Monday, 14 October 2019

Moeggepraat


Die debat oor lyfstraf was natuurlik die afgelope maand op almal se lippe. Obviously moet ek my opinie ook gee, want niemand het daarvoor gevra nie.



Ek het al ‘n keer of wat oor my kinderjare geskryf, so meeste van julle weet dat ek nog nooit in my lewe pakslae gehad het nie. (Ek sê dit net, want ek is baie bang vir my ma. As my ma moet hoor ek loop en vertel dat sy my konstant gemoer het , gaan sy my wéér moer. Sy vertel mos sy’t nog nooit haar hand vir my gelig het nie, maar wie gaan julle glo – vir ‘n kwaai antie wat veroorsaak dat almal in vrees laat wegvlug vir hulle lewens as sy ‘n vertrek instap? Of vir my wat doodonskuldig net hier sit en tik voor my rekenaar? Moenie vir haar sê ek het julle vertel nie!) 

Nou as jy in ag neem dat ek koes-koes in my ma se teenwoordigheid loop, sal mens dink dat ek téén lyfstraf sou wees? Die vraag is of sou ek so oulik uitgedraai het as ek nooit gestraf was nie? Ek meen ek vloek nie eers nie en is baie stil en teruggetrokke. (Ten minste kan niemand sien dat ek dit nie eers met ‘n straight gesig kan tik nie...) 

Meeste van ons het grootgeword met pakslae. En meeste van ons het nie té wanaangepas uitgedraai nie. (Behalwe nou die mense wat in hulle karre sit, in hulle neuse grawe en dit eet, die mense wat soos hulle gatte parkeer in Woodlands, die mense wat trek en hulle troeteldiere net daar los en die wetters wat op besige oggende Lynnwoodweg toestaan met hulle stupid karre sodat ons wat in Generaal Louis Botha staan nie kan oorry as die lig groen word nie. Hulle is die soolvratte van ons samelewing – en dalk dié wat nie pak gekry het as kinders nie...)  Meeste van ons het nie permanente skade as gevolg van pakslae nie – as ons nou terugdink aan die pakslae wat ons onthou, dan besef ons, ons het dit verdien. 

Pakslae het ons ook taallesse geleer, soos lettergrepe: “Hoe-veel-keer-moet-ek-nog-sê-moe-nie-dit-doen-nie!”
So ook waardevolle wetenskap lesse. Vir elke aksie is daar 'n gelyke en teenoorgestelde reaksie. “Moet ek jou rede gee om te huil!?” Gevolg deur ‘n pakslae en dan ‘n tranedal. (Of is dit nou eintlik ekonomie? Vraag en aanbod?)



Ek moet dit dalk net baie duidelik stel: Mens moet ‘n duidelike onderskeid tref tussen lyfstraf/pakslae en mishandel. ‘n Vriend van my (noem hom sommer Frikkie) se ma het ‘n baie kort humeur gehad. En as daai humeur knak, dan vlug jy want sy moer vir jou met wat ook al in haar hand was. So het Frikkie uitgevind toe hy sy ma de moer in gemaak het terwyl sy staan en brood sny het. Frikkie sit tot vandag toe met ‘n letsel op sy kop. Drie spore kolletjies net by sy haarlyn, so al asof iemand hom 3 keer geraps het op die kop, met die lem van ‘n broodmes. 

Die eerste reël is dat jy nie ‘n kind moet slaan as jy kwaad is nie. Dis dán wanneer jy meer skade doen as goed, want jy slaan die kind oorlat hy stout is – maar net vir die eerste 3 houe. Die volgende paar houe is omdat Pappa gister vergeet het dit was die huweliksherdenking. Dáárna kry die kind nog ‘n hou of wat omdat ‘n poppie in ‘n Fortuner jou parkering by Woodlands gesteel het en so ontgeld die kind die afgelope week se opgekropte woede. Is dit regverdig dat jou kind al jou probleme op sy agterwêreld dra? Asem in. Asem uit. Vat ‘n sluk wyn. Dalk ‘n Valium. Dan slaan jy die kind vir wat hy/sy verkeerd gedoen het, en nie vir alles wat die wêreld verkeerd gedoen het nie...

Nou as jy jouself kan beteuel as liefie-kind ‘n terroris is, dan is jy dalk in die versoeking om die “Wag tot jou Pa by die huis kom...” dreigement te gebruik. Ai tog. Hier stap Pa moeg na ‘n dag se gehurk voor die rekenaar by die huis, en wil net bietjie chill met ‘n bier en dalk met die laitie ‘n bal skop. Maar nee. Nou moet Pa eers ‘n paar klappe uitdeel? Dis mos nie sy fight nie?! Fight jou eie battles! (Ek moet sê daai gewaggery dat Pa van die werk af kom is baie erger as die actual pakslae. Of as jou ma sê “Gaan wag in die kamer, ek kom...” Ek was seker so 6 toe my ma het dit vir my gesê terwyl sy met die buur-tannie gestaan en praat het. Ek het huilend in my kamer gaan wag, maar daai pak het nooit gekom nie. Ek loop tot vandag nog rond met daai vrees en afwagting dat my Ma gaan onthou sy skuld my ‘n pak...)

Reël twee is ‘n fout wat meeste mense maak: Moenie jou kinders slaan as hulle stout is nie. Dit maak dalk glad nie sin nie, maar luister bietjie... Neem nou maar my broer. My broer was ‘n terroris gewees as kind – hy was soos die Al Qaeda/ISIS van kinders. So hy het konstant pak gekry – in so ‘n mate dat hy naderhand eelte op sy boude gehad het en nie eers meer vir “Moeggepraat” gevoel het nie... So wat het ‘n pakslae gehelp? Boggerôl.
Die beste is om ‘n kind pak te gee wanneer hulle dit die minste verwag. Of nog beter, net wanneer hulle op hulle gelukkigste is. Vat hulle soos Valley of the Waves toe of een van daai VR Rides in jou naaste winkelsentrum. En dan hou jy hulle dop. As daai gesiggie so straal van lekkerkry en genot, dan deel jy ‘n klap of twee uit. En as hulle vra “But why?!” dan verduidelik jy mooi dat dit is hoe die lewe werk... Dis mos nou ‘n waardevolle lewensles: Net as jy dink dinge gaan nou punt in die wind, dan kom die lewe en sê “Sjoe, maar dit lyk mos nou of jy vreeslik gelukkig is. Kom ons doen bietjie iets daaromtrent...” ‘n Kind moet mos betyds die goed weet. (Leer hulle sommer hoe om SARS eFiling te doen, want dis skills wat mens nodig het, en niemand leer jou dit nie!)



Maar wees versigtig voor jy begin klappe uitdeel. Want dis mos deesdae “onwettig”. Want? Redes. Jy moet definitief nie ‘n kind in die publiek, soos byvoorbeeld Woolworths, pakslae gee nie. (Ek het darem die antie se kind 3 keer gewaarsku as hy nou weer my hakskeen raakry met die trollie... Dis een ding as jy jou eie kind pak gee, maar dis klaarblyklik ‘n ander storie as jy ‘n vreemde antie se kind pak gee?!) Nou wonder ek wat wil die “Edelagbare Regter” hê moet ‘n kwaai, moedelose boertannie met ‘n stout kind doen? Dalk moet al die mammas hulle onmoontlike kinders na die regter toe vat dat hy kan kyk of “praat” werk... Toe. Ek dare julle!

Maar ernstig nou? Werk die “praat” metode?
Verbeel jou jy loop doodonskuldig verby die sitkamer op pad om jou derde glas dooswyn vir die oggend te skink, en daar sit klein Frikkie en probeer ‘n mes in die kragprop druk...
Stap jy rustig na hom toe en sê in ‘n kalm stem:
"Weet jy wat Frikkie, ek sou nie dit gedoen het as ek jy was nie. Het jy geweet elektrisiteit kan jou nogal seermaak?"
"Dankie Mammie! Ek is net 4 jaar oud en ek het nie geweet van die gevare van elektrisiteit nie. Ek sal een van daai 'time outs' vat waarvan Mammie so baie hou, en ek sal verder gaan dink oor hierdie gesprek en die moontlike nagevolge my onverskilligheid teenoor elektrisiteit...”
Sien, as dit my Ma was het ek vinnig ‘n fisika les (in lettergrepe) gekry en ‘n alie wat brand. En ek sou tot diep in my dertigs ‘n vrees gehad het om naby ‘n kragprop of selfs ‘n AAA-battery te kom. (True story.)

Nou wonder ek wat gaan gebeur as een van julle julle kind pak gee (selfs al is dit onwettig) en die kind bel die polisie? Vir ‘n begin hoef jy nie te veel worry nie, want as hulle 10111 bel gaan dit so 3 dae wees voor die polisie daar aan kom (dis nou te sê as hulle enigsins opdaag).
En dan? Gaan hulle jou arresteer? Jou 2 jaar tronk toe stuur? Wat word van die kind? Beland dié in ‘n kinderhuis saam met 100 ander kinders wie se ouers hulle gebliksem het? En wie gaan die kinders die nodige dissipline leer en opvoed en liefde gee? En buite stap die verkragters, moordenaars, diewe en ander skorries rond, want die tronke is vol van ouers wat hulle kinders op die boeremanier probeer dissiplineer het? Ek verstaan nie... Of maak ons ‘n generasie van mense groot wat net reageer op “ek gaan tot by 10 tel...”? ‘n Generasie van mense wat iewers moet gaan sit en dink oor wat hulle gedoen het?

*** *** ***
Vrywaring: Hierdie is satiriese sosiale kommentaar. Op die einde van die dag het ek geen sê oor hoe jy jou kind grootmaak of jou besluit om hom/haar te dissiplineer nie. Geen regter iewers in ‘n simpel hof ook nie. Hy ken nie jou kind nie. Jý moet op die einde van die dag jou kind grootmaak, toegerus met die nodige dissipline, selfrespek en respek vir ander mense en hulle besittings. Slaap jy rustig in die nag?

Daar is ouers wat “lyfstraf” te ver neem. Dit is verkeerd en daardie mense is die mense teen wie die wetgewing kinders probeer beskerm. As jy jou kind onnodig en/of oordadig en/of permanent fisies seermaak verdien jy om in die tronk te sit! Dis hoekom my Ma my met die plathand geslaan het. Sodat sy presies dieselfde pyn as ek voel.

Om hemelsnaam moet net nie jou kind “lukraak”/wanneer hy dit die minste verwag slaan nie. Veral nie wanneer hy/sy op haar gelukkigste is nie! Dit was net ‘n grappie!

My Ma het my nie regtig so baie geslaan nie. Sy slaap met ‘n skoon gewete en ek weet sy kan ‘n grap vat. Ek was obviously ‘n engel van ‘n kind, so sy het geen rede gehad om my te slaan nie.
Al wat ek vir julle kan sê is sterkte met julle kinders! Asof dit nie reeds moeilik genoeg was nie...

 ©Riaan Palmer

#Lyfstraf
Share:

Tuesday, 8 October 2019

Rugby vir idiote (Deel 2)

Hierdie is deel 2 van die handleiding vir idiote (soos ek) wat totaal ‘clueless’ is as dit by rugby kom, maar graag wil saam gil as daar ‘n groot ‘game’ is. Net om julle geheue te verfris: Deel een het ons die basiese rugby terme behandel soos “bal” wat die ronde ding (wat nie rond is nie) is waaroor al die hoe-ha gaan. Ons het ook al die posisies behandel, wat eintlik baie maklik is want al die posisie het “regter-” en “linker-” in die naam om die ouens te herinner waar hulle op die baan moet staan. (OK, nie al die posisies nie, maar dis nou nie nodig om tegnies te raak nie. Gaan lees deel 1 weer.)

Nou as jy net effe oplettend is, sou jy al gesien het dat daar lyne op ‘n rugbybaan is. Daar’s ‘n lyn in die helfte. Jy gaan nou geskok wees, maar hulle noem dit die halflyn. Dan is daar aan weerskante van die halflyn ‘n lyn presies 10 meter van die halflyn af en word die 10-meter lyn genoem. (Ek dink ons kan almal saamstem dat die rugby uitdinkers nie vreeslik baie kreatief was met benaming nie.) Dis in stippels geverf om verf te spaar. So ook is daar ‘n soliede lyn 22 meter van die doellyn af. Kan jy raai wat word die lyn genoem? As jy enige iets anders as 22-meter lyn geantwoord het, het jy nie opgelet tot dusver nie... Dan is daar die doellyn. Dis min of meer die belangrikste lyn op die baan. Ons sal weer by hom kom. Verder is daar lyne reg rondom die baan. Jy mag nie buite daai grense speel nie, want wie weet tot waar die ouens sou hardloop as dit nie vir dié grenslyne was nie. Al die lyne beteken seker iets. Ek weet nie wat nie, en lyne is hopeloos te vervelig dat ek regtig belang stel. Al wat ons in belangstel is die doellyn. Jy sal die doellyn herken aan die groot hoofletter H wat uit staal gemaak is, wat in die middel van die lyn staan. Die groot H (wat uit staal gemaak is) is om vir almal te wys waar is die doellyn. 



OK, so voor die wedstryd sing al twee spanne eers ‘n liedjie. (Want ‘n kuier raak mos eers lekker as daar ge-karaoke word.) Dit is tradisioneel dat elke span hulle volkslied sing, maar daar is geen reël wat sê dat jy mag nie, byvoorbeeld, Dancing Queen sing nie. Dan word daar getos. Ek raai dit gebeur voor die tyd in die aantrekkamers uit ‘common decency’ – want daar is vroue en kinders wat kyk. Die wenner van die tos besluit wie skop af. (Ek het gou gaan oplees hieroor en ek vra om verskoning. Ek het verkeerd verstaan. Dis ‘n “coin toss” en glad nie wat ek gedink het dit is nie. ‘n “Coin Toss” maak eintlik baie meer sin. Jammer oor die verwarring.)
Dan word daar afgeskop en die chaos begin soos wat elke speler hulle beste probeer om die bal te probeer kry. (Behalwe die heelagter wat sy eerste glas chardonnay skink en onder die pale gaan ontspan met ‘n lekker boek.)

Nou, as die bal tydens die rondgehollery oor een van die grenslyne gaan, dan is die bal “uit”. Daar is ‘n laaang lys reëls oor watter span se beurt dit is om in te gooi. Kom ons maak maar of dit nie so ‘complicated’ is nie, en sê as jou span laaste aan die bal geraak het voor hy uit is, dan moet die ander span ingooi... Dan moet al die voorspelers (of ten minste 2) in sulke ry gaan staan langs die grenslyn en een van die maatjies moet die bal reg in die middel van die twee rye spelers ingooi. Dis nou hier waar die gevreesde slotte – die lang latte van die span – die bal moet vang. Die reëls sê die ou wat die bal gaan vang, mag deur sy maatjies opgelig word, met die voorwaarde dat hulle hom saggies neersit sodat hy nie sy enkel verstuit of iets nie. So, een van die spelers vang die bal, en al die maatjies wat om hom staan probeer om hom heup-hoogte ‘n drukkie te gee (ook genoem ‘n  losgemaal). Die ou wat die bal gevang het hou nie van al die mense in sy persoonlike spasie nie, so hy gee so vinnig as wat hy kan die bal uit.



Jy het dalk al opgelet dat daar altyd ‘n ou op die rugbybaan is wat nie dieselfde jersey aanhet as die ander maatjies nie. Nee, sy jersey was nie vuil en dis al wat hy gehad het om aan te trek nie. Daai is die skeidsregter. (Ook bekend as die poepol met die fluitjie.) Dis sy werk om te kyk dat al die spelers die reëls nakom. Hoe hou jy 30 verskillende ouens, wat chaoties rondhol, dop? Jy kan nie. Dis hoekom ‘n skeidsregter sulke kak besluite neem en almal altyd op hom gil. ‘n Skeidsregter is tipies swaksiende en het ‘n gunsteling rugbyspan van sy eie - gewoonlik is die opposisie sy gunsteling span. Hy hardloop met ‘n fluitjie agter die bal aan en blaas op die fluitjie as sy span die bal verloor (of partykeer as daar ‘n reël gebreek word). Hy kan ook vir spelers wat baie stout was ‘n geel kaart wys om die speler te verneder. (Geel beteken “hierdie ou speel soos ‘n piesang” en die speler moet vir 10 minute in ‘n hoekie gaan staan en dink oor wat hy gedoen het.) Meneer Skeidsregter kan ook ‘n rooi kaart vir ‘n speler wys. Rooi is natuurlik die kleur van liefde en as die skeidsregter dit vir ‘n speler wys, dan moet die speler onmiddellik in die skeidsregter se kamer gaan wag vir sy “straf”.
(Daar is ook “vlagmanne” – of “vlag persone” om polities korrek te wees – wat langs die baan oefen om een van daai mense te wees wat vir vliegtuie wys wat hulle moet doen op ‘n aanloopbaan. Hulle is nie belangrik vir die wedstryd nie, so moenie jou aan hulle steur nie.)

Rugbyspelers hou nogal daarvan om mekaar vas te hou. (Dit het niks te doen met hulle seksualiteit nie. Hulle is nou maar net van daai mense wat hou van fisiese kontak.) Hulle kan op 3 maniere in sulke bondels aan mekaar vat: ‘n Losgemaal, ‘n losskrum of ‘n skrum.
‘n Losgemaal kan enige tyd gebeur wanneer die ou wat die bal tans het, vasgehou word, en al die ander ouens so in die bondel kom saam vashou.
‘n Losskrum gebeur gewoonlik as die ou wat die bal gehad het, geduik word (hopelik deur die opposisie span). Beide die baldraer en die duiker moet die bal net daar los en hulself probeer skaars maak. Dis gewoonlik dan ‘n vreeslike gestoeiery en gesteunery tussen die twee spanne om dan die bal in die hande kry. (Hoe is dit dan anders as die res van die spel?)
‘n Skrum word deur die poepol (askies ek bedoel skeidsregter) toegestaan na ‘n geringe oortreding of onderbreking van spel. Daar is ‘n lang lys van reëls en tegniese bla-bla wat te doen het met ‘n skrum. Al wat jy hoef te weet is dat die voorspelers mekaar stoot, tot die bal agter uitkom en spel aangaan. En die skrum mag nie plat val nie. 



Drie belangrike reëls: Jy mag nie die bal aangee vir jou maatjie as hy vóór jou staan nie. ‘n Bal moet altyd agtertoe gaan anders is dit ‘n “vorentoe aangee”. Jy mag nie die bal voor jou op die grond laat hop nie (al is dit per ongeluk soos wat ek altyd doen as ek ‘n bal probeer vang) anders is dit ‘n “aanslaan”. Jy mag ook nie tussen die opposisie gaan staan en flirt en dan dink jy gaan aan die bal vat nie, want dan is jy “onkant”.

Nou as alles goed verloop en die simpel agterlyn nie die bal heeltyd moertoe skop nie, kan daar ‘eventually’ punte aangeteken word. As ‘n ou oor die opposisie se doellyn hardloop (dis nou die lyn met die groot hoofletter H) en die bal op die grond druk, is dit ‘n drie. Hoeveel punte dink jy tel ‘n drie? As jy “drie” geantwoord het is jy verkeerd. Vergeet alles wat jy geleer het oor rugby benaming want die fok weet hoekom hulle dit ‘n drie noem as dit 5 punte tel... (om Zita aan te haal). Na jy ‘n “drie” gedruk het kan jou span probeer om die bal oor die hoofletter H te skop dan kry jy nog 2 punte persent. Partykeer skop een van die spelers, wat bang is hulle word geduik, per ongeluk die bal oor die hoofletter H. Dan kry die span 3 punte persent. Dit word ‘n doelskop genoem. Partykeer as die skeidsregter se gunsteling span te ver agter is met punte, staan hy ‘n strafskop toe. Die skopper kan dan die bal oor die hoofletter H probeer skop en as hy dit reg kry is dit ook 3 punte. So basies tel amper al die puntetoekennings 3 punte, behalwe ‘n “drie”. Maak heeltemal sin vir my...

En daar het jy dit. Die minimum wat jy hoef te weet as jy saam die “manne” (en net so baie tannies!) wil rugby kyk.

As jy bietjie konsentrasie verloor en nie weet wat aangaan nie, kan jy een van hierdie nuttige frases gebruik om steeds deel te wees van die bespreking tydens ‘n rugbywedstryd:
Frase: “Jis ons beter nou ‘n drie druk!”
Verduideliking: (Dit sê jy as die groep se gunsteling span agter is met punte.) Dankie’ Captain Obvious’. Maar ten minste kan niemand met jou stry nie, en jou onkunde sal nie na vore kom nie.
Frase: “Lyk of iemand ‘n oogtoets nodig het!”
Verduideliking: Dit sê jy as die skeidsregter ‘n straf téén jou span toestaan. Maak nie saak wie se skuld dit nou eintlik is nie. Al het jou span se speler soos ‘n wafferse Bruce Lee die ander span se speler met ‘n ‘flying kick’ in die gesig geskop, jy staan by jou span! Die skeidsregter is áltyd verkeerd as hy teen jou span blaas en hy het definitief ‘n bril nodig.
Frase: “Dis onmoontlik om te sê van hierdie kamera ‘angle’ af...”
Verduideliking: Jou span se speler word gestraf as onkant. Hy’t 3 meter agter die opposisie se heelagter gestaan. Onthou die goue reël: Jy staan by jou span! (Totdat die speler jou span laat verloor het. Dan sê jy “Rassie moes hom al lankal van die veld afgehaal het”. Ek weet nie wie “Rassie” is nie, maar blykbaar is hy die ouens wat die spelers van die baan afhaal.)
Frase: “Die ding met *opposisie span se naam* is dat hulle 'n kavalleristiese benadering het om te verdedig en dit geünieer die spel se ritme.”
Verduideliking: Gebruik groot woorde om die opposisie te “beledig”. Niemand is nugter genoeg om te verstaan wat jy sê nie, en almal sal doodeenvoudig net saam met jou stem.

Wees kreatief. Maak notas van wat jou pelle sê oor rugby, en gebruik dit in ander gesprekke. Behalwe as jou pel ook van my “handleiding” gebruik maak, dan gaan julle al twee soos bobbejane lyk. Sorry daaroor.

Geniet die rugby!
Go Bokke!
#MoerHulle #worldcup2019
Riaan Palmer
 = = =
Deel 2 is geskryf na ‘n spesiale versoek deur @Elmarie Kolb. Hoop dit voldoen aan verwagtinge... ;-)
Share:

Sunday, 6 October 2019

Oom Kiewiet en Ta’ Makkie se lanterfantery



Oom Kiewiet was ‘n kraakvars teologie student toe hy Ta’ Makkie ontmoet het. (Toe was hulle natuurlik nog nie “Oom en Ta’” nie.) Hy was so vars dat hy nog ‘n Bybelversie opgesê het as hy sy toon stamp, in stede van vloek soos die res van ons. Sy was ‘n sekretaresse vir een of ander staatsamptenaar in die piesangraad. (Jy’s dalk so jonk dat jy dink daai is ‘n grappie. Dit is nie. Vroeër jare was daar ‘n “Raad” vir al wat ‘n vrug, groente en proteïen is. Ek weet nie wat het hulle nou eintlik gedoen nie, want na die Rade almal ontbind is, toe proe ons aartappels, piesangs en eiers nog presies dieselfde.)

Ta’ Makkie was dalk 10 jaar ouer as Oom Kiewiet, maar dit het nie die liefde gekeer nie. Sy was beeldskoon en ervare en hy was vol energie en gewillig om te leer. (Maar nie alles op een slag nie, want ‘n dominee wag mos eers dat daar getrou word. Of so sê hulle.)

Oom Kiewiet het sommer self die preek en seremonie gedoen, want hy ken mos al die vrae en antwoorde; hoekom sal hy nou iemand anders betaal as daar niks met sy hande fout staan nie?
“Beloof ek hier dat ek soos ek vir Makkie belowe het, dat ek altyd by haar sal bly? Ja ek belowe.”
Dit was effe vreemd om ‘n Dominee sien so praat met homself. As die res van ons so met onsself praat by die werk, dan dink die ander mense mos ons is mal.

Die huwelik was een waaroor daai boeke geskryf word. Alles was perfek. ‘n Huis vol liefde en kort voor lank vol kinders – want selfs ‘n dominee se geduld moet vergoed word. Die jare het gekom en gegaan. Oom Kiewiet het die harte van die gemeente gewen en net gepreek oor geld as daar ‘n lek in die kerk se dak was. Ta’ Makkie het ge-sekretaresse en na ure die gemeente se dames aangevuur om die lekkerste koeksisters te bak en die warmste mussies te brei.
Selfs die kinders was oulik en voorbeeldig en nie te veel van die gemeente se kinders geleer om die Nagmaalwyn soos shooters te drink of tabak te pruim nie. Die paartjie se kinders is naderhand uit die huis en die nodige pligte gedoen om te sorg dat daar kleinkinders was. Of dit nou vóór of ná die huwelik was, is nou regtig nie belangrik nie.

Toe die piesangraad se skille getel is, en die deure toegeslaan word, word Ta’ Makkie maar ‘n tuisteskepper. Sy het egter die konsep heel verkeerd verstaan. Toe sy haar werk verloor, toe besluit sy sommer om heeltemal haar hande neer te lê. Niks is tuis geskep, afgestof, gesuig, gewas of gebak nie. Maar Oom Kiewiet het nie omgegee nie. Hy het Ta’ Makkie op sy hande gedra want na al die jare was sy liefde vir haar steeds vurig. En boonop is daar nog op die troudag beloftes gemaak…
Die ewewig tussen liefde en geduld is tot die uiterste toe beproef toe Ta’ Makkie so lui word dat sy vir haar ‘n rolstoel aangeskaf het. Dis nie dat daar fout was met haar bene nie. Loop was net hopeloos te veel werk vir iemand wat nie meer werk nie. Oom Kiewiet moes alles doen in en om die huis so tussen die aankeer van geestelike skape en vang van menslike visse.

Die huwelik van 40 jaar het aangeloop 50 jaar toe. Oom Kiewiet het ook afgetree en die tweetjies het ingetrek by die naaste ouetehuis – Huis Hierfo Kenrusons. Wanneer Oom Kiewiet nie vir Ta’ Makkie moes bad, aantrek en rondstoot van skinder sessie na skinder sessie toe nie, het Oom Kiewiet vir die oues van dae versies gelees en help vergifnis vra vir hul tienerjare se sondes. En herinner dat “buite-egtelik” nog steeds “buite-egtelik” is, al is jy 80, 3 keer geskei en verveeld.

Dit was nie lank na die sestigste huweliksherdenking nie, toe slaan Ta’ Makkie se rolstoel ‘n ‘bearing’ (soos hulle in die Noorde sal sê). Ta’ Makkie vlieg – op 90-jarige ouderdom – van die rolstoel af soos ‘n gekreukelde Batman en koop ‘n stuk grond voor die eetsaal se tuin. Die dokter is laat kom, en na ‘n bietjie voel en druk is die kleinkinders en agterkleinkinders ook laat kom om totsiens te kom sê. Oom Kiewiet het solank die preek begin skryf vir die begrafnis. (Want hy kan mos.) Niemand is seker of dit ‘n wonderwerk was nie, en of Ta’ Makkie net te lui was om dood te gaan nie, maar sy het deurgetrek.

Oom Kiewiet se geduld het einde se kant toe begin staan, nie dat hy dit hardop vir iemand sou sê nie. Hy het byvoorbeeld wanneer hy gebid het, nou en dan genoem dat “Ta’ Makkie is nog hier” met die vrees dat daar dalk van haar vergeet is. Elke keer as Ta’ Makkie net ge-kugge het, dan het Oom Kiewiet sy preek vir die begrafnis uitgehaal en weer deurgegaan. Maar Ta’ Makkie was nie van plan om iewers heen te gaan nie. Sy was te bang dat daar gewerk moet word in die hemel…

Ta’ Makkie was 97 toe sy oorlede is. Die dokter meen dis maar ouderdom, maar Oom Kiewiet het geraai dat sy maar net te lui geraak het om asem te haal. Oom Kiewiet het teen die tyd die begrafnis-preek al uit sy kop geken en die begrafnis is foutloos gelewer. Selfs die mense wat nie vir Ta’ Makkie geken het nie (en net daar was vir toebies) het haar gemis na aanhore van Oom Kiewiet se preek.

‘n Week na die begrafnis bel hy sy oudste kleinkind. Hy wil sy verkyker hê wat dié geleen het. Die kleinkind se gedagtes het begin loop in die rigting van Oupa Kiewiet wat by die ouetehuis die buur-tannies met die verkykers sit en dophou. Oom Kiewiet het egter nog voor die vrae kon kom verduidelik dat hy wildtuin toe gaan. Hy’t ‘n vakansie nodig. En sommer genoem dat hy self gaan ry, en nie saam met die ouetehuis se toergroep nie. Hy was nie lus vir ‘n spul oumense nie.

‘n Week later sit Oom Kiewiet op ‘n bankie by Satara. By hom het hy Ta’ Makkie se as, sommer in ‘n Tupperware bakkie. Hy’t die bakkie oopgemaak en vir ‘n oomblik na die sterflike oorblyfsels van sy liewe vrou gekyk, voor hy gepraat het.
“Makkie, jy weet ek is baie lief vir jou, maar ek is nou moeg. Ek is klaar daarmee om jou te vat waar jy wil wees.”
Oom Kiewiet het die as in die lug opgegooi, maar dit het doodeenvoudig voor hom op die grond geval.
“Moenie so lui wees nie. Jy’t lank genoeg net daar gesit. Toe, gaan sien die wêreld.”
‘n Wind het opgekom die as opgetel en oor die apiesdorings se takke gedra na verre plekke. Sonder dat Ta’ Makkie ‘n hand of voet moes lig.
Oom Kiewiet het tevrede geglimlag. Vir ‘n oomblik het hy gewonder wat hy volgende moes doen, toe onthou hy: Niks. Vandag doen hy niks.

* * * *
Met apologie aan Leonore se Oupa wat die inspirasie was. Dis meestal fiksie. Meestal.

©Riaan Palmer
Share:

Tuesday, 1 October 2019

Die mense van 'Faceboek'

Ek dink ek moet myself van al wat ‘n Facebook groep is afhaal, want die frustrasie maak net dat my een linkeroog aanhoudend aan die spring is... Dit is nogal ‘n uitdaging vir iemand soos ek, wat mos oor alles ‘n eiertjie te lê het, om stil te bly as “die dommetjies” losgelaat word. (Dis nou “ander mense” – niemand wat ons self ken nie.)




Miskien moet mense eers ‘n IK toets (en ‘n basiese speltoets) doen voordat jy mag toegang kry om iets te kan post op Facebook? Kyk ons almal maak ‘n ou foutjie, en dis OK. Ek meen, ek het al soveel keer van my stories se karakters “verseker” (as ek eintlik bedoel vir seker) dat Outsurance my al moet begin kommissie betaal. ‘n Spelfout hier en daar is normaal. Maar my liewe hemel, as Frikkie verduidelik dat hy “is op soek na twee 3/4 bekies of enkel bekies” of Linda vra “Kan iemand my se hoe maak mens tjokelade koek se ising” dan lê ek mos nou vir ‘n week lank wakker en wonder oor ons se volk. (Hierdie is werklike voorbeelde!!)



Soos ek beduie vat dit baie selfbeheersing van my dat my sarkasme nie ontsnap nie; hulle skop jou mos maklik van die groepe af as jy jou nie gedra nie (of die ouetehuis se tannies “gang” op teen jou, en noem jou ‘n cyberbully). So ek bly stil, maar dis moeilik. So moeilik.

Ek maak nou al ‘n ruk lank sulke vrae (posts) bymekaar wat ek vreeslik graag sou wou beantwoord, maar die beter mens was en net aange-scroll het. (Party posts is geleen/aangestuur – dankie julle!) Gelukkig is hierdie my eie bladsy so niemand kan my afskop nie (tensy ek my vir myself vervies).
Hierdie is alles regte vrae wat ge-post is op Facebook groepe en wat ek wou antwoord. (Insluitende daai een berugte groep wat rym met “Ek is van die Hooste”...)

(Name is verwyder. Want siestog.)

V: Waar kan ek crocs tipe skoolskoene koop?
A: Asof jou skooljare nie erg genoeg is nie, nou wil jy jou kind met Crocs skooltoe stuur? Hoekom haat jy jou kind so? Of wag, laat ek raai – dis die middel kind, nè? Nee! Die kind gaan beter af wees as jy hom/haar kaalvoet skooltoe stuur.
---

V: Is daar weer n maag virus in die lug en wat is die simptome?
A: Nee. Mense bekak hulle want die krag is weer af. Wag tot dit aand is en dan kyk om jou rond. As dit donker is, is jou krag ook af.
---
V: Enige raad om by die huis 'n vraaitjie te laat verwyder?
A: Hou op om vir hom kos te maak.
---
V: Wat kan dit wees maats ek voel so moeg kani my oe oop hou ni ek is ge ireteurt en emosineel wil net huil.
A: Lees ‘n boek of gaan slaap. Maar lees definitief ‘n boek.
---

V: Hi almal..ek opsoek klein hond 6 week en wat jou het jou hond niemand weg gee asb
A: Rooi telefoon bel Mickey Mouse by sewentien half oor nege.
---
V: Het enige iemand dalk n skedile van die beurtgraf?
A: ‘Beurtgraf’ is die minste van jou probleme. Lees ‘n boek.
---

V: Wat kn ek g bryk vi Skrikerig ek is ng heel ini Skrik
A: Jy’s in skok. Drink ‘n glas suikerwater en probeer weer.
---
V: Wat word vrees vir ‘n haaie genoem?
A: Common sense.
---
V: As evolusie regtig is, hoekom het mense nie vlerke nie? Dis net leuens wat deur ateiste versprei word!
A: Jy verwar evolusie met Red Bull.
---

V: Goeie dag Montana.. Beste plek om trou rokke te laat bak??
A: Fokus Magriet! Hierdie is belangrike vrae, jy kan nie bekostig om foute maak nie!
---
V: My Jack Russel terf is op hutte en maak my reene en my mal. Enige raad of kennels wat ek kan doen? Ja Ja ek gaan haar laat reg maak sodra sy van hutte af is.
A: Sug. (En lees ‘n boek. Verkieslik een sonder prentjies.)
---
V: Wat beteken dit as jy droom jy ry werk toe en ‘n draak land voor jou in die pad?
A: Jy is ‘n wizard. Het jy nog nie jou uitnodiging na Hogwarts toe gekry nie?
---

V: Wie kan vir my se my kar het n nuwe clats kit in en hy kry nog steeds nie ratte nie dis oupel kaded
A: Het jy al tussen die voorste sitplekke gekyk?
---
V: GOEIE MORE EK WIL HOOR WIE WEET VAN MENSE WAT OP HEMDE KAN GRAFEUR?
A: Ten minste is jy mooi. Dit tel darem vir iets.
---
V: Naand almal as my resep strooi suiker soek kan ek gewone suiker gebruik?
A: Ja jy kan. Maar dan moet jy dit oor die beslag strooi, nie net in moer nie.
---

V: Wat is dit met **** straat se huis eienaars wat nie na hulle honde kan kyk wat nie hulle honde aandag gee wie se honde 24/7 blaf vir die gerungste ding. Regtag dit begun nou n neusens raak ek is iemand self met diere ma nie eeers my honde blaf so on ophoudlik oor gemors nie. Wat kan n mens doen ek is op die pint om my kop te virloor met my buur man se 3 elsasians wat so blaf en tekeere gan.
A: Ek voel jou pyn. Jy’t duidelik weke laas geslaap, want dit kan die enigste verskoning vir daai spelling wees. Ek het in ‘n movie gesien dat as jy ‘n hond aan sy oor byt, dan hou hy op met blaf. Probeer dit bietjie en laat weet of dit werk.
---

V: Kan iemand my help hoe om melktert te maak asb ekt kla die pasta en eie by gegooi...
A: Magriet. Jy’s dronk. Haal die macaroni uit die wasmasjien en gaan klim in die bed.
---
V: Waar kan ek steune koop en hoeveel prys per steun?
A: Jy’s seker van Wôterkloof? Probeur Builders Warehouse.
---
V: Hi almal ek het met 'n oline werkie begin. As u belangstel om meer geld te maak of as u dit n probeer slag wil ook los asb u nommer of email adres en ek stuur die link vir u. dis nog n nuwe ding dis nie scam nie.
Soos die spreek woord se wie nie waag nie sal nie.
A: Ek was eers op my senuwees, maar die feit dat jy sê “dis nie ‘n scam nie” het my gerus gestel. Kan ek sommer my bankrekening nommer en PIN vir jou stuur dan los ons sommer al die onnodige admin tussenin?
---
V: Beste maniere om sonnestelsel te maak? Sonder balonne en paper Machel.
A: As jy uitvind, onthou net om op die sewende dag te rus.
---
V: Op soek na n ontfangs dame /man met werks winkel ontfangs onderfinding in polokwane kontak *** op.
A: Ek het nog altyd gewonder wat sal ek doen as my V-sleutel op my keyboard moet ophou werk.
---

V: Wie doen nails in ellisras wat nie n appel en n uie gaan vra nie
A: Het jy nog idiome waarmee jy ons kan vermaak?
---

V: Ek soek n leka pot boot en piper mint tert resep
A: Magriet, jy’s nog steeds dronk. Ek dog ek het gesê jy moet gaan slaap?
---
V: Hi julle. Hoekom is langer katte gewoonlik grotter as ouer katte?
A: Ek kan nie vir jou sê hoeveel aande het ek al wakker gelê en wonder oor hierdie einste vraagstuk nie...
---

V: Admin, hoekom mag ander se koeke hier geplaas word en myne nie?
A: Nes arme Margaret dink ons het van haar vergeet...

©Riaan Palmer
Share:

Monday, 16 September 2019

Rugby vir idiote - Deel 1

As jy soos ek is, dan is jy bewus van Rugby en dis hoe ver jou kennis en belangstelling strek. Dit het geen invloed op jou lewe nie, en jy lei ‘n gelukkig lewe ondanks dié feit. 17 of 12 of 49 mans (of hoeveel ook al in ‘n span is) wat heen en weer hardloop op ‘n baan agter ‘n bal aan, het geen impak op jou lewe nie.
Die probleem is dat elke nou en dan besluit die hele wêreld om op een of ander land neer te daal en teen mekaar rugby te speel. Hulle noem dit glo die rugbywêreldbeker. Skielik gaan staan die hele samelewing botstil en al wat ons dag in en dag uit hoor is “Rugby woohoo! Go Bokke!” en mense soos ek en jy staan in die skadu’s op die kantlyn as uitgeworpenes van die samelewing want ons is totaal clueless. 





Wel, nie hierdie jaar nie. Ek het vir mense soos myself en jy wat clueless is ‘n cheat sheet geskryf sodat ons kan deel wees van die rugbywêreldbeker 2019 vieringe. Hierdie is die resultaat van maande se navorsing. (OK fine, met “maande se navorsing” bedoel ek als wat ek kan onthou van daai een keer wat ek probeer rugby speel het op skool 25 jaar terug. Ek het aanvanklik die rugby reëlboek oopgeslaan, maar dit was ‘n 212 bladsy dokument en, wel fok dit, ek het nie daai soort tyd nie.)



Die basics:
-        Daar is baie rugbyspanne om van te kies. Jy moet één kies. Dit maak glad nie saak waarop jy jou keuse baseer nie. Dit kan wees omdat die materiaal waarvan hulle hempies gemaak is gemaklik lyk, of omdat hulle span naam jou met heimwee laat dink aan jou gunsteling Spur gereg. Of die span met die aantreklikste spelers. ‘n Gewilde rede om ‘n span te kies, is gebaseer op waar jy bly. Byvoorbeeld as jy in Bloemfonfokkentein bly, dan kies jy Vrystaat. Want: Redes. Jy moet egter mooi dink oor jou keuses want jy gaan sekere opofferings moet maak. Byvoorbeeld as jy in Pretoria bly en besluit om vir die Blou Bulle te gil, dan moet jy bereid wees om Klippies en Coke te drink, ‘n mynhoed met horings te dra en ‘n paar reuse blou – uhm – testikels aan jou kar te hang. Is jy bereid om ‘n paar blou pere aan jou Mercedes C-klas te hang? Nee? Dan is Blou Bulle dalk nie vir jou nie.
Tydens die wêreldbeker moet jy vir Suid-Afrika skree anders is jy ‘n verraaier, kommunis en terroris.
-          ‘n Rugbyspan bestaan uit 15 spelers. Maar dis net die hoeveelheid wat gewoonlik op die veld is. Daar is nog heelwat ouens wat langs die veld sit en hoop een van hulle spanmaats breek ‘n been sodat hulle ook ‘n beurt kan kry om op die veld te draf.
-          ‘n Rugbyspeler se toerusting bestaan uit ‘n rugbytrui, ‘n PT broek, ‘n paar tokse en kouse. Ons weet nie of dra hulle onderbroeke nie, en ons stel ook nie belang nie.
Hoekom hulle dit ‘n rugbytrui noem weet g’n mens nie. ‘n Trui is mos eintlik ‘n onooglike lelike ding wat van wol gemaak is wat jou ouma vir jou gebrei het. Dis tog nie wat rugbyspelers aan het nie? Moenie dieselfde fout as ek maak en dit per ongeluk ‘n cardigan noem nie. Jy kry ‘kyke’.
Hulle het ook mouth guards om hulle tande te beskerm. Behalwe die Kaapse spelers, want... redes.
Party van die spelers (die slotte – ons sal later weer by hulle kom) het sulke hoede-goeters op hulle koppe of verbande om hulle ore. Dis om hulle ore te beskerm want ‘n skrum fok jou ore op. (Ek het op skool mos vir ‘n week rugby probeer speel. Ek is gekies as slot. Voor die tyd het ek ‘n perfekte paar ore gehad. ‘n Week later het ek sulke verlepte nat piesangskil ore gehad.)
-          Die doel van die hele spel is om die bal (die ovaal wit voorwerp so groot soos... uhm... ‘n rugbybal?) in die hande te kry en daarmee punte aan te teken. 



Posisies:
Net om jou geheue te verfris, daar is mos 15 spelers op die veld. Elke speler op die veld het ‘n “posisie”. Ek weet dit klink verspot want as jy al ooit ‘n rugby gesien het, dan weet jy dis totale chaos en die ouens hardloop net waar en wanneer hulle wil. Blykbaar is dit verkeerd.
Die span word in 2 gedeel: Voorspelers en agterspelers. Jy gaan my nou nie glo nie, maar die voorspelers is betrokke vóór in die gespelery en die agterspelers is daar ágter rond betrokke.
Die voorspelers se werk is om die bal in die hande te kry en dit vir die agterspelers te gee sodat hulle dit weer kan verloor deur te skop of geduik te word. So nou en dan kry ‘n agterspeler dit per ongeluk reg om punte aan te teken, en dan kry die agterspelers al die lof, alhoewel die voorspelers al die werk gedoen het. Baie soos wat by ons almal se werk gebeur. Jy doen al die werk en management vat die lof. Duidelik is agterspelers ‘n klomp tossers.

Die voorspelers bestaan uit die volgende spelers (gelys volgens die nommer op hulle trui:
1.       Loskopstut: Die stutte is die... wag... ek wil nou nie sê “vetties” nie, maar hulle is definitief nie maer nie. Hulle staan voor in die skrum, so hoe groter en sterker hulle is, hoe beter. Ek het tot nou-net altyd gedink dis “los-skop-stut”, maar so leer ek ook dat dit hulle koppe wat los is, en nie hulle skoppe nie.
2.       Haker: Die haker staan ook voor in die skrum en word omhels deur die stutte. In die ou tyd moes die haker die bal in die skrum gehaak het, maar deesdae werk dit anders. So ek weet nie wat is hulle werk nou eintlik nie. O-ja! Hulle moet die bal ingooi by die lynstaan. En as jy in ag neem dat in Engels hulle ‘n “hooker” genoem word, beteken seker ook dat hulle die sletterige een in die span is? Dalk maak die haker ogies vir die ander span om hulle aandag af te trek as die skrum sak?
3.       Vaskopstut: Dieselfde as die loskopstut, behalwe sy kop is vas.
4.       Linkerslot: Hulle sak ook in die skrum en word in hulle ‘bikini-areas’ gegryp deur die ouens wat agter hulle sak in die skrum. (Dis nogal ‘n verrassing as jy vir die eerste keer as jong seun die skrum sak. So is my onskuld ook daarmee heen.) Hulle moet ook die bal vang in lynstane (of ten minste probeer. Ek het probeer! Get off my back!) so hulle is gewoonlik lank. Die linkerslot staan links in die skrum.
5.       Regterslot: Presies dieselfde as die linkerslot, maar net presies die teenoorgestelde want hy staan regs in die skrum.
6.       Linkerflank: Dis onduidelik presies wat die vent se werk is, want hy moet glo “veelsydig” wees. Hy sak ook in die skrum en is die lummel wat die arme slot aan sy ‘privaat’ gryp. Die linkerflank moet ook eerste by die losskrum wees want hy moet die bal probeer kry. (Klaarblyklik terwyl die regterflank staan en niks doen nie?) Hy moet ook probeer om te verhoed dat die opposisie se baldraer die bal aan sy aankomende voorspelers oorhandig. Ek weet nie wat dit beteken nie – dis net so ge-copy en paste uit die reëlboek.
7.       Regterflank: Mens sou dink hy doen presies dieselfde as die linkerflank, maar net regs. Ek kry egter geen duidelikheid oor wat hy nou eintlik moet doen nie. Dalk staan en mooi lyk? Ek weet nie.
8.       Agsteman: Nie ‘n baie oorspronklike naam vir die agtste speler nie, is dit? Hoekom nie sommer die hele span so noem nie? Eersteman, tweedeman, ens...!? Hy sak ook in die skrum. Ek weet nie wat anders doen hy nou eintlik nie. Hy is baie keer die kaptein en ander kere nie, so hy staan seker en order die ander ouens rond?
9.       Skrumskakel: Dis altyd die kort gat mannetjie op die rugbybaan. Gevolglik het hy ook kortmannetjie-sindroom wat beteken hy’s vreeslik aggro. Die Jack Russel van die span. Siestog. Hy gooi die bal by die skrum in en hardloop dan na die agterkant van die skrum om weer die bal te kry. Pointless much?
10.   Losskakel: Hy is glo die klaskaptein van die agterspelers. Baie bossy. En hy hou van skop. Of is goeie skoppers. Of so iets? Basies sou hulle eerder wou sokker speel.
12.   Binnesenter: Hy staan omtrent in die senter mister Venter. Hy moet die bal vang as die losskakel nie die bal vinnig genoeg wegskop kry in sy droom om ‘n sokkerspeler te wees nie.
13.   Buitesenter: Soos ‘n binnesenter maar net aan die buitekant. Hy’s gewoonlik die een wat sleg ruik, dis hoekom hy moet buite staan. Hy’t nie regtig ‘n spesifieke werk nie en is basies maar net daar om die span vol te maak.
11.   Linkervleuel: Die vleuels is gewoonlik die vinnigste ouens op die veld. Hulle is ook maar net vinnig en rats omdat hulle vrek bang is. Hulle is delikate blommetjies wat gaan kneus as hulle geduik moet word. Hulle is gewoonlik die ouens wat doellyn toe hardloop om die drie te gaan druk, so hulle is die grootste varknekke in die span. Die hele rugbyspan werk hulle gatte af om die bal by die vleuel te kry en om die delikate dingetjie te beskerm, en as hy eventually die drie druk is dit die vleuel wat al die drukkies en soentjies en gelukwensing kry.
Die linkervleuel staan links.
14.   Regtervleuel: Die regtervleuel staan – dit gaan nou ‘n totale verrassing wees: Regs. Verderis dit maar dieselfde storie net ‘n ander naam.
15.   Heelagter: Jy weet seker wat ek nou gaan sê, en jy’s dood reg: Die heel agter staan heel agter. Hulle is so ver van die spel af dat hulle gewoonlik rustig agter die doellyn onder die pale kan staan en ‘n bier drink. So nou en dan kom die bal in hulle rigting dan moet hulle goed kan vang. Gewoonlik skop hulle net die bal weer terug na die ander kant van die baan toe want hulle is te lui om te hardloop, of bang hulle bier mors.



Nou ja, dit is die basiese inligting oor rugby. Volgende keer sal ek die reëls verduidelik, asook tegniese terme wat ek nou reeds gebruik het soos “skrum” en “skop”. Vir huiswerk kan julle bietjie gaan kyk wie speel watter posisie in ons 2019 Bok-span. Moenie uitgevang word soos ek wat gedink het Frik du Preez speel nog flank nie.
Share: