou nies en dit voel of jy deur ‘n ligte Kaapse reën stap nie.

As jy ‘n kugge-kugge aan jou het, en jy is bang hulle sit jou in kwarantyn, drink twee eetlepels kasterolie. Jy sal te bang wees om te hoes. Net so goed soos kwarantyn.



5.       Hou op aan ander mense vat. Moenie hulle hande skud nie. As jy iemand ontmoet, buig voor hulle. Dit is vir honderde jare al goed genoeg vir die koninklikes, hoekom is dit nie goed genoeg vir jou nie?
Moenie mense soen of druk nie. As jy dink mense se hande is vuil, dan wil ek jou nie eers begin vertel waar mense se monde al orals was nie... (Hierdie is in elk geval nie ‘n probleem vir enige iemand wat al langer as 5 jaar getroud is nie.)

6.       Moenie lelike wees met mense met skrefies oë nie. Jy gaan nie dood neerslaan as jy verby iemand van Asiatiese afkoms stap of as hulle vir jou kyk nie. Jy gaan nie Corona vang as jy beef Chow Mein eet nie.

7.       Hou op jou ore uitleen aan die media en sosiale media. As jy iemand post dat “Ons gaan almal vrek!” dan blok jy hulle sommer op Facebook. Jy’t nie daai soort negatiwiteit in jou lewe nodig nie. Ja, Magriet. Ons gaan almal vrek. Maar nie van die Corona virus nie. Jy bly in Suid-Afrika. Die Corona virus is redelik ver onder aan die lys van goed wat jou vandag wil doodmaak. Taxi’s, Malema, kraanwater, malaria, Oscar Pistorius en jou vrou is baie hoër op in die lys.

8.       Drink baie alkohol of rook aaptwak. Dit gaan nie die virus doodmaak nie, maar ten minste gaan jy minder gestres wees oor goed waaroor jy nie beheer het nie. (Moet nou net nie die volgende dag jou babbelas verwar met Corona simptome nie.)

9.       Kan ons gou bietjie ‘n reality check doen? Sal almal wat al dood is van SARS, Ebola, Polony, vark griep, voël griep of die millennium-bug hulle hande opsteek, asseblief. Kyk om jou rond. Niemand nie. Sien! Die Corona Virus is niks anders as ‘n glorified verkoue nie. As jy hoor iemand wat jy ken het Corona, dan gaan kuier jy by hulle en gee hulle ‘n lekker vet soen sodat jy dit kan opdoen en oor en verby kry. Jy gaan ‘n week lank bietjie kugge-kugge en dan is dit ook verby. For Pete’s sake. (En by the way, as jy kinders het is jou kaartjie in elk geval klaar geboek.)



Kan ons almal nou maar aangaan met ons lewens sonder om histeries te wees? Asseblief en dankie.

©Riaan Palmer

(Vrywaring want apparently sukkel party mense om parody en sarkasme raak te sien: As jy ‘n swak immuniteit stelsel het, wees versigtig en paranoïes!) 

#Corona #CoronaVirus #Afrikaans #Oorlewing #Humor

Share:

Wednesday, 4 March 2020

Dinge wat is en wat was

OK, OK. Ek moet seker om verskoning vra dat ek so lank stil was. Julle sal onthou ek was op vakansie en so en dit. Ek was laas week vir ‘n dag of wat in die Kaap en ek was vreeslik geïnspireer om te skryf, maar dink julle ek het opvangs gehad? Uhm, nee. Ek kan nie verstaan hoe ek nie eers 1 strepie opvangs in die beskawing kan kry nie, maar die fokken Taliban kan ‘n HD video oplaai uit ‘n grot in Afghanistan!?

But anyway. So, Die Ander Een is besig om met groot opgewondenheid my verjaardagpartytjie te reël wat eers soos oor 3 maande is. Dit is glo een of ander mylpaal ouderdom. Ek kan ongelukkig nie daardie opgewondenheid deel nie, want ek leef nog heerlik in ‘n fantasie wêreld dat ek jonk en jeukerig is, en ‘n partytjie is net hopeloos te “in your face”. Vir ‘n begin verstaan ek nie hoekom ons nou eintlik ‘n verjaardag moet vier nie? Dis nie asof ék iets gedoen het nie – ek het nou nie veel sê in die saak gehad nie. Toe ek weer sien kruip ek by ‘n plek uit wat jy nie in ordentlike geselskap noem nie, en die eerste ding wat die dokter doen is hy gee my pakslae...
Die hele partytjie affêre is net doodeenvoudig weird.
“Hier is vir jou koek!”
“Jippie!”
“Maar ons gaan eers die koek aan die brand steek en dan moet jy dit doodblaas voordat jy daarvan kan eet.”
“Wait what?!”
En het julle enige idee watse mission dit gaan wees om 40 kersies dood te blaas met hierdie rokerslonge? Ek gaan moet begin cardio doen net om my verjaardagkoek te kan eet!




Alhoewel ek veel eerder die dag in my kamer sou wou lê en huil, gaan ek nou maar die beste maak van die situasie. Dit is darem ‘n partytjie after all, en daar gaan mense wees wat ek kan tolerate en een of twee waarvan ek actually hou. En drank. (Aan Die Ander Een: Daar beter drank wees, anders gaan ek nie die partytjie kan maak nie!)
Ek klink soos ‘n alkoholis, nè? Wel ek is nie. Alkoholiste gaan na AA meetings toe en praat oor hulle drank probleem. Ek doen nie daai nie.



Ek moet darem sê dat ek nie meer drink soos toe ek jonger was nie. Die feit dat ek enige iets kan onthou is van my studentelewe is op sigself noemenswaardig. Daardie jare het ek het altyd soos ‘n speurder gevoel na ‘n aand uit: Die raaisel van “waar is ek en hoe het ek hier beland en wat is my naam”. Die geval van die leë beursie en die knieg wat om een of ander rede bloei. En hoekom het ek nie meer ‘n onderbroek nie en net een kous? Dis half te verwagte om uit te gaan met geld in jou beursie en dan wakker te word met geen geld in jou beursie nie. Geen misterie daar. Maar om wakker te word met meer geld as waarmee ek die vorige aand uitgegaan het, het altyd my verstand te bowe gegaan. Op een of ander manier het ek geld gemaak gedurende my eskapades. Het ek iets verkoop? Het ek gunsies of dienste verrig in ruil vir betaling? En ek is redelik seker dat ek dit nie verdien het deur karre op te pas nie... Ek kan maar net dankbaar wees dat dit was voor die tyd van selfone met kameras en geen Facebook nie – want my ongure verlede sou beslis my kanse om ooit president te word verder gepootjie het... En dan gaan ons nie eers praat van die feit dat as ek gedrink was ek skielik in ‘n nudis verander het nie... (Ek wil weereens om verskoning vra vir almal wat my in enige iets minder as ‘n onderbroek gesien het in Hatfield in die jare 1999 tot 2001. Ek twyfel darem of julle my gesig sal onthou. Net my onskuld. En net vir duidelikheid dit is koud daai tyd van die oggend!)
Ek het besef ek moet dinge dalk rustiger vat toe die oproepe te veel begin raak het. Apparently het ek nie omgegee om telefoonnommer uit te deel nie. Aan enige iemand nie. Meisies, ouens, tannies, ooms... Kyk as ‘n lammervanger (dis nou daai tannies van 50 wat al 4 keer getroud was en opsoek is na ‘n onskuldige student in Hatfield se strate) jou bel na ‘n bedryfsekonomie toets (wat nie te goed verloop het nie) en jou nooi vir “koffie” dan begin jy nogal jou lewenskeuses bevraagteken.



Nou dat ek mooi daaroor dink verduidelik dit hoekom ek eerstejaars Rek oor ‘n tydperk van 3 jaar gedoen het. Die tweede keer is altyd makliker. Die derde keer sit hulle jou maar deur omdat hulle jou jammer kry.
Maar soos ek sê, ek drink lankal nie meer so nie. “Ander mense” sal sê: Jy’t nie drank nodig om jouself te geniet nie... (Jy’t ook nie tekkies nodig om te draf nie, maar dit help tog.) Dit daar gelaat.

Dit verander nie die feit dat die tekens van oud word nou oral begin kop uitsteek nie. Ek gaan slaap en dan is ek 100% perdfris en gesond, maar as ek opstaan het ek ewe skielik ‘n verstuite enkel? What even? My haarlyn het geskuif van net bo my wenkbroue tot duskant my kroontjie vir watter bisarre rede ook al. Of moet ek eerder sê: Die hare wat eens op ‘n tyd iewers tussen my wenkbroue en my kroontjie was, sit nou op ander plekke. Soos binne in my ore. I mean really?! Wat kan moontlik die doel wees van hare in jou ore?! Waar gaan ek dit ooit nodig kry? Maar ek gaan dit nie uitpluk nie, want teen hierdie tempo kan ek hulle dalk gebruik om oor die komende bles te kam. En dan is daar nog die feit dat die bietjie hare wat oor is besluit grys is die nuwe muis-bruin-vaal-blond. Wie het hulle gevra?! Wie’t gesê hulle mag grys word? (Bygesê, meeste van daai grys hare is die gevolg van ‘n enkele persoon – en moenie maak asof jy nie weet wie jy is nie!) Tot groot verleentheid het ek ook agtergekom dat ek deesdae maar moet knyp as ek hoes of nies. Niks wat aandag trek soos ‘n onverwagte windjie terwyl jy wag in Clicks se ry nie. En kan ons vir ‘n oomblik stilstaan by die feit dat ek ewe skielik 3,023,389 keer in die aand moet opstaan oordat my blaas vol is? Ek het al gedink dit gaan minder moeite wees om maar eerder op die toilet te slaap en 2 of 3 keer op te staan om bietjie in my bed te gaan lê.

So loop ek en Die Ander Een deur die mall. Doodonskuldig soos ek nou maar is, keer hierdie meisietjie voor Edgars my voor. “Hallo Oom. Ons het hierdie nuwe produk van Estee Lauder vir daardie plooitjies langs oom se oë...”
Die aanrandingsaak kom later hierdie maand voor, hou maar vir my duim vas vir versagtende omstandighede...

©Riaan Palmer

Share:

Friday, 17 January 2020

Die groot honger

Dink julle dit is veilig om ‘n blikkie baked beans wat nog oor is van die “1994 oorlog voorraad” te eet? Ek vra sommer maar net vir ‘n “vriend”...

Ek het nou al baie te sê gehad oor kos en al die vreemde goed wat in ons in ons monde prop, maar dit bly vir my so 'n fassinerende onderwerp.

Vat nou maar iets eenvoudig soos roosterbrood. Een of ander tyd in ons geskiedenis het ‘n ou ‘n sny brood geëet en vir sy vrou gesê: “Die brood is nog nie gaar genoeg nie!” Hy het toe sy werkswinkel ingevaar en ‘n toaster uitgedink sodat hy ‘n sny brood NOG gaarder kan maak. But why? Hy het natuurlik nooit die kuns vervolmaak nie, want die gemiddelde toaster het mos twee verstellings: “Amper glad nie ge-toast nie” of “Houtskool”. Ons kan ‘n spaceship op Mars land, maar ons kan nie die tegnologie vervolmaak om die perfekte snytjie toast te maak nie?

Ek het al baie gewonder oor wie eerste iets probeer eet het. En hoeveel mense is gedooi omdat ge-“took one for the team”.
“Kyk hierdie pragtige rooi paddastoel. Ek wonder hoe proe dit?”
“Proe jy!”
“Nee, proe jy! Kyk ek was verkeerd oor die Brussel sprouts – maar ek is seker hierdie gaan anders wees.”
“Omnomnom. Aaaargh!”
“Oeps. Ek gaan nogal vir Frikkie mis. O ja. Op ‘n onverwante noot: Moenie die rooi paddastoele eet nie.”





En resepte? Don’t even get me started! Hoeveel keer is ‘n spesifieke resep gemaak voordat iemand besluit het dís hoe jy iets maak? Wanneer besluit jy daai metode werk nie ons gaan dit nie weer probeer nie, en wanneer besluit jy jy’t dit doodeenvoudig nie reg gedoen nie?
Soos nou in Desember dink ek mos ek’s vreeslik oulik. Ek gaan ‘n Mozart koek bak vir Kersdag se nagereg. (As jy nie weet nie, ‘n Mozart koek bestaan uit lae meringue van amandel meel en ander omnomnom goed. Dis nogal hoërgraad werk.) Vir die eerste keer in my lewe. En ek het mos selfvertroue en ek kan mos mooi instruksies volg. 24 Desember begin ek sommer vroeg bak. Ek gaan julle die details spaar. Kom ons sê maar net 3 baksels taai, droog en oneetbare meringue lae later het die gaste op die ou einde op Kersdag van daai waterige vrugte-ysies vir poeding gekry.

Ons is ook nooit tevrede met iets soos wat dit is nie. Waarskynlik omdat daar altyd ‘n Magriet is wat vol fiemies is. Probeer nou maar iets eenvoudig doen, soos grondboontjiebotter koop. Jy dink jy gaan daar instap en ‘n bottel grondboontjiebotter vat en loop. Uhm, nee. Nie net moet jy kies tussen Black Cat, No Name of Yum-Yum nie, jy moet ook besluit tussen Smooth, Extra Smooth, Plain, Crunchy, Extra Crunchy, Super Extra Crunchy of Crunchy met Gurkins (ek toets net of jy nog oplet). Ek het die Super Extra Crunchy probeer. Dit was toe nou net ‘n bottel met peanuts in. Dis nogal ‘n uitdaging om daai storie op brood te smeer hoor.



Take aways het ook die afgelope jaar of so heeltemal verander. Ek praat nou van Mr D en Uber Eats en daai ouens. Dis ‘n hele game changer. In die ou dae as jy te lui was om kos te maak, moes jy nog steeds iewers heen ry, kos bestel, wag en weer al die pad terug ry huis toe. Nie meer nie. Nee, nee. Nou druk jy ‘n knoppie op jou foon en die kos verskyn minute later by jou voordeur. Dit kombineer sommer twee van my gunsteling goed. Eet en niks doen nie. Alhoewel daar is nog een hindernis. Ek moet nog actually opstaan en deur toe stap om die kos te gaan kry. As jy nou wil verbeter op Mr D se diens, dan maak jy nou ‘n diens wat die delivery ou jou kos vir jou bring daar waar jy op die bank voor die TV sit!
“En bring sommer vir my iets koud uit die yskas terwyl jy op is!”
Die ryk mense het mos sulke fancy yskaste wat aan die Internets vas is. As jy net 14 biere oor het dan laat weet die yskas vir jou dat jy moet begin paniekerig raak die voorraad is op, en dan laat weet hy sommer vir Pick ‘n Pay hulle moet iets daaromtrent doen.
Ons het darem ver gekom van in die bos gaan stap, iets eetbaar soek, hom met ‘n skerp stok dood kap, hom skil en dan nog hom gaarmaak ook. Ek dink nie ek sou oorleef het in daardie tye nie. Of ek sou soos die chieftain (Grootbaas Geenbeweeg) gewees het, wat halfkaal mense my druiwe gevoer het sonder dat ek iets hoef te doen.

Dis ook interessant hoe kos mense bymekaar bring. As groepe mense bymekaar kom, word daar geëet. Veral Afrikaners. Kan mos nie ander mense sien op ‘n nugter maag nie. Maar daar is niks wat mense so verenig soos koek nie.
“Kom jy? Frikkie verjaar!”
“Ugh. Ek hou nie regtig van Frikkie nie.”
“Daar’s koek!”
“Ek kan seker net gaan hallo sê, ek meen dit is sy verjaardag...”
Maar koek is ook die enigste kos waarin jy kerse kan steek en daarmee kan wegkom. Steek kersies op ‘n koek, en jy’t ‘n partytjie. Steek kersies in sê nou maar ‘n melktert of ‘n koeksister, en mense dink jy’s dronk.
En natuurlik die vreemdste gedrag is as iets sleg proe.
“Omnomnom. Eeew. Ek dink hierdie kaas is af. Proe!”
“Nee dankie.”
“Nee regtig. Dis aaklig! Proe net man!”
“Maar my fok...”



Ek moet seker nie oor kos praat nie, want meeste van ons het die tyd van Januarie so lanklaas iets ordentlik geëet, ons kan nie eers meer onthou hoe proe skaapvleis nie (of dalk is dit juis hoekom ek oor kos praat want ek’s honger?)... Maar wat ek eintlik wou sê: Ek het ‘n lekker resep raakgeloop. Daai klein sakkies tamatiesous wat die take-away plekke altyd vir ons gee wat jy net so in “Die Laai van Alles” moer... Vat een van hulle en maak dit leeg in ‘n koppie. Gooi kookwater by. (As jy spaarsamig was in Desember het jy dalk nog bietjie sout en peper. Moer by.) Meng goed met ‘n teelepel. Tada! Tamatiesop!
Dis ‘n plesier.
Toemaar liewe lesers. Ons is darem al verby die helfte van Januarie. Nog net 3 maande, 17 dae, 43 uur en 12 minute voor payday. Dalk sal ons hiérdie jaar Desember meer verantwoordelik wees?
Of nie.



© Riaan Palmer
Share:

Friday, 20 December 2019

Kersfees. Rumpumpumpum.

Voel julle dit ook? Dis Kersfees! Die klank van slee klokkies, kinders wat vrolik lag, Kersvader wat “ho ho ho”, takbokke wat tak en Mariah Carey wat keel-roggel geluide maak wat klink soos “All I want for Christmas...”?
As jy soos ek is, het jy ook nou so bietjie in jou mond gekots.
Dis nie dat ek nie van Kersfees hou nie, dis net...




Hier in die eerste week van Oktober stap jy doodonskuldig die winkels in terwyl jy rustig die Macarena fluit. En ewe skielik bevind jy jouself in ‘n Kersfees “Winter Wonderland”. Warrefok? Jy was net gister daar toe was dit nog ‘n gewone winkel, maar blykbaar het Tinkerbell deur die nag die hele winkel bekots met glitter en rooi Kersfees decoration. En dis asof die winkels elke jaar net vroeër en vroeër begin. Julle sal my nie glo nie, maar laas jaar stap ek op 27 Desember deur die winkels en hulle het klaar kersversierings opgehad! I mean really? Dis bietjie ridiculous. Die ding is vir bykans 3 maande van die jaar – oftewel ‘n kwart van die jaar (vir die wat hou van wiskunde) – word Kersfees in ons gesig gegooi. So hier teen einde Oktober is ons al versadig aan Kersfees. Middel van November wil jy iemand met ‘n kaktus in die gesig bliksem as jy nog een keer Boney M hoor “Rumpumpumpum” (en nou gaan daai liedjie die res van die dag in jou kop wees. Sorry daaroor.). Ons raak totaal apaties (of soos die Engelse sê “numb”) teenoor Kersfees want vir 3 maande is dit al wat ons sien en hoor.     
Maar wat kan ons doen? By Woolworths aankom en ‘n “Can I spiek wif de manager” gooi en dan afgaan oordat daar Christmas decorations op is? “Yes sir. Whatever you say Scrooge McGrinch.”
Wie het in elk geval 3 maande nodig om hulle kers-inkopies te doen? Ek het op die MEESTE ‘n paar uur nodig (as dit ‘n goeie bonus jaar was). En as jy slim is hoef jy nie eers die winkels in te vaar nie. Jy draai net iets toe wat reeds in die huis is. (Alhoewel Die Ander Een het tot diep in die Nuwejaar nie met my gepraat nie oor ek gedink het ‘n halwe bottel mayonnaise is ‘n aanvaarbare geskenk. Ek het gesê ek’s jammer. En dit was ‘n slegte bonus jaar. Kan ons nie maar oor dit kom nie?)

En van liedjies gepraat, kan enige iemand vir my verduidelik hoekom “Last Christmas” van Wham! vir die afgelope 35 jaar net oor Kersfees gespeel word? Wag laat ek raai: Want daar is “Christmas” in die titel? Gaan luister na die lirieke. Kan dit enigsins minder Christmassy wees? “You bastard! You broke my heart! Merry f’ing Christmas!”




Maar ons het mos geen verbeelding nie. As Amerika mos iets doen dan moet ons hulle mos na-aap. Neem nou maar die kersboom as ‘n voorbeeld. Wie de donner het gedink dis ‘n blink plan om iets wat nogal hou daarvan om buite te wees die huis in te sleep? Dit klink mos soos iets wat ‘n dronkgat sal doen? Ek sê julle nou: Een dag lank gelede het ‘n man na ‘n eindjaarfunksie in sy dronkenskap ‘n boom by die huis ingesleep. Die volgende oggend het vroulief die sitkamer ingestap: “Liefie... Hoekom de fok is daar ‘n denneboom in die sitkamer?”
“Want... uhm... dis vir... uhm... Kersfees? Ons kan dit versier met... blink goete en balle, jy weet mos, om die geboorte van Jesus die vier! En... en... ons kan ons sokkies bo die kaggel hang... en ek gaan ‘n paar blare aan die dak hang om mense te forseer om my te soen want dis ook al manier wat ek aksie in hierdie huis gaan sien...” Hoe is dit nie die gedrag van ‘n dronkie nie!?
Ek is so dankbaar daai tradisie om mistel (mistletoe – fokus Afrikaners!) te hang en as verskoning vir soentjies te gebruik, het nie hier posgevat nie. Is dit nie bietjie seksuele teistering nie?

En dit geld vir die res van die Kersfees tradisies wat per boot van Amerika en Europa af hier uitgespoel het... Nou as jy al ooit ‘n Kersfees in Afrika spandeer het, dan weet jy dis nou nie spesifiek koel nie. Jy oorleef net-net in ‘n helpmysterklyk-hempie. Nou verwag hulle ons moet dink Oom Klaus gaan in sy lang mou rooi gewaad met haas-fluff orals hier kom geskenke uitdeel? I don’t think so. Hulle gaan hom duskant Phalaborwa optel morsdood van hitte-uitputting. En die takbokke in ‘n jagter se vrieskas 5 kilometer verder. Meeste Suid-Afrikaners het nog nooit en gaan ook nooit sneeu sien nie. Maar die vet weet, die winkels koop 1 Oktober Johnson & Johnson se hele voorraad watte op en pak dit die winkels vol om ons te oortuig dis nou ‘n “white christmas”. Nee. Net nee.
Die ‘Merikaners het nog regte denneboompies wat hulle die huis insleep, maar ons het nou nie daai nie, so ons bou sulke groen tinsel goete uit China, wat verwoed probeer om soos ‘n boom te lyk. But why? En die nuutste is mos om jou hele huis soos ‘n kersboom te versier. Pappa se hele bonus word geblaas op liggies om oor die huis te drapeer. Sy hele Saterdag is ook moer toe om dit op te sit – as hy nou nie van die dak afval nie. My fok ouens. Moenie nou kyk nie, maar ons het bietjie van ‘n elektrisiteitskrisis... Ek dink ‘n paar Mammas was bietjie dikbek dat hulle met groot opgewondenheid in die donker moes sit so vlak in Desember. #EskomSoSorryNotSorry

Dan is daar mos nou ewe skielik ‘n kartondosie by elke liewe betaalpunt waar jy kom. Met ‘n Post-it note waarop daar geskribbel is “Merry Christmas Christmasbox”. En daai een agter die till is die vriendelikheid haarself. “Good morning Sir. We love you Sir. Merry Christmas Sir.” En dis nou juis sy wat ‘n week terug nie eers die lewenslus gehad het om jou te groet nie of op te kyk van haar foon nie... Dan word daai boksie baie opsigtelik so geskuif as jou kleingeld oorhandig word. Ek wou dit ook doen. ‘n Boksie hier in my kantoor sit sodat elkeen wat hier voor my staan vir my ‘n ou ietsie-ietsie ingooi. Vir Kersfees. Want dis mos “the season of giving”. Toe onthou ek, ek kry mos ‘n “salaris” (for lack of better word) om my werk te doen. Niemand skuld my niks. Ons kan mos nie elkeen ‘n boksie hê in ons werksplek nie!? Seriously.

Kyk ek is geseën met so een of twee gawes. Maar die kuns om geskenke toe te draai is nie een van hulle nie. Dit is seker die deel wat ek meeste verpes. Óf ek sny te klein blokkie papier uit (al meet en pas ek met ‘n liniaal) wat beteken die helfte van die prezzie steek nog uit wat ‘n tweede en partykeer derde laag geskenkpapier beteken... Wat ek dan doen, om dit te vermy, is om te veel papier te gebruik, dan lyk die geskenk weer soos ‘n graad eentjie op sy eerste dag wat vir die volgende 5 jaar dieselfde 9 sizes te groot skoolbaadjie moet dra. En moet nie eers met my begin oor Sellotape nie. Maak nie saak hoe hard jy probeer om die punt gereed te hou nie, as jy jou rug draai dan is daai punt weg, en partykeer kry jy hom nóóit weer nie! (Wat natuurlik beteken dat vele presente is al toegedraai met behulp van Prestik en staples.)



Maar wat ek eintlik wou sê is, as ek nie weer met julle praat voor Kersfees nie, dan moet julle ‘n vreeslike geseënde Kersfees hê. Wees vrolik. Vreet jou trommeldik. Wees nice met jou familie-mense. Drink, maar moenie ‘n Frikkie wees nie. Op die einde van die dag is dit ons eie verantwoordelikheid om Kersfees te vier vir die regte redes en op die regte manier, ongeag van wat die winkels in ons kele probeer afdruk.

PS. Magriet, ek sê sommer nou al vir jou: Ek wil nie in Januarie hoor jy het dik geword oor die feesgety se gevretery nie. Jy was nog altyd dik. Maak vrede daarmee.

Stout wees en pas julleself op!

Riaan Palmer
Share: