Sy sit sommer so
plat op die grond. Haar hart lê in skerwe so om haar. Haar gesig verraai geen
emosie nie. Geen trane. Ek vermoed die trane is klaar. Elke druppel wat kon val,
het geval. Daar is waarskynlik al twee diep spore oor haar wange – onsigbaar -
wat deur die erosie van trane uitgekerf is.
Een vir een tel
sy ‘n skerf op om haar kosbaarste besitting weer aanmekaar te probeer kry. Soos
‘n tienduisend-stuk legkaart probeer sy die stukke bymekaar pas. Al verskil is,
sy het geen prentjie van hoe die eindproduk moet lyk nie. Sy moet die legkaart
uit geheue probeer bou. Elke brose skerf het ‘n begeleidende herinnering wat
herroep moet word om sy plek te kry; om uiteindelik weer die pynlike fyn hart
aanmekaar te las.
Ek kyk in stilte
hoe sy nog ‘n skerf optel. Sy vertel van die skerf. Dit was die geboorte van hulle
eerste kind. Sy vertel van die hospitaal. Die dae wat selfone nog nie bestaan
het nie, en daar verwoed agter hom aangebel is om hom in die hande te kry. Hy
moes kom. Sy eersteling was op pad. Sy is nie seker waar en hoe hulle hom
uiteindelik opgespoor het nie, maar hy was daar. Hy was saam met haar trots.
Saam was hulle bly oor die nuwe lewe. ‘n Simbool van hulle liefde. Die vlymskerp
punt van die skerf sny haar, en sy probeer om nie die pyn te wys nie.
So tel sy die een
na die ander skerf op en vertel elke skerf se verhaal. Sy vertel egter nie net
van die skerwe nie, sy vertel ook van die krake. Soos wat elke skerf deel van
haar hart is, en ‘n storie het, so het elke kraak ‘n storie. Maar dis nie mooi of
lekker stories nie, want dit is die krake wat gelei het tot hierdie punt. ‘n
Mooi, gesonde hart kan ‘n stamp oorleef. Of selfs as dit laat val word. Maar ‘n
hart vol krake... Sy draai die skerf om en om tussen haar vingers. Ek weet nie
of is dit omdat sy nie seker is waar dit pas nie, en of sy die skerf se storie
in haar gedagtes herleef nie. Dit is ‘n besondere mooi skerf. Die kleure dans
pragtig oor die delikate oppervlakte soos wat die lig elke faset vang terwyl sy
dit om en om draai.
Uiteindelik
vertel sy die skerf se storie, soos al die ander.
“Kyk. Dis my
tweede kind. Die verassings kind.” Daar kom ‘n skaduwee oor haar gesig. “Sien -
daar waar dit gebreek het kan jy nog sien hoe het ek dit met gom probeer plak
het. ‘n Week voor die geboorte het ek hulle die eerste keer saam gesien. Sommer
so in die publiek. Ek het ‘dis nie soos wat dit lyk nie’ gom opgesit. Hy het
‘ons is net vriende’ gom aangesmeer. Dit het gehelp dat my hart nie breek nie.
Maar ek het eintlik geweet dis net ‘n tydelike oplossing. Dalk moes ek maar
toegelaat het dat my hart destyds gebreek het, dan het ek vandag nie met soveel
skerwe gesit nie.”
Sy bly lank stil
voor sy verder praat.
“Hoe langer jy ‘n
kraak los met net ‘patch en solution’ op, hoe swakker maak dit die res van die
hart. ‘n Kraak moet ordentlik herstel word, anders kom hy terug en... byt jou
aan die boud.”
Sy tel die skerwe
op. Baie skerwe sny haar, maar sy stop nie. Ek weet sy moet haar hart weer heel
kry. Ek wil haar graag help, maar ek is te bang om met my lomp vingers aan die
fyn stukkies te vat. Ek kan haar ook nie probeer lei deur te praat nie, want ek
weet nie hoe pas die duisende stukkies aanmekaar nie. Niemand weet nie. Net sy.
Ek kyk om my rond. Almal sit en kyk hoe sy die skerwe optel en luister met
soveel hartseer en omgee na elke skerf en kraak se storie. Almal het soveel respek
en agting vir elke skerf. Elkeen teenwoordig besef hoe kosbaar elke stukkie is.
Ek voel uit plek uit. Dit voel nie of ek waardig genoeg is om daar te wees nie.
In die mees private oomblik waar ‘n vrou haar gebroke hart probeer red, is ek
eintlik te betekenisloos, klein en niemand om teenwoordig te wees.
Maar sy laat my
toe om daar te wees en ek aanvaar die woordelose toestemming. Ek leer uit die
proses. Dalk gaan ek dit self eendag moet doen? Ek hou elke nou en dan my eie
hart versigtig in my hande vas. Ek draai dit al in die rondte. Bekyk elke
kraak, kepie en die plekke waar stukke al weg gesplinter het. Ek smeer politoer
aan en maak seker dat die gom nog hou. Ek het dit ook vir iemand gegee om na te
kyk. Gaan my hart ook eendag op die vloer beland in ‘n duisend stukke. Weggegooi
asof dit niks beteken nie? Die probleem is, ‘n mens kan nie alleen na ‘n hart
kyk nie. Jy moet dit met iemand deel, want ‘n alleen hart word koud en gaan
naderhand dood. ‘n Hart wat gedeel word, groei. Ou krake word heel.
Ek kyk ook na die
hart wat aan my gegee, toevertrou, is. Hoeveel van die krakies en kepies het ek
veroorsaak? Daar waar dit so hard en effe dof is? Was dit my skuld? Gaan ek
eendag hierdie hart wat met soveel oorgawe aan my toevertrou is ook stukkend
gooi en iemand anders los om die skerwe op te tel? Ek kyk na die vrou voor my
wat met soveel deernis en omgee die skerwe en splinters optel. Hoe kan iemand
dit aan iemand anders doen? Jy hanteer ‘n hart wat aan jou gegee is mos met
soveel versigtigheid as wat jy kan. En as jy besluit jy wil dit nie meer hê
nie, dan gee jy dit terug met soveel teerheid as wat jy kan bemeester. Jy gooi
dit nie stukkend op die vloer nie.
Ek wonder vir ‘n
oomblik waarmee sy die skerwe plak. Asof sy my gedagtes lees, sê sy “Ek weet
nie wat Sy plan is nie, maar ek weet Hy is hier.” Ek verstaan: Haar gom is
geloof. Hoop. Die sterkste moontlike gom vir oomblikke soos hierdie.
Skielik merk ek
op dat daar mense buite staan en deur die venster loer. Hulle druk hulle neuse plat
teen die ruit en bekyk die vrou wat weerloos op die grond sit met die skerwe om
haar. Nou en dan fluister die een iets vir die ander een agter ‘n hand en dan
word daar kop geskud. Maar die vrou steur haar nie aan die mense nie. Ek merk
nou eers op hoe haar spiere bult elke keer wat sy nog ‘n skerf plak. Ek besef
hoe sterk sy.
“Hy’t nie die
waarheid vir hulle vertel nie. Hy sal nooit nie. Dis mos makliker om vir hulle
te vertel dis my skuld.” Sê sy sonder om op te kyk.
“Maar hoekom vertel
jy nie vir hulle nie? Hulle moet weet. Hulle verdien om te weet wie en wat hy
is!” Sê ek, half kwaad. “Dit sal jou vry maak. Dan kan jy mos jou kop omhoog
hou.”
“Nee.” Antwoord
sy. “Die gemeente kan nie weet nie. Ek hou in elk geval my kop omhoog want ek
weet die waarheid. En julle wat saam met my hier is ken die waarheid. Dis al
wat saak maak.”
Sy tel nog ‘n
splinter versigtig op. Dit los ‘n diep sny aan haar hand.
===========================
===========================
Ek dra die op aan
die verpletterde vroue. Die vroue wat probeer heel maak en heel word. Die vroue
wat probeer verstaan “Hoekom?”. Ek het nie woorde wat die seer en stukkendheid
gaan reg maak nie. Maar kyk om jou rond. Daar is baie mense wat by jou sal sit
terwyl jy die skerwe optel. Ons sal in stilte sit, en jy kan vertel van elke
skerf en kraak. As jy wil, kan jy ons vra om ‘n skerf vir jou aan te gee, of om
net te help vashou terwyl die gom droog word.
Mans, kyk mooi na
jou vrou se hart. Dit is nie ‘n leë blikkie bier wat jy net kan neergooi en
aanstap nie. Dit is die mees kosbaarste besitting in die wêreld.
0 comments:
Post a Comment