Sunday 21 October 2018

Spikkels die Bobbejaan

Spikkels die bobbejaan was wyd en syd bekend tussen die boere daar in die Waterberge. Alhoewel Spikkels op Oom Miel Lieplikker se plaas gebly het, het die bure hom gereeld ingeroep om te kom help ploeg as die oes goed is en Fielies se wingerdgriep te swaar trek. 






Spikkels se gawes het egter nie gestop by sy vermoë om ‘n trekker deur die lande te jae asof hy op die stel van Fast & the Furious 19 - Pampoenplaas is nie. Spikkels word ingeroep as die waterpomp gediens moet word – want wie kan nou beter werk met ‘n bobbejaan spênner as ‘n bobbejaan? Of as daar ‘n swart mamba in ‘n kind se kamer is kom Spikkels met sy blokfluit en betower daardie slang met ‘n deuntjie van Sarie Marais of Ta’ Hessie se Wit Perd totdat die slang in ‘n beswyming is dan vat Spikkels hom sommer so met die kaal hande uit en laat hom vry daar in die kloof. (Vra jy vir Spikkels waar hy dit geleer het, verduidelik Spikkels, nee hy’t op National Geographic gesien die Indiese mense maak so met die slange, toe leer hy die blokfluit speel.) 
Spikkels word sommer ook ingeroep as daar ‘n mediese krisis is. Nie dat Spikkels besonder goed was met mediese sake nie - pasiënte het net skielik beter begin voel as hulle hoor Spikkels was op pad, want Spikkels het ‘n voorliefde gehad vir mond-tot-mond-asemhaling (of die pasiënt dit nou nodig gehad het of nie, het nie saak gemaak nie). 
Daar was ook die keer wat Spikkels vir Klein Groot Daan en Will-Lemaria moes trou. Maar dit was ‘n noodgeval omdat Dominee Praaten Zonderuinde se donkie kar op pad na die seremonie toe ‘n slaggat getref het, en hy met twee pap donkies op geëindig het. Spikkels het sy trou-diploma gedoen toe hy ‘n sendeling was in Tietiesbaai, so dit was wettig. (Spikkels het gaan sendingwerk doen in Tietiesbaai oor ‘n misverstand, maar daai is ‘n ander storie vir as die kinders gaan slaap het.)



Baie mense vra my nou waar kom Spikkels vandaan. Sit dan vertel ek vir jou. Spikkels was gebore in ‘n kleinerige trop wat daar om Dron Knaap se lusern plaas gewei het. Spikkels is gebore Johannes Stefanus Laffras Verematras Bo’jaan. Nooit geweet wie sy pa is nie want – ek wil nou nie lelik praat van sy ma nie – maar sy was so los soos ‘n Ford se moere na ‘n kilometer op ‘n sinkplaatpad. Die tonge het maar gewikkel met bespiegelinge oor wie die pa kon wees. Spikkels het die bynaam gekry oor sy sproete, en daar was net een ander bobbejaan in die Waterberge gewees wat sulke sproete gehad het, en dis daai alleenloper mannetjie wat gelyk het of iemand hom in die gesig gegooi het met ‘n drol deur ‘n sif. Maar ‘n trop bobbejaan loop buk mos nie voor ‘n alleenloper mannetjie nie, so sy ma is met daai geheim graf toe. 



Spikkels het sy eerste boek gekry toe hy per ongeluk op Janneman Draat, die trekker bestuurder afgekom het. Janneman was net besig om sy broek op te trek na ‘n “bossie”, toe Spikkels om die bos geloop kom. Gelukkig was Janneman se buik al leeg teen die tyd, anders het hy ‘n skoon broek nodig gehad. Gaan Janneman aan die hol toe die tiener-bobbejaan so skielik voor hom staan. Die broek was nog nie mooi vas nie, en begin toe afval so in die hol. Janneman besluit hy gaan vinniger kan hol sonder ‘n broek, want dis in elk geval net windweerstand en verdwyn oor die koppie, wit boude wat wikkel soos twee hase wat besig is. Dis mos ook op daai oomblik wat Spikkels die verskil tussen ‘n kaalholler en ‘n kaalnaeler uiteindelik verstaan het. Dit hang af van watter kant af jy hom sien...
In die weghollery het Janneman ook sy Huisgenoot daar gelos. Daar in die bos is ‘n Huisgenoot mos tweedoelig – jy lees hom nie net nie. So kry Spikkels sy eerste boek en sy eerste broek. Ook nie kort voor lank nie, en Spikkels het homself leer lees. Die Huisgenoot gebruik gelukkig nie groot woorde nie, en daar is baie prentjies, so hy kan die woorde maklik aflei. ‘n Mooi geboude blonde-kuif man wat ‘n baba vashou beteken “Bobby van Jaarsveld het weer Pa geword”. ‘n Tannie wat hartseer aan ‘n sigaret suig met ‘n prentjie van ‘n ou tannie wat ‘n jong man omhels beteken “Vrou hartseer oor hy saam met Onnie huis opsit”. En so aan. 

Dis ook nie lank nie, en Spikkels ken die Huisgenoot uit sy kop uit en sy honger vir nuwe leesmateriaal laat hom onverskillig raak. Hy staan en wag gereeld agter ‘n bos vir Janneman om te kom lees, net om hom skrik te maak sodat hy sy boek vergeet en hol. So maak Spikkels ‘n hele stapel Huisgenote bymekaar. Ook genoeg broeke vir ‘n week. Maar Janneman raak naderhand so senuweeagtig oor die bobbejaan wat hom so skrik maak, dat hy maar eerder knyp totdat hy by ‘n kleinhuisie kan uitkom. Vir “bossies” en bobbejane had hy nie meer kans gesien nie. Sy pype was nog nooit so skoon nie, maar sy vrou het de bliksem in geraak oordat hy elke aand kaalgat by die huis aangekom het en nie kon verantwoording doen vir sy broek of die nuwe Huisgenoot nie. 
Spikkels moes toe nou maar noodgedwonge sy dae deurbring soos ‘n bos-ninja opsoek na nuwe slagoffers sodat hy nuwe leesmateriaal kon kry. Binne ‘n maand het Spikkels ‘n biblioteek van Huisgenote, Landbou Weekblaaie, Weg tydskrifte en die Waterberg se weeklikse koerant. Hy het ook genoeg klere bymekaar gemaak dat sy grot soos die binnekant van ‘n Mr Price begin lyk het. (Dis nou te sê as Mr Price net onderbroeke, kakie kortbroeke en over-alls verkoop het.) Spikkels het ook sy tydsberekening so bemeester dat hy meeste van die broeke nie hoef te gewas het nadat dit van die slagoffer ontneem is nie.



Uiteindelik het die boere en werkers van die omgewing ‘n vergadering bymekaargeroep oor die bosbollie-bobbejaan wat mense so skrik op die lyf jaag. Dis ook toe nou op die vergadering wat Oom Miel Lieplikker sê hy sal die bobbejaan probleem oplos. 
So gesê, so gedaan. Loop Oom Miel toe die res van die week van bos tot bos en gaan hurk asof daar ‘n “bossie” ter sprake is. Haelgeweer onder die een arm en Landbou Weekblad onder die ander. 

Na so ‘n paar onsuksesvolle dae sit Oom Miel so gehurkend, broek op die knieë en sê vir homself, “Nee, die mense het sweerlik nonsens gepraat. Daar’s nie iets soos ‘n bosbollie-bobbejaan nie!”
Sy woorde was nog nie koud nie, toe staan daar ‘n fris mannetjies-bobbejaan reg voor Oom Miel.
Die bobbejaan sê: “Bôgom.”
Gelukkig is Oom Miel se broek reeds af, want daar is sekere goed wat selfs Omo se “stain remover” nie kan uithaal nie. Toe Oom Miel uiteindelik weer tot sy sinne kom (of eerder beheer oor sy knyp-spiere kry) lig hy die haelgeweer op en mik, vinger op die sneller na die bobbejaan wat steeds voor hom staan. Slagtande so groot soos, wel, baie groot slagtande, wat duidelik sigbaar is. Oom Miel neem die res van die prentjie in. Voor hom, staan ‘n bobbejaan, gevoude arms kaal bolyf en kaal pote, maar ook met ‘n kakie broek aan en met ‘n vel hoed op, kompleet met die Springbok vel om die middel (seker ook die eiendom van een van die vorige slagoffers).
“Bôgom.” Sê Spikkels weer met een wenkbrou wat vraend lig. 
Oom Miel besef toe nou die bobbejaan maak nie bôgom nie, hy sê werklikwaar die woord “bôgom”. Hy kan mos nou nie die bobbejaan skiet nie – die dier lyk dan kompleet soos ‘n harige mens in ‘n kakie broek en hoed. 
Oom Miel laat sak versigtig die haelgeweer en trek sy broek op.
“Voertsek man.” Sê Oom Miel. Hy probeer eintlik kwaai klink, maar kry dit reg dat dit soos ‘n vraag klink.
“Jy sal weer vir my sê voertsek; ek klap jou dat jou nageslag hik!” Antwoord Spikkels vies.
“Vir wat maak jy die mense so skrik man?” Vra Oom Miel en sukkel dat sy mond nie oophang van die verbasing nie.
Spikkels laat sak sy kom in skaamte. “Ek’s jammer Oom... Ek soek net... Ek wil lees.” 
So gaan sit die twee, Spikkels en Oom Miel Lieplikker daar plat in die stof en begin gesels. Spikkels vertel sy storie, en Oom Miel moet verduidelik dat die hele kontrei se mense begin maag probleme ontwikkel oor hulle te bang is om te hurk.

So raak daai twee beste gatgabbas daai dag daar in die Bosveld. Oom Miel laat die tante ‘n kamer regkry vir Spikkels, en Spikkels trek uit die grot uit en by die plaashuis in. Oom Miel betaal toe ook dat Spikkels ‘n regte opvoeding kry deur Unisa, want Huisgenoot kan ook maar net soveel doen vir jou intelligensie. 
Spikkels het aanvanklik politiek begin studeer, maar toe die “b-woord” skielik ook ‘n verbode rassistiese term raak, so sonder waarskuwing, toe besef Spikkels politiek is nie vir hom nie. Daar gaan net moeilikheid van kom. Toe doen hy maar ‘n regsgraad. Vind hy uit hy is ook nie skelm genoeg om ‘n prokureur te wees nie. Toe Spikkels die derde keer sy studierigting wil verander, toe moes Oom Miel maar brieke aandraai, voor Spikkels die plaas onder hom uitstudeer met studie skuld. So het Spikkels maar begin boer en legende geraak daar in die Waterberge.Van bosbollie-bobbejaan tot die eerste man - oftewel - bobbejaan wat jy bel as jy hulp nodig het.

Jy gaan seker nou volgende vra oor die Groot Droogte van ‘93 en Lêma Bieki se moeilike kraam. Nee, daai is ‘n ander dag se storie. 

Riaan Palmer


Share:

1 comment: