Tuesday, 2 October 2018

Gaan vlieg man!


Kom ons vlieg sê hulle vir my. Dit sal lekker wees sê hulle vir my.
Leuens. Oopbek, blatante leuens.

En so hardloop ons ook die gange van OR Tambo op en af – laat soos gewoonlik. Die enigste indikasie van waar jy nou eintlik moet wees, is die vae leidrade “Terminal A” en “Terminal B”.
Ek word oorval deur die pyn en roep die res van die geselskap tot stilstand.
“Ek is besig om ‘n hartaanval te kry. Gaan maar voort sonder my. Ek het ‘n oraait lewe gehad. Iemand sal eventually my lyk hier kry.”
“Hahaha! Kom nou...!”
“Ek maak nie grappies nie! Ek het ‘n pyn. ‘n Versekerde teken van ‘n hartaanval!”
“Waar is die pyn?”
Ek beduie na my regtersy.
“Jou hart sit nie daar nie. Jy’t miltsteek.”
So moet ek uitvind dat as jy lank en ver hardloop, jy “miltsteek” kry. Totale verrassing vir my op hierdie ouderdom. Gebeur seker maar as jy nog nooit in jou lewe lank en ver gehardloop het nie. Of al ooit gehardloop het nie, for that matter. (Ek meen dis teen my geloof. Spreuke 28:1 – “Die goddelose hardloop weg al jaag niemand hom nie.”)

Uiteindelik kom ons by ‘n moooeerse saal vol check-in counters. (Alhoewel ons aanlyn in-ge-check het, maak dit nie saak nie, want jy moet in elk geval in die ry gaan staan om jou bagasie aan hulle lot oor te gee. Pointless much?)



Daar is – wat lyk soos – honderde toonbanke. Ek verstaan nie hoekom is daar so baie toonbanke as mens se keuses van lugredery vir binnelandse vlugte redelik beperk is nie...? 

Daar is Souf Efrican Airlines, die trots van onse regering: Jy boek net by hulle as jy daarvan hou om onnodiglik meer te betaal, selfs al is daar goedkoper opsies. Of as jy van bietjie drama hou, want SAA se bankrotskap beteken dat hulle enige oomblik hulle deure kan toeslaan en jy gestrand gaan sit op die lughawe. Geniet jou vakansie in Terminaal B. Wonder jy waar is jou bagasie? Toemaar, SAA wonder ook. Jou tassie kan op pad wees na enige van SAA se 90 opwindende bestemmings.

Mango Airlines? Sien SAA. (Wie vernoem in elk geval ‘n vliegtuig na ‘n vrug? Oros, dalk, maar nie ‘n vliegtuig nie.)

Kulula? Hulle neem hulleself glad nie ernstig op nie. Altyd ‘n ou grappie om te vertel. Wink-wink. Nudge-nudge. Maar kom ons wees nou eerlik met mekaar: Wie se “bak plan” was dit nou eintlik gewees om die Kulula vliegtuie en logos kots-groen te maak? 


FlySafair? “Cheap cheap!” Maar...
“Ja, meneer. Jy kan vlieg vir ‘n skrale R399! Dit is mos so te sê verniet! O, jy wil ‘n sitplek hê? Sekerlik. Dit sal R200 ekstra wees. Jy bedoel ‘n sitplek met ‘n veiligheidsgordel? O, ja, daai is R500 ekstra, meneer. En bagasie saamneem? Natuurlik! Dit sal R200 ekstra wees. En toegang na die badkamer? Sekerlik meneer! Dit sal R300 ekstra wees. Vars lug? Natuurlik! R200 ekstra. O, en R150 om die trappe te gebruik om tot in die vliegtuig te kom. Ja, ons is die goedkoopste, hoekom vra meneer?”

Vind jy uiteindelik die regte inboek toonbank, groet jy met verlange jou tassie, as jy hartseer kyk hoe hy iewers heen gestuur word op presies dieselfde band as al die ander toonbanke se bande... 
Niemand is verbaas as hulle bagasie wegraak nie. Jy is net verbaas as jy actually jou bagasie aan die anderkant terugkry – heel en nog steeds ge-vacuum pack is (want as jy hom nie vacuum pack nie, gee jy mos die ouens toestemming om deur jou tassie te gaan gedurende sy reis deur die lughawe. Wil jy kyk hoe goed is ‘n slot nou eintlik? Stuur hom deur OR Tambo.). 


Dan moet jy nou deur security mission. Die koue sweet sak oor jou neer en vir een of ander rede ontwikkel jy ‘n vrees dat hulle sakke vol dwelms aan jou gaan kry. Jy’t nog nooit eers in jou lewe ‘n dagga zol gesien nie, maar jy is skielik vas oortuig hulle gaan ‘n kilogram Mandrax aan jou kry. Jy moet drie keer deur die metaalverklikker stap. Naderhand staan jy net in jou onnie. Ontdek hulle uiteindelik jou tweezers en konfiskeer dit. My liewe hemel, ouens. Ek kry nie eers daai een grys haar wat in my wenkbroue skuil vasgevat met tweezers nie, maar blykbaar is daar ouens wat ‘n vliegtuig kan hijack met tweezers...? As jy goed genoeg is om ‘n vliegtuig te hijack met tweezers, dan verdien jy daai vliegtuig!
(Hulle verbied jou ook mos om woorde soos “bom” en “hi-jack” te sê in die lughawe. Jy’t nog nie een keer in jou lewe die woord bom in ‘n gesprek gebruik nie, maar kom jy op die lughawe is dit vir een of ander rede die enigste woord in jou woordeskat!)


Uiteindelik deur, kom jy aan die anderkant uit en begin die groot wag. Natuurlik genoeg tyd vir ‘n toebie en ‘n koffie. Aan hierdie kant is jy mos nou nie meer in Suid-Afrika nie. Nee, jy is skielik in ‘n ander wêreld waar ‘n ham en kaas bruinbrood toebie R120 kos en ‘n koffie R60. As jy gedink het snacks by die movies is duur, wag totdat jy daar in die lughawe iets moet koop. As jy van plan is om ‘n ligte snack op die lughawe te geniet, maak maar seker jy’t so R2000 in kontant by jou. Duidelik het die ouens wat daar in die lughawe winkels het geen idee wat goed in die res van die wêreld kos nie.

‘n Halfuur voor die hek (wat eintlik deure is?) na die vliegtuig toe oopmaak begin die passasiers al in die ry staan - dis mos belangrik om eerste op die vliegtuig te wees want... uhm... net-nou vlieg die vliegtuig vir jou weg...? (Ek weet nie, ek raai maar.) En deesdae is daar mos nou twee rye. Een vir “Priority pass” en die ander vir die res van ons pleps. Jy betaal ‘n ou ekstra geldjie om daar deur te stap. Ignoreer die feit dat ons almal maar op dieselfde vliegtuig moet klim, en almal eers kan vlieg as die hele lot op die vliegtuig is... Ek weet jy wil dit nie hoor nie, maar die Engelse sê dit so: “A fool and his money are soon parted”.

Dan kom ons nou in die vliegtuig. Nou, ek is ‘n normale size mens. Net-net onder 2 meter lank. (Enige iemand wat korter as ek is, is ‘n kort-gat freak.) Ongelukkig is die wêreld waarin ons leef nie gebou vir normale ouens soos ek nie, maar vir die kort-gat dwergies om my. Alles is daar onder. Alles is laag. Dit is dus ook geen verrassing dat ek my kop gedurig moer toe stamp nie. My kop is al vol knobbels en gate gestamp. (Iemand wat Braille kan lees sal waarskynlik die volledige werke van Shakespear kan lees deur aan my kop te voel.) Nou as vliegtuie se been spasie vir julle dwergies ‘n bietjie knap voel, dan kan julle net raai hoe dit vir my voel... Tight. Ek het egter nou al die truuk uitgewerk: Ek gaan sit so wydsbeen om die stoel voor my, dan sak ek af tot my sewende rugwerwel en haak my knieë om my ore en dra my bene soos ‘n bril. Want die poepol voor my gaan in elk geval net-nou sy stoel laat sak in die “recline” posisie wat my kniekoppe gaan kompakteer. (Wat ook vir my ‘n misterie is, want ek verstaan nie hoe die “recline posisie” wat 0.000005 grade verskil van die regop posisie enige iets vir enige iemand beteken nie...)

Na die “in case of emergency” praatjie loop die lugwaardinne eers deur die hele vliegtuig en spuit die hele gemeente met Doom. Hoekom weet ek nou nog nie.
“Dit is totaal skadeloos!” verseker hulle ons altyd terwyl hulle hulle eie monde styf toe hou. Nou as dit so skadeloos is, hoekom verdompwil spuit julle dit? Sekerlik moet dit skadelik vir iets wees!?
Volg ‘n geniesery en gehoesery. Kugge-kugge.
“Skadeloos." Right.

Kom die opstyg. Soos ‘n rollercoaster. Jippie. Maar dis ook die gevaarlikste deel van die vlug. As jy dink ek verwys na die feit dat meeste vliegongelukke binne die eerste 10 minute van ‘n vlug gebeur, is jy verkeerd.
Nee.
Ek verwys na die feit dat die mens se buik vol gasse is. Die lugdruk verander soos wat die vliegtuig styg. Die gasse in almal se mage sit uit. Die gasse begin dan ontsnap. (Foeit!) In daai eerste 10 minute sak daar ‘n chemiese wolk toe in die kajuit. Die lugwaardinne weet al. Waarnatoe dink jy verdwyn hulle? Hulle vlug voor die elfde plaag – die reuk van kerrie, biltong en boerwors wat dae lank al fermenteer en die dood self - in gasvorm. Jy probeer verwoed daai aircon-blaas-dingetjie hier bo jou so wyd as moontlik oopdraai, maar die effe luggie wat daar uitkom staan geen kans teen die biologiese wapens van massa vernietiging nie.

Net-nou kom die kos trollie verby. Nie dat jy lus is vir iets nie, want jy is nog so dik gevreet van jou R120 se ham en kaas toebie. (Dis sarkasme as jy wonder.)
As jy oor die see vlieg, dan is die kos mos ingesluit by jou kaartjie. Kry jy mos ‘n “heerlike” vyfgang maaltyd (chicken or beef?). Ek verstaan nie hoekom kos anders werk daar bo nie. Hier op die grond het jy ‘n ordentlike bord kos met ‘n groot steak, baie tjippe, ‘n slaai, en drie groentes nodig om jou deur te trek en die hongerte te stil. Daarbo is 2 repies seningrige bief, 15 ryskorrels, ‘n gestoomde wortel en ‘n Cream Cracker met 'n moo-moo kasie kammakastig genoeg om jou te red van uithongering. En daai pakkies peanuts? Daarbo raak jy histeries opgewonde as dit snack-tyd is en die lugwaardin jou ‘n pakkie met 5 peanuts in oorhandig. Ek meen, as iemand hier op die grond vir jou daai selfde hartseer pakkie van 5 peanuts gee, gaan jy vir hulle sê “Voertweg met daai kak! Ek soek dit nie eers verniet nie!”



Op ‘n stadium moet jy kleinhuisie toe. KLEINhuisie in die mees letterlike manier wat hulle kon uitdink. Jy wag totdat daar niemand naby is nie. Glip in. 1 minuut later kom jy uit, wag die hele vliegtuig se passasiers voor die deur. Jy mompel skaam dat die reuk daar was voordat jy ingegaan het; ore bloedrooi gebloos.

Aan die einde van die vlug raak die wiele skaars die grond, dan spring die hele spul mense op en ruk hulle handbagasie uit, net om nog daar te staan vir die volgende halfuur en ‘n verdere halfuur te wag vir die ander bagasie. Mense is weird. “Hurry up and wait!”

"Kom ons vlieg. Dit sal lekker wees." Julle blerrie liegbekke. Vlieg is nie lekker nie. Jy dink seker 'n wortelkanaal is ook lekker, jou sadis?
Lekker? ‘Tsêk!

Riaan Palmer
Share:

Friday, 28 September 2018

My Ma sê ek mag nie meer vloek nie

My Ma sê ek mag nie meer vloek as ek iets skryf nie, anders gaan sy nie my posts like nie. Skoonma het my ook al daaroor aangespreek...
Dis nou ‘n penarie want partykeer is al woord wat in ‘n sin werk “fok”. Dit weerspieël net presies die gevoel wat ek wil uitdruk. “Oepsie poepsie” of “alla mapstieks” het mos nou nie dieselfde betekenis as “ag fok” nie.

Gertruida stamp haar maermerrie teen die skottelgoedwasser wat alweer oopstaan. “Gedoriewaar dit is seer!” roep sy uit. Sy buk af om die skottelgoedwasser toe te maak en stamp haar kop teen die rak. “Eina fok!” roep sy...
Nou sê jy vir my watter een van daai twee was die seerste?

Maar Moeder en Skoonma is seker reg, want ek sien ons Dominee het ook al een of twee van my posts ge-like. En ander mense van die gemeente ook! Nou moet ek Sondag daar in die kerk gaan sit met my se vuil bek, tussen die gemeentelede wat voor hulle heilige siele weet wat ek alles kwytraak... En dan gaan onse Dominee daar voor staan om vir my die Woord oor te dra, ook met die wete wat ek alles al kwytgeraak het. Gelukkig is sy nie soos daai ou, Afrikaner-oom dominees wat in sulke lettergrepe preek nie. Beklemtoon mos hier en daar ‘n woord met sulke ongemaklike pouses terwyl hy vir ‘n spesifieke gemeentelid kyk: “En JY... BROERs... en susters...mag nie JOU... buurman se VROU... begeer nie...” Dan kyk hy in jou rigting soos hy ‘n JY beklemtoon, maar nou’s jy ook nie seker of kyk hy vir jou of die ou agter jou nie. So ewe skielik kom jy agter hoe vuil jou skoene is, en die ou wat hier agter jou sit het ewe skielik daai droë kugge-kugge wat jy net in die kerk kry.
Dankbaar dat ons kerk se ons dominees darem nie so preek nie. Ek vermoed tog dat sy eendag uit Efesiërs 4 gaan lees... “vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie…” en dan met ‘n laaaang pouse stip vir my gaan kyk. Ek bloos sommer al klaar. Kugge-kugge.



Maar ek wil nie praat oor die kerk of vloek nie. Ek wil praat oor my se Ma. Sy is telkemale die slagoffer van my skrywe. Mense wat haar nie ken nie, sien seker ‘n prentjie van so ‘n kwaai boertannie wat my sommer moer met dit wat sy op daai oomblik in haar hand het as ek kak aanjaag (ek bedoel “kwaad doen”) - al is dit nou ‘n besem of ‘n broodmes. Dis nie waar nie. Sy is sag en teer – binne en buite, al het sy maar ‘n moeilike lewe gehad. En met “moeilike lewe” bedoel ek sy moes ons drie hooligan kinders grootmaak en die ou toppie ook gelukkig hou.
 
My ouer broer? Picture een van daai ISIS terroriste en maal dit met Rambo en tel Chuck Norris by en dan maal jy dit met Chuckie en Problem Child en sprinkel so bietjie van daai “The Omen” kind by. Dit was basies my broer op ‘n goeie dag. Hy was op kleuterskool toe hardloop die buurt se Rottweilers al vir hom weg, as hy die straat af stap. Hy was op laerskool toe was die hele buurt se kinders al verbied om by ons te kom speel. Teen die tyd wat hy ‘n tiener was, is daar briewe aan die Katolieke Kerk gestuur om navraag te doen oor wat Exorcisms nou eintlik behels. Ek is nie heeltemal seker of was dit ‘n sukses nie, maar ouboet het in sy twintigs darem normaal geword. (Normaal is natuurlik relatief.) Ek weet net Moeder het dit nie maklik gehad nie, maar wonder bo wonder het sy hom groot gekry sonder dat hy tronk toe is. Hy het actually ‘n baie suksesvolle loopbaan, so eintlik het die Ma ‘n goeie taak verrig. Ons sal seker nooit weet hoeveel senuwee-ineenstortings dit gekos het nie. Daai dae was sielkundiges en pienk pilletjies nog nie die antwoord gewees nie; Ma’s moes maar sterk staan en hulleself snags aan die slaap huil.


My jonger suster weer is ‘n yster vrou. Sy was ‘n dag oud toe het sy al ‘n opinie en wil van haar eie. Sterk persoonlikheid en staan vir niks en niemand terug nie. Sê jy “Nee”, sal sy vir jou wys jy het eintlik bedoel “Ja, sekerlik!”. Moeder moes gedurig ‘n muur wees tussen sus en oorle Pa, want Pa was ook maar ‘n moeilike ou toppie gewees. Een dag is my suster en Pa soos tyre en tube, en die volgende dag was hulle olie en water, dan moes die Ma skild wees en vredemaker speel. Seker baie letsels om te wys, maar sy hou dit vir haarself...

Ek was natuurlik ‘n engel kind gewees. Middel kind, so niemand het eers geweet ek bestaan nie. Was totaal onafhanklik van dag een af. Sommer my eie melk in die tietiebottels gegooi en my eie doeke omgeruil. (Ek versoek vriendelik dat julle nie navraag doen oor hierdie feite nie. Wie gaan julle in elk geval glo – vir my, eerlikheid homself, of die ou tannie wat bekend daarvoor is dat sy my met die besem gemoer het?) Tensy jy ‘n middel kind is, sal jy nie verstaan nie... Dit is eers toe my broer vir my gevra het hoeveel sakgeld ek kry, dat ek besef het daar word sakgeld uitgedeel. My skool trofees was net gebruik om suster se sertifikate regop te hou. Sekuriteit by Checkers ken al jou Ma se nommer uit hulle kop uit, so baie vergeet sy jou daar; jy’t gedink die fliek “Home Alone” is ‘n  dokumentêr. Jy weet 12 Augustus is “Internasionale Middel Kind Dag”, maar jy is al een wat dit weet. Die eerste keer wat jy nuwe klere gekry het, en nie hand-me-downs nie, was toe jy met jou eerste salaristjek Edgars ingevaar het. In my geval was die ergste waarskynlik as jy vir die eerste keer by ‘n Juffrou klas kry wat voorheen vir jou broer skool gegee het: Die oomblik as sy hoor jy’s ‘n Palmer kry sy ‘n twitch in haar linkeroog en word jy summier verplaas na die voorste ry banke toe...



So moes my se Ma die drie mees uiteenlopendste brats in die wêreld groot kry. Ons drie se verskillende persoonlikhede en groot verskil in ouderdomme was ‘n natuurlike kruitvat vir konflik. Sy het ons groot geskree, geslaan, geskel, gesoebat en sonder twyfel gebid. Maar sy het dit reggekry. Ons het altyd kos gehad om te eet (en nog, want daar is kinders iewers in Afrika wat nie kos het nie. Ek verstaan steeds nie hoe die feit dat ek my Brussels sprouts moes afwurg die honger kinders gehelp het nie?). Ek het altyd skoene en klere gehad, al was dit nie ‘n brand name nie. Ek het nooit koud gekry in die winter nie. Ons het ten minste een keer ‘n jaar gaan “vakansie” gehou. (Ons het gekamp. Party mense sal dit dalk vakansie noem, maar ek noem dit “vakansie” want waar in jou lewe is kamp vakansie hou? Ek het al genoem ek hou nie van kamp nie, nie waar nie?)



Vandag, as ek terug dink kry ek skaam as ek dink wat sy alles gedoen het. Sy was ‘n “huisvrou”. Sy’t ook vir ‘n tuisnywerheid gebak vir ekstra inkomste. Teen sesuur wat ek uiteindelik opgestaan het, het sy al ontbyt gemaak, ‘n baksel ystervarkies opgetower, die beskuite verpak, skottelgoed gewas en ‘n paar goedjies gestryk. Vanmiddag as ek by die huis kom, is die huis silwerskoon, daar is middagete, 10 vla koeke staan gereed verpak vir aflewering en is die honde reeds versorg. Meanwhile kyk ek net TV of speel in my kamer. Vanaand kry ons 'n bord gekookte kos, word die beskuite in die oond gepak om te droog, bitch en moan ek as die Ma my vra om asseblief die wasgoed af te haal. Dan neul ek “Ek moet ook alles doen!” en is dikbek tot more. Jy loop en vertel vir almal hoe oulik en fluks jy is as jy een keer die skottelgoed gewas het.  

Die vrou was vier ander mense se persoonlike slaaf. Sy kon nie eers siek word nie want die hele huis sou net daar inmekaar gestort het. Wat ‘n skande. Sy behoort eintlik vereer te word met ‘n standbeeld van haar in Kerkplein. Dit is die vroue – al julle Mammas - wat die wêreld aan die gang hou. As hulle eendag hulle hande sou moet vou en ophou werk, sal die moderne samelewing straks in duie stort. Daar sal oorloë wees. Hongersnood. Peste en plae. ‘n Geween en ‘n gekners van tande.



My se Ma kan trots wees op wat sy verrig het met die bitter min hulpbronne wat sy gehad het. Nie een van haar kinders is ‘n dronkie nie (ek is ook trots op haar dat sy haar nie tot alkohol gewend het nie). Nie een van ons was in die tronk nie. (Waarvan sy weet nie.) Ons staan op 'n paar sterk skouers. Gekneus en vol letsels, maar sterk. Ouboet is ‘n leier in sy vakgebied, het ‘n plaas en nou terroriste van sy eie wat hom grys hare gee (of is dit nou bles maak?). My suster, ‘n pragtige mens, sag op die oog, Miss Popularity haarself. 

En ek? 
Ek sê so nou en dan “Fok”. Maar dis oraait. Dis met gevoel. En ek’s die middel kind, so niemand kom in elk geval agter nie.

Riaan Palmer
Share:

Thursday, 27 September 2018

Die Fortuner Tannie post veroorsaak 'n baba otter

En daar gaan my gebabbel oor die Fortuner tannies "groot". Posts word ge-share en daar word ge-comment. DANKIE! Aan elkeen wat share en comment en saam praat!!!
Dis awesome. 
Niks lekkerder as jy sien hoe dit die wêreld ingestuur word en almal lag, comment en deel saam stories nie. Honderde shares op Facebook, meer comments en likes as wat ek kan tel en meer as 10,000 views hier op die blog. My foon het skoon hoofpyn van al die harde werk om my te vertel van die notifications. Het ek al genoem dis awesome? Wel, dit is. 




Ek weet, ek weet – ek klink bietjie soos ‘n tiener meisie wat opgewonde raak oor sy 10 Facebook likes gekry het op haar nuutste selfie...
“Word bietjie groot, Riaan.”
Not likely. 
My stories is soos my kinders wat ek die wêreld instuur. Jy is trots op hulle en hoop hulle doen goed. Skryf ‘n liedjieskrywer liedjies wat niemand moet luister nie? Verf ‘n kunstenaar ‘n painting wat niemand mag sien nie? Nee, dis daar vir almal om te geniet. Al verskil is, myne kos niemand ‘n enkele sent nie.Ek is nie mooi of vinnig of sterk of het 'n mooi stem nie - dis al wat ek het...

Ek is ook absoluut stomgeslaan oor hoe lekker al die Fortuner eienaars saam lag en spot. Julle rock!
(Behalwe een suur gat Oom Martin wat meen “Klink vir my maar na 'n baie verveelde huisvrou(man) se geweeklaag oor die lewe hul so stief behandel” en voel ek moet bietjie lag vir ‘n slag. Ja, practice what you preach, Oom, en haal die suurlemoen uit jou se mond – as dit is waar hy sit...)


En ek dink ek het tannie Louise se gevoelense seergemaak... "Klink vir my na jaloesie Ag siestog!"


MAAR...
(Natuurlik is daar ‘n maar – het jy nou regtig gedink daar gaan nie vandag ge-moan word nie?)

Dit is bietjie langer as ‘n week terug wat ek my gemoedsbekakking gehad het oor mense wat my goete steel. Ek skryf ure lank aan ‘n stukkie, deel dit en een of ander horrelrug, boktietsuiger kom verby, copy en paste my ou skrywe na ‘n ander bladsy toe en maak asof hulle dit geskryf het. Ek verstaan nie hoe mense dink dis OK nie? 

Sê nou maar jy doen ‘n finansiële jaarverslag by die werk - jy is baie chuffed met jou harde werk en jy wys dit Dikgat Gert in die cubicle langsaan. Terwyl jy gou badkamer toe hol, Tipex Dikgat Gert jou naam van die verslag af, skryf sy eie naam daarop en vat dit vir die baas. 
Die baas sê “Wel gedaan Dikgat Gert! Goeie werk! Vat die res van die middag af!” 
Hoe gaan jy voel? Huh? Toe? Nou hoe is dit anders as om my werk te copy en paste en te maak asof jy dit geskryf het? En soos ek gesê het, kry ek nie ‘n dooie sent uit my blog of Facebook posts nie. Al wat ek daaruit kry is die satisfaksie om mense se reaksies te sien. 
(En ek sal eendag ‘n ‘n boekie of twee wil laat druk, so dit sal so ou klein bietjie help as mense my naam ken.) 
Dis al wat ek wil hê.

Maar, nee. Hulle steur hulle nie eers aan my dreigement dat ek gaan begin videos maak terwyl ek in my kar sit nie...

So laat weet iemand my, my post is ge-copy en paste na ‘n ander groep toe. (Dankie aan die loyal fans! Julle is my favouriteste!) 
Kraam ek toe mos nou ‘n baba otter. (Die pragtigste dingetjie, maar wie de moer moet hom nou grootmaak?) 
Fok dit. 
Ek stuur vir die tannie ‘n Facebook boodskap – vreeslik apologeties, so asof dit my fout was – en vra of sy nie net my ou naampie bo-aan skryf nie. Sy’s vreeslik jammer en maak dadelik so. No mess, no fuss. Ek het toe nou eintlik verniet ‘n ottertjie gebaar. 

Uit nuuskierigheid (OK, OK – seker verwaandheid) doen ek toe ‘n Facebook search om te sien of is my se post nog elders. Sowaar. Nog iemand wat dit op ‘n ander groep gaan copy en paste het. 
Nee, ek weet mos nou hoe om dit te hanteer en stuur weer ‘n apologetiese boodskappie aan hom en vra of hy nie die post bietjie wil edit nie. Uhuh – die keer word daar teëgestribbel. Hy het mos ‘n link ingesit na my blog toe... 
Sug. 



Nietemin, edit hy die post en skrywe my se naam in groot letters bo-aan sy post met sulke rooi uitroeptekens en vraagtekens. Passive aggressive much? Los dit daar, maar sy laaste boodskap aan my, is my pot se deksel... “In die toekoms maak net seker jy skryf dit self indien jy so iets post op Facebook.”
Stomgeslaan... Duidelik is die ironie totaal verlore op die een. Ek sê maar net, ja, ek skryf my eie goed, en beweeg kopskuttend aan met my lewe.


Iets anders wat vir my nogal weird is, is al die Friend Requests... Elke keer as een van my skrywe gewild is en die land ingestuur word, dan word ek oorval met die friend requests op Facebook. Oor die jare heen het ek al die friend requests opgegaar – dink dis nou al ‘n duisend of wat. Te bang om te kyk... Het julle Ma’s julle nie geleer jy praat nie met vreemde mense nie? Dis in ons ingedril as kind! Jy praat nie met vreemde ooms nie. Jy vat ook nie sweets by hulle nie. Jy klim ook nie in hulle shady bakkies nie. (Apparently was dit OK om met vreemde tannies te praat?)


Ja, jy is doodreg. My kop vat mos nou nie lekker nie. Twee paragrawe terug bitch en moan ek dat my naam moet orals staan, soos ‘n dom-astrant, kammakastige Hollywood ster. (Wat 'n narsis!) En nou wil ek nie hê mense moet Facebook maatjies met my wees nie...? Defok?
Ja... ek gaan seker my strategie moet bedink. Die probleem is net, hoe weet ek een van die Friend Requests is nie van ‘n Fortuner Tannie wat wil uitfigure waar ek bly nie? Wag sy dalk more voor my hek in haar ‘tuna met haar gym buddies? Nee, fok dit. My privaat lewe en die mense wat na my is, moet maar privaat bly. Ek gaan myself mos nooit vergewe as een van my familielede moet deurloop onder ‘n Yoga-move van ‘n Fortuner tannie nie... 

Riaan Palmer
Share:

Wednesday, 26 September 2018

Fortuner Tannies


Dis nog nie eers ‘n week sedert my mees onlangse senuwee-ineenstorting nie... Ek het alweer hartkloppings. Hierdie keer is dit ‘n tannie in ‘n Fortuner. Praat op die foon en sit maskara aan die wimpers. Ry so dat my lewe verby my oë flits. Twee keer. (Moontlik het ek hartkloppings oor wat ek in die terugflitse gesien het?)



Weet julle van die Fortuner tannies? As sy nie op die foon is nie, staan sy so reg in die middel van ‘n vier-rigting kruising met haar big-ass Fortuner - so dat ek nie kan verby sien in my plat karretjie nie. Dan sit en pik-pik ek mos so by die robot en wonder of is dit nou veilig om oor te gaan of nie. Noem dit sommer Robot Russian Roulette. Intussen lê die taxi-bestuurder hier agter my so op sy toeter laat die ding skoon hees word en ‘n oktaaf hoër begin toet. Ek beduie maar in die spieëltjie so met die een vinger (die middelvinger) dat ek nie verby die Fortuner kan sien of dit veilig is om oor te ry nie. 

Tannie, dis nie my skuld jou man kon nie die ekstras bekostig en vir jou Bluetooth in die Fortuner kon sit nie. Jy dink jy kan goed bestuur so met die foon teen die oor, maar hier van agter af sien ek alles mooi en ek kan jou verseker jy bestuur soos ‘n drol. Dalk bietjie slegter. 

My vraag is: Wie is hierdie tannies? Ek ken baie mense, maar ek ken nie een so tannie in ‘n Fortuner nie. Maar tog is hulle orals om ons! (Kyk bietjie om jou rond as jy daar op Atterbury in die verkeer staan: Ek wed jou een of meer mense om jou is ‘n Fortuner tannie.) Wie is hierdie mense? Ken een van julle so ‘n tannie in ‘n Fortuner? ‘n Naam? Waar sy vandaan kom? Waarheen sy op pad is? Of is hulle dalk aliens wat hier tussen ons bly, en ons dink almal: Nee, dis iemand anders se vrou... Weet julle van wie ek praat? Het julle hulle al gesien?

Ek sien hulle in die oggende as ek verby die laerskool ry. Die Fortuners is in so ‘n laer getrek in die parkeer areas voor die skool. Hulle het almal gym klere aan – nee, nie sweetpakke nie. Sulke stywe ski-pants goeters, met matching brands van die skoene tot bo by die toppie. Gewoonlik Reebok maar blykbaar is Adidas ook aanvaarbaar. Geen normale boere tannie lyk so nie. Nee, nee. Hierdie girls is almal rietskraal en het waarskynlik jare laas ‘n hamburger en chips gesien... Anyway, gym klere aan en ge-make-up. Moet ons nou dink julle is op pad gym toe of kom van die gym af? Met ‘n ge-make-up-de (my oud-Afrikaans juffrou moet daai woord sien - ek sweer sy gee my 'n plathand teen die oor!) gesig wat jy straks in ‘n Vogue magazine gaan sien. En moenie die string goue bangles vergeet nie – hou ook die Suid-Afrikaanse myn industrie aan die gang op hulle eie. Klink ook sommer soos 'n wind-charm soos sy met die arms beduie. Staan hulle in sulke groepies en chat, elkeen met ‘n waterbottel in die hand. Hulle flous egter niemand nie. Ons weet almal dis Vodka. Waaroor chat hulle, wonder ek? Is dit regte mammas? Het iemand al gesien of hulle actually kinders uit die Fortuners laai? 
 Ek het al regte mammas gesien. Dis daai wat nog die slippers aan het, en moes kies tussen hare kam of betyds by die skool uitkom... Ja, ek sien julle, regte mammas, wat uit die Getz uit spring terwyl die kar nog half beweeg, ‘n tas uit die boot ruk, ‘n laaste tandepasta merk met ‘n nat vinger van ‘n kind se wang af vee, koebaai waai en weer om die draai verdwyn...

Het jy al in ‘n restaurant gesit – minding your own business – dan hoor jy daai stywe stem hier agter jou...? 
“Can I speak wiff de manager pleese”? 
As jy omkyk kan ek jou guarantee dit is ‘n Fortuner tannie wat garnish op haar bord gekry het, nadat sy uitdruklik gesê het “No garnish”... 
Gewone tannies moan nie oor garnish nie, want hulle is net te dankbaar dat hulle vir 10 minute op hulle agterwêreld kan sit en nie hoef kos te maak nie.

Ek het al agter die Fortuner tannies gestap in Menlyn; hulle hoor chit-chat...
“Nee,” seg die een. “Ek geniet ‘n bietjie wyn in die middag, net om af te sluit.”
Die ander twee knik instemmend.
Moet jy regtig? ‘n Bottel wyn? Om af te sluit van wat? Of dalk, Annetjie, dalk is jy net ‘n alkoholis? Het jy al daaraan gedink?
Ek het geen pyn met wyn nie. Ek het vele wynplase al gered van totale bankrotskap so op my eins. Maar ten minste is ek nie in denial daaroor nie. Gewone tannies drink ook wyn. Op Maandae sommer so uit die hip flask uit tussen bondels wasgoed.

Ken julle nou daai Fortuner tannies...? Weet julle van wie ek praat? 
(OK, ek sê tannies, maar hulle is waarskynlik jonk genoeg om nie te weet wat ‘n “Baas en Mossie” is nie…) 
Waarnatoe ry hulle in hulle Fortuners? Op pad Dakar toe? Wie is hulle? Is hulle iemand se vroue? Het julle al een van hulle ontmoet? Of is hulle dalk regtig aliens wat hier tussen ons kom en gaan en niemand kom dit agter nie? 

** Vrywaring: Hierdie is tong-in-die-kies sosiale kommentaar. Ek het twee vriendinne wat Fortuners ry, en hulle is pragtige mense. As hulle nie besig is om te bestuur nie.
Moet my asseblief nie kom bliksem nie. Ek kan skaars my onderklere aantrek sonder om om te moer, nou wil jy my kom slaan...?

Riaan Palmer
Share:

Tuesday, 25 September 2018

Die monster onder die bed


“Mamma!!! Maaaaaaa!”

Fok. 

Sug.

“Ja!?”
“Hy’s terug!!!”

Sug.

Ek gooi vies die hemp neer en maak my oë toe. Ek maak my oë oop net om in die berg ongestrykte wasgoed vas te kyk. Vanaand is die aand... Vanaand gaan die bloed vloei! Ek loop met ‘n mission die gang af en stamp die kamer se half-toe deur oop. Ek kyk die kamer op en af maar in die flou lig wat van die gang af kom, kan ek nie veel sien nie en sit die lig hardhandig aan. In die middel van die bed sit my 8-jarige dogtertjie in ‘n bondeltjie. Dis net haar oë – so groot soos pierings – en die blonde ponytail wat by die prinses Elsa duvet uitsteek. My oë soek deur die kamer met sy pienk mure, versier met prente van unicorns, Olaf, vele prinses Elsas en ‘n Tangled poster maar ek sien nie waarna ek soek nie.

“Waar’s hy?” My stem is so hard en woedend ek skrik sommer self.

“Onder die bed.” Antwoord my meisiekind in a piepstemmetjie wat duidelik na aan trane is.

Ek sak op my knieë neer (tot my spyt, want ek gaan eventually hier moet opkom op ‘n manier) en lig die val van die bed op. Dis pik donker onder die bed, maar soos my oë gewoond raak aan die donkerte begin ek vorms raaksien. ‘n Barbie pop se kop. Ek wonder waar die arme vrou se lyf is en wat sy nou weer gedoen het om onthoof te word. Die hel waardeur die arme vrou ook moet deurgaan in miljoene huishoudings... Verder is daar ook vele los Legos, ‘n leë Steri stumpi botteltjie, ‘n pakkie Niknaks, vele Barbie uitrustings wat seker daar beland het omdat dit nie meer in die mode is nie, ‘n verlore kind van ‘n Koala Sylvanian familie en ‘n een-oog teddiebeer wat eendag lank gelede die liefde van ‘n kind geken het. 

“Kyk hoe lyk dit hier onder! G’n wonder die ding kom elke keer terug nie, dit lyk dan soos ‘n nes!”
Net stilte antwoord my van bo die bed af.

 Image result for monster cute gross under bed

Ek vroetel in my sakke totdat ek my selfoon opspoor en sit die flits liggie aan. My frons word ‘n halwe sentimeter dieper soos wat ek nog dinge onder die bed sien wat my ‘n pyn gee. Die lyke van lang-vergete dustbunnies, ‘n kots-groen vetkryt, ‘n hele kolonie gebruikte tissues en iets wat moontlik op ‘n stadium ‘n toebie was, maar nou ‘n broei stasie is vir 39 bekende en 45 onbekende spesies muf. 

Uiteindelik vang my oog ‘n skurwe hakskeen soos wat hy agter die leë strawberry Steri Stumpi botteltjie probeer inkruip.
“Het jou, jou diklip vark nek!”
Ek gryp die voet en begin trek.
“Nee! Asseblief! Nee! Ek sal nie weer nie...! Heeeeeelp!” Ek steur my nie aan sy gille nie. Ek weet al die bliksem is ‘n drama-queen.  

Ek sleep hom tot by die voetenent van die bed, en los hom toe hy ophou spartel. Die oomblik wat ek hom los begin hy dadelik weer kruip in die rigting van die kas wat oopbek staan.
“Sit stil, fokker!” Roep ek en hou my hand dreigend in die lug as teken dat ek gaan begin klappe uitdeel. Hy knyp koes-koes sy swart ogies toe en sy dik onderlip begin liggies bewe.
“Asseblief moenie...” Sê hy smekend, maar ek laat sak nie my hand nie.
“Mamma! Jy’t die f-woord gesê!” Kom ‘n beskuldigende stem van bo-op die bed. Ek het vergeet ek het ‘n audience en laat sak verleë my hand. 

“Kom!” Sê ek en gryp hom aan sy grillerige arm sonder om eers te wag vir ‘n reaksie. Ek kom kreunend orent en verwens weer die konsep van gravitasie voordat ek deur toe stap terwyl ek Meneer half sleep half dra. Ek stop by die oop deur en sit die lig af.
“Slapies nou maar my liefies kind. Alles is onder beheer.” Sê ek in ‘n soetsappige stem, en voeg by “Sê nag!” en lig my voet met ‘n skop dreigement in die rigting van die karakter wat ek steeds styf aan die arm beet het.
“Nag. Lekker slaap.” Sê hy saggies terwyl hy met groot – waarskynlik smekende – oë na die jong meisietjie kyk wat besig is om weer haar lê kry.
Ek wag totdat sy gemaklik lyk en trek die deur op ‘n skrefie agter ons toe. 

In die gang laat los ek sy arm, want ek gril tot in my tone vir die harde haartjies op sy skurwe arm.
“Toe. Stap.” Sê ek met gevoude arms. “Kombuis toe.” Antwoord ek op sy vraende kyk.
In die kombuis beduie ek na ‘n stoel by die tafel toe.
“Maar ek...” Wil hy met sy stories begin.
“Sit.” Sê ek sonder die uitroepteken, maar in geen onduidelike terme nie.
Hy klouter by die stoel op en bekyk die kombuis op en af en heen en weer in ‘n poging om my nie in die oë te kyk nie.
“Hoeveel keer nog? Hoeveel keer moet ons nog deur dieselfde roetine gaan? Het ek nie nou al vir jou mooi verduidelik nie?” Vra ek en wag vir ‘n antwoord.
“Dis my werk. Wat verwag jy van my? Jy’t gesien hoe lyk dit onder daai bed! Dis soos catnip vir my. Ek kan nie anders nie!” Sy stemtoon is hopeloos te uitdagend na my sin.

Ek beur vorentoe sodat my gesig reg voor syne is. Ek is onmiddellik spyt want daai vrot asem sal die braafste Rambo se oë laat traan. Maar ek hou my pose.
“Wat de fok is fout met jou man? Jy is ‘n verdomde pervert, man! Kruip rond onder klein dogtertjies se beddens... Jy is siek in jou kop, man. Jy’t hulp nodig.”
“Dis my werk... Ek...” Hy wil teë praat maar bedink hom as hy die woede in my oë sien.
“Ek het nie tyd of krag vir hierdie kak nie. Seriously. Kan daar nie net 5 minute verbygaan dat daar nie ‘n krisis is nie? Net een dag wat ek nie ‘n skooltaak op nommer 99 hoef te bou nie? Net een dag wat ek nie moet jaag van hokkie oefening na kitaar oefening toe nie? Net een fokken dag wat ons kan betyds wees sonder dat ek soos ‘n goedkoop stadshoer hoef te skreeu nie? Net een aand wat ek nie jou skurwe hol uit haar kamer hoef te gooi nie. Een dag wat iemand my nie vra ‘Wat is vir ete’ nie. Net een dag – een enkele dag - wat die dronk gat pa net sy deel sal doen in stede daarvan om soos ‘n mak moer op die bank uit te paas nie. Een dag wat ek nie blou kolle hoef...” My stem raak onverklaarbaar weg. “Net 5 fokken minute vir myself. Dis al wat ek vra. Die naaste wat ek aan ‘n spa kom is as ek die skottelgoedwasser oopmaak en die stoom in my gesig blaas... Dis nie ‘n fokken grap nie wat lag jy jou klein tosser...?!”
Ek laat sak moedeloos my gesig in my hande. Ek’s nie seker of ek actually huil en dit net voel of ek wil huil nie. 

Ek voel sy skurwe handjie met die lang naels oor my arm vryf. Dit voel soos skuurpapier, maar ek gee nie om nie. Vir daai oomblik voel ek die frustrasie, die seer, die alleenheid uit my spoel soos ‘n stroom oor ‘n droë rivier oewer in die Karoo. ‘n Oomblik wat iemand omgee. ‘n Oomblik wat die waansin ligjare weg is. En net so skielik hou die aanraking op. Ek kyk nie op nie. Ek hoor sy stoel skuif. Die kaal voetjies oor die vloer loop. Die ketel wat aangaan. ‘n Koppie wat neergesit word en ‘n teelepel wat doenig raak met iets. Ek sit steeds koponderstebo, gesig in my hande. Ek voel die nattigheid en besef dat ek wel regtig gehuil het. Uiteindelik hoor ek hy sit die koppie voor my neer en begin hy troostend my rug vryf. 

Ek kyk op in sy horribale gesiggie. Dis vol vratte. Skewe tande steek hier en daar verby die dik lippe. Die groot swart oë kyk met teerheid en vol verstaan diep in my siel.
“5 minute. Net vir jou. Sien jou more aand.”
En dan is hy weg.

Share: